Gedagtes

If you can’t win them, join them

Let Wel: Hierdie is tong in die kies geskryf. Soms moet mens maar bietjie lag as jy moedeloos begin word.

Moet my nie stenig nie, moet my asseblief nie by Pres Zuma gaan aangee nie en moet asseblief nie die owerhede in kennis stel nie 😈

Ek het so pas met my suster gepraat. Die hele plaaswerkerstakery en breek en brand laat ons verstom staan. Toe “imagine” ons die volgende. En almal wat ons wil join, hier volg die plan van aksie 😉

Ons het besluit alle vrouens moet staak. Ons het die reg as burgers van hierdie demokratiese land om ook te staak. En te vat wat ons toekom. Vir jare is ons huisvrou susters verdruk. Ons staak in simpatie met hulle en saam met hulle. Vir jare moes hulle kinders baar, kinders grootmaak, huise skoonmaak, etes kook, kinders rondry, regstaan vir hul mans, binne en buite die slaapkamer. Sonder eers ‘n minimum loon. En dié van ons wat buite die huis gewerk het, moes dit OOK doen. Na ure. Sonder oortydbetaling. Vir mahala. Niks. Zilch.

Daar is verwag dat hulle dit moet doen uit die liefde van hulle harte uit. Mense kan nie van liefde alleen lewe nie. Mens kan nie ‘n nuwe rok en skoene en grimering en al die nuutse tegnologie koop net met liefde nie. Mens het geld nodig, harde kontant. En as ons mans dit nie vir ons kan gee nie, dan moet die regering ‘n wet maak wat hulle verplig om dit te doen. Want ons is ook mense. Ons strike vir Equal rights, electric lights en Big Korn Bites. Of so iets.

Die plan van aksie is as volg. Teiken die grootste winkelsentrum in elke gebied. Al die vrouens, werkendes en huisvrouens, moet Saterdag oggend by hul naaste winkelsentrum se parkeerarea vergader. By Ingang nommer twee. Ek is seker elke winkelsentrum het ‘n ingang nommer twee. Kies ‘n leier en besluit op watter winkels VOOR julle die winkelsentrum bestorm. Sorg dat julle elkeen ‘n wapen het. Dis baie belangrik. Swaarboom ysterpanne behoort goed te werk. Of ‘n koekroller. Of ‘n broodplank. Enige iets waarmee jy ‘n ordentlike hou kan slaan. Vat sommer jou man se bakkie se “wheelspanner”. Of jou kind se krieket ‘bat’. Dit behoort ook te werk. Of ‘n byl, dit behoort maklik vensters te kan stukkend kap. En onthou die vuurhoutjies en ‘lighters’!

Dan bestorm julle die winkels en vat vir julle mooi klere en grimering. Skoene. Juwele. En parfuum. Veral daai DUUR parfuum wat ons gewone vrouens nie kan bekostig nie en nou moet ons toiletwater aan ons spuit. Ek persoonlik gaan vir die i’s, ‘n i-Phone, i-Pad, i-Pod. Alles met ‘n i. En maak seker julle vat van alles ten minste twee. Vir julle verdrukte susters wat in die landelike gebiede en op plase woon en nie die protesoptog kan bywoon nie – of iewers anders besig is om te protesteer. Moenie dat enige iemand in julle pad staan nie. As die winkels hulle deure toemaak, kap dit oop met jou pan of jou byl. As hulle jou keer om mooi klere, handdoeke of gordyne te vat, steek dit aan die brand.

Wys vir die kapitaliste dat ons ook mense is, al is ons vrouens. Dat ons ook regte het. Maak nie saak of jy ‘n groot salaris verdien nie, jy beter daar wees in simpatie met jou mede-verdrukte-huisvrou-suster, of enige ander vrou wat swaar kry. En as ons enige vrouens op straat sien wat NIE aan ons protesoptog deelneem nie, gaan ons jou met ons broodplank slaan en ons gaan jou kinders met ons ysterpan slaan. TOT julle saam optog hou. Dit traak ons nie dat jy dalk ‘n goeie man het wat jou reg behandel nie. Dan protes jy saam vir die ander duisende wat nie so gelukkig is soos jy nie.

Eendrag maak mag. Laat ons hierdie mans ‘n ding of twee wys. Ons laat NIE met ons mors NIE. Van nou af VAT ons wat ons toekom. TOTDAT julle dit vir ons uit jul eie wil uit self gee. En moenie met storietjies kom van julle kan dit nie bekostig nie. Laat die regering julle help!

Belaglik wat ek hier bo skryf? Ja. Beslis. Go figure 😉

25 thoughts on “If you can’t win them, join them

  1. Saterdag is nou al verby en daar’s nie juis winkels hier wat ek kan bestorm nie maar ek wil in solidariteit graag IETS bestorm of afbrand. Wat van die ANC se plaaslike kantoor? Dis die enigste plek hier rond waar daar geld is, as ‘n mens so kyk na die karre wat buite geparkeer is…. Andersins kan ek ‘n versperring veroorsaak op die N1 (ek’s lekker naby) – nes hulle by De Doorns gedoen het. En 1000e motoriste vir dae lank verontrief deur hulle te forseer om ‘n ompad deur se maar Victoria-Wes volg. Se maar net watter een klink die beste – of dalk beide? 🙂

  2. Ek het nou weer oor die saak gedink. Ek wil sommer net staak, maak nie saak waaroor nie. En ek gaan nie ‘n winkelsentrum bestorm nie, maar ‘n shebin en ek gaan hou leeg drink…

  3. Ek het nou raakgelees ” vir jare moes ons kinders baar” mag ek ook maar strike ek voldoen darem aan die ander vereistes, nou nie die baarwerk gedoen nie !! Ek is versigtig vir daardie broodplank waarmee ek perdalks bygekom gaan word… hmmm! hier kom ‘n opmars van epidermiese gevolge…

Lewer kommentaar