Die Lewe

En toe word dit 3 Maart

Die afgelope weke het die hele Waterkloof-sogenaamde-2 die nuusberigte oorheers. Ek het meer as een keer my opinie daaroor gegee. Ek dink hulle twee, veral Becker, is arrogant en geensins spyt oor wat destyds gebeur het nie. Moord bly moord en dis nie asof hulle per ongeluk iemand doodgemaak het nie. Vir twee jaar na die voorval het hulle bloot net aangegaan met hulle lewens. Dus was daar geen tekens van berou nie. En dit lyk steeds of daar nie is nie.

Toe ek hoor hulle sal nou nog ‘n jaar in die tronk moet bly, het ek vreemd genoeg geen vreugde daaruit geput nie. Al wat ek gevoel het was jammerte. Jammerte vir twee gesonde jongmans wat nog nie besef het hulle is besig om hul lewens weg te gooi nie. Jammerte vir kanse wat verbrou is. Jammerte vir iets wat nooit weer herstel sal kan word nie. En ‘n diepe walging aan die oordosis sensasie in die media die afgelope tyd. En ja, ek weet elke joernalis doen net sy werk. My walging is meer vir ons wat soos haaie sit en wag het vir elke stukkie bloederige vleis. Wat elke brokkie verskeur het, tot die bloed uit ons bekke drup. En ek het skaam gekry. Vir myself.

Want eintlik het dit niks met my te doen nie. Net soos wat Oscar en Reeva niks met my te doen het nie. Die enigste rede hoekom die verhoor wat vandag begin alreeds in ‘n media sirkus ontaard het, is omdat beide bekendes is (was). Gee dit my die reg om soos ‘n aasvoël elke stukkie vleis af te skeur en te verslind? Nee, ek dink nie so nie.

Daar kan baie argumente oor die volg van hierdie hofsaak wees, vir en teen argumente. VIR dit kan gesê word dis nuus, want hulle is bekend en en en. TEEN dit kan gesê word daar word elke dag mense vermoor in Suid-Afrika, in die wêreld, wat maak Oscar en Reeva meer spesiaal as ‘n ander moordenaar of slagoffer. Albei partye het ‘n punt beet. Daarom gaan ek nie daaroor redeneer nie.

Ek het stil gaan sit en dink, NET oor myself. Ek wil nie soos ‘n haai, ‘n hiëna, ‘n aasvoël voel nie. Die hele hofsaak kan aan my lewenskwaliteit net mooi NIKS verander nie. Deur dit NIE te volg nie, kan ek dalk meer kwaliteit tyd aan ander dinge in my lewe gee. Dat dele daarvan seker in my dag sal deurfilter, soos in die nuus wat ek elke aand luister, dis wel so. Maar verder wil ek met die hele hoe-haa niks te doen hê nie. Uiteindelik sal Oscar skuldig of onskuldig bevind word. Ook daardie bevinding gaan geen verskil aan my eie lewe maak nie. En gaan Reeva nie weer lewendig maak nie.

Ek het empatie met die betrokkenes by die saak. Nie met die wat aandag en sensasie soek nie, maar die wat hoop op een of ander manier sal die waarheid uit kom. Vir die res, en vir die wat wonder of sommige van ons ernstig is as ons sê ons stel nie in die hofsaak se hele verloop belang nie, ja, ek stel REGTIG nie belang nie. For my own sanity. Punt.

15 thoughts on “En toe word dit 3 Maart

  1. Ons tv, sowel as die groothuis s’n is sowat ‘n jaar gelede afgesit. Daarmee saam het ek nie meer ‘n radio nie, en niemand op die erf koop ‘n koerant nie, dus weet ek werklik nie wat aangaan nie. Ek het nie ‘n benul waaroor die eerste saak is waarvan jy praat nie. Die Oscarsaak het ek van gehoor, maar weet verder bitter min. Ek mis dit regtig nie, voel so verlig daaroor soos jare gelede toe ek Die Huisgenoot afgeskryf het; diè het vir my na ‘n sensasietydskrif begin voel. As jou oog jou pla pluk hom uit😉

  2. Dear Anne-Marie: Here , on the other side of the world we have a saying ” Bad news rides a fast horse” ,,, it’s sad but true. Most news reporting is about the bad things ,,, that’s what sells papers and TV time.

    Remember this Prayer ?

    Individual happiness is a simple thing yet we often forget to just accept the things we cannot change and to have the courage to change the things we can.

    Everyone gets frustrated with the daily grind of bad news on top of bad news ,,, Perhaps Anne Murray said it best in this song :

    I hope right now you are smiling ,,, there, doesn’t that feel better ?

    Always

    Sam

  3. My man het oor ete gister die TV aangesit op die Oscar-trial kanaal. Dit het my so ontstel, dat ek geloop het. Ek glo dat alle mense foute kan maak en geregtig is op ‘n tweede kans. Ek glo dat Oscar – op die heel minste – skuldig is aan die onverantwoordelike gebruik van ‘n vuurwapen. Ek sou wou glo dat ek nie op dieselfde manier sou opgetree het nie, maar ek weet nie… Ek kan nie weet nie. Ek sou bitter graag wou glo dat in ‘n regstelsel almal gelyk is. Ek weet dit is nie so nie. Ek sou bitter graag wou glo dat die waarheid sal seëvier. Maar dit is klaar duidelik dat dit sal gaan oor watter ou die waarheid op so ‘n manier skik dat dit sy doel bevredig. Ek sou graag bewondering/respek wou hê vir almal wat hulle plig doen tydens die hofverrigtinge. Dit is egter duidelik dat hulle maar net mense is – en boonop iewat ontsenu deur die kameras. ‘n Regte hofsaak is myle verwyder van wat mens in hofdramas in flieks en TV reekse sien. Alles laat my met ‘n sterk gevoel van futiliteit en jammerte vir die mense wat reeds soveel gely het bv. Reeva Steenkamp se ouers. Dit laat my voyeuristies voel om te kyk. So, selfs al het ek die tyd gehad om te sit en kyk daarna – wat ek nie het nie…. Ek wil liewer nie. Stem saam.

    1. Dis nou al ‘n paar dae aan die gang en ek het gewonder of ek dalk sal nuuskierig raak, maar tot nou toe het ek nie eers die begeerte gekry om te kyk nie. Die stukkie wat saans op die nuus gewys word, is klaar vir my te veel. Ek voel uit my hart uit jammer vir almal wat daardie sirkus moet deurstaan. Dis eintlik onregverdig teenoor almal, want ander hofsake is nie so in die ope gegooi nie.

  4. Ek kon nog nooit opgewonde word oor enige vorm van sensasie nie. Die mense is niks van my nie en wat hulle doen raak my lewe nie. Hoekom sal ek ure van my lewe afstaan om te luister en honger elke krummel wat die ‘joernaliste’ na my kant gooi opslurp?

    By tye kan ek nie eens ‘n 30minute nuusbulletin deurwerk nie. Die propoganda daaraan verbonde is ‘n sage op sy eie.

    Sela Son en PUNT saam met jou

  5. Ek sit en luister, en is stadigaand besig om my versadigingspunt te bereik. Maar ek weet more gaan ek weer kyk en/of luister. Wat vir my weird is, is hoe ons almal iets van onsself wys met situasies soos hierdie. Ekself wens ek kon onttrek, maar ek doen nie. Ek luister.

    1. Ek was regtig waar naar vir myself na die Waterkloof saga. En toe sê my broer Saterdagaand by die braaivleis vuur sulke ware woorde dat ek myself belowe het NOOIT OOIT weer nie. Ek wil nie meer deel wees van hierdie sirkus nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s