Gedagtes

Bitch Blog

Voor ek begin bitch, daar was darem ‘n paar ligpunte in my week. Ek swem weer na drie weke – twee weke se hoes en proes en een week se Karoo, nie noodwendig in daai volgorde nie. En gisteraand het ek ‘n broodjie gebreek saam met die nice-ste, eks-donkie-tans-vosperd, ondomineeste dominee (sorry Vossie, ek kan nie link na jou blog toe nie, ek tik op my Tablet en wetie hoe om dit hier te doen nie). Dit was nou nie regtig ‘n broodjie nie, meer ‘n lekker kerrie en rooiwyn.

Die arme Vossie is gister beroof langs die pad, toe sy ysterperd se ‘fuse’ geblaas het. So, sy foon is afgestaan aan die voorheen benadeeldes. Ek skaam my vir die Kaap! Om darem ‘n man se enigste kommunikasie middel te distributeer (vieslike anglisisme, ja, vir ‘n vieslike daad) terwyl hy gestrand langs die pad staan, DIT is nou laag daal tot ‘n nuwe vlak vat!

En toe seg onse uwe leier vandag of gister ons bly in ‘n stabiele, veilige land, of so iets. En ons moenie sê misdaad en geweld oorspoel die land nie. Suid-Afrika is (glo) NIE ‘n geweldadige land nie. Ag liewe fok, fokker, fokste! Ek lief my land met die blindheid van ‘n ma wat haar kinders liefhet, maar werklik! Hierdie land het ‘n sirkus geword, regeer deur narre. En die ‘man op straat’ is die “tightrope”  lopers, die sweefstokartieste, die leeutemmers. En ons hoop vir ‘n vale ons hou ons balans en donder nie grond toe nie, of die leeu byt nie ons kop af nie, want wanneer dit wel gebeur, dan gaan die narre tekere en entertain die skare om hul aandag af te trek van die tragedies wat pas in die ring plaasgevind het.

Ek is nie negatief nie, ek is so positief, ek kon net sowel ‘n kurkprop gewees het. Ek hop altyd weer boontoe, al is die water ook hoe diep. Ek is die silwer wolk om die donker randjie. Maar selfs ek is nie so bleddie blind dat ek nie kan sien wat om my aangaan nie. Suid-Afrika is Interpol se verkragting hoofstad. Ons  misdaadsyfer laat mens steier. Ons polisie sleep ‘n man agter die vangwa aan tot hy dood is. Is dit deesdae te veel moeite om die oortrder net BINNE IN die vangwa te laai?! Ons polisie verkrag vrouens in die selle. Ons polisie! Ek moet eerder verder stilbly, voor iemand of iets my sue.

En toe lees ek nog iets walgliks op ‘n forum op facebook. Iemand het iewers gevra wie onthou nog vir Piet Koornhof en toe antwoord een of ander dwis, ja, hy onthou die grootste (verskoon my taal asb.) meide n$#&@r van alle tye. DIS presies die tipe spesie van die menslike ras wat ek ten alle tye wil vermy, wat my laat standbeelde verkies bo mense. Nee wag, dis die tipe waaroor ek met my kar wil ry, en dan reverse en weer oor ry en dan weer vorentoe weer oor hom ry. Dankie dat ek hier op skerm kan moord pleeg, ten minste sal ek nie nou tronk toe gaan nie. Tensy iemand dalk regtig heen en weer oor die dwis ry. Maar dit sal nie ek wees nie. Nie dat ek sal jammer wees nie. Die arme dwaas het natuurlik nog nooit bietjie historiese navorsing gedoen nie. Ons agter-oupagrootjies het die slawe gereeld bygekom, en nie net met die sambok nie. En moet ook maar nie te veel hoë verwagtinge van ons agter-oumagrootjies koester nie. As oupa op jag was en die bed te koud geword het, het hulle ook so nou en dan ‘n slaaf nadergesleep. Dalk is daar hier en daar ‘n suiwer Ariër wat hier rond dwaal. Maar die res van ons is maar net baie melk met bietjie koffie by. Oompie Piet Koornhof was ‘n onskuldige baba in vergelyking met party ander wit oompies.

Na ek laas Sondag die fliek Verraaiers gaan kyk het, het ek bietjie begin krap in my eie voorsate. Dalk duik daar iewers ook ‘n verstandige nasaat op wat gedink het voor hy oorlog gemaak het. Toe nie. My oupagrootjie was ‘n Kaapse rebel. Sy verhoordatum was glo in Junie 1902. Hy is darem seker gespaar, want hier sit ek vandag. Dalk moet ek trots wees op hom omdat hy vir ‘n SAAK waarin hy glo gaan veg het. Hoekom sukkel ek dan daarmee? Dalk verlaat veglus mens soos wat jy ouer word en verstand kry. ‘n Sagte woord keer die grimmigheid af. En ek kon ook maar goed grimmig raak in my jonger jare. Ek weet darem my oupa aan moederskant het teen Hitler gaan baklei. Skrale troos, maar darem.

Nou ja, ek het seker nou genoeg gebiets. Behalwe dat dit reën. Ek begin klaar sug vir die aankomende winter. En ten laaste, om toe die cherry op die naweek se koek te sit, het my kat nog boonop die  mop van ‘n hondjie op die plaas aangerand. Stupid brak! Ek dink dis net regverdig dat dit nou Vrydag is.

26 thoughts on “Bitch Blog

  1. Ek vermoed ons probleem is nie soseer dit wat so nou en dan met ons gebeur nie, maar die feit dat ons perspektief so ‘n bietjie verdraai is. Ek het byvoorbeeld net vanoggend met die omruil van my kar se band nie minder as ses mense gekry wat hulp aangebied het nie en ek moet net sê dat nie een van hulle nou juis my familie kon gewees het nie want hulle is so bietjie aan die donker kant daarvoor.

    Die probleem met ons perspektief is dat die media se oorkoepelende doelwit lankal nie meer onpartydige verslaggewing is nie, maar die verkoop van koerante en “ratings.” En ongelukkig is die drie goed wat die meeste koerante in hierdie land verkoop moord, rassisme en korrupsie. Ons lees en hoor van al die kak en drama, maar nooit van die positiewe of alledaagse nie. Die polisie was nou wel betrokke by die dood van ‘n taxi drywer, maar hoeveel arrestasies is gemaak waar dit nie plaasvind nie? Van plaasmoorde sal ons lees, maar ons weet nie eens van plase waar dinge goed gaan of waar werkers hul werkgewers se lewens miskien red nie.

    Dink bitetjie hieraan, wanneer laas het jy jou kruidenier gebel oor die perfek alledaagse brood wat jy gekoop het of jou munisipaliteit gekontak oor die feit dat jy vanoggend lopende water in jou huis gehad het? My raaiskoot sou wees dat jy dit nog nooit gedoen het nie want ek het nog nooit nie. Is dit moontlik dat ons so swartgallig kan wees dat ons nie meer sulke dinge raaksien nie?

    1. Jy is SO reg! Ek het darem lankal klaar stoom afgeblaas. Ek sé darem dat ek altyd positief is en ek glo met my hele hart ook nog dat daar meer goeie mense op ons ou aardetjie is.

      1. ja son, dit moet ek van jou se – jy is meeste van die tyd positief, gun ander hulle plekkie in die son, en het ‘n vrek goeie hart. so jy mag maar stoom afblaas elke nou en dan ‘n biets wees … 😉

  2. Dalk kan jy dit “bitch” noem, maar sommige mense is maar effe sensitief vir eerlike opinies. Dis dan wanneer dit gemaklikergewys as “bitch” en van verbygaande aard afgemaak word.

    As ek, alleen in die kar, op die langpad met myself begin debateer is daar nie heilige koeie nie, maar ek glo nie baie mense sal dan op die sitplek langs my wil siut nie.

  3. Jy verwoord ALS wat ek altyd nog wou sê. Hier sit ons hoogheilig en wit, en ons wys so graag vinger na dié wat nie wit is nie, maar eintlik hap ons almal maar van dieselfde koek. Dis net dat sommige mense dit met meer smaak doen as ander, en dan kruip hulle onder die tafel weg om nog so ‘n stukkie ekstra te steel…eintlik wil ek so vêr gaan om te sê die meeste van ons is net glorified bos n&&iers…

    1. Anton, dis mos nou ook maar mens, okk maar lus 😀 Nee, ek spot nou, maar dit gaan eintlik maar oor die splinter in jou oog, terwyl ek met die balk in myne loop 😉

  4. Die Kaap se Karma was definitief ernstig af hierdie week. Dalk is sy vies oor die FT’s wat haar so toepak vir die Argus. Eintlik is die hele land se Karma af soos laasweek se ou snoek.

    1. Jy is seriously reg! Die karma het laasweek gestink. Ek dink net die Kaap was oorvol, met die Argus en die Woordfees en als. Nog steeds nie genoeg regverdiging om hom soos ‘n rebelse tiener te gedra nie 😉

    1. Jy’s ook reg. Maar hoekom moet ons altyd veg? Hoekom kan ons nie in vrede saamleef nie? Toemaar, dis ‘n retoriese vraag van ‘n idealis 🙂

      1. Ek soek die “like”-knoppie, want ek bewonder jou idealisme; is selfs bietjie jaloers daarop… Maar, helaas, dis ‘n baie, baie, baie lelike wêreld daarbuite; een waarvan min mense werklik bewus is. Ek het net vanoggend weer besef dat ek honderd maal eerder ‘n selfmoordaanval in Kabul trotseer as wat hierdie fanatici in my eie buurt in SA se strate rondloop en my vrou en kinders in gevaar stel. Maar die anderkant van die muntstuk is dat ek ek nagte lank wakker lê en myself bekommer oor die veiligheid van my geliefdes in Suid-Afrika. Tasse pak en SA verlaat was nog nooit so hoog op my agenda soos juis deesdae nie. En ek was nog altyd die een wat gesê het dis net lafaards wat immigreer… Tsk-tsk…

      2. Ek het lankal ophou dink dis net lafaards wat die land verlaat. Met grysheid kom wysheid. Maar ek hoop flippin regtig nie julle gaan ook nie. Kom eerder net Kaap toe. Ek sal even saam met jou vir die Bulle skree, solank hulle net nie teen die Stormers speel nie!

      3. Hahaha! Ek wil tog daai dag beleef wat jy vir die Bulls skree… Nee wat, ons het nog baie tyd om te besluit en ons jaag niks nie, maar as die geleentheid hom voordoen gaan ek beslis nie nee sê nie. Nogal vreemd hoe ‘n gesin mens se uitkyk verander… Drie jaar terug sou ek lippe aflek vir ‘n ou burgeroorloggie, vandag lek ek lippe af vir ‘n Amerikaanse paspoort! 😉

  5. ek hoor totally wat jy se en stem saam … bou nou ‘n nasie ne. manlief het ook gister vir my ‘n forum gewys van mense wat nou ‘die volk’ wil beskerm blah blah blah – ek het net ‘n paar comments gelees en die page rapporteer. my man het mos nie ‘n bang haar op sy kop nie, maar het vanoggend vir my gese hy is bang vir sulke wit mense. party mense se ons is sensitief oor mense wat ons kwansuis uitkyk omdat ons ‘n mixed couple is. dit gaan nie daaroor dat dit ons pla nie, ons is darem heel secure genoeg – dis net flippen ‘sad’ dat daar nog soveel sulke mense is – gaan kyk maar op sulke forums – dis mense met wie ons elke dag te doen kry. ek het nie ‘n probleem daarmee as dit nie jou thing is nie – maar o wee, die haat wat hulle spuug – ai ai.

    en ja – dit werk van alle kante af – die polisiestorie en die ander goed wat jy hierbo genoem het. en ja – ons is ook baie positief – ek kies om nie te veel detail te lees oor hierdie tipe goed nie, maar ja – i get you girlfriend …

    1. Sulke mense en dinge maak my eintlik meer sad as kwaad. Maar as ek begin huil hieroor gaan ek nooit weer ophou nie. Nou kanaliseer ek maar eerder die hartseer.

  6. Ek weet nie eintlik waar om te begin kommentaar lewer met hierdie kwaai inskrywing nie! Nou skink ek maar vir jou iets te drinke

Lewer kommentaar op netjane Kanselleer antwoord