Ongeklassifiseerd

Oor ‘n geliefde skryfster, maar oor veel meer as net ‘n geliefde skryfster

Soms moet of kan mens stilbly en soms kan mens nie stilbly nie. Dan moet jy vertel van die dinge in jou hart en in jou kop, veral as daardie dinge vir iemand anders die pad ligter kan maak.

Gisteraand lê ek weer en verder lees aan Swart op Wit van Annelie Botes. Lank terug het ek  HIER geskryf van Thula Thula. Daardie boek het vir maande saam met my geloop. Daardie boek het gemaak dat ek vir baie dae gevoel het ek moet in hofbanke gaan sit en kindermolesteerders vrek skiet. Nie vrek skiet soos ‘n hond nie, want ek kan nooit ‘n hond aftrek tot die vlak van ‘n kindermolesteerder nie. ‘n Hond is ‘n edel dier.

My pad het onlangs weer met ‘n vrou gekruis wie se pa haar molesteer het. Op sewe vertel sy haar ma, wat haar blatant uitskel vir ‘n leuenaar. Sy vertel haar ouer suster, wat sê sy het gedink haar pa doen dit net met haar. Op vyftien vertel hulle weer hulle ma. Wat hulle weer uitskel vir leuenaars. Intussen is die ma en pa geskei. Die meisies het alle kontak verbreek met hul pa, maar hulle kyk na hulle sieklike ma. Ek word koud en warm soos ‘n malaria sieke van woede. Pas julle siek ma op! Ek sou my ma doodgeleef het, want, meer as hulle pa, ver meer, het SY, die moeder, haar kinders gefaal! Dis bo my verstaan. Vir altyd. Ek dank die Vader dis ook nie deel van my ervaringswêreld nie. Ek sou gemoor het. Ek weet ek sou. So seker soos wat ek my naam ken.

Ewenwel, ek dwaal af. Annelie Botes is ‘n paar jaar gelede verguis oor sy die onnoemlike gesê het – oor sy in ‘n ondeurdagte oomblik polities nie korrek was nie. Sy het gesê sy hou nie van swart mense nie, want sy ken hulle nie. Daaroor is sy uitgewerp tot die buitenste duisternis deur die polities korrekte liegbekke. Want ek vertel my nie dat almal wat haar kritiseer het, nie baie dae dieselfde as sy gedink het nie. En nie verstaan het wat sy EINTLIK bedoel het nie.

Ons trek so gou ons reënboogbaadjie aan en wil tog net vir enigiets behalwe ‘n rassis uitgeskel word. Noem my eerder ‘n hoer voor jy my ‘n rassis noem, want ten minste bly ons dan polities korrek. Vir jare het ek in ‘n huis grootgeword waar daar werklik geen rassisme was nie, al is ons sekerlik bevoordeel deur apartheid. My eie pa, net soos Annelie se gryse, kom van Umtata af. Daar grootgeword en sy grootmenstande daar gekry. Hy lewe nog, is amper 80, maar mag dit hom gespaar bly om ooit te sien hoe sy hartsland vandag lyk.

Ek was laas naweek in Delmas in die ou Oos-Transvaal. Heerlik gekuier, maar tot in murg en been geskok oor die verval in die klein dorpies. Oor die slaggate in die paaie. Oor die vullis in die strate. My vriendin het ‘n winkeltjie op hulle plaas, 30 kilometer buite Delmas. Saterdagoggend gaan ek saam met haar aankope doen in Delmas. Ek en sy is die enigste wit in die middedorpie. Ek kom van die Kaap af. Ek sien nie sommer so baie donker om my nie. Ek loop met oë agter my kop en in my ore. Ek lyk seker soos daardie kopknikhondjies agter in die motors van doerie jare, soos ek probeer om oral te sien. Maar eintlik is alles okay. Dis net my ervaringsveld wat maak dat ek totaal uit my vaarwater is. My vriendin loop en koop asof ons in Canal Walk is. As aan met ‘n naat. Darem een keer vir my gesê ek moet maar net my handsak mooi vashou. Was nie nodig dat sy moet sê nie, ek het tot my onderklere mooi vasgehou.

Ek besef eers ek het nie asemgehaal nie toe ek were asemhaal terug in die bakkie. Sy het ‘n motorwag wat haar ken. Waar sy stop, klim hy bo-op haar bakkie en pas die goed op wat reeds agterin is. Sy vertel my niemand sal waag om by hom te probeer verbykom nie. Sy gee hom tien rand. Elke keer glo. Dis eintlik min “protection money”. Ek sou ook tien rand betaal het as ek elke keer kon weet my goed is veilig. Dis ons nuwe Suid-Afrika, dis ons nuwe realiteit. Haar plaasvolk (nie my woord nie) noem hulle nog baas en miesies. Ek skrik my elke keer buite weste as daar iemand in die agterdeur staan, maar hulle soek die miesies, hulle wil by die winkel koop. Gaandeweg raak ek dit oor die naweek gewoond. Ek besef vir die heel heel eerste keer van 1994 af hoe party mense in ons platteland nog lewe. Sy vertel my haar suster se dogter op die aangrensende plaas loop met ‘n pistool op die heup. Sy skiet eers langs die ou op die grond en vra dan wat soek hy op haar plaas. Ek sê eendag kom vermoor hulle haar nog. My vriendin trek haar skouers op – nee wat, hulle is doodbang vir haar, is haar antwoord. Ons land het plek-plek die Wilde Weste geword. Maar ons oorleef, al oorleef ons nie almal nie.

Annelie Botes sê wat ek die naweek ervaar het. Sy sê daai tyd van my bang laasnaweek, ek wat nog nooit aan myself as ‘n rassis gedink het nie. En sy word hard geslaan. Haar hele lewe word aan een uitlating gemeet. Hoe bitter verkeerd, hoe bitter hartseer, hoe bitter onregverdig.

Ek het twee kinders, ‘n seun en ‘n dogter. My seun lees van altyd af – boeke soms wat reg bo-oor my verstaan se kop gaan. My meisiekind fladder en skilder en sing en lees losflos tydskrifte. Op ‘n dag hoor ek sy het die hele Twilight reeks gelees. Ek weet net ek MOET die boeke lees wat haar laat lees het. Ek kry dit en ek lees dit en ek is mal daaroor. Ek dog Megan se lees het daar opgehou. Maar soms leer die nood mens lees. Sy gaan bly op godsverlate vlakte in die Karoo. Die dorpie het darem ‘n biblioteek. Eendag wat ek weer ‘n pakkie moet stuur, vra Megan: “Ma, het jy nie boeke van Annelie Botes nie? Stuur bietjie vir my.” My mond gaap. “Hoe ken jy boeke van Annelie Botes?” “Ek het boeke by die biblioteek gaan uitneem, en ek het nou al al haar boeke gelees wat die biblioteek het.”

Mens kan seker ook net so lank koekies bak en hanslammers grootmaak en skilder in die Karoo. Dankie Vader dat my kind haarself tot die biblioteek gewend het in haar uur van verveeldheid en nie na dagga of dwelms nie. Dan weer, daar is seker ook nie veel daarvan in die Karoo nie. Maar sy kon drank ook eerder gekies het. Toe sy weer in die Kaap kom, vat sy al my Annelie Botes boeke. Nou swerf my boeke in die minderbevoorregtes se Karoo sinkhuisies rond. Want ja, nes ek, gee sy maklik haar boeke aan sodat almal kan lees.

Maar my Swart op Wit gaan nêrens heen nie. Want dit lê nou langs my bed. Waar dit gaan bly. Kom Saterdag sal ek moet Protea toe om vir die Karoo hulle eie Swart op Wit te koop. Die Bybel sê as elkeen van ons maar net een skaap red. Annelie Botes, as jy niks in jou lewe reggekry het nie, dan kan jy rustig slaap dat jy EEN mens wat nooit ‘n leser was nie, laat lees het.

Mag die verlede nou begrawe word oor een stupid uitlating. Want in hierdie land is ons almal bang, al hoef ons soms nie te wees nie. Lank terug was dit “hulle” beurt om bang te wees vir ons. Vandag is dit ons beurt, al mag ons dit nie sê nie. Mag die Vader van genade gee dat daar eendag ‘n dag sal kom dat niemand meer vir iemand hoef bang te wees nie, omdat ons mekaar nie ken nie. Dat die dag van ‘hou-maar-net-jou-handsak –styf-vas’ en ‘eers-weer-asemhaal-agter-geslote-deure’ vir altyd verby sal wees.

20 thoughts on “Oor ‘n geliefde skryfster, maar oor veel meer as net ‘n geliefde skryfster

  1. Ek het die boek laas week gekoop, maar nog nie begin lees nie. Ek het ook al ‘n paar van haar skrywes gelees en dit voel asof sy soms met en vir my praat.

      1. Laat middag gister het ons so heerlike donderstorm gekry en ek het op die stoep gaan sit om te luister na die reen, en begin lees aan Swart op Wit. Ek het baie gou besef dit gaan ‘n lang sit word.

  2. Ja Son, ons dorpies is `n hartseer saak. Wat jy daar beleef het, beleef die ouens elke dag, swart en wit. Dis nie regtig `n swart op wit ding nie. Ons leef almal in vrees.
    My ondervinding is dat boere op hulle plase rustig is. Huise staan oop, honde lê en slaap. Dis die ouens op die plotte wat swaar kry, wie se huise soos forte begin lyk. En dis die man met die rooi hoed en sy (FFFF?) party wat alles op sy kop gaan keer.

  3. Son – jou woorde het die gawe om soos ‘n bekende trooskombers te kom lê op ‘n mens se skouers. Ek sit tussen jou woorde of dit ou bekende vriende is wat skielik uit die bloute weer kom hallo sê het.

    Soms kan ‘n mens stilbly en ander kere kan jy nie – Sela

  4. Ek is so bly om te sien en te hoor dat die boek nog iemand soveel geraak het as vir my. Dit is een van die boeke wat ek gelees het wat die grootste indruk op my gemaak het. Ek lees baie – Afrikaans en Engels. Dit is ‘n unieke boek. Die skrywer se eerlikheid maak dit uniek – en tog is dit ons almal se storie. Ons weet net nie hoe om dit te vertel nie. Annelie weet.

    1. Jy sit jou vinger presies op die punt. Ons weet nie hoe om dit te vertel nie. Annelie weet. En sy vertel dit op haar unieke manier, namens ons almal. Ek gaan nooit genoeg woorde hê om die waarde van Swart op Wit in swart op wit neer te pen nie.

  5. sjoe sjoe sjoe – tien uit tien uit tien uit tien vir hierdie skrywe. dit het my nou baie geraak. ons ‘ken’ mekaar mos en ‘ken’ mekaar se harte, so coming from me – kan ek maar vir jou se dat ek effe huiwerig is om haar boeke te lees na die ‘uitlating’, want ek mos ‘n groot ‘lefty’. maar … ek roem myself ook daarop dat ek probeer om nie te judge nie, so ja …. mmm …. hierdie laat my baie dink … en ek gaan nog dink.

    mr m gaan die boek vir my kry by die werk … het besluit om oopkop te wees, voor ek hierdie gelees het. 😉

    1. CMC – Annelie is net so min rassisties as wat die man in die maan rassisties is. Jy kan maar lees. Ek sal jou ‘n brief gee, jy gaan nie ophou lees nie. Daai vrou het ‘n HART. Onnadenkend het sy iets gesê wat verreikende gevolge gehad het. Op ‘n tyd het ek met perlemoen gesmokkel. DIT kwalifiseer nie wie ek in totaliteit is nie. Vandag weet ek dit was ‘n fout. Destyds het ek dit gedoen omdat die doel die middel geheilig het. My sonde was niks kleiner as enige ander se sonde nie, al kan ek dit hoe inkleur. Daar loop meer rassiste rond wat mooi broodjies voor jou bak en agteraf lelik praat oor mense wat nie dieselfde as hulle is nie. You know me. Gee haar ‘n kans asseblief

  6. Son, ek het Annelie Botes leer ken met ”Klawervier”. ‘n Boek so treffend ek het dit seker 4X gelees en elke keer iets nuuts ontdek deur die oe van die kind van die Kammanassie.

    ”Swart op Wit” het ek nog nie gelees nie. ”Thula Thula” het ek begin maar om verstaanbare redes nie klaar gelees nie. Die boek le hier vir my en kyk . . .

    Na hierdie skrywe van jou, is dit ”Swart op Wit” my volgende boek.

    Ek weet nie waar jy woon nie, maar ek het net ‘n paar dae tevore gelees dat Annelie Botes op 13 Augustus hierdie boek van haar by die Kliphotel Country Store gaan bekend stel.

    ”The Kliphotel Country Store is located on Route 62 (Misgund, Langkloof, Eastern Cape, South Africa)”’

    ”Kom luister na ANNELIE BOTES by die Kliphotel Country Store op die 13de Augustus om 18h30.
    Hierdie “kind van die Kammanassie” kom stel haar nuwe boek, Swart op Wit, bekend en beloof ‘n heerlike aand van stories en lekker lag. Haar boeke sal te koop wees by die praatjie.
    Kostes beloop R65 per persoon wat insluit heerlike sop en brood.
    Kroeg fasiliteite
    besprekings noodsaaklik by info@pretti.co.za
    of 0826574122 (Helena) 0826102407 (Anton)”

    Baie groete!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s