Gedagtes

Vergif… nis… tig

Vergifnis. Vergiftig. Drie letters verskil, nee, eintlik net twee. Maar tussen die -nis en die -tig lê ‘n verskil so groot soos die heelal.

Elke dag doen mense mekaar skade aan. Ja, elke dag doen mense ook goeie dinge, werklik meer as dié wat skade doen, maar goeie dade verkoop nie koerante nie, is nie sensasioneel nie, laat ons nie beter voel oor ons eie lewentjies nie, want kyk dan hoe krom en skeef is dié of daai se lewe.

Ek dink nie een persoon wat hier lees, is nie al seergemaak deur iemand nie of het nie al iemand seer gemaak nie. Dalk nie fisies nie, maar beslis emosioneel. Dalk lees hier iemand wie se naaste vermoor of verkrag is. Dalk lees hier iemand wie se geliefde ontrou was, of wie self ontrou was. Dalk lees hier iemand wie elke dag fisies mishandel word. Dalk lees hier iemand wie as kind gemolesteer is of wie se kind gemolesteer is. Dalk lees hier iemand wie se goed gesteel is, of gebreek is, of verniel is. Dalk lees hier iemand wie se siel verniel is.

Elkeen van ons kry een of ander tyd in die lewe seer. Wat ons met daai seer maak en hoe dit ons as mens agterlaat… DIT is wat die verskil maak. Want ons kan vergewe. Of ons kan vergiftig. Iewers het iemand eendag gesê die ergste ding wat jy aan jou vyand kan doen, is om hom te vergewe. En vir die wat nou reeds regop staan om te protesteer, met vergewe bedoel ek nie die ander persoon se onreg teenoor jou word onder die mat ingevee nie. Of jy moet aanhou om daardie persoon in jou lewe te hou en weer en weer vergewe nie, of jou vergifnis maak die onreg teenoor jou klein nie. Of jou vergifnis is ‘n stille goedkeuring van die persoon se daad nie. Nee, nooit nie.

Mens vergewe nie vir die oortreder se onthalwe nie. Jy vergewe vir jouself. Vir jou eie menswees, vir jou eie lewe, vir jou eie siel. Want glo my maar, vergewe jy nie, SAL jy jou eie siel vergiftig. Want hatigheid en wraakgevoelens vreet jou van binne op. Jou beeld na buite kan hoe mooi ookal lyk, maar binnekant sal die kwaad ‘n sweer maak, wat jou siel stukkie vir stukkie sal laat vrot. Die genesing van daai vergiftiging lê in die -nis van vergifnis. Dis so eenvoudig.

Maak jou los van die ander persoon se verkeerde dade. Staan opsy en weet dat die LEWE inderdaad ‘n wiel het wat draai en dat jy dit nie vir die Lewe hoef te draai nie. Die spoed is nie altyd na jou sin nie en die tyd is nie altyd jou tyd nie, maar die Lewe het sy eie kalender en horlosie. Stap weg van die kwaad wat aan jou gedoen is, weet dat die oortreder nie JOU as mens se kwaliteit bepaal nie. Glo dat jy die reg het op die beste in die lewe, maar alleenlik daardie beste sal kan toe-eien as jy vrede in jou hart het. En as dit ‘n misdaad is wat teenoor jou gepleeg is, en die misdadiger is gestraf of  nie gestraf nie, moenie dat dit die fokuspunt van die res van jou lewe word nie. Want dan word jy oor en oor elke dag weereens die slagoffer van dieselfde misdaad.

Daar word gesê haat en liefde is die sterkste emosies. Ek dink vrede in jou siel is sterker. Met vrede in jou siel, sal haat verdwyn en liefde bly.

20 thoughts on “Vergif… nis… tig

  1. so waar wat jy se en ook wat die ander hier se. vrek vrek moeilik, maar bevrydend. ‘hulle’ se ook mos dat onvergifnis soos gif is wat jy drink en dan hoop jy die ander persoon gaan dood.

    en ek dink ook dis normaal dat wanneer jy daai besluit geneem het om te laat gaan, dat dit wel sal opkruip later en dan dink jy – oh my hat, het ek regtig vergewe? en ja – daai wieletjie draai, inderdaad – soms vrek stadig, maar dit doen.

    ek dink ook hierdie vergifnis is ‘n ongoing proses …

  2. Ek het eenmaal die interessante opmerking gehoor dat die teenoorgestelde van liefde nie haat is nie, maar vrees. In my geval is dit nogal waar.
    Dit het vir my aansienlik makliker geword om ander mense te vergewe nadat ek met my eie “donker kant” gekonfronteer is en besef het dat “we attack in others what we hate in ourselves”.
    Pynlike, onaangename besef, maar dit was die moeite werd.

    1. Ek byt nog nie lekker aan daardie ding nie, want daar is darem mense wat ek nie van hou nie (en ek bedoel nou beslis nie haat nie) wat so waar as wragtig NIKS van my eie karaktertrekke het nie.

      1. Ja, Son, vir my is “nie hou van nie” OK – daar is genoeg mense wie se geselskap ek probeer vermy indien moontlik, omdat ek min of niks met hulle in gemeen het nie. Ek dink dis human en normaal.
        Maar as die “nie hou van nie” oorgaan in ‘n aktiewe (gewoonlik obsessiewe) aanval – hetsy deur woorde of gedagtes – dan kan mens maar weet een of ander kompleks in jouself is geaktiveer – iets soos die splinter in ander se oe wat ‘n mens met oorgawe raaksien maar die balk in jou eie wat jy ignoreer. Dit is my ervaring en ek was self skuldig daaraan.
        Dis ‘n goeie inskrywing hierdie.

  3. Goeie post, so op die Sondag en die begin van ‘n nuwe week. Ek dink daardie vergewe en laat gaan is seker een van die moeilikste dinge in die lewe om te doen. Ek self, sukkel met daardie sogenaamde victim-attitude. Het onlangs besef die enigste een wat daaronder ly is ekself! Het nou begin met proses van vrede maak met my ma en die naastes wat sulke diep letsels gelaat het. Grap is, een persoon weet nie eens daarvan nie —— ok mar leka stoepit van my, nê?

    1. Ek dink kwaad wees en haat is die mees uitputtende oefening waarmee mens jouself kan besig hou😉 Daar is soveel meer konstruktiewe goed om te doen.

  4. Iemand het ook een keer vir my gesê, as jy die een wat jou die onreg aangedoen het nie, vergewe nie, maak jy daardie mens met ‘n galgtou aan jou nek was en sleep hom saam met jou as dooie gewig, elke dag. Dis die waarheid.

    En ek dink al is dit ‘n wilsbesluit, is dit steeds ‘n proses wat lank kan duur, en is dit som ‘n elsuit wat oor en oor geneem moet word.

    Mooi skrywe, Sonnetjie!

  5. Soos jy sê Son, mens vergewe maar jy laat jou nooit weer oop vir daardie seer nie, want daai ou gaan dit weer en weer doen as jy hom toelaat. Eie, dure ondervinding. Die letsels bly.
    Het besluit om die jaar die medikasie te staak en weer meditasie te begin. Dit laaf die siel, genees die wonde en bring weer deernis vir jou naaste in jou lewe.

    1. Louwie, vreemd genoeg lees ek vanoggend die aanhaling: “Cutting you out of my life doen’t mean I hate you, it just means I respect me”. Ek dink dit sit dit mooi in perspektief.

    1. Dis moeilik. Dis vrek moeilik. Maar dis ook bevrydend. Jy neem ‘n wilsbesluit. Ek vergewe die kwaad wat aan my gedoen is deur te glo dat die oordeel werklik nie myne is om uit te deel nie. Dis AL manier wat ek dit kon regkry. En om my lewe op positiewe dinge te fokus.

  6. Ek het lank gesukkel met daai – soms dink ek ek doen steeds – dit vat vrek baie wilskrag om te vergewe… amper soos dieet – net moeiliker. Maar dis oor en oor die vrede werd. Want ‘vergiftig’ doen ek wragtig nie uit eie vrye wil nie. En die wiel… aaahhh – ek het persoonlik al met daai een te doen gekry – kan nie se dat ek uiteindelik die genoegdoening daaruit gekry het, wat ek gedink het ek sou nie, maar ten minste het ek die oortuiging gekry: jip, hy draai wel!

    1. Dis die vreemde ding, BB. Die dag as jy sien hoe die wiel gedraai het, dan staan jy eintlik verbaas omdat jy nie regtig enige vreugde daaruit put nie. Meer ‘n jammer kry vir iets wat kon gebly het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s