Gedagtes

Eerste-Vrydag-van-Augustus Gedagtes

Op verskeie plekke het ek onlangs gelees oor hoekom mense blog en hoekom mense moeg raak vir blog en hoekom mense ophou blog. Ek dink mens raak op ‘n stadium op-geblog. Uitgepraat. Leeggesuig. Soos ‘n droë lemoen. Ek is tans daar, maar ek het nie heeltemal niks te sê nie. Ek het baie te sê, ek dink net soms dis nie meer die moeite werd om dit te sê nie, want wat gaan dit tog verander. Tog word ek nog steeds snags wakker en skryf my beste gedagtes in die donkerte van half drie in die oggend in die nagswart van my kamer in. As ek minder lui was, moes ek eintlik opgestaan het en dit regtig neergeskryf het. Maar dan draai ek eerder om en probeer verder slaap en belowe myself ek gaan dit in die oggend neerpen. Kom oggend, kom niks.

Maar vannag het ek weer lê en dink en skryf in my kop en daar is ‘n paar goed waaroor ek sterk genoeg voel om tog wel nou te gaan sit en dit te skryf. Daar is ‘n paar mense op Facebook wat ek vandag gaan uitvee. Ek wil hulle nie meer sien of hoor nie, want hulle maak my naar. Dit het skielik mode geword om nie in God te glo nie, om in NIKS te glo nie. Om te glo ek word gebore, ek haal asem, ek lewe en dan gaan ek dood. Poef! Vrek! Met niks behalwe ‘n liggaam wat uiteindelik opvrot nie. Wel, ek staan nog altyd die beginsel van leef en laat leef voor, maar soms moet ek my skei van die semels, want ek wil werklik nie varkkos word nie. Nee, ek dink nie ek is beter as ander nie, maar ek dink wel dat ek nie elke dag wil sien, hoor en lees hoe GEEN Opperwese bestaan nie. Dis soos om elke dag ‘n bietjie gif te drink en te bly glo jy gaan niks oorkom nie. Net soos ek probeer om nie my geloof in ander se kele af te druk nie, net so wil ek nie ander se ongeloof in myne afgedruk hê nie. Dis erger as kasterolie.

Dan is daar die ander nuwe tendens – of dalk is dit nie nuut nie, sosiale media het dit net meer openlik gemaak. Die een van ‘n monogame verhouding / huwelik is belaglik, kan nie werk nie, is nie eie aan die mens nie en twaalfduisend ander verskonings. Dis om van te kots om te lees dat oop huwelike eintlik die regte ding is. Dis wanneer ek wil FOK en FOK en FOK sê tot ek moeg is om FOK te sê! En die ironie is dat die sommige mense wat dit verkondig, se huweliksmaats onbewus is daarvan, maar die persoon / persone sal ook nie uitstap uit die beklemmende huwelik nie, want sy/hy is te snotsleg om vir haar/homself te sorg. So ja, dis tyd dat ek ‘vriendskappe’ heroorweeg. Dis VANDAG daardie tyd. As jy wil rondhoer en rumoer – MOET JOU AAN GEEN MENS COMMIT NIE! DAN, en slegs DAN, kan jy van veelvoudige seksmaats begin droom. Tot dan, hou jou gat op sy plek!

Ek gaan darem nie net mense uitvee vandag nie🙂 Soms kom mens by ‘n streep in jou lewe. Soms trek ‘n ander mens vir jou daardie streep omdat jy nog altyd te bang / ordentlik / saghartig was om self die streep te trek. En dan is jy nie onmiddellik baie gelukkig oor daardie streep nie, maar soos die tyd aanstap besef jy dat dit die beste ding is wat daardie persoon ooit vir jou kon doen. Om die streep te trek en te sê nee, genoeg. Klim uit hierdie kryt uit en gooi die handdoek in. Ek het onlangs by so ‘n streep gekom. Dit was ‘n hartseer streep, maar daar was mense wat my opgetel het en uit die kryt uitgedra het. Mense wat salf aan die seer gesmeer het, vriende wat gewys het hulle is altyd daar, al is hulle nie altyd naby nie. Dis eers wanneer mens iemand nodig het om jou uit die bokskryt te dra, wat jy besef waar wie se waarde lê. Hierdie mense weet wie hulle is. Ek weet ook nou.

Dit gaan goed met my. Dit gaan al hoe beter met my. Ek dank die Vader daarvoor, want ja, ek glo steeds in Hom. For better or for worse🙂

15 thoughts on “Eerste-Vrydag-van-Augustus Gedagtes

  1. ai, weereens baie baie goed geskryf, soos gewoonlik. 😉

    yip, ek hoor wat jy se en stem saam met jou. ‘i let others be’ – hoe jy wil lewe, hoe jy wil glo of nie, blah blah blah, al daai goed – en gaan ook nie my goed in ander se kele afdruk nie, maar yip – jy is reg, dit het mode geword om nie te glo nie – ek het dit ook nou die dag vir mr m gese. as jy dit regtig deurdink het en dis wat jy kies, great – maar om so te kere te gaan daaroor. dis soos ‘brieweuitdievreemde’ se, as ‘n mens so aangaan oor iets, het jy tien teen een nie ‘peace’ daaroor nie.

    en ja ‘boerinballingskap’ – ek kom dit ook nogal agter – die disrespek teenoor mense wat wel glo – dit begin my effe irriteer. ek kraak nie ander af wat glo nie en druk dit nie in hulle keelgate af nie, so ek verwag dieselfde van die ander kant ook.

    iemand het my so ruk terug aangevat dat ek se dat ek nie van prejudice hou nie, maar dat ek prejudice is teenoor mense wat prejudice is, so dan is ek prejudice. *rol oe* ek dink mens respekteer ander vir hoe hulle glo en dink en lewe – dit kom vir my maklik – maar daar is tog mos ‘n fyn lyn. ek kan kies wat ek wil lees, met wie ek vriende is in die regte lewe en op facebook. ek kom nie oor die weg met mense wat rassiste is nie, wat homofobies is nie, en wat enige vorm van ‘extremism’ toon nie. en dis mos ‘n mens se reg as ‘n mens kies om die ‘ander’ te ‘delete’ …

  2. “Ek dink mens raak op ‘n stadium op-geblog. Uitgepraat. Leeggesuig. Soos ‘n droë lemoen. Ek is tans daar, maar ek het nie heeltemal niks te sê nie. Ek het baie te sê, ek dink net soms dis nie meer die moeite werd om dit te sê nie, want wat gaan dit tog verander.”

    Jy som my gevoel goed op.

    En ivm ateisme…Dit waarna jy verwys is in der waarheid “anti-teimse”. Ek dink dit het soortvan mode geword om openlik “anti-teisties” te wees op ‘n manier wat disrespek toon teenoor mense wat wel gelowig is.

  3. Ag, ek skryf ook soo baie inskrywings in my gedagtes – daagliks, maar kry nog veel minder dikwels as jy dit reg om dit werklik te skryf.

    Ek voel die Afrikaanse blogs wat so van 2007 posgevat het, is ‘n beweging wat wel saak maak, en jou 3 blogs van toe af tot nou is baie sentraal daarin.

    Moet net nie voel jy moèt skryf nie, en dat dit soos ‘n las word nie. Skryf eerder as jy moet – dws as iets regtig moet uitkom.

  4. Son, in my ervaring is enigeen wat daagliks MOET aangaan oor hoe hulle nie in God glo nie – of dan wel doen – nie regtig seker van hulle saak nie.
    En bring asb. EEN, slegs EEN persoon wat in ‘n “oop huwelik” sit waarin AL die partye ewe gelukkig is met die situasie – ek is nie ‘n ekspert nie, maar uit hoofde van wat ek weet van human nature, dink ek nie daar is selfs EEN so ‘n geval nie, nie nou nie en nie in die verlede nie. Die Franse skrywer Catherine Millet – wat in haar lewe al eksplisiet oor seks geskryf het – het ‘n boek geskryf oor haar sg. “oop huwelik”: die boek se titel is: Jour de souffrance – letterlik uit Frans vertaal as: Day of Suffering, maar die Engelse titel is: Jealousy – The Other Life of Catherine M. Beide titels is insiggewend, volgens my.
    Laastens, as “oop huwelike” so cool is, waarom fassineer buite-egtelike verhouding mense steeds so? Omdat iemand erens gaan afkak en almal weet dit.

  5. Om te Blog … of om nie te Blog nie, dit is ook deesdae meermale die vraag wat by my opkom. Nou dat die slothoofstuk van my storie “Chris” op hande is, dink ek gaan ek ook soos boerinballingskap my breins bietjie rus😀
    Oor die Boek-van-gesigte; wel, ek verpes dit al meer en meer. My vrou het gedreig dat, as een bliksem weer `n bebloede Christus op haar blad plaas gaan die bloed vloei. Soos jy sê, Fok, `n mens wil nie op jou nugtermaag so iets sien nie. Watter siek behae skep mense in so iets. Dis afskuwelik!
    Die hele Facebook ding is narsisties. Ek, Ek, Ek al die pad.
    En ja, die ateïste ding ruk ook hand uit. Een het nou eendag gevloek en skel soos `n viswyf oor godsdienstige stukkies in `n resepteboek. Niemand dwing jou tog om die boek te lees nie!
    Son, hou aan skryf, al is dit net gedigte of kort gedagtes. Jou skrywe is altyd interessant. Vasbyt!

  6. Hans du Plessis (wat verseker op ‘n bewese opinie geregtig is) sê dat ‘n mens die beste skryf wanneer jy nie skryf nie.

  7. Dankie vir die verwoording van my eie gevoel. Ek wonder juis die afgelope tyd wat met my aangaan, en hier kom jy, en jy verduidelik dit aan my. Ek’s ook gatvol vir die keel-afdruk gewoonte van ander. Nog nooit het ek my geloof of beginsels, of bloot net waarvan ek hou, in ander se keelgatte probeer afdruk nie; maar, daar is altyd daardie wat jou van hulle “geloof in niks”, hulle beginsels en goed waarvan HULLE hou in JOU keel probeer afdruk. Daarvan het ek ook nou genoeg gehad. Verder wil ek net opmerk dat baie mense TEEN Facebook is, maar dis nou die één plek waar ek geleer het wie gee regtig om…Op die ou end draai dit als om selfsug en hebsug, en myself. Daar’s nie spasie vir ander nie. Geniet jou nuwe spasie en vryheid waar jy bandeloos kan leef. Ek moet nog daar kom.

  8. Pragtige stuk.

    As mens niks anders in die lewe oorhet nie, moet jy ten minste in jou eie beginsels glo. Dit cover vir my so min of meer alles wat jy hier bo kwytraak.

    Dankie.

  9. Die alfabet lê soos scrabble stukke in my en kan vir die beste wil nie woorde vorm nie. Nie eens vir 3punte nie. Ek hoor wat jy hier sê en as ek woorde gehad het sou ek iets skryf.

    Ek gaan net like en my kop innemend skud

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s