Gedagtes

Vir Elf – en haar Simonsberg

Ek “tag’ jou nie Elfie, want ek weet jy sal jou pad hierheen vanself vind. Toe Blue Tattoo van Vanilla Ninja vanoggend deur my kop storm, toe weet ek ek moet vir jou skryf.

Sonder dat jy dit weet, loop my kop al dae lank saam met jou. Want ek weet. Jy mis die Kaap. En ek weet ek is een van min wat verstaan. As ek soggens my gordyne ooptrek en die Simonsberg val tot binne my kamer, dan skree hy “Elfie!”. En ek voel jou pyn. Want daar is niks wat so seer maak soos die verskeurdheid tussen twee liefdes nie.

Daar is mense wat ongebonde deur die lewe gaan. Ongebonde aan ‘n plek en soms ongebonde aan ‘n ander mens. En dan is daar dié wat nooit weer hulself kan losmaak van die grond waar hul die eerste lewenstreë gegee het nie. Soos ons. Of ons die grond besit of nie, dis ons hartland. Dit sit vasgeskop in ons weefsel, in ons in- en uitasem, in ons lag en in ons trane. Die Berg se merk is in ons ingebrand, al kan niemand dit sien nie. In my – Tafelberg. In jou – Simonsberg.

Ek weet van wakker word in ‘n vaal, dynserige Hoëveld. Van die drukking op my bors as ek die reuk van daardie wêreld inasem. Van die ankerloosheid sonder Die Berg. Die uitlaatgasse van die verkeer ruik anders daar, die lug is anders blou, die mense is anders vriendelik, die klank van hulle e’s en o’s rol rond in jou ore en jy voel jouself ewig eenkant. Nie deel nie, nie myne nie, niks Berg nie, geen Suid-Oos nie. Net ek, alleen in ‘n eiland van vreemdheid. En al wat jou staande hou, is die Liefde. Want dis hoekom jy daar is, daarheen gegaan het, jouself weggeskeur het van die grond van jou hart af.

Min mense verstaan hoe moeilik dit kan wees om tussen die liefde van jou hart en die liefde vir jou geboortegrond te kies. Grond kan jou nie vashou nie, grond kan jou nie troos as jy hartseer is, saam met jou lag en met jou liefde maak nie. Grond is ‘n dooie ding. Nee, dit is nie. Vir party van ons is dit die “ultimate” om daardie keuse te maak. Jy het. En jy is by die liefde van jou lewe, maar jou siel raak soms verlore van verlange. I feel your pain.

My wens vir jou is dat hy sal verstaan as jy soms wegraak in die klowe van die berg in jou kop, as jy soms trane het wat die Suid-Oos nie kan droog waai nie, as jy soms ‘n rivier of dam gaan soek, omdat daar nie ‘n see is nie. Dat hy jou sal omvou met die liefde wat dit alles die moeite werd maak. Want uiteindelik kies mens altyd die grootste van jou twee liefdes en soms moet mens die vreemde in om by jou hart uit te kom. Al huil jou siel bietjies-bietjies.

Ek het dit een keer gedoen, maar die liefde was nie die regte een nie. En tog sal ek dit weer doen, as die regte een my roep. Want die Berge gaan nêrens heen nie – hulle sal altyd hier wees, Elfie. Maar die liefde wat jou hart toevou kom soms net eenkeer verby. Dan moet mens reg kies. En jy het.

Ek sien jou Elfie. Ek sien jou. We keep it real.

9 thoughts on “Vir Elf – en haar Simonsberg

  1. Vanoggend het ek gestaan op die stoep en my berg gekyk en vir die eerste in lank net mooi niks gesien of gevoel terwyl ek kyk nie.

    Ek mag dalk erg wees oor hierdie berg, maar dit is nie die grond van my hart nie.

    My siel huil bietjies-bietjies

    Ek sien jou Elf en ek sien jou Son

  2. My oe brand, my keel word dik, my hart brand en my kop klop, want ek snik-n-stukkend-huil, maar mag nie. Composure. Ek vind in die woorde van hierdie enkele post meer troos en opregte verstaan as wat ek in die afgelope 9 maande gesamentlik vanuit ander oorde bymekaar geskraap het.

    Omstandighede het hierdie keuse vir my gemaak. Ek probeer daaraan dink dat hy my nie weggevat het nie, maar dat ek hom hier kom haal om hom eendag terug te neem na waar lewe n werkwoord word. Ek weet ek hoef nie icing op my woorde te sit om my opregte dankbaarheid hiervoor aan jou te bewys nie, want jy wéét.

    Dankie vir hoe jy in die weg-wees van die afstand tussen ons, steeds hier is by my (meer as wat jy ooit sal besef). Vir nou is daar n pleister op my hart .. we feel real, we bleed real, we keep it real, always.

    D A N K I E

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s