Die Lewe · Gedagtes

Asblik praatjies

Kahuna se opdrag was:

“Trash talking noem die Amerikaners dit. Asblik praatjies. Ons terg mekaar oor die sport spanne/manne/vroue wat ons ondersteun. Ons terg mekaar oor die plekke waar ons woon. Ons terg mekaar oor die kunstenaars wat ons aanhang, die mouterkarre wat ons bestuur, die beroepe wat ons pleeg, ad infinitum. Is dit werklik net ‘n goedige geskerts, of is daar iets meer? Jou opinie.”

Okay. Ek moet nou mooi trap. Want hier mag dalk sensitiewe lesers wees. Soos Blou Bulle 😉

My opinie. En natuurlik is dit subjektief, want dis NET my opinie. Wel, my opinie het oor die jare verander. Kom ons begin by die sport. Jare en jare gelede, toe die wêreld (en ek) nog jonk was, speel die Kwaggas – destyds soort van die ekwivalent van die Springbok span, maar dis apartheidsjare en boikotte en ons is die wêreld se muishond – teen die toerende Britse Leeus. Op Ellispark (as ek nou reg onthou – kon dalk Loftus ook gewees het). Die enigste Wes-Kaapse speler in die span, is Peter Kirsten. Ja, die bekende krieketspeler. Hy is toe 19 en kort daarna sou ‘n erg beseerde knie hom permanent uit rugby verwyder. Hy teken 12 van die span se 16 punte aan. Ons verloor 16-20 teen die Leeus.

My pa neem my die dag saam rugby toe. My pa het self klubrugby gespeel en is ‘n rugby fanatikus. Ek kan nie onthou of ons spesiaal Transvaal toe is vir die game nie, maar dit is moontlik. Daardie dag skree ek my longe uit vir die enigste WP outjie in ons land se span. Hy score en hy score. Ek spring op en af. En word uitgejou deur die ander toeskouers (Transvalers) en ook twee keer met ‘n nartjie teen die kop gegooi. Genuine. Daardie dag begin ek alles wat Transvaalse sport spel, haat. Met ‘n fel, suiwer haat. Ek was maar ‘n kind, skaars baksteenhoogte. Dit was grootmense wat my uitgejou het.

Hierdie hatigheid word oorgeplaas van Noord-Transvaal na die Blou Bulle. Ek trek later Oos-Transvaal toe en te midde van myners en ander harde manne, skree ek my longe uit in elke pub en saal en stadion vir WP. Al is ek soms stokalleen. Al word ek verkleineer en min gemaak. Ek dra my Kainsmerk met trots – ek is ‘n KAPENAAR, ek skree vir WP en FOK julle almal!

Ek hoor dieselfde ou deuntjie oor een oor – wat maak jy dan hier? Gaan terug waar jy vandaan kom. Jy eet ons brood maar verbeel jou jy is beter as ons. En ja, ‘hulle’ het seker ‘n punt beetgehad. Maar die klein dogtertjie wat met die nartjie teen die kop gegooi is, wou nie weggaan nie.

Jare gaan verby en die dogtertjie word tog uiteindelik groot. En gryser en wyser. En leer dat almal nie SO is nie. Daar is goeie en gawe mense op elke plek op hierdie aardbol, maak nie saak watter sportspan hulle ondersteun nie. Of waar hulle woon nie, of watter kar hulle ry nie. Of na wat se musiek hulle luister nie. Want daar was ‘n tyd toe ek ook skaam was om te sê ek luister na Afrikaanse musiek. Nou is ek lankal nie meer nie. Ja, daar is ‘n klomp “fly-by-nighters” wat Afrikaanse musiek ‘n slegte naam gee, maar daar is soveel ander wat werklik goeie Afrikaanse musiek maak.

Ja, daar was ‘n tyd wat ek gedink het almal wat NIE Toyota ry nie, moet hulle koppe laat lees. Maar ook daardie tyd is verby. Soos mens ouer word verskuif jou waardes. Nou wil ek net ‘n kar ry wat my vir seker van een punt na die ander punt sal bring – in veiligheid. Al sal ek nog steeds sover ek dit kan verhelp NIE ‘n VW ry nie. Veral nie ‘n Golf nie, want net arrogante “brag”-gatte ry Golfs 😉 Sien – ek is nog nie heeltemal groot nie.

Om Kahuna se vraag te beantwoord – ek dink meer kere as nie, is daar tog meer agter die hele ding as net goedige skerts. Ek dink soms is – veral Kapenaars – effe snobisties oor waar hulle bly – so met die Berg en die see. Ek weet ek is. En ek kry skaam daaroor, maar ek is steeds. Ek wil nie enige ander plek bly nie. Ander plekke laat my swaar asemhaal. Was daar, het die hempie gedra, het nie van die hempie gehou nie. MAAR… ek weet ook daar is baie ander mooi plekke in ons land. Daar is die Oos-Transvaal, daar is Natal, daar is selfs iets moois aan die Vrystaatse vlaktes, die Oos-Kaap en onlangs het ek ‘n stukkie van my hart in die dorre Karoo ook verloor.

Ek sal nooit lewendig vir die Blou Bulle skree nie, maar ek weet darem nou al hulle is nie evil nie. As jy van Jack Parow hou, gaan ek ernstig oor jou wonder, maar ek sal uitspraak voorbehou tot ek jou eers leer ken het.

Plekke, kunstenaars, sportspanne en manne, karre – dis maar soos die ou cliché – “a stranger is just a friend you do not know yet”

Dat daar mense is wat ernstig is oor hulle sport en voor- en afkeure, is sekerlik so. Dat sommiges soms geniepsig is en nie werklik skerts nie, is ook so. Maar dis maar soos met alles in die lewe, daar is die nice mense en die dwisse.

Vir laaste het ek gehou – die beroepe wat ons pleeg. En hier praat ek vir myself en my kinders, want so het ek hulle ook grootgemaak. My ouers het my geleer om NOOIT neer te kyk op iemand se beroep nie. Dat werk, ENIGE werk, edel is. Dat mens nie jou neus optrek vir enige werk nie. Dat mens jou werk met trots doen en jou beste gee, elke dag. Of jy nou die strate vee of die land se president is. So in my boek word daar nie geterg, of ernstig snobisties gewees, oor enige werk nie. Moenie op mense trap om jouself te bevorder in jou werk nie, dis al waar ek ‘n streep trek. Verder, WERK NET! Die hemel weet, ek het ‘n kleintjie dood aan mense wat bedel, dan werk al hulle ledemate. Gaan doen net iets!

Ja, ek weet dis nie altyd maklik nie, werk is skaars en en en. Maar ek glo steeds as jy bereid is om enigiets te doen, sal jy iewers iets kry om te doen. En van daar af gaan dit gewoonlik net beter. Been there also.

So, lang storie kort – ek dink as mens jonger en meer voortvarend is, dan oordeel mens makliker oor ander mense se keuses en smake. Maar die lewe is soms die beste gelykmaker en leer jou om te leef en te laat leef.

8 thoughts on “Asblik praatjies

  1. I love what you have said about WORK. Several times in my life I have had to look away to keep from laughing when someone told me that they can’t find a job because they are “Over qualified”. If a persons family is hungry that person should take ANY job that will put food on the table,,, and stay with that job until something better comes along.

    And as for ‘Tangerines to the head’ ,,, If we ever meet I’ll be the guy wearing the helmet !

    Take Care and Stay Warm

    Sam

  2. Ek haat dit ook as mense op ander mense neersien – vir watter rede ookal. Ons almal het ‘n unieke stem, en dit behoort gerespekteer te word. Ongelukkig is ek een van daardie mense waarop ander altyd neerkyk, aangesien ek volgens hulle TE individualisties is in my doen en late, en ook my gedagtes en opinies. Maar, ja, soos jy tereg sê, “fok” hulle…

  3. eish – dis hoekom ons mekaar so verstaan – ons dink so dieselfde !! baie goeie punte wat jy hier maak.

    en ja – dis presies die woorde wat my ouers gebruik het daai – wat van my oupa afkom – die straat vee en die president … ons is ook so groot gemaak.

    ek dink ons almal doen dit maar in ‘n mate, al die goed wat jy hier noem, maar ek moet se – meeste van die tyd is dit ‘n grappie vir my. die oomblik as ek agterkom dit gaan oor daai lyn van ‘n grappie, begin ek my erg bekommer …

Lewer kommentaar op Son Kanselleer antwoord