Liefste Ma
Louwie het gesê ek moet skryf oor jou. (Ja, ma, deesdae werk die wêreld anders. Mens het virtuele vriende, wat regte mense is, maar wat mens nog nooit gesien het of regtig mee gepraat het nie. Tog word hulle soms net sulke dierbare vriende as dié wat jy gereeld in lewende lywe ervaar. Maar jy was nooit goed met tegnologie nie, so ek dink nie jy sou dit lekker verstaan nie. Ek en Lisa het maande gesukkel sodat jy net kon leer sms 😆 Ons het later opgegee dat jy ooit na ‘n voicemail sou luister.)
Ek het reeds in Februarie, met jou 72ste verjaarsdag, oor jou geskryf, maar nie regtig gedink daar sal nooit weer ‘n verjaarsdag of Kersfees saam met jou wees nie. En nou is jy weg. Jy sal nie hierdie jaar daar wees as ek verjaar nie, jy sal nooit weer Kersfees saam met ons vier nie. Jy is weg, en tog ook nie. Want jy het soveel agtergelaat wat altyd sal bly voortleef.
Lisa het vir my die mooiste foto’s gegee wat sy nog van jou het – dit was SO ‘n ‘trip down memory lane’. Op die meeste van die foto’s lag jy. En ek het net weer besef – dis dalk een van die belangrikste ding wat jy ons ooit kon leer. Om te lag. Vir onsself, vir die lewe. Ek weet dat jy soms seker gelag het as jy eerder wou huil. Maar huil gee mens plooie, het jy altyd gesê.
Natuurlik het ek en jy ons rusies en verskille gehad, maar dit is nietig teen die goeie herinneringe.
Ek sal altyd onthou. . .
Jy my geleer het om nie ander mense te oordeel nie. Jy het my geleer om met die hart te kyk, nie net met die oog nie. Om verby velkleur, geloof en seksuele oriëntasie te kyk en die mens daaragter te sien en te respekteer. Dat iemand wat anders as ek is, dink en glo nie noodwendig verkeerd, boos of die vyand is nie. DIT is dalk die belangrikste erfenis wat jy aan my gegee het.
Jy het my geleer om op my eie voete te staan. Om onafhanklik te wees en om te weet dat ek altyd verantwoordelik is vir my eie keuses. Jy het my toegelaat om foute te maak, maar jy het nie my kastaiings uit die vuur kom krap nie, al was jou huis en jou deur altyd oop vir ons.
Jy het my geleer dat die lewe my niks skuld nie en dat hard werk nie ‘n vloekwoord is nie. En dat mens werklik soms jou swaarkry met lekkerkry moet klaarkry.
Jy het my die wêreld van boeke geleer toe ek nog skaars die a-b-c geken het. Jy het altyd gesê ‘n mens wat kan lees behoort nooit verveeld te wees nie. Ware woorde.
Natuurlik was jy nie perfek nie – niemand is nie. Maar jy was die perfekte ma vir my. Daar is so baie dinge wat ek sekerlik elke dag nog van jou gaan onthou, en ek weet ek gaan dit dalk met ‘n traan in die oog onthou, maar definitief meer met ‘n lag op my lippe.
Op die einde was jy net my Mammietjie – so klein en weggekwyn dat my hart wou breek. Maar ons sal jou onthou soos op hierdie foto’s



Ek hoop daar waar jy nou is, laat jy ook almal lag. Drink jy soms ‘n whiskeytjie en rook ‘n sigaretjie. En weet dat jy sal voortleef hier in ons onthou – van die stories wat jy vertel het, die liedjies wat jy ons leer sing het, die roomys wat jy in die winter geëet het, die kombuislappe wat jy altyd spierwit ge’JIK’ het, die reuk van White Linen.
xxx
En ek mis haar……so verskriklik baie!
” jy was die perfekte ma vir my” – dit is wat kosbaar is. om die onperfekte perfek te sien
Niemand kan jou onthou weg vat nie, en watter mooie onthou het jy net nie. Sterkte vir jou.
wow son – dis absoluut pragtig wat jy geskryf het – het lanklaas so iets mooi gelees …
Dit is ‘n baie mooi en treffende eulogie aan jou Moeder! Ek is bly jy het dit geskryf. My gedagtes bly by jou in hierdie hartseer tyd….
Dink aan jou.
what a beautiful, touching tribute to your mom… it gave me such goosies!!
THIS is how moms hope they toouch their children’s lives.
AWESOME!!!
Dankie Son. `n Pragtige getuigskrif vir `n spesiale mens. Dat julle die pad saam kon loop en sulke mooi herrineringe kan hê, is `n seën.
Is vreemd, na al die baie jare wat my ma oorlede is, kom daar nog tye dat ek dink ek moet haar gou bel om vir haar van iets wat gebeur het te vertel. En ons was nie eers baie geheg aan mekaar nie!!
Sterkte vorentoe.
Ai, Son, hoe hartseer voel ek nou oor jou ma – en somme myne ook. ‘n Mens se ma gaan eintlik nooit weg nie, sy is elke dag in jou gedagtes.
Ja, ek huil ook…omdat my ma my liefste ding is en ek net kan dink hoe verskriklik dit moet wees. Dink aan jou, Sonnetjie.
Ek is ‘n virtual vriend, Son, maar ek huil nou regte trane – dankie vir die mooi skrywe – so huil ons oor mooi dinge wat weggaan, jy lyk vir my soos sy, weet jy 🙂
Son, ek wil nog weer rustig die ding kom deurlees. Maar mag ek vra… waar het sy grootgeword?
Rawsonville 🙂
Sy leef in jou voort Son. ‘n Stywe drukkie ❤
Dis pragtige foto’s! Dit lyk (en klink) of sy ‘n liewe mens was. Sterkte daar aan jou kant ((((Son))))
A beautiful post, written from the heart. It brought a few tears.
Take care Son…
*hugs*
xx
Gelukkig gaan onthou nie weg nie. Dit vervaag soms, maar mens word altyd weer remind daarvan . . .
Sterkte.
♥
Son, dis een van die wonderlike dinge van menswees. Mense kan jou geld en selfoon en TV en microwave steel…maar NOOIT jou herinneringe nie.
‘n Vrou so reg na my hart was jou Ma – ai, daai ding oor die lees!