Gedagtes

Weet nie

As mens se skryflus verdwyn het en mens skryf daaroor, dat jy niks het om oor te skryf nie nou skryf jy oor die niks, dan beteken dit nie jou skryflus is terug omdat jy weer skryf oor daardie niks wat jy het om oor te skryf nie. Dit beteken jy weet nie wat om te skryf nie  nou skryf jy sommer net, omdat skryf skryf is. Het ek nou al deurmekaar genoeg geskryf? Want selfs ek moet nou mooi gaan  lees om te verstaan wat ek geskryf het. Kort storie… ek het niks om oor te skryf nie, nou skryf ek oor niks.

Mmm… is dit depressie of die begin daarvan as mens na alles kyk wat jy wil lees, op blogs, in boeke en oral, en dan kyk jy en jy kyk en dan draai jy om en loop weg, of maak die rekenaar of die boek of die e-leser toe? Want jy dink ag wat de hel, wat gaan nog ‘n boek, nog ‘n blog inskrywing, nog ‘n fliek aan enigiets verander. Enigiets in die wêreld? As ek die boek klaar gelees het, as ek op die blog kommentaar gelewer het, as die fliek se endtitels rol, dan is alles nog net soos wat dit voor dit alles was. En daar gaan nooit genoeg tyd wees vir alles wat ek nog wil doen, lees, sien nie.

Wat noem mens dit as jy honger word en wonder wat om te eet en besluit ag fok dit, ek eet sommer niks, dis net te veel moeite om kos te maak? Ek drink sommer net water, of aanmaakkoeldrank. Ek kan dalk Kentucky gaan koop, of McDonalds, maar nee wat, ek het nie lus om in my kar te klim en soontoe te ry nie. Dalk eet ek sommer net brood met peanutbotter op.

Jy staan soggens op en gaan werk toe, want jy moet. Jy doen darem nog dit. En na werk of voor werk gaan gym jy, want jy is tog reeds op en ten minste laat dit jou lekker voel vir ‘n rukkie lank. Ek kan nie sover kla oor die winter nie, die seisoengode is my genadig. Die Kaap het nog nie die kennisgewing van winter gekry nie. So nou en dan reën dit in die nag, of klein bietjie in die dag, maar dis okay. I can live with that. So, dis nie winters-blues wat ek het nie. Ek het ‘n stupid griep wat ek nie afgeskud kry nie, maar daarvoor is daar medisyne. Vir die griep in my kop… ek weet nie.

En nee, vir die wat hou van die bobbejaan agter die berg uitjaag, ek het nie selfmoordneigings nie. Ek is te sissie daarvoor. En iewers binnekant nog te optimisties, want ek bly steeds glo iets lekkers lê om die volgende draai van die lewe. Ek is maar net bietjie afferig. Optimistiese ek glo more skyn die son weer. Wel, die son skyn nou ook. Heerlik daar buite. Dalk is dit waar ek moet wees. Buite in die son, nie binne voor ‘n skerm nie. Dalk moet ek Tafelberg gaan uitklim. Nie sodat die wêreld my kan sien nie, maar sodat ek weer die wêreld kan sien. En waardeer.

18 thoughts on “Weet nie

  1. Dis ‘n dip, dis soms nodig. Heel ‘normaal’ – whatever dit vir enige een beteken. Moet net nie ophou nie want jy is een van die “5” wat ek nog lees want ek verstaan die woorde.

  2. Ek verstaan presies hoe dit voel om niks te hê om oor te skryf nie. Dis asof ek my waarde as mens meet aan die dinge wat ek skryf en die hoeveelheid volgers op my blog. En iets in jou post laat my aie aan myself dink. Dis vir my so lekker om mede-bloggers hier te sien skryf wat dieselfde dinge as ek deurgaan. Die nie-dromers en nie-skrywers sal ons nie sommer maklik verstaan nie, maar dit maak ook dat ons soms onsself nie verstaan nie.

    Jy sal weer iets hê om oor te skryf. Al is dit net oor hoe mooi Kaapstad is.

  3. Pingback: Weet nie | Somtyds
  4. Son – ek lees hierdie woorde van jou en dit kom sit binne my of dit my eie is. Halle-freaken-lujah iemand het verwoord wat ek nie ‘n benul het hoe om te verwoord nie – nog minder weet ek hoe om dit te verstaan. Probeer is alle geval lankal nie meer ‘n opsie vir die verstaan deel nie.

    Verduidelik vir iemand hoe jy voel help toetenaal nie. Hulle vertel jou traktaaktjie kak van die son sal weer skyn en what will be will be en regtig – as ek fortune cookie tos wou hoor het ek vir my chinese take away gaan koop.

    Ek kyk maar sien nie meer nie. Luister maar hoor nie meer nie. Voel maar traak lankal nie meer nie.

    Amen op hierdie woorde van jou Son

    ps : Verskoon nie los kragwoorde, maar magtag is so lekker dat iemand weet! Dat iemand dit swart op wit gesit het dat dit vir jou kan kyk en jy kan weet jy is nie alleen nie. Wraggies jy is nie.

  5. Dalk was BoendoeVlamTurksvy reg toe sy op ‘n stadium spekuleer het dat ons uitgekuier geraak het met mekaar? Dieselfde 5 gesiggies, dieselfde 5 onderwerpe. Oor en oor. En indien iemand dit wel regkry om iets nuuts op te diep, het iemand ooit nog ‘n opinie daaroor? Ten beste kry ek ‘n e-pos in my inboks wat ek vinnig scan, meestal sonder om eers die blog te besoek. Het leef nie bloot te vinnig geword vir stadige tydverdrywe soos blog nie?

    1. Jy is heel moontlik 100% reg. En tog het ek nie die hart om net heeltemal op te hou blog nie. Iewers, eendag gaan ek weer iets te sê hê. En nee, ek sal elke een van julle “5” mis as julle verdwyn. Julle hou my nog in groot mate sane, al is dit net om te weet julle is daar buite iewers🙂

  6. Moet die winter wees. Kry self geen lus opgewerk om op ons werf te skryf nie. Alles klink so effe uitgewas, sinneloos. Selfs rooiwyn wil nie help nie😯

  7. Party goed wat jy sê klink so bekend. Die vrees dat ek nie alles gelees, gekyk gedoen gaan kry in die tyd wat oor is nie. Partykeer so vrek bang vir skryf dat ek sommer stokstyf in my stoel gaan sit en algehele verlamming oor my spoel. Ander, die depressie ken ek nie. Nie regtig nie. Maar as dit sal help, vir my het jy vanaand rede gegee om te skryf en mee te leef. Ek hou jou vas in gedagtes en gebed.

  8. Ek het ook die lus vir baie verloor, en ek kan dit nie weer vind nie. By my is dit verseker depressie wat weer inskop. Ek probeer die “huis” skoonmaak, maar die monsters bly en wil heeldag lank met my speel. My kreatiwiteit het verdwyn soos die Dinosaurs…

  9. Ek belowe jou dit sal verby gaan – moenie te veel stres daaroor nie🙂
    My voorstel sou wees, en dis sekerlik beter as ‘n glas wyn, waarookal😉;) : gaan DBV toe en red ‘n lewe, of vryf sommer net ‘n hond, dan onthou jy weer die klein dingetjies wat die lewe die moeite werd maak …

  10. Jy klink vir my moeg. Sielsmoeg. Jy moet weer bietjie gecharge word, jy sal weet waarmee. Ek ken die gevoel, was ook al daar. Jy mag bietjie daar rond kuier, net nie té lank nie. Net so lank dat jy jouself nog daaruit kan optrek.

    Ek weet jy is nie eintlik ‘n wyndrinker nie. Jy is nie lus vir lees nie. Daar moet tog iets anders wees waarmee jy jouself kan charge.

    Doen dit net, verdomp!

  11. Vuisvoos / burn-out is wat ons dit hier in Gauteng noem – net te veel dinge om te moet dink / doen / voel / meen / voorstel / voorberei / op hoogte van te wees / opinie te gee – sit die krag by die hoofskakelaar af, steek aan ‘n kers aan wat deurnag kan brand, skink ‘n soetwyn, spat vanilje in die kamer en gaan lê net, tot iets weer gebeur, hopelik eers die volgende dag🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s