Die Lewe · Gedagtes

Soms is jou stilte te veel woorde

Soms praat mens te veel terwyl jy eintlik niks sê nie. Soms sê mens niks nie, omdat jy heeltemal te veel het wat jy WIL sê, maar jy weet nie hoé nie. En soms het dit te laat geraak om enige iets te sê.

My ma is besig om dood te gaan. Daar. Ek het dit gesê. Ek wil nie simpatie hê nie. Dit gaan aan alles niks verander nie. Ek wil dit net iewers neerskryf sodat ek kan begin om dit te aanvaar. Ons het haar klaar gegroet, klaar afskeid geneem. Ons weet sy gaan nie weer opstaan waar sy nou is nie, al lewe sy nog. En dis die moeilikste van alles.

As iemand skielik weggeneem word deur die dood, wens die geliefdes altyd hulle het tyd gehad om afskeid te neem. Moenie. Dis hel. Om ‘n mens se geliefde, en veral jou ma, dag vir dag, stukkie vir stukkie, aan die dood af te staan, is HEL.

Eers het die Alzheimers haar bietjie vir bietjie kom steel. Toe gee sy op. En nou gaan ons elke dag aan met wat ookal ons mee moet aangaan, terwyl ons weet ons ma gaan nie weer opstaan uit haar bed nie, maak nie eers meer haar oë oop nie. Sy haal nog net asem. Dis dan wanneer mens begin verstaan van genadedood.

Ek het langs haar bed gesit en ek het gedink daaroor. Oor genadedood. Ek het vir my ma gesit en kyk, oor haar hare gevryf, haar hand vasgehou, met haar gepraat. Soms het ek my verbeel sy reageer, dalk omdat ek so gewens het sy moet. En toe het ek besef, die dood sal genadiger wees, ja, maar dat ek NOOIT daardie roep sou kon maak nie. Sy sal self gaan wanneer sy reg is. Wanneer dit tyd is.

Die dokter sê nie baie dae nie. Ons gaan slaap elke aand en wonder of sy dit deur die nag gaan maak. Ons kan nie oor haar rou nie, want sy is nog nie dood nie. Tog rou ons elke dag reeds, want sy lewe ook nie regtig meer nie. Nou wag ons net. Ons wag vir ons ma om dood te gaan.

Mag jy nooit hoef uit te vind hoe dit voel om so te wag nie.

28 thoughts on “Soms is jou stilte te veel woorde

  1. Goeie more….. Kouevuur! Wow mooi woorde en so waar en presies hoe ek voel waar ek sit, my ma het nou 8 jaar Alzheimer’s ek dit vreet ons op om haar so te sien agteruit gaan, sy beweeg nog rond maar kan haar nie verstaan as sy praat nie en sy verstaan ons nie…. Sy gaan by die dag meer agteruit, ek vrees vir die dag as ek daar moet aankom en sy my nie meer Herken nie, sy herken klaar ons een suster nie… Hoe kan ek jou kontak asb?

  2. Ek het al ‘n paar keer hier kom lees en weet nog steeds nie wat om te se nie. Ek het my Pa so sien agteruitgaan en het elke keer gevra dat sy lyding tog net moes ophou. Dit het toe, maar dit was nog steeds ‘n rou seer.

    Stywe drukkies vir jou.

  3. Sterkte Son. Miskien help dit om nou vir ons te skryf oor jou en jou ma se verhouding oor die jare. Sal jou ook perspektief gee, en dalk afsluiting.
    Dink aan jou.

  4. Groot druk vir jou Son. Ons het so gewag vir my Oupa om te sterf laasjaar, en ek onthou nog toe ek die Saterdag gaan kuier het, en oppad huistoe gebid het vir die einde, want ek kon hom net nie meer so sien nie. My gebed was verhoor in die vroeë ure van die Sondagoggend. Dit is niks lekker om mense te sien ly nie. Niks.
    Geen woorde kan dit beter maak, of jou hartseer wegvat nie. Weet net ek dink aan jou.

  5. Ag Son, ek is so jammer vir jou verlies. Selfs al weet mens jou ma lê op sterwe, is daar niks wat jou kan voorberei op die skielikheid van haar dood nie. My dierbare ou moeder het twee weke gelede gesterf nadat sy ook eers vir lank gely het. Ons het so dikwels ‘n oproep in die nag gekry en dan vir die volgende paar ure angstig bly bid en wonder, veral as jy hoor hoe swaar sy asemgehaal het en hoe hard sy baklei het om te bly lewe. Sy sou vandag, 13 Augustus, dieselfde dag wat jou moeder oorlede is, haar 65ste verjaarsdag gevier het.

    Ek en my sussies het die langnaweek Groblersdal toe gery om my Pa te help om haar goedjies uit te sorteer en sy huisie vir hom te help inrig vir sy lewe alleen vorentoe. Dit was seer en hard, maar ongelooflik terapeuties. So nou en dan kom mens op ietsie af wat die trane laat loop, maar so deur die trane lag mens partykeer weer vir van die herinneringe.

    Baie, baie sterkte vir jou en jou familie. Dis ‘n hartseer tyd wat vir jou voorlê, maar jy sal ook sien hoe baie mense vir jou lief is en vir jou omgee en hoe baie mense vir haar lief was en omgegee het – dis ‘n skrale vertroosting maar ‘n riem onder die hart, nietemin. Baie mense het vir my gesê mens sal nooit regtig oor haar dood kom nie, daar sal maar altyd ‘n gat in jou hart wees, maar dat mens leer om daarmee saam te leef en so nou en dan plant jy maar herinneringe soos blommetjies om die gat om dit mooi te maak. Ek glo dis reg so, iemand vir wie mens so lief was en wat só ‘n geweldige indruk op ‘n mens gemaak het, kan nie net suutjies uit jou lewe verdwyn nie. Ek het vanoggend weer ‘n hele paar versies gehuil omdat ek haar nie kon bel op haar verjaarsdag nie.

    My ou moeder het nie baie aardse besittings gehad nie, maar die erfenis wat sy vir ons gegee het deur haar liefdevolle toewyding as moeder, en die goeie opvoeding wat sy ons gegee het, is meer werd as al die goud in die wêreld. Ek glo jy sal ook dieselfde daaroor voel – ons sou nie gewees het wie ons is, as dit nie vir hulle was nie.

    Ag skies, ek skryf nou my hart uit hier en dit begin al soos ‘n opstel lyk, maar ek wil vir jou graag hierdie quote gee:
    “In a sense sickness is a place, more instructive than a long trip to Europe, and it’s always a place where there’s no company, where nobody can follow. Sickness before death is a very appropriate thing and I think those who don’t have it miss one of God’s mercies.”
    – Flannery O’Connor, The Habit of Being

    Gaan kyk seblief op my Engelse blog (www.barefootbarbie.wordpress.com) na die mooi kommentaar wat delabu daar gelos het – ek is seker jy sal ook vertroosting daarin vind.

    Ek dink aan jou in hierdie hartseer tyd.

    1. sjoe kaalvoetklonkie – ek het nou sommer bewoe geraak. my pa was nou vir 2 jaar in en uit die hospitaal en het so gesuffer met kanker – maar is darem nou in remissie. dit tap ‘n mens so, ek dink ons almal ly aan post-traumatiese stres. my ma het ook baie agteruitgegaan as gevolg van stres en al die dinge. dis maar moeilik as ‘n mens se ouers oud word – sjoe. ‘n mens is so lief vir hulle en so dankbaar teenoor hulle, en voel dan terselfdertyd baie geirriteerd met hulle ook, en dan voel ‘n mens skuldig boonop ook. ai jai jai. jammer vir jou …😦

      son – ons dink al die pad aan jou – dit moet swaar wees ….

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s