Die Lewe · Gedagtes

En toe gaan ons Karoo toe

Dis meer as ‘n maand laas wat ek hier geskryf het. Ek kry nog gereeld almal wat ek volg se inskrywings, maar die laaste maande was dit al of ek gevoel het daar is niks nuuts onder die son nie. Alles is tevergeefs en soos gras is ons dae. Apaties. Laat godswater oor godsakker loop. En al daai twaalf dinge.

Ek het soggens opgestaan omdat ek moes, aangetrek wat my hand raak gevat het, hier en daar ‘n streep oor my gesig getrek om ingekleur te lyk, meestal met Daisy de Melcker hare rondgeloop en amper heeltyd koud gekry. Dit was nie net oor my ma dood is dat ek so gevoel het nie. Dit was ‘n kombinasie van dinge. Winter, winter, winter. Te min oefening. Te veel dink, te min doen, te lank stilsit. Vir myself ‘n lekker donker gat grawe.

‘n Hele rukkie gelede het ek en my suster besluit ons gaan vir ‘n week Karoo toe, na my dogter toe, en ons gaan my pa saamvat. Ek en sy en haar dogter en my pa. Hy is ook al 77 en hy het nog nooit saam met sy enigste twee kleindogters gekuier nie. Hoe nader dit aan die tyd gekom het, hoe meer het ek begin opsien teen die ryery. Ek wou graag gaan kuier, ek verlang altyd na my meisiekind, maar om in te pak, om in die kar te klim, om almal saam te neem, om 600 kilometer te ry – dit alles het vir my na baie werk gevoel. Maar my woord is my woord en ek het nie vir een oomblik gedink om uit te draai nie. Ek was net nie meer baie lus nie, soos wat ek die afgelope maande nie baie lus was om enigiets te doen nie.

Toe is dit Vrydag, 28 September. My goed was gepak, my kar was gelaai en toe ons deur die tonnel, oppad Worcester toe, ry, toe kom daar so ‘n ligte gevoel oor my. Asof iemand verbygekom het en ‘n groot klip van my skouers afgehaal het. Skielik het die wiele gesing op die pad. Karoo toe, Karoo toe ♪ ♪ ♪

So wyd soos die Heer se genade
So wyd soos die Heer se genade

Tussen Beaufort-Wes en Aberdeen ry ons in ‘n haelstorm in en ek vra mooi na bo of die reën nie asseblief wil koers kry, ver weg vir die volgende paar dae nie. Ons ry nog een keer deur ‘n bui reën en toe sien ek nie weer reën tot agt dae later nie, terug in die Kaap.

My pa verken die plaas
My pa verken die plaas

Saterdag, 29 September, gaan ons almal Karoo-Lus fees toe in Graaff-Reinet. My pa loop met ‘n kierie en loop maar stadig, maar ons sleep hom saam. In die biertuin is baie sitplek😉

Wie maak Karoo-Lus lekker!
Wie maak Karoo-Lus lekker!
Sexy Jay
Sexy Jay

Later in die dag gaan koop ons vroumense kruideniersware vir die week, want ons kon nie nog kos ook saamry van die Kaap af nie, dit was al klaar ‘n wonderwerk om almal se bagasie in een kattebak in te pas. I mean – DRIE vroumense! Ons kort ‘n medalje. Ons ry met Megan-hulle se bakkie winkels toe en met die terugkom laai ons die sakke oor in my kar se kattebak. Iewers tussen-in bly twee sakke op die sypaadjie vergete agter. Drie ure later gaan haal ek ons truie in my kar. Oorkant die pad sien ek twee sakke staan. Ek dink nog by myself mense is darem ongeskik om hulle sakke vuilgoed so op die sypaadjie neer te gooi. Toe is dit net asof iets in my oor fluister om te gaan kyk wat is in daai sakke. Ek herken my suster se 5 liter appelsap in die een en Megan se brood en chips in die ander een. Vir drie ure het daai sakke daar vir ons gestaan en wag, sonder dat iemand dit gesteel het. In Suid-Afrika! Serious! Dit hoort in die Guinness Book of Records. Veral aangesien ons in die volgende week se plaaslike koerantjie lees dat daar in verskeie motors ingebreek is gedurende die fees. Klaarblyklik hou Graaf-Reinet se misdadigers daarvan om te werk om dit wat hulle steel in die hande te kry😈

Mens is nooit te oud vir die Merry-Go-Round!
Mens is nooit te oud vir die Merry-Go-Round!

Dit word ‘n dag vol lag en kuier en musiek en sommer net menswees. Ons sleep my pa na die aand se musiek toe en ek en my suster kruip op die grond soos ons lag vir sy uitdrukking toe Glaskas begin sing. My arme pa het nie mooi geweet waarvoor hy hom inlaat nie, maar hy het hom dapper gedra. Ons het darem gesorg dat hy genoeg eetgoed en gereeld ‘n whiskey’tjie het.

Oupa kyk (en luister) vir Glaskas!
Oupa kyk (en luister) vir Glaskas!

Ons kom daai aand eers na twaalf weer op die plaas aan. Toe my pa ewe droog sê; “Julle moenie nou veel meer van my verwag nie, ek gaan nou maar lê” bars ons weereens uit van die lag.

Sondag en Maandag het ons net so ge”cruise” deur die dag. Lekker rustig. Ons het darem gaan stap en en en…

Ons wou help skaap skeer, maar kon nie byhou nie LOL!
Ons wou help skaap skeer, maar kon nie byhou nie LOL!
Toe gee ons maar die skaap Nik-Naks
Toe gee ons maar die skaap Nik-Naks
En die honde eet ook Nik-Naks in die Karoo
En die honde eet ook Nik-Naks in die Karoo

Maandagaand is die kitare gegryp en musiek gemaak. Toe weet ek my siel is oppad terug in my lyf in.

Dinsdag is ons weer Graaff-Reinet toe. My pa is saam, op een voorwaarde, ons kom nie weer die aand twaalfuur eers huis toe nie! Ons het hom dit darem gespaar en hom getroos met pannekoek en roomys.

'n Hele emmer vol roomys!
‘n Hele emmer vol roomys!

Daarna het die dae afdraand gehardloop na Vrydagoggend toe.

Run Emily! Run!
Run Emily! Run!

Toe ek die kar se neus Vrydagoggend hanekraai terugdraai Kaap toe, was my hart seer om my kind weereens te groet, maar die donker gat was toegegooi. Voor my was dit lig, binne-in my was dit lig, helder helder lig. En is nog steeds. Ek moet vir my suster en haar dogter en my eie meisiekind en my pa almal dankie sê. Elkeen het op sy eie manier die week blink helder gemaak. Ek het meer gelag in een week as in die hele jaar voor dit.

My ma was siek, my ma is dood. Ons sal haar nooit vergeet nie, maar ons lewe nog. En ons lag nog net so baie, vir alles en vir niks. En iewers, weet ek, lag sy saam met ons.

Die son gaan slaap, maar more skyn hy weer
Die son gaan slaap, maar more skyn hy weer

28 thoughts on “En toe gaan ons Karoo toe

  1. En na ek dit gelees het, het dit my ‘n week gevat om hier te skryf…..Toe ek die laaste deel lees oor ma wat dood is, maar ons lewe nog en dat ons haar nooit sal vergeet nie……dis so waar…..Ek sou nog maklik ‘n paar weke in die Karoo kon bly…….dit was nodig. Dankie vir al die lag en gesels…vir die kans om weer ander drade op te tel…en dat jy ons veilig gevat en teruggebring het…….ek gaan enige tyd weer saam met jou!!! Ek glo ma kyk af op ons en sy ‘smile’……x

  2. wow son – wat ‘n post ..!! elke keer dink ek, hierdie staan nou vir my uit, en dan die volgende sekond, nee hierdie een staan uit – toe besluit ek maar dat elke liewe sin en elke liewe foto vir my uitstaan – dis fantasties.

    so bly jou siel het teruggeklim …😉

  3. Son, regtig lekker om van jou besoek te lees. Daar is seker nie ‘n beter plek om siel skoon te maak as in die Karoo nie. Bly jou kop draai weer son se kant toe!🙂

    NS: Jou Pa lyk regtig na ‘n liewe mens.

  4. Dankie! Almal van julle. Groot dankie dat julle nog wragtig moeite gedoen het om hier te kom loer en te lees. My gesig kyk inderdaad weer son toe. En nou moet ek gaan opvang op al my leeswerk by julle🙂

  5. Ja, die ou (oeroue) plek het ‘n manier om ‘n mens se kyk te verander.
    Groete uit die Groot Karoo en baie bly jy het jou kuier so geniet
    Dis alles goed so.🙂

  6. ‘n Pragtige skrywe Son, ek het lekker als saam beleef. Bly jy’s uit jou donker gat, dit gebeur, maar as mens heel onder is, is daar net een pad, en dis op. Geniet altyd jou skrywe.

  7. Geniet om hierdie pos te lees.
    Ons het partykeer net ‘n klein hupstootjie nodig om uit die dal te kom – ons kan dit net nie almal op so grootse plek doen nie – moet maar settle vir ‘n cuppochino by ‘n mall!!
    Bly jou son skyn weer Son😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s