Gedagtes

Wintergedagtes

Dis meer as twee weke vandat ek laas geskryf het. Van my blogvriende tik my oor die vingers. Daar is iets wat hulle vergeet. Dit raak nou weer winter. Ek leef nie in die winter nie. Ek OORleef net. Ek probeer survive tot 22/23 Junie, die kortste dag en die langste nag. Dan troos ek myself die ergste is nou verby, hiervandaan word dit elke dag bietjie beter.  Dan survive ek weer tot 22/23 September – dag en nag ewe lank – en dan weet ek, nou is dit AFDRAAND somer toe. Dis hoe ek rol.

Tussen-in tree ek op soos ‘n mens, lyk ek soos een, maar ek is nie eintlik nie – ek haal net asem soos een. Dis elke jaar dieselfde ou vervelige storie en ek wil dit nie elke winter oorvertel nie. So, ek bly stil. Ek gaan werk toe, ek werk. Ek gaan (deesdae) gym toe, ek gym – dalk sal ek hierdie winter meer energie hê juis omdat ek gym. Ek gaan huis toe, ek eet, ek lees, ek kyk TV, ek slaap en more begin alles weer van voor af. Tussen-in bid ek dat dit nie moet baie reën nie, al weet ek die boere bid weer vir reën. Dan compromise ek en vra dat dit net in die nag moet reën sodat ek dit nie hoef te sien nie. Soms werk dit so, maar baie kere nie. Dan byt ek maar op my tande en dink nie te veel nie. En sê dankie dankie dankie vir elke ou daggie wat die son skyn, ek gee nie eers om as dit ysig koud is nie, solank dit net nie nat en bewolk is nie. Dis asof my “joi de vivre” vasslaan teen die wolke.

En as ek sien hoe party mense bly is oor die winter, moet ek myself met ernstige aanspraak weerhou daarvan om hulle te gaan vermoor, want ek is mos nou darem nie eintlik ‘n geweldadige mens nie. Maar ek weet vrouens het al losgekom van moord as gevolg van PMS. Dalk sal ek los kom as gevolg van winter? Nou ja, nou weet julle. Dis hoekom ek nie juis skryf nie, vir dié wat kwaai is met my daaroor.

Noudat ek in elk geval hier sit en skryf, ek wonder of daar iemand is wat my kan help. Wie by sy volle verstand sit voetoorgange reg voor sirkels?! Ek bedoel, seriously! Enigiemand wat al in Stellenbosch se middedorp gery het, sal weet waarvan ek praat. Hoe in die bliksemse lewe kan mens ‘n hele ry verkeer in en om ‘n sirkel tot stilstand bring omdat iemand oor die pad wil stap. Regtig waar ook. Ek het die storie nou al deeglik bekyk – ek dink regtig daar is baie ander stukke reguit pad waar die voetgangers kan oor loop. As ek die dorpsbeplanner ooit in die hande kry, wil ek hom klap tot sy ore tuit en dan op die voetoorgang reg voor die sirkel gaan neersit en heen en weer oor hom ry.

Sien, die winter doen my regtig nie goed nie. As ek weer eendag terugkom aarde toe, beter ek ‘n dier wees wat slaap in die winter of ek moet stinkryk wees sodat ek agter die son aan kan trek.

Tot die son weer skyn.

35 thoughts on “Wintergedagtes

  1. Stilletjies wonder ek of jy dalk ook ‘n Libra is… ek vier fees teen die einde van Junie en sien eintlik hoe my tuin ontpop soos die dae langer raak. Hier by ons is dit nog die stupid “daylight saving” storie ook en ses-uur saans is dit stikdonker in Junie. Ek voel verkul uit dagtyd uit!

    Gelukkig kom die lente dag vir dag nader. Ek is net bly ek is nie meer in die koue mistroostige Kaapse winters nie… daardie grys lug het soos ‘n juk op my skouers gevoel. Ek mis net blomtyd – mooi bly darem maar mooi!

    Hier is dit op die oomblik so deurmekaar soos wat ‘n verkleurmannetjie op ‘n smartiebox dit nie kan hê nie – eergister het die wind geniepsig koud gewaai en vanaand het ek vir my pa in ‘n moulose bloesie gaan kuier tot donker toe. Die oosweer bly deurbreek en dit voel dan asof die son jou gaan doodbrand as hy jou alleen vang. In die middel van die winter… Nou ja, miskien is die see môre lekker plat en kan ek dolfyne gaan soek…

  2. Natuurlik. Dis hoekom jou naam immers Son was. As jy mal was oor die winter, het ek nou met Ysberg of so iets gesels. Ek stem in beginsel saam met jou oor die winter. Dis net hier in die noorde darem meestal sonskyn en smiddae skyn die son my hele bed vol. As ek soos nou in die son sit en skryf, is die winter nie te erg nie. Sterkte vir die reendae en die sirkels.

    1. Sam, at least you make me laugh! Don’t worry, your ears are safe. It is the town planner whose ears I want to slap because of pedestrian crossing right before the traffic circle.

  3. Vandat ek my oë oopgemaak het vanoggend is jy op my gedagtes Son. Daardie koue donker nat weer is hier by ons in Pretoria; daar is ‘n mistroostigheid daaraan wat my wil laat opkrul en slaap totdat die son weer skyn. Sterkte met die winter wat voorlê vrou….. en die sirkel😉

  4. Slegs somer vir my. ‘n Bietjie lente kan nog doen, maar die koue gooi my ook heeltemal van balans af. Sterkte vir jou en die koue. Hier begin die son darem al kop uitsteek en ek is natuurlik in my element.

  5. Ek is ook oor en oor ‘n wintermens. Is mal oor kaggels, rooiwyn en lekker kuier, alles lekker winterdinge.

    Ek verpes die somer, voel altyd ongemaklik wanneer dit so warm is en die sweet stroom oor my kovel en verder oor my gesig – nie ‘n mooi prentjie nie. Gelukkig weet ek jy sal my nie wil vermoor nie.

    Die sirkel, ja die sirkel, wat sal ‘n mens sê?

    1. Moenie so seker wees oor die vermoor nie LOL! Ek is mis ‘n Alien, ek sweet amper nooit nie. En dis nou regtig. Ek word net so bietjie rooi in my gesig as dit regtig egtig erg warm word. En as ek hard oefen kry ek so effense klamheid op my voorkop. Verder ken ek nie sweet nie. Ja, ek weet… weird.

  6. Ten minste steur die voetgangers daar hulle nog aan die offisiele oorgange. Hier loop hulle net waar hulle wil en daar’s alewig een wat onder ‘n foelie komberse opeindig ‘n paar honderd meter van sy skoene af!

    Ek hou ool nie van winter nie, alhoewel ek nogal ‘n goeie storm geniet (gebeur gelukkig meestal in die somer hier). As ek nou een goue randjie op die winterwolk moet sit is dit dat al die spinnekoppe verdwyn…en vir hulle is ek heeltemal gatvol.

    1. Hier verdwyn die muskiete weer, maar as ek moet kies tussen koud en nat of warm en muskiet wen muskiete los hande. Ek spuit eerder ‘n gifgat in die osoonlaag en kry warm🙂

  7. Ek het twee weke terug met my maandelikse ekskursie Suidland toe daai einste Skelmbosch se onnosel paaie en sirkeltjies so geswets dat ek seker is die stadsvaders se ore tuit nou nog. Vir my straf kry ek hierdie winter elke maand een week “hoekietyd” in daai nat pisserige plek. Whoohoo! Hoeveel slapies nog tot Oktober?

  8. manlief het vanoggend gese ons moet weer kuier … so jy sal jou alie in rat moet kry …😉

    ek het nooit van die winter gehou nie, maar ek begin daarvan hou … die somer was net een te veel vir my gewees – en die ding waaroor ek die blyste is, is die flippen vliee wat weg is !!

    ja vir daai sirkels-ding. daai een daar voor mill coffee house – oh my word, dis soos om ‘n movie te kyk as ‘n mens in daai coffee shop sit en sien wat gebeur …

    sterkte met die winter … by the way. 😉

  9. Ek het kliphard gelag vir die voetoorgang / sirkel beeld! Om die draai van my woonstel is presies dieselfde scenario en dit is by ‘n skool! Die tale wat ek al kwytgeword het in die oggende is nie vir sagte ore bedoel nie

    Moet bieg – ek is ‘n winterkind. Deur en deur. Ek word gek vol energie hoe kouer dit word. My eendag as ek terugkom aarde toe was altyd gewees ‘n ysbeer of stinkryk dat ek agter die winter kan aantrek😉

    ‘seblief weerhou hou jou steeds van die knopkierie !!

    1. Ek is SO bly om te weet ek is nie die enigste een wat bef*& raak oor daai sirkel move nie! En ek sal maar wegkyk as ek julle wintermense in die winter raaksien😉

      1. Dit is elke keer ‘n draw tussen spontaneous combustion en ‘n aar bars by my. My Engelkind het my hoogs amusant gevind toe sy nog saamgery het. Teen die tyd wat ons en die voetgangers lewend deur die proses beweeg het was sy duskant histerie van lag en ek duskant mensmoor. My verbale tirades is herhaaldelik met ‘n linkerhand na haar kant bevestig en ‘n ” jy herhaal hierdie woorde NIE hoor jy my?” is skuins gegooi vir die opvoeding deel!

        Sy ervaar dit nou op haar scooter en dit klink my sy het mooi geleer by my :blush:

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s