Die Lewe · Gedagtes

Onbekend is onbemind

Twee weke gelede vlieg ek Johannesburg toe vir ‘n kursus. Ek wou al daaroor geskryf het, maar terwyl mens planne maak, gebeur die lewe. Dié tyd van die jaar onthou almal dat dit of dat nog moet klaar kom voor die ‘feestyd’ en humeure is kort en draadjies brand gou uit.

Almal wat iets van my weet, weet al dat ek myself uit my klere uit stres as ek Gauteng toe moet gaan. Dis ‘n persoonlike ding. Ek het immers lank gelede twaalf jaar daar gebly. Maar snaaks wat assosiasie aan mens doen. Dit was nie twaalf goeie jare nie, dis lankal verby en ek het lankal vrede daaroor. Dis net, daar is ‘n reuk aan Johannesburg. En daai reuk slaan my elke keer op daai onthou-kol op my maag. Dan moet ek letterlik gaan stil staan, diep asemhaal en vir myself sê dis okay, in my sak is my kaartjie terug Kaap toe, niks gaan my vir altyd hier hou nie, ek kom net gou bietjie kuier, ek gaan weer huis toe, Kaap toe.

Vir ander mense klink dit seker net plein mal, vir my is dit hoe dit werk. Ek doen wat ek moet doen daar, ek kuier saam met ongelooflike lekker mense terwyl ek daar is, want ironies genoeg het ek vriende daar oor wie ek baie erg is en wat ek heeltemal te min sien. Ek geniet dit meer as wat ek gedink het ek sal, maar elke aand wanneer ek gaan slaap, dan troos ek myself more oggend is dit een dag nader aan huis toe. Dis hoe ek rol as ek in die Noorde is. Dit werk vir my.

Dié keer was dieselfde, maar die keer was ook bietjie anders. Die eerste aand het Die Merrie my genooi en ek het vir Samantha en Nick ontmoet. Daar is nie woorde om te sê hoe lekker dit is om mense te leer ken wat net met jou kliek nie. My tyd was te min, want ek sou baie graag langer met hulle wou kuier.

Die laaste aand het my vriende, Nicoline en Oscar, al die pad van Mpumalanga gery om saam met my te kom kuier. Dit was die kersie op my tyd daar bo. Want ek en Nicoline het mekaar leer ken op die eerste dag van Sub A (Graad 1) en deur die jare het ons vriendskap bly staan. In die hoërskool het ons eens op ‘n tyd twee broers ge’date’ – gelukkig het ons nooit in mekaar se kêrels belanggestel nie😉 Met tye het ons mekaar vir ‘n jaar of wat nie gesien nie en op ‘n stadium het ons mekaar vir 10 jaar lank ‘verloor’ – ironies genoeg in dieselfde 12 jaar wat ek daar bo gebly het en sy ook. Maar ons het mekaar nie vergeet nie en elke keer het een van ons die ander een weer opgespoor. Met die sosiale media van vandag sal ons mekaar nie weer verloor nie😆

Daardie tye, saam met daardie mense, maak ‘n warm kombersie om my hart. Dit maak dat ek op die vliegtuig klim, terug huis toe, met gemengde gevoelens, want ek wil nie daar bly nie, maar ek wens ek kon nader wees.

Maar dis nie al waaroor ek hier wil skryf nie. Ek wil eintlik vertel van die mense saam met my op die kursus. Die eerste dag toe ek by die deur van die lokaal inloop, voel ek heel uit my plek uit. Want ek is mos toe die enigste “whitey” daar. Daar word gesê as mens moet sê jy is nie ‘n rassis nie, dan is jy eintlik juis ‘n rassis, maar regtig – ek is nie ‘n rassis nie. Ek is moontlik ‘n klassis, maar  ek voel ‘n veer wat die kleur van iemand se vel is. Dit maak dit egter nie minder ongemaklik as mens een wit velletjie tussen agt baie donker velle is nie. En om alles te kroon kom jy uit die DA beheerde Kaap, en hulle werk almal in ANC beheerde munisipaliteite, in Limpopo provinsie! Wel twee dames was darem van ‘n regeringsdepartment in Pretoria. But never the less.

So ja, die atmosfeer teenoor my was maar stywerig. Die kursusleier was ‘n ietwat ligter skakering, maar sy was ook van daar bo, so ek het uitgestaan soos ‘n seer duim. Soos die eerste dag geloop het, het ek ‘n goeie begrip van die kursuswerk gekry en ek het maklik en gou geantwoord as daar iets gevra word, maar toe kom ek agter die ander bly meeste van die tyd stil en net ek antwoord. Dis dan wanneer mens uit jou vaarwater uit voel, want ek het nie geweet wat die ander dink nie. Ek het begin dink hulle dink dalk ek hou my slim, want ek is wit. Dis moontlik glad nie wat hulle gedink het nie, maar vir die eerste keer het ek duidelik ervaar presies hoe delikaat is die situasie in hierdie land van ons.

Toe begin ek stil bly en gee die ander kans. En die kursusleier het genoeg insig gehad om te sien wat aangaan en sy begin fokus op die ander kursusgangers en stadig maar seker begin hulle uit hul dop kruip. Etenstyd van die eerste dag het ek steeds maar eenkant geëet. Hulle het aan dieselfde tafel gesit ja, maar bymekaar en het met mekaar gepraat, in hul eie taal. Ek en die kursusleier het maar hier en daar ‘n woord gewissel. Die middag is ek terug na my blyplek met ‘n swaar gemoed vir die volgende twee dae wat voorlê. Ek wou net myself wees, maar ek was te bang ek affronteer iemand.

Maar daardie volgende oggend het die draaipunt gekom. Ek was vroeg daar en die een swart man was ook eerste daar. Toe begin ek met hom gesels, vra hom uit oor sy werk en sy lewe. Eers het hy net so effentjies gepraat, maar toe begin hy teruggesels. En ek vertel hom wat ek doen en hy vertel my later van sy kinders, want sy seuntjie het hom gebel terwyl ons daar staan. Hy vertel my sy seuntjie sal nie skool toe gaan voor hy nie met hom gepraat het in die oggend nie, want as hy daar is, vat hy sy seuntjie skool toe.

Terwyl ons so gesels, kom nog een van die mans daar aangestap en ek dog toe hulle sal nou weer oorslaan na hulle eie taal toe, maar die eerste man hou aan met my gesels en toe val die tweede een ook in. Hy vertel my toe dat hy net twee dogters het. Ek sê so hy kan eendag lekker labola vra. Hy kyk my eers aan asof ek nie lekker in my kop is nie. Toe vra hy my of ek dan dink dis reg om labola te vra. Ek antwoord dat ek nie sommer net dink dis verkeerd en ‘n verkoop van sy dogter nie, dat ek meer dink dis ‘n manier waarop die aanstaande man moet wys hy kan werklik vir die dogter sorg en dat ek hulle tradisie respekteer. Ons het nog ‘n rukkie gesels en hulle het my sowaar uitgevra oor my kinders, en ek kon sien hulle luister toe ek vertel.

Van daar af het dit makliker geword. In die lokaal moes ons in groepies van twee opbreek en ek en die man wat eerste die oggend daar was, sit toe saam. Etenstyd was ‘n heel ander storie as die vorige dag. Daar is gesels, in Engels, en selfs ‘n grappie of twee vertel. In die kursus self, het ons nou gemaklik heen en weer idees gegooi en geredeneer. Soms moes ek my ongeduld in toom hou, wanneer ek kon aanvoel wat iemand wil sê, maar dat die persoon sukkel om dit in Engels uit te druk. Maar my geheelbeeld was, ongeag die feit dat Limpopo van die munisipaliteite het wat die swakste presteer, dat hier mense saam met my was wat duidelik goed opgevoed, geleerd en intelligent is.

Ek weet nie waar die fout lê nie, en ek wil nie daaroor spekuleer nie, maar ek het respek ontwikkel oor die drie dae vir elkeen van daardie mense. Dit was duidelik dat elkeen sy werk goed ken en presies weet wat hy doen. Hulle het ‘n ander manier van dinge doen, maar nie een was ‘n onnosel aap nie. En die derde en laaste dag was nogal emosioneel. Want toe ons elkeen iets moet sê voor ons groet, toe sê die een man dat hy net vir my wil sê dat ek sy opinie oor die stereotipe, Afrikaanse wit mens uit die Kaap heeltemal afgebreek het.

My antwoord was dat ek dieselfde vir hom kon sê, dat hulle my beeld van die steriotipe swart mens van Limpopo mooi netjies op sy kop omgekeer het. Die groetslag om totsiens te sê was so ver verwyderd as die groetslag daardie eerste dag.

Dis toe ek daar wegry, lughawe toe, en die vaalgrys Johannesburg se lug my weereens melankolies maak, dat ek in my hart huil oor die mense van Suid-Afrika. Wat mekaar nie ken nie. Wat mekaar oordeel sonder om mekaar te ken. En ek wens ek kon dit alles regmaak, maar ek weet dis ‘n onbegonne taak. Maar dalk, net dalk, kan een mens stukkie vir stukkie ‘n verskil maak. Hopelik kan ons elkeen probeer om daardie een mens te wees.

Want, ongeag wat rondom ons aangaan, ongeag die kleur van ons vel, probeer die meeste van ons gewone mense net koers hou terwyl soveel dinge rondom ons ineenstort.

24 thoughts on “Onbekend is onbemind

  1. Nou dat ons almal so mooi hande geklap het is daar tog iets wat my pla. Jy sê: “Dit was duidelik dat elkeen sy werk goed ken en presies weet wat hy doen. Hulle het ‘n ander manier van dinge doen, maar nie een was ‘n onnosel aap nie.”
    Ek weet nie of jy al ooit in die Limpopo, Noord Wes of Mpumalanga provinsies was nie, maar my belewenis van onlangs is dat die dorpe daar in `n totale staat van verval verkeer. Gegee jou aanhaling bo, waar lê die fout dan?
    Jammer vir die vals noot, maar mens wonder tog. Iets is iewers verskriklik verkeerd.

    1. Louwie, ek hoor wat jy sê. Ek was in al drie die provinsies waarvan jy praat, al is dit reeds ‘n paar jaar gelede. Ek het selfs in die dezxstydse Lebowa Kgomo gaan opleiding gee vir mense. Vir twee weke lank, ek weet hoe dit daar gaan. Ek kan vir jou vele staaltjies van daardie plekke en tyd vertel. Ek het ook geen illusies nie, ek glo dit gaan nou selfs slegter as toe.

      Maar, daar is iets wat ons nooit uit die oog uit mag verloor nie. As ons almal net heeltyd moedeloos is en vra: Wat help dit tog? gaan hierdie mooi land van ons heeltemal ten gronde.

      Ek dink ons moet dalk meer konsentreer op die boodskap van hierdie pos. Kom, elkeen van ons probeer net om ons eie nietige, klein deeltjie by te dra. Iewers moet die rimpeling op die water iets tref. Ons moet almal aanpassings maak.

      1. Lidia, daar is `n angel in positiewe denke ook. As ons nie vra nie, gaan die mense net aanhou doen wat hulle doen omdat die Volk so tevrede is. Ons mag nooit tot stilte geïntimideer word nie.

    2. Louwie, as jy maar net kan weet hoeveel keer ek myself daardie vraag gevra het. Ek HET dit gewaag om dit aan te raak by my mede-kursusgangers en daar is baie dieper gesprekke gevoer oor die paar dae as net waaroor ek hier geskryf het. Ek wil myself nie hier te veel uitlaat daaroor nie, maar nie een van daardie mense is in bestuursposisies nie, hulle doen ook net hul werk so goed as hul kan met dit wat vir hulke gegee word. En wees verseker, hulle is ook nie blind vir wat om hulle aangaan nie. Ek het goeie hoop dat dit nie nog jare gaan wees voor die ‘gewone’ mense gan ontslae raak van ons ‘keiser sonder klere’ nie.

  2. Son, ek kan heeltemal identifiseer met jou gevoel oor JHB. My keel trek toe as ek net DINK aan die plek, en ek weet nie hoekom nie. Ek het grootgeword in Irene (tussen PTA en JHB) maar was in dekades nie weer terug nie. (Ek behoort van beter te weet, dink ek verward by myself, maar ek doen nie, ek doen nie, dink ek dan ewe verward.)
    En. volgens my, is jy HEELTEMAL reg: die daaglikse one-on-one situasies laat ‘n mens wonder WAAROM dinge in hierdie land nie beter uitwerk nie. Want individueel het mense sooooo min probleme met mekaar (is daai nou goeie Afrikaans?)
    Ag wat. *Sug* (Skink nog ‘n dop.)
    Hierdie wye en droewe en beautiful ou land.

  3. Goeie stuk werk en baie stof tot nadenke. Ja, die mensdom en hulle vooroordeel sal seker altyd met ons wees, maar as almal net ‘n poging wil aanwend om verby die grense te kyk, en te besef alhoewel ons in verskillende skakerings leef, behoort ons almal tog net tot dieselfde prentjie, en dis wat die prentjie ‘n totale skildery maak. Ek is ook maar ‘n Kapenaar in murg en been, en enige plek buite die grense daarvan, gee my so ‘n kolletjie op die maag…

  4. Baie goed geskryf Son. Ja ons kan saamwerk want ons is nie almal “so” nie. Soos Amos kom ek ook beter in `n een-een situasie met mense (van alle kleure) oor die weg.
    Maar jy het goed gedoen want jy is, dink ek, `n mense mens en daardie ouens gaan jou en wie jy is lank onthou.
    Ek hoop hulle gaan ook soos jy, hulle positiewe ervaring van `n “whitey” met hulle mense deel.

  5. Dis baie waar, Son. Ek kan in elk geval ook beter met mense op n een-tot-een basis kommunikeer. Ons is almal maar dieselfde – ons kinders en ons mense is vir almal ewe belangrik, Maak nie saak wat die velkleur is nie. Ek skep nou ook sommer moed oor jou positiewe waarnemings.

  6. Phaw, raak ek sommer nou emosioneel. Dankie dat jy dit gedeel het. Dis so jammer dat mense sulke vooroordele het, net omdat mens mekaar nie verstaan nie. Dit maak die lewe so kompleks en soms onregverdig. Hopelik is daar reg oor die land nog meer en meer sulke positiewe ervarings🙂

  7. My 2 sent se gedagte: as ons een-een met mekaar moet klaarkom, is dit soms so eenvoudig en maklik. Ek kan nie onthou dat ek ooit met ‘n mens (enige kleur/geslag ens) ‘n probleem opgetel het, as ons saam-saam iets moet doen nie. Maaaaaar: daar is iets omtrent die groepsdinamiek wat haper, en veral as daar politieke verskille is. Dan word dit ‘n ons-vs-julle mentaliteit. Dan kyk ons terug in die geskiedenis in met verskillende emosies. Dis amper as of mense dan sukkel om vorentoe te kyk, oplossings te soek en saam-saam probleme op te los. Die antwoord? Nes jy sê: individue wat stukkie vir stukkie ‘n verskil maak. Dankie vir hierdie skryfstuk – ek hoop dit word wyd belees en dat dit mense aan die dink sal sit. Veral hier oor Kersfees.

  8. Ek wonder soms of ‘n mens se spirituele woonplek nie iewers in jou DNA vasgelê is nie, want nes jy nou jou gevoel oor Jaansberg beskryf, net so voel ek oor die Kaap. Ek kuier ongelooflik lekker daar, maar dit is nie huis nie, ook nie juis Pretoorsdorp nie. Maar dit, soos jy sê, is sommer terloops.

    Meeste Suid Afrikaners vermoed ek voel presies dieselfde soos jy hier beskryf, maar synde dat die mense wat veronderstel is om ons aan mekaar voor te stel en bruê te help bou te besig is met rugstekery en selfverryking, sal elke ou maar die beste moet doen wat hy/sy kan.

    1. Ek voel ook ongeveer soos Plasie – my besoeke aan die mooie Kaapstad was altyd op my eie, en my assosiasie met die Kaap is van eensaamheid en onwelkom voel.
      En dis asof baie wit Kapenaars hul welvaart en donker sonbrille soos ‘n skild dra – waarmee hulle enige menslike kontak met ‘n vreemdeling (en ‘n nie-wit persoon, neem ek aan) kan afweer.

      Nietemin, dit het my baie goed gedoen om hierdie te lees!

      1. Alleman, vreemd dat jy dit so stel. Want dit was amper die presiese woorde wat die kursusleier vir my gesê het. Daar was dieper gesprekke as net dit wat ek hier bo geskryf het en ek het die boodskap gekry dat ons as Kapenaars onsself ietwat verhewe sien bo die res van die land. En ek kan nie met bloedeerlikheid sê dat daar geen waarheid daarin steek nie. Ons is SO bly amper alles werk nog in ons provinsie, ons is SO bly hier is minder korrupsie. Ons is SO bly ons bly hier en nie daar bo nie. En en en… En daardeur straal ons ‘n beeld van snobisme / verhewendheid / los-my-uit na buite toe. Maar dis nie regtig so nie. Party wel, maar nie almal van ons nie. Dis net, ons baklei so hard om nie die verval van die res van ons land hier ook te laat insypel nie, ons vergeet bietjie ons bly almal in Suid-Afrika. En ek dink die plaas onluste so paar weke gelede het baie Kapenaars bietjie in die bek geruk. Dis weereens maar net – steek jou hand eerste uit en 9 uit 10 keer sal die ander persoon maar net te bly wees om dit te vat.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s