Sommer net

Ek het nie ‘n titel hiervoor nie

Ek sit vanoggend hier en ek weet nie lekker hoe om met myself, my kop, my gedagtes te maak nie. Laasnag half 2 is ons oppad huis toe, op die N1 van die Paarl af. Die pad is doodstil daardie tyd van die oggend. Net verby die Klapmuts afrit haal ek die CAW motor in. Hy ry effe te stadig vir die snelweg en ek wil eers verbyskiet, maar alhoewel ek doodnugter is, is bestuur in die donker maar nog altyd vir my effe van ‘n uitdaging, so ek hou rustig agter hom in die linkerbaan. Ons afrit is buitendien nie baie verder aan nie. Toe ons die Klipheuwel/Stellenbosch afrit nader, wys CAW ook hy gaan afdraai. Ek wonder nog so by myself of dit dalk studente is wat iewers gekuier is en nou so aangeklam versigtig huis toe bestuur.

Die wat ken, sal weet die afrit maak ‘n 180 grade draai. CAW vat die draai so bietjie vinniger as ek. Ek ry stadiger, vat die draai mooi en dis toe ek die reguit stuk na die stopstraat vat dat die hel losbars. Skielik skree B: “Son, Son, Son. Stop! Reverse! Reverse! Reverse!” Ek skrik, ek rem, ek soek die gevaar, ek wonder waddehel ek kan mos nie op die afrit reverse nie, ek sien opeens die donker figuur wat reeds by CAW se bestuurderskant is, ek sien die dwars geparkeerde donkerblou kar oor die stopstraat en ek weet in dieselfde oomblik wat besig is om voor my te gebeur. En ek reverse nie, ek sien die gaping, ek stamp die kar in eerste in en ek skiet verby, ek kyk nie, ek bid oop oë en ek jaag oor die stopstraat, draai regs. Ek dink net ry ry ry.

Skaars ‘n kilometer verder rem ek. “Ek kan nie net daai mense daar los nie!”

“Jy kan niks doen om hulle te help nie. Ons kan net die polisie bel.”

Ek weet ek is na aan histerie. “Ek kan nie net die mense daar los nie! Ek kan nie net hulle so aan die genade oorlaat nie. Ek kan nie net fokken wegjaag nie! Ek gaan omdraai, ek gaan terug!”

“Om wat te doen?!”

Ek is al besig om die kar om te draai. Die pad is nog steeds verlate. Waar is ander karre die slag as mens hulle nodig het? Maar ek weet niemand anders gaan in die donker nag stop nie.

“Kry my handsak, agter die sitplek. Kyk in die klein zipsak, kry my foon! Bel 10111! Ek gaan net stadig daar verbyry. Sodat hulle kan sien iemand weet wat hulle besig is om te doen. Dalk skrik hulle. Ons kan nie net NIKS doen nie!”

B kry my foon, hy bel, godsgenade antwoord daar iemand na net ‘n paar luie. Iemand met wie hy Afrikaans praat. Hy verduidelik wat aan die gebeur is, ek hoor die persoon aan die ander kant vrae vra, ek roep details tussen-in en B vererg hom vir my, want ek praat bo-oor sy verduideliking. Ek is terug by die afrit. Die twee motors staan nog altyd daar. Daar is nou meer donker figure rondom die CAW motor. Ek ry stadig, met my hazards aan. Ek weet nie wat ons nog kan doen nie. Ek wil omdraai, maar ek is op die deel wat oor die N1 loop en dis te nou om vinnig om te draai. Ek jaag ‘n ent aan en draai vinnig om. Toe ek weer aankom na die afrit, sien ek beide voertuie indraai op die Klipheuwelpad, en hulle versnel onmiddellik. Ek probeer hulle inhaal, maar die volgende oomblik swaai beide links af op die donker agterpad wat Klapmuts toe ry. Ek weet ons kan nie verder volg nie. Ons het nie ‘n wapen nie, my verstand sê vir my ek kan niks verder doen nie. My verstand sê vir my ek moet aan ons eie veiligheid dink. My hart skree vir my ‘wat van daai mense in die CAW motor, dalk moes jy nie omgedraai het nie, dalk sou hulle die mense daar gelos het, net hulle goed gesteel het, nou het jy hulle gepla, nou vat hulle die mense saam, jy weet wat gaan gebeur as hulle die mense saam vat!’

Ek ry so vinnig ek kan tot by die huis. Toe ek op die plaaspad indraai, kom ek agter my tande klap op mekaar.

“Hou op, jy kon niks meer gedoen het as wat ons gedoen het nie.”

Rasioneel hoor ek wat vir my gesê word. Emosioneel is ek ‘n wrak. By die huis bel ek self weer 10111. Die keer antwoord ‘n vrou. Sy praat Engels. Ek gee weer die hele storie, ek moet goed herhaal, sy verstaan my nie so mooi nie, waar is die bleddie ou wat netnou Afrikaans gepraat het? Ek sê waarheen die twee motors afgedraai het. Ek vra asseblief laat die polisie ry en gaan kyk, asseblief dalk kan hulle die mense kry. Sy sê sy stuur die inligting deur. Ek weet nie waarheen sy dit gaan deurstuur nie, my tande klap alweer op mekaar, ek weet behalwe om self na die mense te gaan soek, is daar nou regtig niks meer wat ek kan doen nie.

Ek het sleg geslaap. Ek het my die hele nag die angs van daardie mense probeer indink. Ek het elke keer as ek wakker word, gebid dat hulle ten minste iewers langs die pad gelos is, ongedeerd.

Ek gaan heel moontlik nooit weet wat van daardie CAW mense geword het nie. Ek gaan altyd wonder wat kon ek anders, beter gouer, dapperder gedoen het om hulle te help. Ek gaan altyd weet dat ons eintlik hulle moes gewees het, want as ek die CAW motor verbygegaan het, was ek eerste by die afrit se stopstraat. En ek sou niksvermoedend op die stilstaande voertuig by die stopstraat afgery het sonder om onmiddellik onraad te vermoed. En wat dan?

Vir die eerste keer vervloek ek hierdie donnerse land.

17 thoughts on “Ek het nie ‘n titel hiervoor nie

  1. Son, jou ervaring roer my hart baie diep. Ek sien daardie afrit duidelik, en ry saam met jou deur die ‘nag’ – herinneringe van my lewe daar verhelder asof did gister was….ek voel jou liefde, jou frustrasie en jou haat vir die omstandighede……jou hulpeloosheid…..ek is met jou al is ek so ver; ek is eintlik daar met jou en julle almal, want my bloed voel elke vibrasie…..

  2. agge nee man, dis baie sleg. 😦

    ek sou presies dieselfde gevoel het, maar o jong – wanneer daar vuurwapens betrokke is, kan ‘n mens eenvoudig net niks doen nie.

  3. Son dis verskriklik. Dankie tog dat JY wel veilig is. Dankie dat jy jou bes gedoen het deur die polisie te bel.
    Ons bid vir SA. Net God kan ‘n verandering bring.

  4. Gisteraand, toe ek sien julle het lekker gekuier, wou ek nog kommentaar dat ons ook volgende keer wil saam kuier. Vanoggend lees ek hierdie……..en ek het nie woorde nie. Meer as 10 jaar terug, op die hoek van Viking en Vanguard-boulevard, het hulle my ruit uitgeslaan en was hulle oppad om my of uit die kar te ruk of om met my weg te jaag. Daardie dag het ‘n wit bakkie van agter gesien wat gebeur en op ons afgejaag……met die doel om liewers my kar te stamp as om toe te laat wat sou gebeur het. Dit het gewerk…..en ek het weggekom…..en tot vandag weet niemand wie dit was nie, want die kamstige kameras het nie gewerk nie. Tot vandag is ek bang om alleen te ry (en my huismense verstaan dit nie)…..en tot vandag vertel almal my dat ek net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Party reken ek moes berading gekry het…….maar as dit ‘n ‘once-off’ was, sou berading dalk kon help. Ongelukkig lees ek elke liewe dag daarvan……en nou het dit weer ‘na-aan-my’ gebeur…….Dit kon julle gewees het….en ek sou dalk vanoggend nog 2 mense verloor het……..Ek dank God dit was nie julle nie, maar ek sidder ook vir die mense wat wel in daardie ander motor was. Ek bid ook dat hulle okay is………en ek verstaan presies hoe jy voel.,,,,dis hierdie goed wat mens laat besef dat jy nie werklik ooit veilig is nie. Dis verdomp verkeerd. Waar is die justice in hierdie?????

  5. Ek weet jy voel asof jy nie genoeg gedoen het nie, het jy alreeads meer gedoen as die average joe. Ek’s bly jy het dit in een stuk uitgemaak! Die tiepe goed maak my so moerig.

  6. En as Alon Paton vandag nog gelewe het sou hy seker ‘n tweede “cry Beloved Country” geskryf het as die bastard eerlik was. OOO, sy vrou het Engeland toe gevlug en ons bly agter.

  7. Donnerse land inderdaad. Ek en my gesin was al meer as eenkeer self daar. Weet hoe jy voel. En hef aan lê voor met Malema en sy trawante wat die plek aan die brand gaan steek. Hoop die mense is OK en kan soos ons almal sê; gelukkig het ons dit oorleef. Bliksems.

  8. o, son, dis vreeslik😦 weet nie wat om te sê nie, behalwe dat jy jouself nie moet verwyt nie. julle was nie die eerste by daai stopstraat nie. punt. maar julle het nie net verby gery en niks gedoen nie, julle het gedoen wat julle kon onder die omstandighede. ek is bly julle is veilig.

  9. Soms is dit die ergste as ‘n mens nie kan help nie. In die ou dae sou ek met my .357 op hulle losgebrand het, en te hel met die gevolge vir my. Maar tye het verander. Ek voel vir en met jou…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s