Die Lewe · Gedagtes

Déjà-Vu

 

Been here, done this, felt this, cried for this, moved on about this.

Dis hoe ek vandag voel. En gister en eergister en seker nog môre en oormôre ook.

In Kimberley word ‘n hond gered uit ‘n gat, nadat sy 160 meter ver geval het en bo alle verwagting vir meer as ‘n week oorleef het. Geen moeite word ontsien om haar te red nie. Dis goed en mooi dat soveel moeite gedoen is om ‘n hond te red. Daardie stukkie “feel good” nuus, van mense wat alles in hul vermoë doen om ‘n dier te red, word vir dae aaneen regoor al die sosiale media gepleister. Dis goed, dis mooi, dis wonderlik, dis in die gees van kersfees. En en en… Is daar deesdae so min goeie dinge wat met ons mensdom gebeur dat ons heeltemal mal gaan as die kleinste goeie dingetjie iewers vermag word?

En wat van die baie ander dinge en mense in hierdie mooi land wat redding nodig het? In die hele wêreld? Vergeet ons maar daarvan en fokus op die een hond wat ons wel kan red? Op die daad wat ons nog ‘n welbehae in die mensdom gee? Red ons die hond, want ons kan nie die duisende honger kinders red nie?

In dieselfde Kimberley sit ‘n seun van 17 jaar in die hof. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy pa, ma en suster vermoor het. En ook sy suster probeer verkrag het. Dis te erg om selfs net te ‘imagine’ dat hierdie mooi kind tot so iets in staat kon wees. Maar die bewyse stapel op en die seun word kort-kort uitgevang dat hy lieg. Waar loop ‘n lewe so skeef dat ‘n tienerseun so iets doen? Kan dit nog moontlik wees dat hy onskuldig is? Waar is die welbehae in hierdie mens?

Verlede Maandag word daar ‘n vraestel voor ongeveer 6000 matrieks neergesit. Een van die vrae is oor ‘n uittreksel uit die toneelstuk Tshepang deur Lara Foot Newton. Die toneelstuk handel oor die wreedaardige verkragting van die 9-maande oue Baba Tshepang. Die leerlinge word gevra om te beskryf hoe hulle die akteur ’n daad van verkragting (deur ’n besemstok en brood te gebruik) sal laat opvoer “om die aakligheid van die verkragting vir die gehoor te vergroot”. Op geen stadium is die leerlinge voorberei daarop dat hulle so ‘n vraag sou kry nie. As ek ‘n leerling was, sou ek tot in my siel gewalg gewees het om selfs net so iets te probeer antwoord. As mens uit vrye wil oor so iets wil skryf, doen dit. Maar om so tipe vraag as eksamenvraag te gee – watter doel dien dit? Ek kan om my lewe te red nie sien wat die positiewe kant van so iets kan wees nie. Daar is honderde ander maniere om jongmense bewus te maak van die verkeerdheid van verkragting. En om ‘n besemstok en brood te gebruik om die baba-verkragting te simuleer?! Dis in my boek verby pervers, weersinwekkend en onvanpas! Ons land se geskiedenis en statistiek van verkragting in ag genome, moet daar natuurlik met die kwessie gehandel word. Maar so? Nee!

Neem my dus nie kwalik as ek vandag geen welbehae in die mensdom het nie. Ek weet daar is veel meer goed daar buite as sleg, ek weet daar word veel meer ‘honde’ gered as wat ons in die koerante van lees. Ek weet daar is elke dag barmhartige Samaritane. Dis net, ek sien hulle nie, ek lees nie van hulle nie. Niemand vertel van hulle nie. Want uiteindelik is dit nie nuus nie. Dis nie grusaam genoeg nie, dis nie wreed genoeg nie, dis mos net goed en mooi.

Dalk moet ek net finaal ophou nuus kyk en lees. Dalk moet die jaar nou net einde kry. Dalk moet ek net uit winkels uit bly waar almal net al hoe meer ongelukkig en gestres lyk, al is dit veronderstel om die mooiste, vredigste tyd van die jaar te wees. Dalk moet ek my nie ontstel oor die padvarke wat mens se volgafstand steel nie, nadat hulle op hul toeter gelê het omdat jy nie naby genoeg op die motor voor jou se buffer sit nie.

Dalk moet ek iewers my eie hond gaan red. My eie energie net positief aanwend. Dalk kry ek dan my welbehae terug. Net dalk.

17 thoughts on “Déjà-Vu

  1. Neem elke klein ding wat jy kan doen as die lewe se doel vir genade terwyl jy hier op aarde. Jy sal geseën word en dit is die menslike behoefte wat maak ons harte. Sorry if my translation is not that good.

  2. Dieselfde week as die matrieks se vreeslike vraestel, het my gr 8’s ook Natuurwetenskappe geskryf, en hier is ‘n uittreksel uit hulle vraestel wat ek vanaf ons kring ontvang het.

    Die sade [kremetart] is verfrissend om te suig en wanneer dit gekook word of in water geweek word, maak dit ‘n verfrissende suurlemoengeur drankie, Sommige van die inheemse bevolking glo dat wanneer hulle die water drink, waarin die sade geweek het, hulle teen krokodille beskerm sal word.

    4.4 Verduidelik waarom jy dink OF nie dink die water van die geweekte sade sal jou
    beskerm teen krokodille nie. (2)
    4.5 Hoe kan jy toets of die bewering in die laaste sin van die leesstuk, waar is? (1)

    REGTIG? Die kinders wou hulle slap lag…

  3. Ja dis ‘n goed-voel storie oor die hond, maar in my koppie wens ek dit word vir mense gedoen. Maar nee, die mensdom raak net meer selfsugtig en gee nie meer om nie. Helpende hande raak minder want die eie ek vreet tyd.

    Ek sou graag daai persoon wie die vraag gestel het in die eksamen ‘n kopklap wou gee.

    Gaan red daai hond Son.

  4. Die kind wat daardie opstel kan skryf, is ongelukkig die een wat self verkrag is, en hy/sy sal so getraumatiseerd wees, ek wonder of hulle daaroor sal kan skryf.
    Ek lees en kyk lankal nie meer die nuus nie. Ek luister RSG, wat beslis nie vertel van elke aanval/moord/verkragting, ens nie.Verder het hulle ‘n doelbewuste poging om daagliks of weekliks “goedvoelstories” te vertel, sommer allerdaagse goedvoeldinge wat in ons land gebeur, soos iemand wat jou beursie opgetel het en vir jou gebring het, ens. Dit help nogals.
    Ek voel soos jy oor die hond. Ek wil nie hê diere moet swaarkry, maar NOG MINDER wil ek hê mense moet swaar kry.

  5. Jaa Son, is duister daar buite. Gaan soek jou hond en red hom, of dit nou van die vierpoot of tweebeen soort is maak nie saak nie. Red hom, dit sal jou beter laat voel. Miskien moet jy hom/haar net nie huis toe vat nie, dan sit jy dalk met `n ander, groter probleem?

  6. Die tekort aan goeie nuus is nogal ‘n pyn in die… wel… in die gat as ek effe kru mag praat… mens soek jou alie af om die goedheid soms in mense te vind… maar soms slaan jy ‘n geluk ook…

  7. Ek het daai gat al gesien…hoe de hel het die hond daar ingekom?!

    Kon self nie glo dat enige iemand aan so ‘n vraag kon dink vir ‘n eksamen nie. Eintlik is dit net hartseer…

  8. My welbehae in die mensdom is self dun gesmeer. Mense is onbeskof, ongemanierd en oor die algemeen so met donker besmet dat die jaar wragtag nou maar kan klaarmaak. Die feit dat ek die bedenklike seën om te woon in ‘n area wat totaal kêns word in die sogenaamde feestyd maak my welbehae nog minder.

    Dalk moet mense minder fokus op wat die media in ons gorrelgate afdruk en ons eie konsep van welbehae begin uitleef.

  9. Sjoe, ek is jammer dat jy so voel, en julle het nou somer en als. Dis nie koud en donker heeldag nie, aka ‘n goeie rede om depressief en gatvol te wees nie. Daar was ‘n ander skrywe van jou waar jy so gevoel het, en ek gedink het dit jou dalk sal goed doen om ‘n hond te gaan red. Nou het jy self die idee gehad🙂 Ek dink jy moet dit doen!

  10. Bly om te sien ek is nie al met najaar omgekraptheid nie. Die Kimberly hond het ek geniet as ‘n diere liefhebber, vir my gewys daar in mense wat omgee. As dit enige ander gat of kwarrie was het ons seker nooit daarvan gehoor nie. Wat die eksamenvraag betref is my asem deur skok nog weggeslaan – vulger verby.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s