Die Lewe

Die lewe is ‘n eenbedryf

 

Maandagaand het die uil weer heelnag geroep. Ek dink altyd dis ouvroustories, maar ek moet my dalk begin steur aan die uil se roep.

Dinsdagmiddag loop een van die aangenaamste mense vir oulaas by my kantoordeur uit. Nie ek of hy of enigiemand anders weet dis vir oulaas nie. Hy is nie my baas nie, maar hy is een van die niceste base in die maatskappy. Hy was 30 jaar hier. Dinsdagmiddag kom groet hy my baas en sê hy gaan sy laaste oefensessie met die fiets doen en dan rus tot Sondag, wanneer hulle twee gaan inskryf vir die MTB volgende week. Hy is superfiks, hy is gesond.

Hy gaan ry fiets agter Paradyskloof en kom nie weer huis toe nie. Baie baie later Dinsdagaand vind hulle hom – dood aan ‘n hartaanval terwyl hy fiets gery het. Ons is ‘n maatskappy in rou. Hoe erg moes dit vir hom gewees het daar so alleen? En het hy besef wat besig is om met hom te gebeur? Dis van die vrae wat nooit antwoorde sal kry nie. Ons kyk vir mekaar en ons sê ons kan dit nie glo nie. Dit sink nie in nie. Ek vermoed dit het nou nog nie ingesink nie.

Sy persoonlike assistant tree die einde van die jaar af. Sy was letterlik sy regterhand. Hy het vele male gesê sy kan nie weggaan voor hy nie ook aftree nie, hy gaan nie met iemand anders regkom nie. Ons het almal gewonder wat gaan volgende jaar gebeur as hy sonder haar moet werk. Hy het altyd grappenderwys gesê as sy loop, loop hy saam. As mens maar in die toekoms sou kon sien.

Ons is almal in ons spore gestop. Die lewe word net vir ons geleen en soms mors ons dit om. Ons verbrou ons kanse en lewe asof daar vir altyd ‘n more gaan wees. Wel, soms groet ons en loop by die deur uit en klim op ons fiets en ry weg, sonder dat ons weet dis die heel laaste keer. Dat ons nooit weer sal terugkom nie. Dat die mense wat ons nou groet, ons nooit weer sal groet nie. Dat die woorde wat ons nou sê, werklik, onverbiddelik, onomkeerbaar, ons laaste woorde is.

Die een wat nooit terugkom nie, is die een vir wie dit nie werklik meer saak maak nie. Dis ons wat agterbly wat sal moet onthou wat ons laaste woorde was aan die een wat by die deur uitgestap het, wat op die spreekwoordlike fiets geklim het en weggery het, wat nooit weer gaan terugkom nie, nooit weer by die deur sal in stap nie, nooit weer sal hello sê nie.

Soms is die lewe net ‘n eenbedryf, is daar nie ‘n pouse nie, nie nog tonele nie. As die gordyn sak, is als verby. Soms besef ons eers dis die einde nadat die gordyn gesak het, en besef ons dat ons beter moes opgelet het, dat die storie te vinnig verby is, dat ons dit dalk weer sal wil kyk om al die onderliggende nuanses beter te kan verstaan, maar dan is die kaartjies reeds almal uitverkoop en moet ons vrede maak daarmee dat ons daardie presiese toneelstuk nooit weer sal kan herleef nie.

Niemand wil elke bedryf van die lewe leef met die dood langs jou nie, maar dalk moet ons elke bedryf van die lewe leef na die beste van ons vermoeë, asof ons net daardie een vertoning het, asof ons speel vir die Oscar. Saam met ons mede-akteurs. Asof die verhoog net vanaand ons s’n gaan wees. Want more tree ons dalk op saam met ander akteurs. Op ‘n ander verhoog. Of ons tree glad nie weer op nie.

25 thoughts on “Die lewe is ‘n eenbedryf

  1. Son, ek geniet nie net jou skrywe nie ek waardeer jou as siel… jy skryf diep in die siel in… en gee mense dink werk… hou aan… ek vir een wil elke atrikel kom in neem soos ‘n spons en al jou wyshede hier in my hart graveer. Namaste.

  2. So jammer om te hoor. My Kobie het ook een middag gery, en nooit weer teruggekom nie. Ek sien nog daai groot glimlag en laggende bruin oe toe hy my onwetend die laaste keer groet. Alhoewel sy gordyn te gou gesak het, het ons ‘n fantastiese vertoning gehad

  3. Jammer oor julle verlies. Ek hoop nie die uil roep gou weer nie.
    Hier by ons hoor mens maar baie die uile, want dis mos graanwêreld, wat muise lok, wat uile lok. So ons luister nie as ‘n uil roep nie.

  4. Om, soos die Buddhiste sê ‘bewustelik’ te lewe is seker hier van pas. Bewus van elke oomblik, van wat jy doen/sê/dink, dan sal ons minder kwaad doen, meer goed doen en as ons die Bardo bewustelik ingaan (met of sonder fiets!) sal dit daar ook met ons beter gaan.

  5. ai toggies, jammer om te hoor … dis baie hartseer.

    ek en mr m gaan nooit kwaad uitmekaar uit nie … gaan slaap ook nie kwaad nie … juis vir hierdie rede.

  6. Ek wil nie eers daaraan dink nie. Daar is ‘n paar mense wat regtig die wind uit my seile uit sal haal wanneer hulle eendag op hulle fietse klim en verdwyn. Ek kan my nie die lewe indink sonder hulle nie, ek weet dit sal aangaan, maar dit sal verseker nie dieselfde wees nie.

  7. Dankie vir die storie. Ek het nog geen mens na aan my verloor nie. Katte, genoeg. En die wat weg is sonder dat ek weet wat gebeur het, maak my altyd hartseer. Wonder hoe ek dit sal hanteer as die dag eers daar is…

  8. Hoe wonderlik, hy het die bus na die anderkant van die reënboog geneem toe hy gedoen het wat vir hom die optimum van sy lewensbestaan was. Ek hoop dit sal ook so met my gebeur, om te gaan terwyl ek besig is om my groot genot te geniet – kamera, kliek en vaarwel. Wees bly, sy siel jubel.

  9. Daar was ‘n groot, swart kraai buite my slaapkamervenster wat op die muur gesit het en vreeslik vir my geskree het een Saterdag oggend in April. My ma het by my kom kuier vir ons “usual Saturday morning menthol ciggies and caffeine”. Sy is huis toe, en het die middag haar gewoonlike middag-slapie geniet, en nooit weer wakker geword nie. Sommer net so… oor en verby. Een ding is beslis verseker, die antie het haar lewe geniet! Miskien NIE altyd die beste van alles gemaak nie, maar ek het die mees interessante “childhood” gehad en daarvoor is ek oneindig dankbaar. Ek mis haar oneindig baie, maar daar is soveel “treasured memories” dat ek AMPER, AMPER die verlange kan “handle”.

  10. Weet jy, ons vriend Braam is ook onlangs so dood. Hartaanval op sy fiets. So baie mense het gesê hoe hartseer dit is dat hy in ‘n sloot langs die pad sy laaste woorde gepraat het, maar is dit nie eintlik amazing dat hulle kon gaan op hulle manier nie? Terwyl hulle doen wat juis vir hulle lekker was nie? Fietsry was Braam se lewe, en op sy fiets het hy sy laaste bietjie lewe gelewe.

  11. Elke keer wat ek uitgaan met my surfski, maak ek eers seker daar is genoeg kos en water vir my diere om vir ten minste ‘n paar dae te oorleef net ingeval ek nie terugkeer nie. Die gedagte dat hulle van honger en dors omkom maak my mal.

    Sterkte met jou verlies by die werk. Jou kolegas raak jou vriende sonder dat jy dit besef en as hulle nie meer daar is nie, voel ‘n mens dit.

  12. Ek het my Dad ook so verloor. So skielik sonder waarskuwing. Sonder dat ek geweet het wat my laaste woorde aan hom sou wees. Soms wonder ek wat is erger. Om iemand skielik sonder waarskuwing te verloor of stelselmatig magteloos met jou hande afgekap.

    Ons weet hierdie. Ons weet ons het net vandag, maar ons bly karring aan die gisters wat ons saamsleep en loop met ons gedagtes in die môre wat dalk nie eens gaan klop aan ons deur nie. In die proses verloor ons die nou. Die woorde wat ons dalk nie kan weer sê vir ore wat gaan hoor of luister nie.

    Hierdie woorde van jou bevestig by my wat ek besluit het. Damn die verlede en bring it on future. Vandag gaan ek alles gee.

    Wie weet wie môre nog saam met my op hierdie lewensverhoog stap?

    Ek sien jou Son en my hart hoor jou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s