Die Lewe

Geweld het geen spesifieke gesig nie

Daar het weereens iets verskrikliks in die wêreld gebeur, en ek sê wêreld en nie net Suid-Afrika nie, want Oscar Pistorius is wêreldwyd aangehang en vereer. Hy was nie net die wêreld se bekendste gestremde atleet nie, hy was ook verlede jaar die “plakkaatgesig” van die Olimpiese EN die Paralimpiese Spele in Londen. Hy is ook wêreldwyd die gesig van advertensieveldtogte van sommige van die bekendste internasionale maatskappye. Hy het borgskappe van miljoene rande. En nou is hy heel moontlik skuldig aan moord. Die twiets en die woorde vlieg deur die lugruim soos konfetti wat gestrooi word. Baie mense glo hy is onskuldig.

En dan is daar ander. Volgens sy eksmeisie was hy ‘n opperste rokjagter en tydens hulle verhouding was daar reeds voorvalle van geweld en het hy haar belowe hy sal vir sielkundige hulp gaan, maar hy het toe nooit. Ander mense spoeg vuur oor hierdie woorde en sê sy wil Oscar nou net slegmaak.

Wat is die waarheid oor wat in die oggendure van 14 Februarie in Oscar se huis gebeur het? Net Oscar en die oorlede Reeva sal weet. Maar kom ons kyk na die feite, wat geen mens kan wegredeneer nie.

Die meisie is deur ‘n toe badkamerdeur geskiet. Vier keer. Enige redelike mens kan vir homself uitwerk dat dit geen ongeluk van watter aard ook al kon wees nie. As hy haar dalk aangesien het vir ‘n inbreker, sou sy tog uitgeroep het na die eerste skoot. Enige redelike mens gee ‘n waarskuwing voor hy net skiet. As sy agter ‘n toe deur was en hy het nie geweet dis sy nie, was sy lewe nog steeds nie in onmiddelike gevaar nie. Hoekom dus net skiet? En hoekom VIER keer skiet? Dan bring ek nie eers die feit by dat die sekuriteit reeds vroeër die nag by sy huis was oor die bure gekla het oor ‘n geraas en stryery daar nie.

Dit klink vir almal wat Oscar as held vereer het, amper onmoontlik dat hierdie man sy meisie willens en wetens kon doodskiet in ‘n woedebui. Maar wat weet ons regtig van wat in ander mense se koppe en huise aangaan? Dit wat ons sien en dit wat is, is soms twee totaal verskillende waarhede.

Dink net hieraan:

Daardie ‘godvresende’ man wat agter toe deure sy vrou skop en slaan, net mooi op die regte plekke sodat daar geen merke wys nie en die vrou doen mee daaraan om hom daarmee te laat wegkom, want sy is te skaam om dit openbaar te maak. Of nog te lief vir hom, of nog te seker daarvan dat sy hom sal kan verander, of dat sy net moet verander dan sal hy ophou. Min wetend dat sy besig is om met elke aanranding nog ‘n stukkie van haarself te verloor, tot daar uiteindelik niks gaan oorbly nie, dood of lewendig. En niemand wat hom buite sy huis se vier mure sien, sal ooit kan droom dat hy so iets doen nie.

Die hooggeagte lid van die samelewing wat snags sy dogter se kamer binnesluip en haar seksueel molesteer, om more iewers in ‘n vergadering of kantoor te sit waar almal na hom opsien en dink hy is te wonderlik vir woorde. En die dogter bly stil, want haar pa het haar tot stilte gesweer en haar laat glo dat niemand HAAR sal glo nie.

Ek kan aangaan en aangaan en ek is seker soos julle hier lees, kan julle aan meer as net twee voorbeelde dink waar die gesig wat ons in die openbaar gesien het, dié van ‘n engel was, maar wanneer die deure toegaan en die wêreld buite is, het die duiwel kom dans op die maat van sy naastes se smeekroepe van pyn. ‘n Duiwel wat so sjarmant is wanneer hy buite sy eie kring beweeg, dat ieder en elk dink dis ‘n stralekrans wat om sy kop hang.

Ek sê nie Oscar is skuldig nie, ek kan nie daardie oordeel oor hom uitspreek nie, want ek het nie al die feite nie. Maar die bietjie feite wat ek reeds van weet, spel vir my iets wat NIE na ‘n ongeluk lyk nie. Sukses, roem, ‘n aantreklike gesig of ‘n vooraanstaande plek in die gemeenskap maak nie noodwendig van iemand helde-materiaal nie. Geweld het nie ‘n spesifieke gesig nie. Mense is feilbaar en die gesig wat die wêreld sien en aanbid, is baie keer net ‘n masker. Daarom het ek nie helde nie. Ek respekteer mense en hul sukses, maar dis waar dit ophou.

Ek is uit my diepste binneste jammer vir die meisie wie se lewe so jonk kortgeknip is, dalk doodeenvoudig omdat sy die verkeerde man liefgekry het. Want as dit is hoekom sy vandag dood is, dan is sy by verre nie die enigste een nie. Daar kan boeke vol geskryf word met die name van mense wat verkeerd liefgekry het en nooit die duiwel agter die engel gesien het nie en ook nooit betyds padgegee het nie. En dan is daar dié wat wel betyds padgegee het, maar vir die res van hulle lewe die merke dra van iemand anders se waansin. As ‘n vrou een keer deur ‘n man mishandel is, dra sy dit vir die res van haar lewe saam met haar, ongeag hoe goed sy genees en hoe in beheer sy daarna van haar eie lewe is. Dit is nou dié wat oorleef om te onthou. Want jy vergeet NOOIT nie.

Ten slotte:

We need to teach our daughters the difference between…

A man who FLATTERS her and a man who COMPLIMENTS her

A man who SPENDS MONEY on her and a man who INVESTS in her

A man who views her as PROPERTY and a man who views her PROPERLY

A man who LUSTS after her and a man who LOVES her

A man who believes HE is GOD’S GIFT to women

and a man who remembers a WOMAN was GOD’S GIFT to MAN

And then, most importantly…

We need to teach our SONS to be that kind of MAN.

28 thoughts on “Geweld het geen spesifieke gesig nie

  1. Wat die koerante nou opdis, glo ek nie meer as “feite” nie. Onthou hoe Rapport – net in sy gedrukte uitgawe, nogal – te kenne gegee het dat die Steenkamp-outjie waarskynlik sy suster seksueel gemolesteer het? Net die Maandag het dit geblyk dit was totale onsin. Enigiets om die koerant verkoop te kry.

    Ons lewe in ‘n siek samelewing. Nadat daar verlede week, flippen helder oordag, by my bure ingebreek is – en ons kompleks is regtig, o, so veilig – is ek weer in paranoia overdrive. Die buitelig wat nie brand nie, sal my in die middernagtelike ure uit die bed laat spring. Die badkamerdeur word gesluit – net ingeval hulle daardeur wil klouter, soos by my bure. Ek luister nie eens meer musiek met my oorfone nie. Ek wil tog regtig nie onverhoeds betrap word nie. Klein geluide in die nag hou my wakker. Ek praat nou net vir myself, maar ek sal die kluts kwytraak as ek dink daar is ‘n vreemdeling in my huis.

    Dalk kom dit wel in die hof uit dat Oscar sy meisie koelbloedig vermoor het. Sleg vir die nasionale psige, maar mens moet maar pa staan vir jou dade. Ek dink net nie dat mens moet onderskat wat die aanhoudende geweld ook aan ons nasionale psige doen nie. Die wreedheid, sinneloosheid wat mens elke liewe dag in die koerante lees, moet ons as Suid Afrikaners ‘n sielkundige knou gee. Party dalk meer as ander.

    En ek stem saam met Karen. “Guns don’t kill people…YES, THEY DO!”

    1. VyVlam, ek sou so graag om een tafel hieroor met jou wou praat. Onthou, ek het ‘n dogter wat op ‘n afgeleë plaas bly. Ek moes ‘n daadwerklike besluit neem om positief te dink, elke dag, en te glo dat daar ‘n hoër hand is wat haar beskerm, anders sal ek geen rus of duurte vir my siel kon hê nie. Sy vertel gereeld vir my dat wat mens vrees, jy juis na jou toe aantrek. Ek kuier nou hier en vind dat hulle nie eers snags al die deure sluit nie. Dalk, net dalk, lewe hulle soos wat mens eintlik moet leef. Sonder vrees en met geloof in wat moet wees sal wees. Ek weet nie wat is reg en wat is die antwoorde nie, ek weet net dat mens tog werklik nie elke dag in vrees kan lewe nie.

      1. Vir my is dit makliker gese as gedaan, Son. Party nagte wil ek net slaap en oor niks worry nie. Maar in die kamer langs my is ‘n 9jarige seuntjie en hy is geheel en al van my afhanklik om hom veilig te hou. So, hoor ek ‘n snaakse geluid in die nag, staan ek maar op en gaan kyk. Met my steakmes en pepperspray in die hand. En ja, my ‘wapens’ slaap langs my elke nag. En met genade het ek nog nie wakker geskrik met ‘n familielid langs my bed en dit op hulle beproef nie.

        My broer en skoonsus van die plotte kom kuier party aande by my. Hy bring sy geweer saam en bere hom bo-op my yskas terwyl hulle hier is. As hulle teruggaan, moet hulle my sms sodra hulle veilig in die huis is. As ek niks van hulle hoor nie, dan bel ek. En, gelukkig het dit nog nooit gebeur nie, maar as hulle nie antwoord nie, of iemand anders antwoord, of hulle antwoord wel maar in ons ‘kodewoord’, bel ek die polisie.

        Die realiteit is dat daar die afgelope tyd verskeie aanvalle in hul omgewing was. Dan moet ons maar bangbroeke wees en in vrees leef, maar if I have to go down, I’ll go down with a fight. En soms, ja, net soms wens ek die ergste wil nou gebeur sodat ek dit oor en verby kan kry en daarmee kan deal. Ek maak my reg vir alle soorte scenarios, maar ek dink my ‘vrees’ sal net oorkom word as ek dit kan face.

        (En AS dit eendag gebeur en ek het ‘n lyk in my huis…wonder of hulle ook hierdie kommentaar van my sal uitkrap en voorhou as bewys dat ek gewelddadige neigings het?)

  2. Ai Son wat skyn in die wereld. Ek het nogals drie maande gegee van 22 November af om in jou ervaringsskat te kan rondkrap en hier kom Oscar en gooi die appelkar om. Ek wou vra maar het gevoel dit sou inappropriate wees. Nou het jy self gese en het ek jou ervaringsraad nodig.

    My hart gaan vandag uit na elke vrou en kind wat deur hierdie hel moet gaan om ‘n lewe met ‘n boelie te deel. Ek probeer so nou en dan myself in so ‘n persoon se vel indink maar my rasionele grysstof maak hierdie denkeksperiment onmoontlik. Ek is verlief, lief, verslaaf en gemesmeraais deur my bruid en kan nie aan ‘n ander m.o. dink as om haar te vertroetel, vertroos, vertrou en te vertoon nie. Die afrikaanse taal het nie genoeg woorde om my totale verbintenis met haar te beskryf nie.

    Ek weet uit ondervinding dat die outjies in my skool wat bietjie akademies sukkel en die sukkel nie kan verwoord nie of gebrekkig kommunikeer, meer dan as wan terugval op fisiese geweld om ander te manipuleer.

    Ek maak die afleiding dat die teendeel ook waar is. Daar is nie woorde of sinsnedes om die diepste diep van die hellevaart van ‘n geweldadige verhoudings tronk te beskryf nie.

    Ek stel die volgende hipotese: As mans (en seuns) beter kan kommunikeer sal hulle nie nodig het om terug te val op ‘n prehistoriese instink respons nie. As hulle geleer kan word om uit ‘n posisie van nederige krag te kommunikeer, sal verhoudings ook hegter en meer verrykend vir almal wees.

    Ek maak die hipotese maar het geen verwysingsraamwerk om die stelling te toets nie omdat ek dit nie ken nie.

    Ek prent dit gereeld vir my personeel in dat “it is better to build strong children then to mend broken adults”. Dit kan net gebeur in ‘n atmosfeer van liefde en aanvaarding waar noodwendige challenges saam aangepak word en deurgewerk word.

    Jou qoute is ongelooflik toepaslik. More oggend druk ek dit uit en speld dit op in die personeelkamer en lamineer een vir elke mansonnie in die skool (die wolfpack) met die uiteindelike doel om dit in die skoolnuusbrief te publiseer sodat elke man, pa, oom, boetie en elkeen van die Y chromosoom klub kan kennis neem van die woorde.

    My vraag is: wat kan onnies op skool doen om hierdie sakie nie net aan te roer nie maar te ets op die morele kompas van elke seun?

    1. MnrNel, ek sal jou hieroor email sodra ek terug is in die Kaap, teen die naweek. Netwerk is stadig hier in die Karoo. Daar is veel meer om hieroor te sê en dit sny te na aan die been vir selfs hierdie openbare forum🙂

    1. Julio, ek het net een seun en van kleins af het ek hom geleer om sy gevoelens te wys, dat ‘n man ook MAG huil. Ek het hom geleer om liefde te wys. Maar meeste van als het ek hom en my en sy sussie uit ‘n geweldadige huis verwyder, juis sodat hy kan leer dis NIE okay as sy pa sy ma slaan nie. Juis sodat hy nie dalk een dag sy pa se geskiedenis herhaal nie. My seun is ver van perfek, maar oor een ding twyfel ek nie. Hy het respek vir ‘n vrou en hy weet, al word hy hoe oud, sal ek persoonlik met hom kom afreken as hy ooit ‘n vrou mishandel, fisies of emosioneel.

  3. Die hele storie het my vandag eers “gevang” . Eks skoon siek van ontsteltenis! Toe hoor ek ook van die omie wat met pangas aangeval is, ‘n klipgooi van my 73 jarige ma af wat ook vingeralleen op die plaas bly….

  4. Ek het gister die skakel van ‘n berig oorsee op my FB blad gesit en gesê in die hele berig was daar meer klem deur die joernaliste gelê op die misdaad in SA en die feit dat mense hulself bewapen as enigiets anders. Ek was ‘n mishandelde vrou en het male sonder tal onder my eerste man se hande deurgeloop. Dit laat ‘n ongelooflike diep merk op jou psige. Wie sou ooit kon raai wat alles in my tweede huwelik aangegaan het? Almal het gedink ons is ongelooflik gelukkig en dat die eks my op die hande dra. Die teenwoorgestelde was egter waar.

    Wat Oscar ookal gedoen het, hy sal die gevolge moet kan dra.

    Ons as mens is darem ‘n spesie op ons eie. Ewe skielik pop alles wat lelik is oor hom en alles wat mooi is oor haar uit. Soveel van bespiegeling het ek lanklaas gehoor. Mens kan dit seker skinder noem?

    1. Ek dink hierdie is moontlik nog net die puntjie van die ysberg. Dis so damn sad. En net omdat hy en sy bekend was, is die koerante vol daarvan. Wat van die onbekende man wat sy onbekende vrou mishandel? As hy haar doodmaak, haal sy dalk bladsy drie?!

  5. Hoekom dink ek daar is opkikkers gebruik vir al die spierkrag..soveel kere hoor mens van agressie wat persone ervaar met die gebruik daarvan , geen verskoning, maar net bitter hartseer vir beide families.

  6. Briljante skrywe.

    Ek stem 100% saam met jou stelling “MENSE is in hierdie wêreld die probleem, nie dinge (of diere) nie.”

    Die feit bly staan, as daar gister iewers in ‘n agterlike woonbuurt ‘n identiese verhaal afgespeel het, was dit nie vandag voorblad nuus en amper al wat mens op die www raaklees nie. Dit gebeur daagliks, maar omdat die mensdom hom verhef het tot ikoon, is sy (beweerde)sonde ‘n duisend maal groter as die sonde van die pleb wat dieselfde gedoen het.

    1. Dis wat eintlik so sad is. Die onbekende jong vrou wat dood is, is net so dood soos die bekende een en haar mense is net so verpletter. Maar dis nie nuus nie.

  7. Ja eers maak Anene Boosen en Bredasdorp opslae en nou Oscar. Sonder om vingers na enig iemand te wys wil ek net sê dit is vir my as of hier twee ernstige waarskuwings is oor hoe disfunksioneel ons gemeenskap geraak het. En in Silver Wood is daar vir my ‘n lelike slang in die gras.

  8. Hierdie laat my bietjie aan Hansie Cronjé dink – hy’t nou nie sulke vreeslike goed aangevang nie, maar was ook absoluut vereer en niemand kon dink dat hy ooit so iets skelm sou kon doen nie. En kyk net…
    Gewere is seker een van die slegste uitvindings ooit.

    1. Nee Karen, ek verskil in een opsig hier van jou. Gewere is net wat mense daarmee en daarvan maak. Net soos motors. Sit ‘n geweer of ‘n motor in die verkeerde hande en kyk wat gebeur. MENSE is in hierdie wêreld die probleem, nie dinge (of diere) nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s