Gedagtes · Sommer net

Dit, dat en een uit ‘n miljoen

Soms sit en kyk ek hierdie blog so en dan dink ek “ek moet seker weer ‘n slag iets skryf”. Dit gaan goed met my. Ek werk lekker, ek het genoeg om te eet en te drink, ek het klere en ‘n motor. Ek het geld vir boeke. Ek het elektroniese “gadgets”, meer as wat ek nodig het. Dis lente, amper somer – ‘n groot pluspunt in my lewe. Ek bly in een van die mooiste dele van die land. Die munisipale dienste hier is nie te vrot nie. Die paaie ook nie. Inteendeel. WP het die Curriebeker gewen – ook nogal belangrik, want al het ek eintlik al opgegee op rugby, het ek darem nog hier diep binne my ‘n stukkie rugbyhart.

Hierdie maand is my verjaarsdag – ek is mal oor verjaarsdae, al word mens net ouer. Dit bly vir my spesiaal. Maar hierdie verjaarsdag is die eerste een sonder ‘n ma. Dit vat maar aan mens, maar ek sal daardie hekkie ook oor kom. So sit ek en wonder – wat is die weirdste ding wat al ooit met my gebeur het.

Toe onthou ek. Die motor se alarm. So 10 jaar gelede. Ons bly in ‘n sekuriteitskompleks in die noordelike voorstede. Om my bly ‘n paar kuiergatte en daar is ‘n gereelde kom en gaan van besoekers. Soms kom ek in die oggend by my motor en dan is hy nie gesluit nie, veral oor naweke. Die motors staan in oop parkerings so voor die eenhede. Daai tyd het myne so ‘n bliep-bliep alarm / immobiliseerder (vreeslike woord!)

Eers dink ek dat ek maar net die vorige aand  te moeg / vergeetagtig was, en heg nie veel waarde daaraan nie. Dis tog so waar dat goed soms juis nie gesteel word as dit oop en bloot daar staan om gesteel te word nie. Toe loop ek en my buurvrou se kêrel eendag saam-saam na ons motors toe. Hy bliep sy alarm en ek sien hoe flits my ligte – daai geel “hazard” liggies wat vir jou sê jy sit jou alarm af of aan. Ek stop hom net daar in sy spore en sê hy moet weer sy “remote” druk. Mooi man! Daar flits my liggies weer. En syne natuurlik ook. Ek vat my sleutel en druk die knoppie en daar flits sy motor se liggies. Ons monde hang oop. Hy kuier al maande daar en nie een van ons het dit ooit agtergekom nie. Hy ry ‘n Volkswagen en ek ry ‘n Mazda.

Ek onderneem toe om die alarm mense te skakel, maar vat nietemin ook al sy besonderhede. Toe ek bel en my storie vertel, vra die alarmmense my om dadelik in te kom, hulle vervang my alarm gratis. Dis toe dat die man my vertel dat hulle elke miljoen kombinasies weer oor begin met die alarmkode. Wat is die kanse dat iemand wat dieselfde alarmkode het as jy, langs jou gaan parkeer, nevermind nog in dieselfde kompleks / straat kuier as waar jy bly? Een uit ‘n miljoen.

Freaky weird!

Het daar al ooit ‘n een uit ‘n miljoen ding met jou gebeur?

19 thoughts on “Dit, dat en een uit ‘n miljoen

  1. Op universiteit het ek baie geryloop. Eendag is ek opgelaai deur ‘n karakter uit ‘n boek (Somer II van Andre Letoit) wat ek staan en lees het terwyl ek wag vir ‘n lift….. Dit was weird, storieboek-karakter wat eensklaps springlewendig raak.

  2. sjoe, klink freaky, maar nou weer as jy so daaraan dink………
    al raak die kring op die water ook hoe groot het hy altyd ‘n begin en ‘n einde!!! alles maar alles in die kosmos is deur een of ander skakel op die ou end tog deel van mekaar, iewers is daar ‘n dubbel, onvermydelik

  3. Toe is die wêreld voorwaar klein. Waar lag ek nou vir MaanKind met die karstoeltjie op die agtersitplek. Ek is al hartstogtelik in die nag gesoen, en toe ek mooi tot my sinne kom is dit nie my man nie maar ‘n ander man wat met sy sleutel ons deur oopgesluit het.

      1. Ja, dog my man is so romanties, maar toe ek mooi wakker is besef ek hy lê langs my en slaap. Die meneer glo ek het ‘n paar drankies ingehad, en na die verkeerde hotelkamer toe gegaan. Toe ek hom wegstoot mompel, mompel hy iets, en toe besef hy seker ook die fout. Gelukkig was dit toe ek nog mooi en jong was😉

  4. Ek het al ‘n ander blou Tazz oopgesluit in Johannesburg. En gery. En toe gewonder wat maak die karstoeltjie op die agtersitplek soos ek omdraai om uit te ry…

  5. Jip daar het al ‘n een uit ‘n miljoen ding met my gebeur. Sy dra my ring. . . maar sy hou nogal nie baie daarvan dat ek haar ‘n ding noem nie😉

  6. 😀😀😀 en way back in die 1960s het ‘n kollega van my met sy Peugeot 404 Stasie wa en ‘n kollega in die Franse ambassade met ‘n Peugeot sedan 404 met sleutels dieselfde oorgekom. Fransman na ‘n skemerparty het met kollega se stasiewa weggery voor hy agtergekom het dis nie sy Piet Jood nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s