Ongeklassifiseerd

Als in ‘n dag (of drie) se werk

So vlieg ek Maandagoggend Port Elizabeth toe. Met SAA Express. Toe die bus ons aflaai by die vliegtuig(ie), moet ek eers mooi kyk, vir so 3 sekondes stilstaan en her-evalueer… die vliegmasjientjie het dan nog propellors! Binnekant sien ek op die noodprosedure drukstuk dis ‘n De Havilland. Dit klink soos iets uit een van die wêreldoorloë.

Ek is nie bang vir vlieg nie, maar selfs ek sluk ‘n keer of drie. Maar die ander passasiers lyk heel gemaklik, so ek sal my mos nou nie laat ken nie. Ek maak of ek elke dag in propellorvliegtuigies rondrits.

Die trip PE toe loop soos stroop, behalwe dat ek ‘n keer of wat sien ons is darem nou oor diep see, maar dan dink ek so by myselwers – dis dalk beter om in die see te val as op harde grond. En die kussing van die sitplek is blykbaar ook ‘n “floating device”. So ek is uitgesorteer. Dis nou as ek die val oorleef.

Maar ons land almal in een stuk en waai die lughawe gebou binne. Ek wag ‘n halfuur vir my twee kollegas wat van Durban arriveer en toe vat ons drie die pad Karoo toe. Ons moet die volgende dag ‘n publieke vergadering gaan hou op die dorpie M – oor ‘n beplande windplaas. Die gode glimlag vir my, want Maandagaand het ek kon reël dat ons by my meisiekind oorslaap, net buite Aberdeen. En sy verjaar die Dinsdag.

Dit word ‘n lekker kuieraand en na die aanvanklike strammigheid wat daar maar is wanneer wildvreemde mense mekaar ontmoet, kuier ons almal onder die Karoo sterre tot na middernag en happy birthday ook toe sommer.

Die volgende oggend pak ons die laaste 150 kilometer aan. Deur die dag het ons verskeie vergaderings met van die betrokke mense, maar wat ek Dinsdag ervaar, breek my hart op soveel maniere. En hierdie skryf ek totaal en al uit my eie persoonlike oogpunt, want uit ‘n werksoogpunt MAG ek NIE kante kies nie. Ek mag net luister, kennis neem van die besware teen of die steun vir die projek en verder neutraal bly.

Daar is betrokkenes wat kla oor die wind turbines wat hulle nie wil sien nie, want dis nie mooi nie. Toegegee, elke ou is geregtig op sy opinie. Maar dan is daar die bitter arm gemeenskap, wat aan hierdie hoop van werk in die toekoms vasklou asof dit ‘n reddingsboei is in die stormsee. En my hart breek en breek vir die hoop op hulle gesigte, want niks is ‘n uitgemaakte saak nie. Daar is nog soveel hoepels waardeur die kliënt gaan moet spring voor daar uitsluitsel sal wees of die projek goedgekeur word.

Ek kyk na die dorpie, ek kyk na die mense, ek kyk hoe die sogenaamde “town hall” lyk en ek sien die verval, die verwaarlosing, die agteruitgang. En ek weet, dit het nie altyd so gelyk nie. Die kinders speel in die straat met plastieksakke. Want hulle het niks anders om mee te speel nie. Ten minste speel hulle. Ek kyk en ek kyk en ek wonder…  of ons geagte staatspresident ook gekom kyk het… VOOR hy sy Nkandla gebou het. En ek wonder hoe kan mens met jouself saamlewe as jy weet jy kan mense se omstandighede verbeter, maar jy hou net aan om jou eie (vet) sakke vol te stop.

Ons ry daar weg en ek hoop en ek bid dat daar vir hierdie mense ‘n werklike oplossing sal realiseer. Dat die windplaas gebou sal word. Dat baie van hulle sal werk kry. Al word net 50 persent se lewens verbeter, dan is dit al ‘n groot stap in die regte rigting.

My hart huil al die pad terug Port Elizabeth toe, 380 kilometer lank. Ek kyk vir die niks rondom my en ek wonder… hoe de hel moan jy oor jou uitsig omdat daar ver op die bult ‘n windturbine staan, terwyl daar 100 mense rondom jou bly wat vergaan van ellende. Ek wonder, maar ek mag niks sê nie.

Die trip terug in die propellor bedryfie het niks vir my gemoed gedoen nie. Ek het aanlyn ingeboek, op sitplek 8A, want ek wou nie weer die wiel sien in en uitval nie. Toe ek by die aanboord gaan hek kom, piep dit – my sitplek iets iets iets. Die ou trek sommer ‘n streep deur 8a en skryf 1A. Ek vra wat nou? Hoekom word my sitplek nommer verander. Hy mompel iets van tegniese probleem. Ek kan nie die mense agter my ophou nie, so ek loop uit, na die vliegtuig toe. By die lugwaardin vra ek weer hoekom ek sommer net so geskuif word. Sy mompel mompel ook en ek steek toe viervoet vas en vra “Ekskuus?!” Toe moet ek hoor dis vir balans. Balans?! Ek kyk die vliegtuig in, amper al 80 sitplekke is reeds vol. “Wat se balans?” wil ek weet.

“Just please sit down, Ma’am, we will sort out your seat. There is already someone on 8A.” I mean REALLY! WTF! Gaan daai someone die vliegtuig beter balanseer daar op 8A? En hoe de donner kry die stelsel dit reg om twee mense op een sitplek te boek? En ek WIL NIE op 1A sit nie, want dis by die nooduitgang. Laat ander mense eerste by die vliegtuig uitval, ek was nie gister daarvoor lus nie.

Uiteindelik beland ek toe darem op 2A, ‘n vriendelike man het aangebied om te ruil. Ek wil SA Express nog vra of dit dan nie teen een of ander wet is om mense te skuif nie – wat as ons val? Dan word my oorskot iemand anders s’n ensovoorts?

Maar nou ja, ek is in een stuk, terugbesorg in die Kaap. Binnekort vlieg ons glo George toe – het Mango of Kulula ook propellor vliegtuie?

18 thoughts on “Als in ‘n dag (of drie) se werk

  1. Daai gebeur nou as jy met oogklappe deur die lewe gaan. Ja hulle weet mense sukkel, maar hulle wil dit asseblief tog net nie sien nie.

    Persoonlik dink ek daai wind turbines is nogal mooi. Laat my dink aan daai waaier goeters op stokkies wat ons as kinders by die venster uitgehou het in die kar en die lang trane as jy joune laat val het.

  2. Bly jy is veilig soentoe en terug🙂 Jammer jy het met so ‘n swaar gemoed teruggekom. Ons lewe in dag een, en twee…. maar wag vir dag DRIE!!! Ek wou ook welsynswerkster word…… dankie die mens wik, maar God beskik.

  3. Soms moet ek myself herhaaldelik herinner dat nie almal groot gemaak is soos ek nie.

    Sekere mense wil ‘verandering’ teweeg bring sonder om iets te doen. Pakke vol beloftes word op die tafel gesit en die persone wat geraak word daardeur beskik nie altyd oor die vermoë om te besef dat dit ‘n pak stemkopery is nie.

    Dit maak ‘n stil woede in my los.

    uhmm Son — SAA Express vlieg propeller-mode George toe ook. Jy gaan moet naslaan of Mango hierheen vlieg, maar Kulula vlieg nie Slaapfontein – George nie ……

    1. Vlooi – lank gelede wou ek ‘n maatskaplike werker geword het. Vandag weet ek ek sou dit nie gemaak het nie. Ek sal nooit slaap as ek elke dag met soveel hoop en wanhoop moet saamlewe nie. SAA Express sal dit dan wees George toe – ek sal jou laat weet as ek oppad is na daai geweste😉

  4. My dogter het so ‘n rukkie terug ook met so ‘n propeller vliegtuig gevlieg….🙂 Na Hoedspruit. Te oulik. Almal wag sommer daar buite die gebou vir die trekker en wa wat die bagasie sommer daar in die pad kom aflaai.
    Ek wonder nou net, jy weet mos hoekom, hoe die windplaas meer werk gaan skep? Caledon s’n is so vinnig opgesit. Ek wonder maar net omdat ek regtig wil weet. 🙂

    1. Toorts – die kliënt is veronderstel om ‘n (wetlik afdwingbare) ooreenkoms met die regering te hê oor die werkskepping. Ons (waar ek werk) deel is klaar sodra die omgewingsimpak analise gedoen is, so daarna het ons niks meer te doen met die projek nie. Ek sal bietjie navraag doen, net interesantheidshalwe

      1. Jy weet, hoekom ek vra. Dis kontrakteurs wat inkom en die paaie maak en die gate grou, grond aanry, ens… als met masjienerie wat drywers het wat al jare daarop werk. Die windlaaiers kom met ‘n vreeslike gejuig oor die radio van waar ook al op grote lorries. Dit word opgesit deur mense (ingenieurs) en ander wat gewoonlik daarop werk. Net so hier en daar sal daar dalk ‘n plaaslike inwoner staan en ‘n vlag swaai. Persoonlik dink ek nie dat daar baie werk geskep kan word met so ‘n projek nie. En as die windlaaiers eers staan, doen hulle self die werk (die laaiers) met een of 2 mense op die perseel wat moet kyk dat als reg loop. Of het ek die kat nou heeltemal aan die stert beet?

      2. Dit gaan nie net oor werkskepping op die perseel nie, dit gaan oor werkskepping in totaal in daardie plaaslike gemeenskap en oor opheffing van die gemeenskap. Ons het niks daarmee te doen nie, dis tussen die ontwikkelaar en die regering. As jy weet wie die ontwikkelaar is, doen navraag – ek glo dis jou goeie reg.

  5. Onstspan die kuite, nie die groenspan of agent orange het propjobs nie. Daai de Haviland bedrywe is ook nog glad nie so bad nie, dis wanneer jy met die 4 en 6 seater goedjies deurmekaar raak wanneer vlieg nie meer soveel pret is nie.
    Wat ek bitter graag wil weet is hoekom een Provinsie een more wakker word en bloot meegedeel word dat alle snelweë voortaan getol sal word, terwyl iemand se gat gelek moet word in ‘n ander provinsie vir die “voorreg” om ‘n windturbine op te rig binne sy gesigsveld? Is daar werklik iemand in beheer?

    1. Jy vra vrae wat ek oor 380 kilometer oor en oor vir myself gevra het. As jy elke aand met ‘n (oor)vol maag gaan slaap, warm en onderdak, HOE DE HEL kla jy omdat jy iets nie wil sien wat ander mense se lewe totaal kan verbeter nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s