Gedagtes · Raak gelees

Afrikaans is dood, lank lewe Afrikaans!

Ek het gisteraand ‘Stilte’ gaan kyk. Dis ‘n nuwe Afrikaanse fliek. Ek het so paar weke gelede ook ‘Die Wonderwerker’ gaan kyk. Nog ‘n nuwe Afrikaanse fliek. Dan is daar nog ‘Wolwedans in die Skemer’ en ‘Pretville’. En ‘n ruk terug was daar ‘Liefling’ en ‘Platteland’ en ‘Roepman’ en ‘Semi-soet’ en ‘Skoonheid’. Dis nou wat ek sommer net so kaalvuis kan onthou. O ja, en ‘Hanna Hoekom’. Dan praat ek nie eers van die Schuster flieks nie.

Hoekom skielik? Vir jare en jare het ons niks in Afrikaans gesien nie. Of baie bitter min. Ek het so bietjie gaan Google oor Afrikaanse flieks en vind toe uit dat Leon van Nierop onlangs meer as 3000 km gereis het en na omtrent 200 Afrikaanse flieks gekyk het vir die reeks wat hy gemaak het oor die Afrikaanse rolprent.

Die heel eerste film wat ooit in Suid-Afrika geskiet is, was van ou president Paul Kruger, in 1895, in sy koets voor sy huis in Pretoria. Hy was oppad na die Raadsaal toe.

Toe kom die Anglo-Boereoorlog en die Engelse kom maak nuusflieks hier sodat die soldate se famlies in Engeland kon sien wat hier aangaan. Dit maak van Suid-Afrika die eerste land met ‘n oorlog wat in ‘n ander deel van die wêreld gewys word en die eerste keer waar oorlog “vermaaklikheidswaarde” gekry het.

Die Afrikaners word egter in die Britte se flieks as platvloers en agterlik uitgebeeld en natuurlik sal die trotse Afrikaners terugslaan. So word ‘De Voortrekkers’ in 1916 gemaak om ons kant van ons volk se verlede te vertel. Hierdie is dan ook as die eerste “Afrikaanse rolprent” erken, want die flitskaarte was in Afrikaans of Nederlands. Dit was die eerste erkende vollengte Afrikaanse rolprent.

Moedertjie word die eerste vollengte-rolprent met klank in ­Afri­kaans.

Hoe slegter dit met ons politiek gegaan het, hoe meer het ons Afrikaanse rolprente ligte vermaak verskaf om ons mense te troos en voor te gee dat alles eintlik okay is. (Alles het verander en niks het verander nie :-)  )

Tog het Afrikaners ook die manier om eerlik en reguit na mekaar te kyk en dit in ons flieks uit te beeld op ‘n manier wat geen ander dit sou kon regkry nie. Soms met absolute ­respek, deernis en liefde. Dink hier aan ‘Paljas’, ‘Roepman’, ‘Die storie van Klara Viljee’.

Meestal was die komiese flieks se humor aards en boers, maar daar was geen venyn of vulgêre dinge nie, soos in so baie van vandag se komedies. Daar was energie en entoesiasme, naïwiteit en onskuld, maar bo alles… menslikheid.

Toe kom die Televisie. En rolprente, veral Afrikaans, waar ons nie die tipe begrotings kan bekostig van Amerikaanse standaard nie, begin aan die agterspeen suig. Hier en daar en nou en dan het ‘n goeie Afrikaanse rolprent die lig gesien.

Toe kom 1994 en ‘n nuwe bedeling. En ons kan ons oë en ore toedruk, ons kan so liberaal wees dat ons kop so oop is dat ons brein sonsteek kry, maar daar is feite waarby ons nie kan verby redeneer nie. Skielik is Afrikaans ‘n vloekwoord, ‘n bedreigde spesie, ‘n spoegtaal in die monde van die ‘voorheen benadeeldes’. Iets wat uitgevee en weggegooi moet word. Nou kyk, jy kan van die Afrikaanses sê wat jy wil, en hier sê ek juis nie Afrikaner of Suid-Afrikaner nie, want dit is ons almal, maar ons is nie almal Afikaanses nie. Vat aan ons taal en jy vat aan ons, en nie op ‘n mooi manier nie. Maar ons neem nie meer die geweer op en verdedig ons grense nie. Ons baklei nie meer met wapens wat koeëls in het nie. Nee. Ons trek weg en ons skryf meer boeke in Afrikaans in een jaar as in ‘n paar vorige dekades. Sommige sommer net hygromans, ander letterlike letterkunde, ander iewers tussen-in. En ons lees en ons lees. Vir Deon Meyer en Chanette Paul, Karin Brynard en Deborah Steinmair. Om maar net ‘n paar op te noem.

En ons begin weer Afrikaanse flieks te maak. Nie almal ewe goed nie, nie almal ewe kykwaardig nie, maar elkeen met sy eie mark van iewers, iemand wat Afrikaans praat. Wie se taal, se hart, se drome, se baklei, se huil, se lag, se vreugde in Afrikaans uitdrukking vind.

Soos Leon dit so mooi stel:

Die Afrikaanse prent het weer sy voete gevind. Ons is nou waar ons in die middel van die jare 60 was – ons skep orde uit ’n chaos. Daar is selfs ’n Afrikaanse rolprentfees gehou van 12 tot 18 Augustus. Dalk word dit ‘n jaarlikse instelling.

Ek maak ‘n punt daarvan om Afrikaanse flieks te gaan kyk, dis my klein bydrae vir my taal. (En om Afrikaanse boeke te koop.) Gisteraand het ek ‘Stilte’ gaan kyk. Dis nie ‘n fliek wat toekennings sal wen nie, tog raak dit mens op ‘n plek hier diep binne.

Geen taal kan sterf solank iemand dit praat nie. Afrikaans is NIE dood NIE, lank lewe Afrikaans!

Bron: http://afrikaans.news24.com/Vermaak/Nuus/116-jaar-van-Afrikaanse-flieks-20110701-2

13 thoughts on “Afrikaans is dood, lank lewe Afrikaans!

  1. Pragtaal, liefdestaal, ons-ouers se taal – nou ons taal. Meer geliefd nou juis omdat dit bedreig word. Hoe kan n taal wat deur meer as 8miljoen lewendig gehou word, uitsterf?

  2. Daardie reeks van Leon v Nierop was vir my baie interessant en het my ver teruggevat. Dis goed dat daar so ‘n stortvloed nuwe flieks is. Ons sal die kaf maar van die koring moet skei, maar ten minste is die bedryf nog lewendig.

  3. Waar ek bly, is Engels ‘n foreign language. Hier is geen sprake van ‘Afrikaans is dood’ nie – daar is geen alternatiewe nie. Die gemeenskap is nou nie groot lesers of fliekgangers nie (te arm en ongeletterd), maar praat PRAAT hulle die taal🙂

  4. Ek lees net Afrikaans, nie omdat ek iets teen Engels het nie, maar daardie liefde sal ewig bly. Afrikaans lees soos in Boeke… Baie geniet om hierdie te lees.

  5. Ek maak ook meer moeite om Afrikaanse vlieks te kyk, amper om my ‘mense’ beter te verstaan…EN, ja, deesdae lees ek ook sommer Afrikaans. (Ek het dit vir jare vermy, van my tienerdae…toe Afrikaans nie meer ‘cool’ was nie) Glo dot of nie, soms lees ek sommer die HAT, net vir pret !

  6. Afrikaans – beskuldig as die taal van die verdrukker. Afrikaans nog nie erken is as die taal van die Verlosser nie. 1902 was ons onder die ashoop en dis weer so, maar ons gaan beter en sterker weer bo uitkom.

  7. Hiermee moet ek volkome saamstem.
    Ek doen dalk meeste van my skryfwerk in engels, en het nie veel ooghare vir die Afrikaanse man nie, maar solank ek nog asem haal en praat, sal dit Afrikaans wees 😉
    Want dit bly maar nog steeds ‘n mees uitdrukkingswaardige taal!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s