Gedagtes

Vakansie waarnemings

Na ‘n week met vakansie, by die see, ‘n ander see as die een net ‘n katspoeg van my huis af, is ek uitgerus, alhoewel ek soos ‘n koshuiskind na ‘n lang vakansie gevoel het, oppad terug huis toe.

Mens kyk met ander oë terwyl jy vakansie hou. Jy sien dinge en mense en doen en late raak wat andersins net so bo-oor jou kop sou gaan, omdat jy net gefokus is op werk toe en huis toe en winkel toe en leef en verkeer en aandete en gym toe en genoeg slaap want dis amper al weer more en dan begin alles weer van voor af.

Ek maak ‘n paar waarnemings gedurende hierdie week…

Mense wat met vakansie is, praat met ander mense wat met vakansie is. Vir sommer net. In winkels, by stalletjies, langs die strand, in die pad, by die vulstasie, langsaan jou waar jy bly. Hulle glimlag en hulle gesels, al ken ons mekaar nie van Adam af nie. Dis lekker. Hoekom is mense nie altyd so nie? So vriendelik, so oop, so sonder pretensie.

Daar is min vrouens wat die supertube ry, of die waterval afgly of enige waterdinge doen. Daar is wel mans, ouer en jonger, maar vrouens sit eerder net en kyk en gee handdoeke aan. Hoekom? Het hulle vergeet hoe lekker dit kan wees om soms net weer kind te wees, te voel? Dan kyk hulle so langs die neus af as jy, dik boude en al, soos ‘n kind jouself geniet. Somtyds is daar ‘n vriendin soos Vlooi, wat mal genoeg is om saam met jou mal te wees. Wat mal genoeg is om elf keer saam met jou 46 trappe te klim en soos ‘n hooligan te gil terwyl jy teen witligspoed deur die water gly. Dankie vir jou.

Elke man wil een keer in sy lewe ‘n vis vang. Of dit nou van die strand af is of van ‘n boot af. Ek dink dis ‘n man ding. Ek hou nogal daarvan. En elke man het ‘n storie oor die vis wat hy gevang het en ook oor die een wat gebyt het, so en so hard geruk en pluk het, maar toe weggekom het. En dis reg so.

Roomys is net lekker vir my as dit in ‘n sugarcone, met ‘n flake in, by ‘n straatstalletjie gekoop is, waar mens die see kan sien en waar die roomys tussen jou vingers deur drup en soet en sout gelyk proe, want jy proe die see ook daarin. En jy eet jouself dat jy naderhand so taai is, dat jou vingers aan mekaar vassit en daar roomys in jou hare is en dan spoel jy jou hande in die seewater af en dan is jy nog taaier en nog sout ook. Maar jy worry nie, oor niks nie, ook nie oor die roomys wat ‘n kring om jou mond maak en wat jy eers sien as jy weer by die rondawel in die spieël kyk nie.

Dis nie so koud by die see as wat dit by jou huis is nie, maar net as jy met vakansie is. Al is dit bewolk en al reën dit effentjies, jy loop op die strand en jy loop in die vlakwater en jy haal asem en jy blaas wolkies uit en jy weet jy LEWE. Nevermind koud.

‘n Vars gevangde vis is een van die lekkerste dinge wat mens kan braai. Nog lekkerder is ‘n patat in foelie toegedraai en onder die kole gaargemaak, saam met daardie vars gevangde gebraaide vis. Dis koningskos. So naby aan die hemel soos bliksem aan demmit.

Vakansie is lekker. Maar alle lekker is ook maar net ‘n vingerlengte lank. Dan moet mens weer terugkeer na elke dag. Maar dan begin mens al weer beplan aan die volgende een, en dis ook waarin daar nog lekker lê – die uitsien na volgende keer.

Hartenbos, jy het my hart gesteel en dit weggebêre in ‘n sandkasteel. Tot volgende keer.

9 thoughts on “Vakansie waarnemings

  1. ag, ek het jou skrywe nou baie geniet. het my laat smile. bly jy het alles geniet – en dat jy by die super tube gaan jol het. 😉

  2. Ai, ai. Vakansies en drome…Dis lekkerder as tjoklit en alkohol. Ek was onlangs met vakansie ver oor die see, en toe ek by die huis kom, besef ek New York het my hart gesteel (natuurlik ook die inhoud van my beursie), maar wie gee om? Solank jy daardie welverdiende ruskansie geniet het.

  3. Dankie vir jou Son wat my herinner het hoe mal ek eintlik is (: Soms vergeet mens om te lewe.

    Sy sit beslis nie meer daarbo nie en daarvoor sal ek jou altyd dankbaar wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s