Die Lewe · Lank gelede

Uit die onthou-laai

Ek weet nie van ander mense nie, maar soms onthou ek mense sommer so uit die bloute, so in die middel van die dag of in die middel van die nag. Mense wat oor my pad gekom het vir ‘n oomblik, ‘n seisoen of ‘n leeftyd – soos daardie aanhaling sê. Daar is geen “trigger” wat maak dat hierdie mense in my kop op kom nie, geen gebeurtenis wat my aan hulle herinner nie, hulle IS sommer net skielik daar. So asof hulle my net so liggies op die skouer wil tik en seker maak ek vergeet hulle nie. Feit is, hulle is in elk geval onvergeetlik, elkeen vir sy of haar eie rede, soms ‘n klein redetjie, ander kere ‘n helse groot rede. Hulle is my bagasie, ek dra hulle saam met my. Die onthou van hulle is wel diep gebêre in die laaie van my herinneringe, maar so elke dan en wan dan tuimel hulle uit. Dalk omdat die onthou-laai bietjie oorloop, dalk omdat ek iets anders gesoek het in daardie laai en toe, sonder dat ek dit beplan het, vat ek hulle onthou raak.

Hulle is daar, altyd daar. Daarom het ek bietjie in al my onthou-laaie gaan krap – sommer net vir die nostalgie daarvan.

Daar was die Moslem vrou, nou amper veertig jaar gelede, wat een aand vir my en my ma genooi het vir aandete – iets ongehoords in daardie dae. Sy het gesien ons is honger, sy het vir ons kos gegee – so eenvoudig soos dit en tog veel meer ingewikkeld as wat mens ooit sal kan dink. Hoe sal ek haar dan ooit heeltemal vergeet?

Daar was Fanie de Kock, ‘n man met die mooiste blou oë. ‘n Man wat vreeslik lief was vir sy vrou en sy twee kindertjies. ‘n Man wat maar eenvoudig was, maar ‘n goeie man. Een wat die nood van ‘n medemens raakgesien het en sy hand uitgesteek het om te keer toe ander net weggekyk het. So elke nou en dan, as ek vir Fanie onthou, gaan luister ek “Blue Eyes Crying in the Rain.”

Daar was die Kleurlingman wat gestop het toe ek en my ma sonder petrol gaan staan het, ook nou al baie dekades gelede. Wat ‘n leë Coke blikkie en ‘n stukkie tuinslang uit sy bakkie gaan haal het, en blikkie vir blikkie petrol uit sy bakkie gesuig het en in ons motor gegooi het. Wat nie ‘n sent wou hê nie en ook nog agter ons aangery het om seker te maak ons kom veilig waar ons moet wees.

Daar was die blonde man in Victor Verster gevangenis. Elke jaar het die tronk ‘n konsert gehou en buite mense het kom luister. Ons het altyd gegaan. Vir ‘n paar jaar was hy daar, op die verhoog, met ‘n kitaar en ‘n stem soos ‘n engel. Ek ken nie sy naam nie, wonder tot vandag nog hoekom hy in die tronk was, maar onthou steeds sy gesig en hoe mooi hy gesing het. Dalk is hy lankal dood, maar ek sal altyd oor hom wonder.

Dan was daar Glenville, wat saam met my gewerk het. Wat my geleer het van krieket. Wat in 1992 vir my vier nuwe bande vir my motor koop, sonder dat ek dit vooraf weet, omdat hy weet ek trek swaar. Omdat hy ‘n dogter het wat net so oud soos ek is en nie sal toelaat dat sy met gladde bande ry nie. Wat vir my sê ek kan hom eendag terugbetaal wanneer ek kan. Hoe sê mens dankie vir so iemand? Uiteindelik het ek hom terugbetaal, maar vergeet… dit sal ek nooit nie. Ek het wel later jare probeer om sy goedheid aan my te “pay it forward”, op elke manier wat ek die kans gekry het.

Daar was oom Fred en oom Harry – die eerste gay mense wat ek ooit leer ken het, al het ek nie toe geweet hulle is gay nie, of selfs wat is gay nie. Hulle was my pa en ma se vriende en ek eer vandag my ouers omdat hulle vir twee wonderlike mense ‘n vriendelike omgewing geskep het in tye wat baie anders as nou was.

Daar was die bewaarder in Pretoria wat gesien het hoe moeilik dit vir my was toe ek daar moes gaan besoek aflê, wat gesien het ek weet niks van tronkbesoeke nie en wat dit op alle maniere vir my makliker probeer maak het. Ek het sy naam nooit vergeet nie en onlangs uitgevind hoe klein is die wêreld. ‘n Vriend van ‘n vriend se broer lê op sterwe met breinkanker. Toe ek die naam hoor, lui al die klokkies. Toe ek vra hoor ek, ja, hy was ‘n bewaarder in Pretoria. My hart is seer vir hom. Ek kan net bid vir hom.

Dis vir seker nie al mense in my onthou-laaie nie, maar dis mense wat gereeld kom groet, kom aanklop aan my herinneringe. Ek weet nie hoekom nie, dalk sodat ek nie moet vergeet van genade nie.

Die onthou van mens se lewe klop maar altyd iewers dofweg. Soms klop dit bietjie harder soos die pyn van ‘n ou besering net voor die reën kom. Soms is die onthou so diep onder in die laai gedruk dat jy dit miskyk, misvat elke keer as jy die laai ooptrek, skoon nie eers meer weet dis daar nie. Tot dit op ‘n dag van krap in die laai, van die omdolwe van ander herinneringe, kaplaks in jou kop uitval. Soms sommer net, soms deur ‘n reuk, ‘n trek van ‘n mond, ‘n klank van ‘n stem.

Dan staan mens bietjie stil by daardie onthou. Jy kyk bietjie, jy luister bietjie, jy onthou bietjie voor jy die onthou weer mooi netjies terugsit in ‘n hoekie in die laai, met die  bedoeling dat dit nie weer so ver moet wegraak tussen die ander deurmekaar nie. Dan draai jy om en jy loop weg, partykeer met ‘n seer wat saam loop, partykeer met ‘n glimlag oor ‘n mooi onthou, altyd met die wonder… onthou hulle my ook nog soms?

28 thoughts on “Uit die onthou-laai

  1. So bly dat ek nou ook vir jou en hierdie storie ontdek het. Dis so lekker om te lees wanneer iemand so goed situasies kan verwoord. Wonderlike memories. Ek loer weer in.

  2. Son, jy het verskriklik mooi geskryf oor al die onthou-mense. Dis vir my duidelik dat ‘n mens nooit die goeie en mooi dinge vergeet wat aan jou gedoen is nie. Wys jou net hoeveel verskil mens in iemand se lewe kan maak. Maar net so onthou ons ook die onreg wat aan ons gedoen is.😦

    Die hoendervleisweird dat jy ‘n antwoord gekry het op wie die blonde sanger in die tronk was.

    1. Daardie antwoord was vir my ook baie baie weird. Ergste is, dis my sus wat my geantwoord het. Al die jare ken sy die antwoord, ons het net nooit oor die man gepraat nie

  3. Dear Anne-Marie: I am an old man now and I can tell you from experience that your memory is the only thing you have that no one else can take away from you. “” A young man ask an old man ‘ If your wife has Alzheimer’s and she doesn’t remember you, why do you bother to go every day to visit her ?’ The old man answered ‘ Because I remember her ‘. “”

    1. A hug to Sam for this sweet comment. I have a tender spot for defenceless elderly people. So much more now that both my parents are gone and not a day goes by that I miss them. If I could hang the memories I have about them around me like bells, you’d hear me jingle no matter where in the world you may be. Take care.

  4. Onthou is lekker. Soms is dit lag, en soms is dit seer. Soms is dit skaterlag en dan weer hartseer. Wat onhou egter die lekkerste maak, is daardie onthou waar jy kan pinpoint waar die verskil in jou lewe gemaak is. En dis ook nie altyd mense nie, partykeer is dit net ‘n gevoel wat jy gekry het. Dit is soos daardie baie spesiale bottels rooiwyn wat mens af en toe opmaak vir ‘n spesiale okkasie. Onthou is ‘n spesiale okkasie. Cheers!

  5. dit het my nou diep geraak … sjoe son, baie dankie vir die deel …

    jy het dit so mooi beskryf en geskryf … sjoe …

  6. Daai outjie wat so mooi gesing het in Victor Verster se konsert was Claude Small…..en hy het “I’d love you to want me” gesing…….sy pa was ‘n polisieman en het sy eie seun gevang tydens ‘n bankroof. Hoekom onthou ek dit? Omdat ek, wat selfs 5 jaar jonger as jy was, ook nooit daardie man vergeet het nie.🙂

  7. Dankie! Ek weet hoe jy voel, ons ma is verlede jaar Augustus oorlede. Ek het ‘n paar keer daaroor geskryf, dit het so bietjie gehelp. Moenie die onthou-laai sluit nie – onthou haar juis. Onthou die mooi en die goed en die lag. Stadigaan word dit beter.

  8. My ma is n maand terug oorlede so my laai is deesdae (meestal) gesluit. Ek druk al met my hele gewig teen daardie herinneringe wat net eenvoudig wil uitpeul en die nate laat bars….dit is soms net genadig om te kan vergeet en eendag die onthou stukkie vir stukkie los te laat. Ps….jy skryf geweldig mooi…

  9. Ek onthou ‘n dag van ‘n gebreekte motorfiets, ‘n lang dag se gesukkel, ‘n dag van verdwaal tussen die wingerde en toe die lekkerste kos en wyn saam met goeie mense daar agter die rooi trekkertjie… ja, soms onthou mense…

  10. Glimlag-onthou, Traan-onthou, Custard-onthou en so gaan die onthou aan. Ek het self al gewonder wat dit is wat ‘n onthou – wat jy eintlik heeltemal vergeet het – weer uit die laai haal.

    Somtyds is die voetspoor wat die onthou los onlosmaaklik deel van ‘n mens Son. Dit moet so wees dat jy altyd daardie tikkie omgee en warm kan onthou vir die dae wanneer dit moeilik is om te glo dit bestaan.

  11. Ja, ek onthou ook…mense wat my waarskynlik nie eens meer onthou nie. Ek het skoolgegee in SA van 1991 tot 1994, en na al die jare onthou ek nog elkeen van my leerlinge by naam en gesig. En dan is daar natuurlik diegene wat ek onthou, maar ek sou verkies om hulle eerder te vergeet…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s