Gedagtes

Lank lank gelede…

was daar nie TV’s, selfone, ipad’s, android tablette, Facebook, Twitter, Instagram, Pinterest en en en, nie. Kinders het buite gespeel, aan-aan, wegkruipertjie, spin-the-bottle, i-spy-with-my-little-eye. En sulke speletjies. Daar was nie dvd-spelers in karre sodat kinders kon flieks kyk op die langpad nie. Mens moes maar karre-krieket speel, of windpompe tel, of agter in die kar bordspeletjies probeer speel en hoop die kar skud nie jou slangetjie van die leertjie af nie.

Weeksaande het ma en pa en kinders saam aan die etenstafel gesit. En gesels. Na ete is die skottelgoed nie in ‘n skottelgoedwasser gepak nie. Ma het gewas, een kind het afgedroog en ander kind het weggepak. En daar is soms baklei oor wie afdroog en wegpak. Soms is mens kamer toe gestuur oor die bakleiery en dan het jy daar verder gaan stry. Tot jy ‘n paar trekke oor jou boude gekry het, dan het jy maar gaan slaap. Ander kere het pa na ete die dag se koerant sit en lees, Ma het ‘n Sarie of iets gelees en kinders het op die mat gespeel, met poppe of karretjies. As hulle groter was, het hulle vir kêrels of meisies briefies geskryf om more in die klas in hul tas in te druk. Of ook gelees. Of plate geluister agter ‘n toe deur in hul kamer. Musiek geluister wat hul ouers laat gril het, maar wat vandag nog luisterbaar is.

Vrydag- of Saterdagaande, so een of twee keer ‘n maand, het die hele familie inry toe gegaan. As dit ‘n Afrikaanse fliek was wat gedraai het, het die karre al van laatmiddag af voor die inry in ‘n ry gaan wag om in te kom. Soms het ma kos ingepak, ander kere is daar kos gekoop by die inry se kafee. In die somer het kinders buite die kar op komberse sit en fliek kyk. Pouse het mense rondgeloop tussen die karre en oor en weer gegroet en gesels. Want die dorp was klein en almal het amper almal geken. Ander Saterdae is bure oorgenooi, of familie, en daar is gebraai. Kinders op plase het gaan speel tot ounag toe. Kinders in dorpe is na die naaste park en het daar gebly tot die ma hulle laat roep het om te kom eet. Ouers het gekuier en soms is daar plate opgesit en het ouers op die gras of in die binneplaas gedans.

Sondae is almal kerk toe, soms met ‘n swaar kop, maar gaan sou jy gaan. En na kerk is daar groot etes geëet en dan moes jy gaan rus, want more was Maandag. Baie kere het kinders pak gekry op die Heilige Sondag omdat hulle hul ouers se siele versondig het deur te raas toe hulle moes rus. Soms het kinders skelm uitgeglip, veral in die hittige agtermiddae, en skelm in die dam gaan swem. Die skelm het die swem dubbeld lekker gemaak. Sondagaand het ma vleistoebroodjies gemaak vir more se skool, van die middag se boudvleis. Maandag se skoolbroodjies was gewoonlik die beste van die week.

By die skool het niemand selfone gehad nie en pouses het kinders gesels, met mekaar. Of skelm gevry agter die rugbystadion. Vry was nog lekker soen en in mekaar se oë kyk.

Maar dis lankal nie meer lank, lank gelede nie. Die wêreld het klein geword. Mens ken mense wat jy nog nooit met ‘n oog gesien het nie. Jy praat elke dag met mense sonder om elke keer ‘n werklike woord te spreek. Ons het leer praat met ons vingers, al is ons nie doof nie. Ons leer die wêreld ken, nie deur daardeur te reis nie, maar deur voor ‘n vierkantige skerm of skermpie te sit en dit te ervaar, met ons oë, sonder om ‘n voet te versit. Inligting is nie meer beperk tot swaar, dik boeke in die dorp se biblioteek nie. Dis die druk van ‘n knoppie ver. Google het ons Bybel geword. As jy nie weet nie, Google sal weet.

Dis sekerlik vooruitgang. En ek dink nie dis verkeerd nie. My kinders noem my ‘n “technology junkie”, so ek is die laaste een wat kan huil oor verandering en vooruitgang. As daar ‘n nuwe selfoon of tablet op die mark is, of e-leser of wat ook al, staan ek voor in die ry daarvoor. Dis maar net soms, soos op ‘n Sondagmiddag, dat ek wens vir die ou dae. Net vir so klein rukkie. Toe alles nog eenvoudig was, toe mens nog REGTIG mense moes sien, in die vlees, om met hulle te gesels. Dan sou ek nie nou hier sit en tik het op my tablet nie😉

26 thoughts on “Lank lank gelede…

  1. Ag daai onthou is darem maar lekker. Ek dink ons kinders mis uit want ‘n skermpie kan nie vir jou ware ‘onthou oomblikke’ gee nie. Wat is lekkerder as om met iemand te praat (nie virtueel nie). Of om ‘n boek te lees wat al geel is van ouderdom. Ek is maar ‘n sucker vir nostalgie.

  2. sigh – those were the days. ek hoor wat jy se – ek is ook all for technology, maar daar is maar baie goed wat hartseer is wat nie meer daar is nie.

    wat vir my verstommend en frustrerend is, is dat kinders hulleself nie meer kan besig hou met enigiets anders as tegnologie nie. as ons hulle buite toe vat, dan weet hulle nie wat om te doen nie. 😦

      1. ha-ha ja. as ek net dink hoe het ons gespeel en ons verbeelding gebruik – die ouers het altyd gesukkel om die kinders in die huis te kry om te kom eet.

  3. Elke generasie definieer sy eie heimwee waarmee hy reistas volprop. Die inhoud word nie noodwendig deur voorafgaande of daaropvolgende generasies verstaan nie, en so ook verskil die barometer van sentiment-waardes van een generasie tot die volgende. Sommige waardes is soos katte – hulle maak met tussenposes van twee of drie generasies weer hul opwagting, en word baatsugtig deur die nuutste generasie as hul eie oorspronklike skepping aan die wêreld voorgehou. Genadiglik, gelukkig is dit wat jou Sonstrale my hierbo laat “sien” bekend genoeg dat ook my laaie vol heimwee daarmee oopgesluit word… Dankie ou Sonstraaltjie, jy is sommer baie oulik vandag!

  4. Ek geniet jou blog ongelooflik baie !
    Ek is baie keer asprìs hard op myself, om sommer erg te verdwaal in die lekkerte, en soms ook hartseer, van gister se onthou, en dit wat wàs ~ en ons mag mos maar, dit was sò ‘n groot deel van ons, ek wil dit nie vergeet nie, dit was lekker!
    Die lang toue by die Inry-teater om Gè Korsten se flieks te gaan kyk
    Die lekker luister na die Beatles en Elvis se plate, en my Pa wat die horries wou kry oor die ‘erge’ musiek wat sy huis ingebring word…
    Ja, dit wàs lekker en goeie tye
    Vandag is oòk goed en lekker…….🙂

  5. Ek moet sê one eet definitief nog elke weeksaand om die tafel, en meeste naweke ook. Jinne, mens moet plan maak tussen al hierdie televisies en goete om bietjie almal saam rustig te sit. Tegnologie is lekker…mens kan dit seker bittersoet noem. Maar soms, ja soms wens ek ook net dat as ek nie by die huis was en die landlyn geantwoord het nie….ek nie beskikbaar was nie.

  6. Ook maar ‘n tegnologie junkie, maar ek geniet darem die tye wat ons gesinnetjie (Wat nou al hoe kleiner word) onder die dak sit en sommer net kuier en gesels en soms nie eers gesels nie, maar net mekaar se teenwoordigheid indrink.

  7. van een techo junkie na ‘n ander….jy raak nou lekker liries🙂 maaaaaaaaaar, eerlik ek mis dit bietjie ook vir my kinders, die dam swem en rond loop op straat deel, en ja vir die langpad ry, en uitkyk by die venster….

  8. Ek hou hiervan.

    Na ma en pa se Sondagslapie het my pa ons in die kar gelaai en dan het ons ‘n paar myl buite die dorp langs die pad gaan stop en vir ‘n halfuur na die karre gekyk. Selfs dit was nooit vervelig nie

    1. 😆 My ouma en oupa het op Worcester gebly. As ek en my niggie by hulle gekuier het, dan het ons ook daai karre kyk ding gedoen – uitgery tot amper daar by De Doorns.

  9. Ek sal ook my agterent afsukkel as al my toys skielik moet weggevat word, of as ons daai sonstorm kry en alle elektroniese goed hou op werk, maar soms mis ek tog die ‘ou dae’. Ek dink lekkerjeuk vat dit mooi saam met dié woorde; “ons het baie gewen, maar ons het ook baie verloor”. Elke ou se skaal weeg natuurlik anders🙂

  10. Ek dink vir die eensames is tegnologiese kontak ‘n wonderwerk. Dis ten minste kontak met ‘n ander lewende wese. En soos ons weet het wildvreemdes soms meer empatie met ons en weet hulle meer van ons omstandighede as ons eie vlees en bloed.

    Maar dis soos jy skryf: niks vervang regte kuier met regte mense nie. Niks vervang ‘n drukkie nie. Ons het baie gewen (ek is ook voor in die koor met alles wat knoppies het), maar ons het ook baie verloor.

  11. Ek is nie eintlik ‘n sucker vir sentiment en nostalgie en die goeie ou dae nie. Gimme my toys… Al wat ek graag sou wou sien behoue bly, is goeie maniere en respek.

  12. Nou het jy darm die spyker mooi op die kop geslaan. Ek wonder hoeveel van vandag se kinder weet wat ‘n hamer is. Intussen werk ek ernstig aan ‘n ontwerp vir ‘n selfoon wat nooit sal werk nie.

  13. Ai Sonkind, hoe flippen vêr paaie loop my eie kop nou, veral omdat ons 1971 Matrieks besig is om reunie te reël. Al die onthou’s kruip uit die houtwerk uit — kosbare goed wat jy al vergeet het.
    Maar ek stem, ek sal nie my tegnologie prysgee nie —— al is ek tegnologies gestremd! Lekker lees, diè!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s