Gedagtes

Familie-legkaart

Deesdae lees amper my hele familie mos hier, so ek kan nie meer behoorlik skinder nie. Ook mos vandat mens alles “connect” met Facebook. Al wat leef en beef en roer kan lees wat orals geskryf staan. Gekke en dwase skryf nie meer op deure en glase nie. Hulle het Facebook, en Twitter, en blogs. Nou nie dat almal wat daar uithang gekke of dwase is nie, maar ek is seker die “fair share” is daar.

Maar dis nie waaroor ek wil skryf nie. Ek wil oor my familie skryf.

Wat is ‘n blye dag? Die dag as mens besef jy HOU actually van jou eie familie. Want vriende kan mens kies, maar familie word aan jou uitgereik. Soos army klere. Jy moet vat wat (wie) jy kry en die beste daarvan (probeer) maak. En party pas net nooit nie. Óf dit druk jou dat die rooi nate op jou vel wys óf jy loop so losgat binne-in dit rond en moet net keer of iets val af of steek uit.

Sommiges skaaf jou bloedblase, aan ander loop en pluk-pluk jy heeltyd om dit net naastenby te probeer pas maak. Jy kan niks doen nie. Jy moet óf daar ingroei óf ‘n stuk van jouself verloor om daarin te pas. Vangplek is – army klere kan jy dalk nog uitruil met ‘n ander troep, familie sit aan jou soos duwweltjies aan ‘n wolsokkie. En hulle krap en irriteer jou – dis nou as julle nie lekker op dieselfde bladsy van dieselfde boek is nie.

Ek vermoed daar is min families wat heeltemal soos legkaartstukkies pas om een mooi prentjie te vorm. Iewers sal daar ‘n ander legkaart se stukkie blou lug wees (die aangetroude een wat nie pas nie), of een grasperk stukkie te min (die nefie in die tronk). Sodat die prentjie net nooit heeltemal voltooid lyk nie.

Maar families is ook snaaks wat dit betref – hulle kan so skeef en onvanpas wees soos ‘n onpaar koppie en piering, maar vir die buitewêreld sal hulle altyd die legkaart prentjie op die boks wys. Die een wat pragtig voltooid is, sonder “missing pieces” of aangeplakte stukkies van ander ou legkaarte. Want intern kan hulle mekaar se koppe oop bliksem, maar ekstern staan hulle saam. En dis goed en dis reg. Dis FAMILIE. Regte, egte familie is altyd DAAR vir mekaar – of hulle nou van mekaar hou of nie.

Maar as mens die dag besef jy hou regtig vanself, en nie net vir die buitewêreld se oë nie, van jou familie, jou susters en jou broer, jou nefies en jou niggies, en meeste van dié met wie jy gereeld kontak het, dan kom fladder daar so ‘n ligte skoenlapper in jou binneste – van lekker voel.

Ek het een hele suster😉 een halfbroer en twee halfsussies. Ja, my pa was besig. (Ons het dieselfde pa, verskillende ma’s). Die hele een het ek saam mee grootgeword, haar ‘n keer of wat gewurg, ‘n keer of wat geskop, ‘n keer of wat gehaat, en so aan en so aan. Maar moenie vir haar jammer voel nie – she can give as good as she gets. En beter! Maar sy is my suster, ek ken haar, ek lief haar. Dis dit. En ek hou van haar. As sy nie my suster was nie, sou ek ook van haar gehou het. Punt.

Die ouderdomsverskil tussen my (ek het die twyfelagtige voorreg van oudste wees – gee krag vir my kruis!) en my halwe “siblings” is nogal groot, nogal baie groot. So hulle was kind terwyl ek getrou, geskei, gewerk, gelief, geleed het. En toe skielik is hulle ook groot en ons voel-voel mekaar so. Daar is nie die band wat daar is as mens in een huis saam grootword nie. Maar ek begin hulle so bietjie-vir-bietjie leer ken. En ek begin uitvind ek hou nogal van hierdie halwe “siblings” van my. Ek begin vergeet van die half en ek begin net dink broer en susters.

Die afgelope vakansie het ek weer besef – hulle is nie net my broer en susters nie – hulle is ook my vriende. En dis waar die verskil lê. Party mense wil nie regtig dood gesien word saam met hulle familie nie, wat nog te sê hulle as hul vriendekring beskou. Ek LIKE myne. En ek hou ook van die lewensmaats wat hulle gekies het en DIT is ‘n groot bonus.

Want aange’naaldwerk’de familie is 9 uit die 10 keer sleg omgesoom. Myne is mooi netjies aangestik, lyk amper asof hulle nog altyd deel was van die prentjie. Voel ook so. My puzzle is mooi – buite op die boks en ook binnekant die boks🙂

14 thoughts on “Familie-legkaart

  1. Dit is great om jou familie so te vind, al is dit jare na die gevegte en teleurstellinge. Maar die krom en skeef maar die legkaart ook perfek. Vir die gate in die boks is daar altyd Leonard Cohen se lyn, “There is a crack in everything; that is where the light comes in”

  2. En jouse suster lief jou ook……en ‘like’ jou ook…..dis daardie kyk vir mekaar en ALLES verstaan sonder dat ‘n woord geuiter is…….geld koop dit nie!

  3. Ek het drie hele seuns. Hulle het drie plus twee half-broers en stiefbroers en so aan. Vir my seuns is ek ontsettend lief is en gelukkig weet hulle dit. En ja, soos jou pa was ek besig. Vyf vanne in ‘n gesin van vyf. Maar weet jy – dis als ok. Die lewe is sterker as die dood (Elizabeth Eybers).

    1. Dis nie ‘n plus of ‘n minus nie. Dis wat jy daarvan maak🙂 Solo vlieg is ook soms die regte ding – daar was jare in MY lewe wat ek ook solo gevlieg het – toe was dit reg. Nou het ek “huis toe ” gekom.

  4. Baie besonderse boodskap hierin gewees vir my, op hierdie moment. Dankie! Mos gesê ons twee gaan mekaar se yin/yang wees hierdie jaar. Ek vermoed dit gaan meesr wees… ♥

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s