Die Lewe · Sommer net

Feëtjievlerke vlieg veilig

Ag, hulle het nou ook nie heelpad net gevlieg nie, en ook nie op hul eie nie, maar dit klink net so lekker as opskrif😉

Saterdag, voor my ekspedisies met suster en kinders, moes ek eers vir my eie kind ‘n draai ry. As mens in die Camdeboo vlaktes van die Karoo bly, dan is daar nie sommer om die eerste blok ‘n “party shop” of so iets nie. Dan is die naaste dorp met ‘n Mall 170 kilometer ver, en dis ook nie eers ‘n baie groot Mall nie. En die naaste stad is 300 km ver. Dan raak sake ingewikkeld as iets buite ‘n Pep Stores of Tuinkafee of Padstal of Kooperasie of Standard Bank of Polisiestasie benodig word. Dan is dit wanneer daar ‘n SOS of rooksein of BBM na ‘n ma in die Kaap gestuur word. Gelukkig IS daar ‘n ma naby “party shops” en Vodashops.

Want anderdag middag laat is daar ‘n noodsein – “Ma, my foon maak so ‘n wit skerm! En wil nie werk as die charger nie heeltyd ingeplug bly nie. En die agterkant wil nie toemaak nie, lyk asof battery opgeswel is.”

Ek weet self nie wat dit kan wees nie, maar gelukkig het sy ‘n spaar foon. Al my ekstra fone kry mos op een of ander stadium ‘n geleentheid Karoo toe. “Gebruik die spaar foon, ek sal more kyk wat ek kan doen.” Ma’s kyk altyd wat hulle kan doen en as hulle nie kan nie of nie weet nie, dan doen hulle in elk geval. Hulle MOET, want God couldn’t be everywhere, so he created mothers😆

Ek slaap sleg daardie nag, droom van opgeswelde Blackberry batterye. Toe dit lig word gooi ek ‘n lyn na Google toe. Ek skrik my uit my pajamas toe ek woorde soos “explode in your face” en sulke nare dreigemente sien oor opgeswelde batterye. Terwyl die haan nog nie eers oor die werf in die Karoo kraai nie – o ja, daar is mos nie meer ‘n haan nie, hy het verstik aan ‘n stukkie brood, shame! – bel ek haar nommer en bid net die simkaart is al in die ander foon en ek laat nie nou die Blackberry ontplof nie. Antwoord sy nog deur die slaap, maar ek skree elke stukkie vaak weg; “Sê vir my jy het jou simkaart al in die spaar foon gesit!”

“Neeeeeee ma, nog nie, die foon werk nog as hy op charge is.”

“Haal uit, haal nou dadelik daai simkaart uit, die foon kan ontplof van daai opgeswelde battery! Sms my as jy die simkaart in die spaar foon het. NOU DADELIK!”

Sy het seker groter as ek geskrik, want skaars ‘n minuut later kom die sms. Middagete jaag ek winkel toe, Vodashop toe, vertel die oulike ou agter die toonbank en hy gee my ‘n generiese Blackberry battery, maar dit het darem ‘n jaar waarborg, en ook sommer ‘n nuwe charger, net ingeval die oue dalk ook kan ontplof. Ja, ja ek weet – overkill, maar beter bang as dood. Jaag poskantoor toe, battery en charger toe reeds in bubble koevert, vra die tannie agter die toonbank wat is die vinnigste pos, want dis chroniese medisyne. (Ek dog toe ook iemand sal dalk nog foon goeters steel, maar darem seker nie iemand se medisyne nie.) Sy beveel hulle spoedpos aan – dit vat toe REGTIG net ‘n dag en ‘n nag. Sy help my woerts-warts en daar gaan die Kaap se winkelgoed Karoo toe.

Megan sê; “Jinne ma, jy moet hoop daar is nie ‘n druggie iewers op die poskantoor se pad nie, dan steel hy dalk nog my ‘chroniese medisyne’!” Ag hel, ek kan ook nie voorsiening maak vir elke gebeurlikheid nie – dink net hoe de hel in gaan die druggie wees – hy sal maar aan die battery moet snuif of suig!

Maar hier wil ek net vir ‘n oomblik afwyk – mense kla so baie en vertel nie altyd van goeie dinge en goeie diens nie. Ek wil ons SA Poskantoor regtig vyf sterre gee – ek pos al vier jaar lank pakkies vir my meisiekind, en NIKS het nog verlore geraak of geskeur of gebreek anderkant uitgekom nie. Nou het ek hulle spoedpos ontdek – wat WERKLIK oornag pos is, kos omtrent so R60 vir ‘n redelike groot pakkie. Hulle belowe dat dit selfs na Kooitjieslaagte in die verre Wilde Weste niks langer as ‘n dag en ‘n nag en nog ‘n halwe dag sal vat nie, as mens dit vroeg die oggend al stuur. Ek glo hulle. Dalk was ek nog net gelukkig, maar dankie aan die Poskantoor! Ek sien hulle het deesdae ook nogal weer wit omies en tannies agter die toonbanke –net so tussen my en jou gesê.

Anyways, die ‘chroniese medisyne’ het toe my kind gered van ‘n plofbare situasie. Donderdag laasweek kom daar weer ‘n noodsein – “Ma, ek moet vo-o-o-olgende Saterdag vir J ‘n ooievaars partytjie gee en hier is nêrens feëtjievlerke nie. Ek wil haar opmaak soos ‘n ‘pregnant fairy’. Kan jy nie asseblief by daai ‘party shop’ in Bellville gaan kyk vir feëtjievlerke nie en dit vir my pos, ek sal betaal.” “Mmm, ek sal gaan kyk, ja.”

Nou wonder ek klaar, hoe pos mens feëtjievlerke. Saterdagoggend vroeg is ek by die partytjiewinkel. Ek koop feëtjievlerke. Maar eers moet ek foto’s neem en dit bbm, om seker te maak ek koop die regte ding.

Feetjievlerke

“Ma, neem bietjie vir my af wat is daar nog in die winkel wat mens kan gebruik vir so ‘n partytjie.” Ek loop deur die winkel en neem foto’s en praat met myself en bbm foto’s. Wat ‘n wonderlike ding is tegnologie nie – al lyk ek soos ‘n mal vrou wat met haar hand loop en praat. Ek eindig op met vlerke, servette, ballonne, lint en ‘n banier. Want NIKS van dit is in enige winkels in die verre Karoo nie😉 Daarvan word ek verseker.

Banner en lint

 

 

 

Servette

 

 

 

 

 

 

 

 

Balonne

 

 

 

 

 

 

 

Toe kom Maandag en ek moet uitfigure hoe kry ek die vlerke gepos. Daar is nie ‘n boks wat groot genoeg en plat genoeg is nie. Ek kry ‘n brainwave – vat die grootste bubble koevert in die winkel. Daai vlerke skuur-skuur so in daai koevert in, ek druk ‘n bietjie links en ek druk ‘n bietjie regs en ek wikkel voor en ek wikkel agter en ek squeeeeze (indruk klink nie dieselfde nie) daai vlerke in daai koevert in dat daar nie plek vir ‘n polonieskil is tussen die koevert se kante en die vlerke se kante nie. Baie versigtig kan ek darem die res bo op die vlerkies inskuif en daar gaan ek poskantoor toe. Dié keer kan ek wragtig nie lieg en sê dis medisyne nie, dis heeltemaal te groot en plat. So ek vertel die omie agter die toonbank dis feëtjievlerke. Ek gee hom al die krediet, hy het my nie eers effens skeef gekyk nie, hy het net so mooi en versigtig daai koevert in die poskantoor se rooi sak ingeskuif – weer eens pas dit net-net. Toe skryf hy ewe mooi bo-op “DO NOT BEND”. Ek vermoed hy het ook dogters en weet van feëtjievlerke.

Nou ja, eind goed als goed – die feëtjievlerkies was Maandagaand in PE en Dinsdag in die Karoo – veilig gevlieg en goed geland. Nou wonder ek wat is volgende😉  😆

15 thoughts on “Feëtjievlerke vlieg veilig

  1. Mens kry deesdae die oulikste goed vir partytjies. My dogter se man is verplaas na my dorp toe en hulle gaan vanaf middel-Maart ‘n rukkie by my kom bly tot hulle ‘n huurhuis kry! Ek sien uit om deel te wees van my kleindogtertjie se lewe. Sy het vandag haar eerste kaaskrul geeet.

  2. Hmmm.. feetjie vlerke maak mens mos sommer self? (bloemiste)draad – shape en knoop – sykous of tissue paper – gom, glitter… daai silwer sterretjies wat jou juffrou in Sub A in jou skrif geplak het… ek het nog iewers ‘n stunning stel vlerkies – ek dra dit soms… en my tiara ook – hy bly sommer in die lapa – as papa braai sit ek dit op en as daai tiara op my kop is, weet hy, dis ‘serve’ BB tyd😉

    1. LOL! Ons is nie almal so kunstig nie😉 Die party was toe ‘n reuse sukses en die pregnant fairy het die vlerke gehou. Gaan seker ook eendag weer aansit;-)

  3. Jis Son, dit lees lekker. Aanmekaar, soos ek lees, dink ek aan iets wat ek wil kommentaar lewer, dan kom daar net nog ‘n lekkerder ding. So, basta die kommentaar! Viva die Poskantoor. Op onse dorpie is daar ook nog 2 dames, jy, weet, baie vriendelik en behulpsaam….😉

  4. Maar jy beskryf mos nou my dogter hier? Is jy seker jy deal met megan en nie met Hannelie nie? Ek kan jou net verseker, al bly myne is Pta, hierdie kan netsowel hie ma gewees het wat kyk wat sy kan doen…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s