Gedagtes

Die ruiter van Skimmelperdpan

Ek tel nie meer die lengtes nie, ek weet dit vat my nou 45 minute om ‘n kilometer te swem. Nou word swemtyd kopskoonmaaktyd, dinktyd, onthoutyd. Dis die vreemdste ding van onthou. As jy jou onthou net laat los, vrye teuels gee soos ‘n perd😉 dan kom daar flardes van soveel verskillende lewensoomblikke verby galop.

Vanoggend, uit die blouste bloutes van onthou (apologie aan Marita van der Vyver) kom dié woorde oor my galop, met elke swemslag van ‘n arm, “sal daar nimmer ‘n einde kom, altyd maar weer, die galop… die galop… die galop.

Toe ons klein was, het my ma vir ons gedigte voorgedra. Sy het dit nie net voorgedra nie, sy het dit ge”act” en ek was gaande daaroor. Daar was Amakeia en Mabalel en die een van die ‘ewige getinkel in die ou Slamaaierwinkel’ en dan die een wat vanoggend by my kom spook het, nes die afkop man. Ek weet nie waar my onthou gaan krap het nie, ek weet nie hoekom nie, ek kon net onthou van die galop en galop en galop en iets van ‘n afkop man. Alwetende Google het die onthou soos ‘n wolkbreuk oor my uitgestort. Ek sien hoe my ma hierdie vir ons uit”act”. Ek kan “for the life of me” nie dink hoekom sy sulke grusame gedigte vir ons as kinders voorgedra het nie, maar ek kan onthou dat ek onbehoorlik gefassineer was daarmee. Veral met daai wegsterwende galop… galop… galop… En die helder onthou daarvan vanoggend? Dalk is daar iewers iets wat ek moet laat weggalop.

Die ruiter van Skimmelperdpan (A. G. Visser)

Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,
By ‘n draai in die mond van die kloof,
Het ‘n bom in die oorlog ‘n vlugtende man
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof.

Aan die saalboom krampagtig die hande verstyf,
Met ‘n laaste stuiptrekkende krag,
En die bene geklem soos ‘n skroef om sy lyf,
Op die perd sit die grusame vrag.

Met sy neusgate wyd en die ore op sy nek,
Soos die wind yl verbysterd die dier,
Met die skuim in wit vlokke wat waai uit sy bek,
En gespan soos ‘n draad elke spier;

By die huisie verby waar ‘n vrou staan en kyk…
In die afkopding ken sy haar man…
Met ‘n onaardse gil val sy bleek soos ‘n lyk…
Perd en ruiter verdwyn in die Pan!

Wee die reisiger wat daar onwetend kom skuil
Waar bouvallig die huisie nog staan,
En vreesagtig by wyle ‘n nagdiertjie huil
By die newelige lig van die maan!

Want by middernag waai daar ‘n wind deur die kloof,
Waai en huil soos ‘n kindjie wat kerm,
En dan jaag daar ‘n perd met ‘n man sonder hoof…
Wie dit sien, roep verskrik: “Heer, ontferm!”

Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
En dit vlam uit sy neus en sy oog;
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog;

En dan eensklaps van uit die vervalle gebou
Kom ‘n vreeslike skrikbeeld gevaar,
Al die hare orent – ‘n waansinnige vrou
Met ‘n hande-wringend gebaar:

“Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer?
Waarom jaag jy my elke nag op?
Sal daar nimmer ‘n einde kom… altyd maar weer
Die galop… die galop… die galop?!”

Die afgryslike klank – nog gehuil nog gelag –
En die perd met die romp van ‘n man …!
Dis geen plek vir ‘n Christenmens daar in die nag
Langs die pad na die Skimmelperdpan!

19 thoughts on “Die ruiter van Skimmelperdpan

  1. My Ma kon haar stem so melodramaties en wenend laat klink…met’ dis die winterwind wat waai al wenend deur die nag ” dan het haar stem so misterieus gedaal al weeenend deur die nag….ai lekker getjank ook , met die onthou. Baie mooi Son en baie baie geniet.

  2. “Ek weet nie waar my onthou gaan krap het nie……. ” Mooi gesê.

    En Skimmelperdpan (en Klaasgeswind) roep ou herinneringe op.

    Goeie blog.

  3. Ek het hierdie op die internet gekry en gesny en geplak, maar die woorde is nie heeltemal die oorspronklikes nie.’Skuus Son, vir die blog-oorname.

  4. Hehehe. Ek het dit ook vir my kinders so ge-act. Hulle was mal daaroor – die grieselrigheid van spookstories is mos so ‘n lekkerkry bang. Ek het vir my sibbe en later ook vir my kinders Klaas Geswind en sy perd ge-act – met n kussing as perd. Ken jy dit ook?

      1. Klaas Geswind en sy perd

        As jy miskien nog met jou maat

        bo in die dorp sit lag en praat,

        vergeet jy jy moet huis toe gaan,

        anders sal Elsie vir jou slaan.

        Sy sit al by die vuur en brom:

        “Ek kry hom soos hy huis toe kom.”

        Jammer dat mans so selde hoor

        as vrouens vir hul knor.

        Dit is maar so: “Hul kan maar praat,

        ons luister tog nie na hul raad.”

        dat dit so is, het Klaas Geswind

        een donker nag ook uitgevind.

        Hy’t lelik in die knyp geraak

        toe hy moes terugry van die Braak.

        Het Klaas geluister na sy vrou,

        dan het dit hom nog nooit berou.

        Geen dag gaan om of sy vertel hom:

        “Maar Klaas, jy is tog al te skelm.

        Nog nooit is jy van huis gewees,

        of jy gedra jou nes ‘n bees.

        En loop Klaas Tieties met jou mee,

        dan gaan dit woes met julle twee.”

        Een aand, in plaas van huis toe gaan,

        bly Klaas nog in die dorp en staan.

        “Nou, arrie! moet jul my trakteer:

        kom kêrels, gooi maar nog ‘n keer.”

        Hul gee oom Klaas ook nog ‘n dop,

        toe was hy net mooi hoenderkop.

        Nou skeel dit niks, al word dit nag,

        hy bly maar daar gesels en lag,

        as Klasie eers begin te slinger,

        dan kan jy glo, hy sal maar linger

        Plesier is nes ‘n jong komkommer,

        as jy hom pluk, verlep hy sommer

        of nes ‘n skilpad in sy dop in,

        soos jy hom vat, dan trek hy kop in.

        As Klaas vannaand sy huis wil haal,

        dan word dit tyd om op te saal.

        Dus klim hy Kol maar saggies op

        en druk sy hoed vas op sy kop.

        ‘n Flukse merrie was ou Kol,

        al was haar rug ‘n bietjie hol.

        eers fluit die ou – want hy was bang –

        die neën-en-neëntigste gesang.

        Dan kyk hy weer ‘n slaggie om

        of daar miskien ‘n spook aankom.

        Voor hy vannaand sy huis kan kry,

        moet hy die kerkhof nog verby.

        Drankies is darem snaakse goed,

        hul gee die bangste kêrel moed.

        Al is ‘n mansmens nog so olik,

        ‘n sopie maak hom netnou vrolik,

        steek hy maar net ‘n dop of drie,

        dan stuit hy vir geen duiwel nie.

        Maar Klaas het darem naar gelyk

        toe hy daar in die kerkhof kyk,

        sy bloed het wonderlik gekook

        toe hy gewaar hoe dit daar spook.

        Daar speel die duiwel op ‘n tromp

        vir veertig spoke in ‘n klomp.

        hul dans daar rond dat dit so gons –

        geen ouderwetse kotiljons,

        maar eers Alexander Klipsalmander

        trap hulle almal met malkander.

        Toe was dit weer die hondekrap,

        totdat die sweet so van hul aftap.

        Die goed was byna poedelkaal,

        en kyk, die vrouens was te skraal,

        maar een daarvan, ‘n bietjie dikker,

        maak so ‘n uitgehaalde flikker

        dat Klaas, plaas van sy bek te hou,

        skree: “Arrie! dit was fluks van jou!”

        Soos hy dit sê, toe moet hy ja,

        die heel boel sit hom agterna.

        “Kol, loop nou dat die stof so staan,

        anders is Klaas vannaand gedaan.

        Kom jy maar net die drif verby,

        dan dalkies raak jou baas nog vry.

        ‘n Spook is nes ‘n bokkapater,

        hy loop nie sommer in die water.

        Toe, Kol, die duiwel sny jou spoor.”

        Hier lê die drif ..”Hiert!” sy’s daaroor.

        Haar stert het glad uitgeruk,

        maar Klaas is los, dis sy geluk.

        Vir die wat lus het om te draai,

        wil ek maar net ‘n woordjie raai –

        Gedink aan Klaas Geswind se perd

        en vra jouself” waar is haar stert?

        Wie was dit digter? Ek dink F.W. Reitz, maar is nou te lui om seker te maak.

  5. Ek onthou daai gedig net so goed! Dink dis die ritme. Ek het vanoggend DJ Opperman se Groot Verseboek by ‘n liefdadigheidswinkel gekoop. Nou “onthou” ek weer al die ou gedigte. Waar stap die tyd met ons heen?

    1. Ons word oud en die kinders word groot😆 Ek het ook die Groot Verseboek, maar het des jare nie daarin gelees nie. Ek gaan sommer vanaand bietjie daardeur blaai!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s