Die Lewe · Gedagtes

Wanneer vriendskap faal en die dood ons inhaal

Ek loop meer as ‘n week hiermee. Sal ek hieroor skryf of sal ek nie? Dit sny so na aan die been en so baie mense (lees familie) lees al hier. Maar dit wil my nie los nie en al hoe ek gaan vrede maak, indien ooit, is om dit uit my uit te skryf.

Laasweek Donderdagoggend, daar by die veeveiling in die Karoo, lui my selfoon. Ek stap eenkant toe, uit die stof en geraas. Dis ‘n vriendin. Let wel, dis nie haar ma wat my laat weet nie. Haar ma, wat my ma se suster is.

“A is vanoggend oorlede.”

Ek hoor eers nie mooi nie en druk my een oor toe. Ek het gehoor iemand is dood, maar kan op daardie oomblik glad nie dink wie nie.

“Ekskuus? Wie?”

“A. A!”

Dit word grafstil binnekant my. So, dis nou finaal te laat. Te laat om te gaan groet. Te laat om heeltemal te gaan regmaak. Al het ek nie werklik verkeerd gemaak nie.

“Dankie dat jy my laat weet het. Ek is op die oomblik in die Karoo, maar is vanaand oppad terug.”

Ek beëindig die oproep en staan en staar na die stof en die skape. Sal ek of sal ek nie? Die dood vee tog verskille uit. Of hoe? Sy en haar ma en haar dogter was tog by my ma se begrafnisdiens.

Ek druk die knoppie en dis eers beset. Ek bel my suster.

“Het jy gehoor? A. is vanoggend oorlede”

“Nee! Gaan jy bel?”

“Ek weet nog nie. Gaan jy?”

“Ja.”

“Laat weet my wat sê haar ma.”

Ek staan weer en staar in die stof en loop stadig terug na waar die ander mense staan. Dan draai ek om en loop weer weg, eenkant toe, waar een verlate boom staan. Ek gaan staan onder die boom en druk weer die knoppie. Hierdie keer lui dit en my tannie antwoord.

“Ek is jammer om te hoor van A.”

Sy herken my stem. “Dankie. Maar dis beter so. Die laaste ruk was die kanker so erg, sy was heeltyd op morfien.”

“Sterkte daar. En sê vir E ek dink aan haar, dis bitter jonk om mens se ma te verloor. Laat weet asseblief wanneer is die begrafnis. Ek is nou in die Karoo, maar ek is more terug by die huis.”

“Goed, ek maak so.”

Ek het haar op haar woord geneem. Daar was ‘n tyd wat ek en A soos bloedsusters was. Eintlik nader aanmekaar nog as bloedsusters.

Ek onthou hoe sy teen haar man se wil vir my kom kuier het by my groot huis in Gordonsbaai. Haar man het geweier om soontoe te kom, omdat ek ‘n kleurlingmeisie as loseerder gehad het. Ja, dis hoe hy rol.

Ek onthou hoe sy haar gat aan hom en sy vooroordele afgevee het en hoe ek en sy een aand gaan verjaarsdag hou het  saam met die kleurlingmeisie. En daar is baie ander stories wat ek onthou.

Ons het almal geweet haar dwis van ‘n man het dwalende oë en hande. Sy ook. Ek het baie keer so skuinsweg gevis hoekom sy hom nie skei nie. Maar sy het my nooit ‘n klinkklare rede gegee nie. Hulle het ook geen geheim daarvan gemaak dat hulle huwelik nog net in naam bestaan nie. Oor die hoekoms en waaroms en hoeveel sy geweet het en die bepiegelinge oor ‘n kind by ‘n ander vrou het ons nooit gepraat nie. Ons het net saam gekuier en gelag en soms geskinder oor die ander familie. Sy het haarself verloor in haar werk, haar musiek, haar boeke en om gereeld op nuwe plekke te gaan vakansie hou.

Toe tree hy oor die streep en teiken my. Ek was eers gewalgd en later het ek gesorg dat ek nooit eers alleen saam met hom in ‘n vertrek is nie. Soms het dit fyn voetwerk gekos. Soms het hy grappies met my gemaak in almal se teenwoordigheid en moes ek glimlag, terwyl ek eintlik wil kots. Ek het ook geweet dit gaan nie oor my per se nie, dit gaan bloot daarom dat ek ‘n vrou is. Ek dink die enigste iets met bene wat hy nie sou teiken nie, was ‘n tafel. En glo my vry, hy was geensins ‘n ‘oilpainting’ nie, soos my ouma sou sê. Nie dat dit ‘n verskil sou maak nie, maar die arrogansie van so ‘n man wat dink daar is iets met jou fout as jy NIE wil saamspeel nie.

Een aand het ek daar oorgeslaap. En is in die middel van die nag wakker gemaak. Na ek gedreig het om kliphard te gil, is ek uitgelos. Dit was die laaste strooi. Ek het net heeltemal begin wegbly. Intussen het my ma in sy woonstel gebly. Dis kort voor haar Alzheimers gediagnoseer is. Toe gee hy haar kennis. Ek was blind van woede en sonder om te dink, het ek die foon opgetel en my tannie gebel en haar die waarheid vertel. Haar antwoord: “Ek wil nie hierby betrokke wees nie. Hy is baie goed vir my en ek gaan nie inmeng in hulle huwelik nie.”

Ek was nog meer kwaad. For crying out loud! Dit is haar dogter met wie hy so mors. Dit is haar suster wat hy uit die woonstel geskop het. Toe bel ek A self, maar haar selfoon het oorgegaan op voicemail. Toe los ek ‘n boodskap; “As jy wil weet hoekom ek nie meer by jou huis kom nie, bel my, of vra jou ma. Ek het haar die waarheid vertel, maar sy wil nie daarmee gepla wees nie.”

Sy het my nooit teruggebel nie. Ek het later spyt gekry en gedink ek moes die oproep eerder net nooit gemaak het nie. En ek het vir baie maande nie weer na haar huis toe gegaan nie. As sy net gebel het en gesê het sy weet hy is ‘n dwis en ek moet my nie steur nie. Maar sy het nie. Sy het net stilgebly. En ek het ook net stilgebly.

Toe hoor ek by haar broer dat sy kanker het. Dat sy borskanker gehad het, maar dat dit nou versprei het in haar bene in. Sy het my nooit eers dit laat weet nie. Dié keer het ek my laaste greintjie moed bymekaar geskraap en na haar huis gery, in ‘n tyd wat ek geweet het hy sal nie daar wees nie. Haar ma het vir my oopgemaak en opgetree asof niks ooit gebeur het nie. Hoe vee ons goed nie onder die mat in nie.

A ook. Sy het my gegroet asof ek die vorige dag laas daar was. Ek het gekuier tot dit amper tyd was dat hy sou huis toe kom. My laaste woorde aan haar was: “Bel my, dan kom haal ek jou om by my te kom kuier.” Want sy kon nie meer self bestuur nie en het moeilik geloop.

Sy het my nooit gebel nie en in die maande daarna het my ma se siekte my fokus geword. Nie dat ek nie aangegaan het met my lewe nie, maar ek het bloot nie nog kans gesien vir iemand anders se pyn ook nie. My fout.

Met my ma se begrafnisdiens het ek haar weer gesien. Ek het myself stil geskrik. Daar was nie eers die helfte van die mens oor wat sy was nie. Maar sy het die moeite gedoen om te kom. Ons het ‘n lang ruk mekaar net vasgehou en na die tyd gesels oor simpel goed, asof daar nog jare se kuier voorlê.

Daarna het ons mekaar nie weer gesien nie. Ek het haar een of twee keer gebel, maar sy het nooit teruggebel nie. En laasweek is sy dood.

My hart is seer oor ‘n vriendskap wat gefaal het. Maar my hart is seerder oor die vark dit reggekry het om my nog by alles van haar begrafnis af ook weg te hou. Sy is selfs uit ‘n heel ander gemeente begrawe, en toe ek die vrou by haar kerk vra hoekom, het sy gesê sy weet nie en sy vind dit net so vreemd. Toe ek en my sus Dinsdag begin navraag doen, omdat ons niks hoor oor die begrafnis nie, moes ons uitvind sy is reeds begrawe.

Ek het haar gefaal in die lewe, en ook in die laaste eerbetoon. Bloot omdat ek nie geglo het mense kan werklik so wraaksugtig wees nie. Ek gaan nog lank hieraan kou. En kou en kou.

17 thoughts on “Wanneer vriendskap faal en die dood ons inhaal

  1. Ek verstaan hoe jy voel en in my situasie het ek lank skuldig gevoel oor ek dink ek kon meer gedoen het en dit vreet mens lewendig op. Daar sal wel ‘n tyd kom waar jy vrede maak en soos dit vir my klink het jy wel baie vir haar beteken. Sterkte!

  2. ai jongie – jammer dat jy deur dit moes gaan en nog steeds gaan …😦

    ek weet – so iets is sooooo moeilik. so moeilik om stil te bly en die goed onder die mat in te vee. dit maak my siek dat sulke goed aangaan en almal maak net of dit nie daar is nie. op die ou einde het ons nie iets gese nie, maar die hele ding is omgegooi na ons kant toe. nodeloos om te se, daai vriendskappe is vinnig gesny … vrek hartseer en baie pyn gewees, maar ‘hulle’ se mos dit maak ‘n mens sterker.

  3. Jy het probeer. Al voel dit dalk jy kon meer of moes meer – daardie gaan jy self moet kou tot jy besef dit was genoeg.

    “Hoe vee ons goed nie onder die mat in nie.” Skaamkwaad is ‘n snaakse ding Son

  4. Dalk wys jou blog dat JY juis nie gefaal het nie. Soms sukkel mense om met hulle eie realiteit saam te leef en verkies om nie kontak te he met die mense wat hulle daaraan herinner nie.
    As jy te lank wroeg oor wat KON wees (in plaas van om bly te wees oor wat wel was), kry haar man reg om met jou emosies te doen wat hy nooit met jou lyf kon nie: pasop!

  5. Wanneer jy klaar gekou en kou het aan hierdie ding, gaan die noodsaaklike dag kom waarin jy jouself gaan vergewe, jou hande oopmaak en dit laat gaan. Sterkte Son.

  6. Ai, Son. Mens weet nie altyd nie. Mens weet ook nie wat om te maak nie.
    Maar ek wil glo dat sy tog al die tyd die waarheid geweet het.
    En onthou, jy is maar net een mens, en toe sy die hulp nodig gehad het, was jou hande regtig vol met jou eie ma. En as jy nie jou ma gehelp het nie, wie sou?

  7. Ai Vuur, my hart gaan uit na jou. Ons almal lewe in “ek moes” of “ek moes nie”. Daardie gedeelte is verby, maak vrede of jy gaan ook siek word. Onthou net, elke vark kry sy dag.

    1. Anton, ek kou nog verwoed. Ek rou nog nie. Ek het maar pas vrede gemaak met my ma se dood, dis asof my kop nog sukkel met hierdie.

    1. Dankie. Maar ek moes meer gedoen het. Of nie gedoen het nie. Ek moes nooit daardie oproep gemaak het nie. Ek moes my mond gehou het, ons het almal geweet hoe hy is. Maar niemand het gepraat nie. Dalk moes ek ook maar nie. As ek maar… Maar as is inderdaad verbrande hout.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s