Gedagtes

Daar’s ‘n wind wat waai

Hy waai my hier en hy waai my daar, hy waai my kop sommer deurmekaar.

Wie skryf nou oor die wind wat waai? Maar hy waai darem nou wragtig al te lank! Dis nie ‘n onderwerp om oor te dig of liries oor te raak nie. Dis ‘n lastige ding wat verduur moet word. Veral as mens in die Kaap woon. Hier kry jy Suidoos saam met jou babamelk in.

Van kleinsaf sien jy hoe Van Hunks en die duiwel hulle pype stook en Tafelberg toe rook. Dan weet jy. Hou jou roksak toe. Hou jou roksak, broeksak, sysak, hou die hele lot toe. Want die wind lig alles wat kan lig, rokke oor koppe, hoede van koppe af, mense van fietse en motorfietse af.

Alles wat beweeg lyk naderhand soos vraagtekens, krom gewaai. Tot die voëls vlieg een vlerk vorentoe en twee vlerke dwars. Dis nou AS hulle dom genoeg is om te probeer vlieg.

Die weer mense sê hierdie jaar waai die wind erger as ander jare. No kidding! Seker ook oor die gat in die osoonlaag. Daai gat maak ‘n trek. Mens weet mos wind trek erger deur ‘n plek as daar deure of vensters aan teenoorgestelde kante oop is. So, dan is daar seker ‘n gat bo EN onder in die osoonlaag.

En die brande! Dis asof daar iewers ‘n vonkie sit en wag vir daai wind om net lekker op dreef te kom. Dan is die partytjie aan. Die vuurgod en windgodin wals en tango en trap ‘n riel dat die rook so draai. As dit nie so verwoestend was nie, sou die vuurdans iets aanskouliks kon wees. Maar die skoonheid gaan verlore in die wreedheid van wind-en-vuur-vernietiging.

Daar is niks waarteen die mens so nietig staan soos teen die Natuur nie. As die dakplate kraak, die houtdeure sug, die vensterrame kreun in die wind, of as die veld knars in die vuur, of die riviere oorvloei in die reëntyd, is ons NIKS. Dan vat die aarde maklik terug wat ons dink ons mak gemaak het.

Die wind waai waar hy wil. Die Natuur is sy eie Baas.

18 thoughts on “Daar’s ‘n wind wat waai

  1. Die Suidooster

    Mannetjies wind
    Met jou ruk en rol
    dryf jy die see
    sy ouverture
    sy dreunsang
    tot net gryse skimmels
    terwyl jy ruk en rol
    ruk jou snaar
    en huilkitaar
    om elke hoek
    gryp verwoed
    met grypend spoed

    Kaapse dokter
    Sonder spreekkamer
    Ongevraagd… onbeskaamd
    klim jy onder rokkies in
    dag jy kom net heel-
    die Kaap se siekte-
    regmaak vir die winterreën
    om tafelberg se kop te was
    wonder wanneer sal jy ruk en rol
    September tot Maart en verwoesting saai
    Jy sê dis maar net ‘n Kaapse draai
    om elders te bedruip godsgesaai

    DROMER ©

  2. Nee jinne, dit sal ek nie kan verduur nie Son! Sterkte maar vir julle.
    Maar dit is waar daai van Moeder Natuur….as sy begin gooi moet jy maar hardloop en hoop vir die beste. Met al ons wonderlike tegnologie is ons steeds weerloos.

  3. Dis mos die Duitsers wat meen dat daar nie iets soos ‘slegte weer’ is nie – ek kan my indink hoe baie die wind daar by julle moet waai, want hier bo in Gauteng reën dit letterlik elke tweede middag – en hoe meer julle winde waai, hoe meer rëen kry ons mos 🙂

  4. Ek “doen” nie wind nie.😆 Boonop het die wind die afgelope week ons pergola omgewaai. Dit was darem ‘n ongewone eenkeer in twintig of dertig jaar se stormwind wat groot ou reusebome ontwortel het. Maar die wind is nie tans in my goeie boekies nie…

    1. Ek moan altyd oor die winter, so as dit somer is, is ek SO bly, maar hier bring somer die wind ook, nou is ek in twee geskeur, want ek “doen” ook nie wind nie, maar ek wil ook nie die somer verjaag nie😦

  5. Ek het verlede week eerstehands jou wind ervaar en ek stem saam dis ontsettend erg. Ek en ‘n vriendin was in die kaap vir ‘n vier-nag vaart op die Sinfonia van Kaapstad na Durban. Ons het die eerste nag in Kaapstad se hawe geslaap want die wind het té erg gewaai vir die boot (of is dit ‘n skip?) om die hawe te verlaat. Die res van die vaart het die wind jou ook amper van die boot afgewaai as jy dit op die dek gewaag het.

  6. My kamermaat kan liries raak oor parades in die Kaap waar hoed deel van die vroulike regime was vir sulke formaliteite. As gebrore Transvaler het sy gou geleer hoe om alles onder beheer (en kuis) te hou.

    Maar die see met ‘n wind daaroor (net soos die geval met ‘n ryp koringland in die Swartland) het ‘n bekoring sonder gelyke.

  7. Jy weet seker die Suidooster is ‘n mannetjies wind. Waai al wat rok is op en het geen maniere nie😀 Maar ai, ek ken na 8 jaar hier nie ‘n Suidooster so erg soos vanjaar nie. Kan nie eers so iets uit my studente jare op Skelmbosch in die laat 1950s onthou as so erg soos vanjaar nie.

    1. Met ander woorde – dis die Windgod en die Vuurgodin😉 Ek is ook nou al mooi gatvol vir die wind – en dit lyk my vandag is sy wind uit – hier’s net ‘n breeze

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s