Gedagtes

Ek skryf vir jou ‘n brief vandag…

Ma, want ek kan jou nie meer bel op ‘n Sondag nie. Dis weer vandag die 13de. Dis nou vyf maande. Ons eerste verjaarsdae sonder jou is verby. Ons eerste Kersfees sonder jou is verby. Dit was nie so sleg soos wat ons gevrees het nie en dit was presies so sleg soos ons gevrees het. Ek het niks gedoen op my verjaarsdag nie en Kersdag het ek ignoreer. Daar was nie ‘n Kersboom hierdie jaar nie. Dit was makliker so. Dit was gouer verby so.

Maar nou is dit ‘n nuwe jaar, Ma, en ek weet jy sal wil hê dat ons nou treur en klaarkry. Want toe jy nog JY was, was jy die mees praktiese en positiewe mens wat ek ooit geken het. Niks het jou lank ondergekry nie. Jy was die verpersoonliking van Langenhoven se woorde: ‘jy moet jou swaarkry met lekkerkry klaarkry’. Ons het soms min gehad en ons het soms baie gehad. Ons het soms baklei en soms nie met mekaar gepraat nie. Maar dis vae herinneringe. Die onthou wat afge-ets in my brein is, is die onthou van hoe baie en hoe dikwels ons gelag het. DIT is wat ek van jou saam met my dra, Mammie. Jou lag en hoe jy vir ons gesing het. So baie lag en so baie musiek. Dit was my ma.

Daarom weet ek jy sal verstaan as ons volgende maand jou as gaan strooi en dit ‘n feestelike geleentheid maak. As ons volgende maand jou 73ste verjaarsdag gaan vier asof dit nie jou eerste een weg is van ons af nie. En as ons weer hierdie jaar ons verjaarsdae vier en as ons weer Kersfees ‘n boom het, al sal daar nie meer vir jou geskenke onder ons boom wees nie. Ons begin weer te lag sonder trane wanneer ons jou onthou, Ma. En ek weet jy sou dit so wou hê.

Ek het nog jou nommer op my foon, met ‘n foto van jou daar by, geneem in die Karoo, die laaste Kersfees saam. Ek sal dit nooit uitvee nie. Soms maak ek Ma se nommer oop en kyk daarna, al sal ek jou nooit weer kan bel nie. Ek kyk daarna en ek onthou dat dit beter is om ‘n ma soos jy te gehad het en te moes teruggee vir die hemel, as om nooit ‘n ma soos jy te kon hê en ken nie.

Rus sag, Mamsie.

20 thoughts on “Ek skryf vir jou ‘n brief vandag…

  1. More die 14de Februarie die dag van liefde is my liefste moeder al 10jr weg na haar Hemelse Huis, en nog steeds voel dit soos gister wat sy sooo bitter graag wou huis toe gaan om VAlentynsdag saam met haar geliefdes te kan vier….. maar die kanker was net te vinnig vir ons, die tyd om te groet net te min, mis haar nog steeds elke dag…… en toe die skok 8jr later word my pa gediagnoseer met kanker en die 5 maande was maar ‘n skamele 5 wekies gewees, 5 wekies wat so vinnig verby gegaan het, sal wat wou gee om nog net een keer met hulle te kon praat.

  2. So hartseer mooi geskryf. Die seer word nooit beter nie ons leer net daarmee saamleef. Ek hou van jou ‘die lewe gaan aan’ houding. (Ek het ook nog nommers op my foon).

  3. Goed geskryf Son. So uit die hart uit.
    Ons hou begrafnis die week, vir `n sterfte wat `n genade was. Altzheimer se einde bid mens soms nader. Maar 94 Somers van saamloop gaan die mense langer onhou as die lang, verontmenslikende einde.einde.
    Doen julle fees, dis die regte ding om te doen. Sterkte.

    1. Dankie Louwie. My ma het Alzheimers gehad. Dit het my ma gesteel, dié ma wat ons geken het. En die hartseerste was haar helder tye wat sy gesê het sy wil nie so lewe nie. Ek gun dit vir niemand nie.

  4. sterkte. Snaaks hoe ‘n mens in elke gebeurtenis, ‘n mens se ma in die gedagte roep. Sy sou dit of dat gese het, sy sou so daaroor gevoel het, en dikwels wil ‘n mens vir haar iets vra of vertel. Ek stem: dis goed op Fees te ver en die mooi herinneringe te koester.

    1. Die eerste ruk was dit vir my die ergste as ek die telefoon vat om haar te bel en dan te besef ek kan nie meer nie. Dis darem nou al beter. Maar ek sit soms kank na daai nommer en kyk en wens ek get meer gebel.

  5. Ag. sommer S&T hier voor die PC, want dis so vreeslik mooi geskryf, uit die hart van iemand wat ‘n geliefde verloor het. Ek’s mal oor die idee van die feesviering op haar verjaarsdag —- dink sy sou daaroor geglimlag het. Sterkte en mag dit JOU jaar wees, die!

    1. Dis juis wat ek doen. Ek en my sus voel dit gaan ‘n mooi jaar wees, al mis ons haar en sal ons haar altyd mis. Dis asof daar ‘n groter aanvaarding gekom het saam met die nuwe jaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s