Die Lewe · Gedagtes

Vyftig skakerings van grys

Nee, dit gaan nie oor die veelbesproke reeks waaroor almal se lippe deesdae los is nie. Hierdie is oor iets baie ernstigers. Die Lewe. Want bitter min in die lewe is NET swart of net wit. Daar is seker veel meer as net vyftig skakerings van grys.

Natuurlik is daar NET wit of swart dele ook – soos eerlikheid. Daar is nie enige verskonings vir oneerlikheid nie. Maar groot dele van die lewe is maar bitter vaalgrys.

Die Merrie het vir ene Rene aangevat oor haar kommentaar, maar ek dink beide van hulle twee het bietjies te veel oorgehel na die een kant van die saak waarin hulle elkeen so vas glo en so seker is daarvan dat net hulle antwoord reg is. Vir Rene ken ek nie, en Merrie beskou ek as ‘n vriendin, of ten minste baie goeie kennis. Iemand wat ek enige dag in my vriendekring sou wil hê, as sy net so bietjie nader gebly het🙂 Ek wil egter nie so ‘n lang kommentaar gaan los op haar blog nie, so ek skryf eerder my opinie hier op my eie werf neer.

Ek sien so bietjie van my eie heethoofdigheid in haar, toe ek so jonk soos sy was. Maar genadiglik bring die grysheid soms werklik wysheid, of dan ten minste net meer genade met sommige dinge.

Vir Rene, wat ek van geen kant af ken nie, is daar ‘n groot stuk empatie in my hart, want net deur daardie vreeslike aanvallende kommentaar van haar, kon ek sien dat die seer nog diep en donker in haar lê. Klaarblyklik moes sy haar kind op 25 afgee vir aanneming en voel sy dat daar te vinnig geoordeel is in Merrie se skrywe en die kommentaar daarna.

Nou ja, wat sal ek nou sê. Nie een van hierdie twee mense se uitkyk is, volgens my persoonlike opinie, honderd persent reg nie. En ek wil net weer onthou van “laat die wat sonder sonde is die eerste klip gooi”.

Aanneming is seker een van DIÉ mees kontroversiële onderwerpe wat mens oor kan debatteer. Soveel mense, soveel opinies.

Toe Rene geskryf het; “Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het. Andersins bly stil” dink ek nie sy het heeltemal verdien dat Merrie so oorboord moet gaan met daar die persoonlike ondervindinge nie. Ek dink sy het maar net bedoel dat iemand nie moet oordeel oor ‘n situasie as hy of sy nog nie self die skoene van die veroordeelde gedra het nie.

Om te reken dat Rene bedoel het, en ek haal Merrie aan; “As ek volgens jou idee van ‘bly stil as jy nie persoonlike ondervinding het nie’ moes lewe, sal ek kindermishandeling moet goedkeur. Ek sou moord, verkragting, kindermolestering en diefstal moes goedkeur. Ek sou moes terugsit en die wêreld laat boser en boser word, want ek het nie persoonlike ondervinding nie.”

Nee, ek dink wragtig nie dis wat die bedoeling was nie. Ek dink egter ook Rene was bietjie hard in haar kommentaar om sommer almal aan te val en te sê sy skaam haar omdat dit haar medemens is.

Aanneming. Meestal is dit ‘n wonderlike ding. My ma se suster het drie aangenome kinders – my niggie en nefies. Almal weet hulle is aangeneem, maar deur die jare het dit nie saak gemaak nie. Hulle is ons familie. Altyd. Een van hulle het sy eie ma opgespoor, die ander twee het nie belanggestel nie, vir hulle eie redes. My neef, wat sy eie ma opgespoor het, was vir ‘n rukkie oorweldig deur al sy ‘ander’ familie en bly om sy ma te leer ken. En toe het die nuwigheid verbygegaan. Dit klink seker wreed, maar dis presies hoe dit is. Bloed is NIE altyd dikker as water nie en diegene wat dit nog glo, weet regtig niks nie. ‘n Ma (en vreemd genoeg soek aangenome kinders bitter min eerste, of ooit, hulle biologiese pa’s) met dieselfde bloed as jy in jou are, maak nie op vir ‘n ma en pa wat nie bloed van jou bloed is nie, maar wat jou doeke geruil het, jou einas reggesoen het, jou koorsige lyf afgespons het toe jy siek was, jou aangemoedig het langs die sportveld, jou onvoorwaardelik liefhet, jou die kerk ingebring het op jou troudag, ‘n ouma en oupa vir jou kinders is nie.

Natuurlik vat dit ‘n spesiale soort mens om ‘n ander se baba te neem en groot te maak soos jou eie. En ek respekteer en haal my hoed af vir mense wat erken dis nie vir hulle nie. Ek was gelukkig nog nooit in daardie posisie nie, maar ek dink ook nie ek sal iemand anders se kind aangeneem het nie. Dit maak ons nie slegter as aanneem ouers nie. Dit maak ons net realisties genoeg om te weet ons is nie die regte persoon vir so iets nie, want soos sommige tereg gesê het, ‘n kind moet by ouers wees wat hom of haar WERKLIK wil hê en met liefde kan en wil grootmaak. Daar is geen groter onreg om aan ‘n kind te doen, as om hom in ‘n huis groot te maak waar hy nie welkom is nie. Dit rig onherroeplike skade aan ‘n kindersiel aan.

Nou hoe lyk ‘n ma wat haar kind weggee vir aanneming? Hoe dink sy, wat voel sy en hoe kry sy dit oor haar hart om dit te doen? Hoe sal enigeen van ons daardie antwoord ken as ons nog nie self in sulke skoene gestaan het nie? En om ewe voortvarend en veroordelend te sê, ja maar sy was volwasse genoeg om te weet seks maak babas en nou het sy haar bed gemaak en moet sy daarop slaap en haar eie kind grootmaak, is amper dieselfde as om te sê, kyk na my, ek is volmaak en ek het al die antwoorde. Twak, man!

Dinge gebeur, mense maak foute, presies net omdat hulle mense is. Mense word lief vir ander mense, wat dalk nie is wie hulle gedink het die persoon is nie, en dan gaan hulle oë oop, want nou is daar ‘n baba oppad en die persoon wat jou moet bystaan met daardie baba, draai sy rug op jou. Wat doen jy? My eerste reaksie sal wees om my kind alleen groot te maak, maar dit is in werklikheid ‘n selfsugtige reaksie. Want ‘n kind kom NIE in die lewe in met genoeg geld om in al sy behoeftes te voorsien nie. Al het die ou mense dit so graag gesê. Nee, ‘n kind is ‘n lewenslange toegewyde taak. Enige ouer wat sy sout werd is, sal jou kan vertel dat jou lewe nooit weer dieselfde is as jy ‘n kind het en grootmaak nie. Jy dra jou hart vir die res van jou lewe buitekant jou lyf. Jy is nooit weer alleen in jou eie kop nie, want jou kind en sy/haar welsyn en belange is maar altyd êrens in jou kop. Solank jou kinders nog in jou huis is, bekommer jy jou daaroor om die beste vir hulle te gee. Jy bekommer jou dat hulle goed moet presteer, sodat hulle eendag ‘n aanwins vir die samelewing kan wees. Jy bekommer jou dat hulle veilig sal wees, oral waar hulle gaan en in alles wat hulle doen. Veral in vandag se lewe.

Wanneer hulle groot en uit die huis is en vir hulself sorg, dan bekommer jy jou steeds dat hulle moet gelukkig wees, in hulle werk, in hulle verhouding. Jy bekommer jou steeds oor hulle veiligheid. En as jou kind voor jou doodgaan, dan herstel jy nooit daarvan nie. Jy lewe dalk voort, maar ‘n deel van jou is vir altyd dood.

DIT is wat dit aan jou doen, hoe dit jou lewe verander om ‘n kind te hê. So, as jy swanger raak op 16, of 25, of 30 en jy weet voor jou siel dat jy finansiëel nie kan nie, of emosioneel dit nie in jou het om ‘n toegewyde ouer te wees nie, dan is dit REG as jy eerder jou kind laat aanneem deur ouers wat wil, en kan, en dalk al jare smag na ‘n kind. Want aanneem ouers word nie agter elke bos uitgeskop nie. Hulle word deeglik en met groot omsigtigheid gekeur. Natuurlik kan aanneem ouers dalk ook eendag in ‘n skeihof staan, maar as ek kyk na hoeveel mense ouers word wat geensins ‘n cookin’ clue het wat ouerskap beteken nie en sommer net kinders het omdat dit hulle ego streel en dink dis ‘n verlengstuk van hulself, dan dink ek beslis ‘n kind se kanse in die lewe is beter by aanneem ouers as by sulke selfsugtige ouers.

En vir die ma wat besluit om haar kind af te gee vir aanneming het ek net ‘n groot jammerte in my hart. Ek dink steeds – en ek sal altyd so dink – dit is een van die mees onselfsugtige dinge wat ‘n ma vir ‘n kind kan doen. Deur afstand te doen van jou eie vlees en bloed, omdat jy weet dit sal vir jou kind beter wees as om by jouself groot te word.

Daar is uitsonderings, ja. Daar is altyd uitsonderings in die lewe. Maar moenie oordeel voor jy nie dieselfde moes leef nie.

It takes a special kind of parent to adopt a child. Just like it takes a special kind of mother to give up her child for adoption.

46 thoughts on “Vyftig skakerings van grys

  1. Dankie vir hierdie. Ons wat bevoorreg was om in ´n normale familie groot te word, het geen benul waardeur sommige moet gaan nie. Weet net nie of ons altyd dankbaar genoeg is nie.

  2. My brein werk so….live and let live. Ek sal nooit iemand oordeel oor ‘n persoonlike besluit soos om ‘n kind te laat aanneem nie. Dis jou besluit. MAAR, moenie oor ‘n jaar besluit jy wil nou elke dag loop en tjank op my skouer daaroor nie. Soek ‘n ander maatjie. Dis maar net ek.

  3. Jou skrywe het baie emosies in my wakker gemaak. Wens ek kon vir ‘n oomblik my hart oopmaak en jou ‘n kykie daarin gee, dan sal jy verstaan. Magtig!!!!! Nie teen jou nie Son…. teen die lewe.

  4. Bloed maak nie van jou ‘n ma of ‘n pa nie. Puik skrywe op ‘n onderwerp wat in hierdie verligte eeu van waarin ons leef moeiliker oor gepraat word as AIDS.

  5. Toe Merrie die heel eerste stuk geskryf het so 2 jaar gelede, het ek belowe ek kom antwoord. Maar ek het nie….
    toe skryf ek vandag hierdie: Wel, na 2 jaar mag ek seker maar uiteindelik my antwoord gee. Jis, maar jy dink taai toffies uit! Ek weet nie of daar ‘n regte of ‘n verkeerde besluit is nie en elke geval is sekerlik anders. Ek weet van kinderlose egpare wat smag na ‘n kindjie om aan te neem. Ek ken mense wie kinders aangeneem het en wat vir hulle goed was. Ek ken ook kinders wie deur nie baie liefdevolle ouers aangeneem is. Ek ken ook kinders wie hulle lewe lank nog smag om te weet wie hulle regte ouers is. ek ken ouers wie hulle kinders “afgegee” het en spyt is daaroor. Ek is regtig trots op ‘n jong vriendinnetjie wat so pas haar studies en alles gelos het omdat sy onbepland swanger geraak het en haar kind self gaan versorg. Maar sou sy anders besluit, sou ek ook haar groot hart bewonder het. (Eintlik ‘n niksseggende antwoord, né?)

  6. aan almal wat lees hier of dalk kommentaar gelewer het, wil ek graag die volgende se, niemand kan vir en namens iemand ander besluit of sy keuse reg of verkeerd was nie. Ek is amper 51, die derde kind in ‘n baie lefdevolle en ‘gelukkige gesin van ma, pa en 4 kinders. My ouers leef nie meer. Ek betree n senitiewe aspek van my lewe ( vir die wat my persoonlik ken , hou asb die info vir jouself… my familie weet nie v als nie ek spaar hul dit). ek was nie ‘n menslik beplande baba nie, maar wel deur God beplan. Na twee sussies, kort na mekaar, volg daar toe ‘n derde sussie en ons verskil een jaar en 2 mde v mekaar. en eers 2 jr later kom die seun wat eintlik al eerste moes kom…. tussen 35 en 50 moes ek baie dinge leer… daar was nooit die REGTE bonding met my ma of pa nie en ek het het my HELE lewe lank gevoel ek moet my plek hier op aarde verdien…. en later uitgevind ek is deur ‘n baie naby familie-lid gemolesteer tussen ouderdom 3 en 6. Dit was rof. Ek survive, maar die seer sal altyd bly. En my familile wil soo graag nog steeds vir my besluit hoe ek mag dink en voel..
    Elkeen van ons is verantwoordelik vir onsself en ons eie besluite. Baaaaie kinders is aangeneem en ek glo die Groot Vader het dit oor hul pad gestuur omdat Hy alleen weet wat die beste is. Ek het nie kinders van my eie nie. Geen persoon wat kinders het, sal my behoeftemkan verstaan nie. so ook sal geen persoon wat niem’n kindjie weens omstandighede moes ‘oorgee’ aan ‘n ander vir kind se beswil, die hartseer van daardie mamma verstaan nie. Selfs ‘n aborsie mag nie gekritiseer word nie, dis nie JOU besluit nie, want jy staan nie waar die ander persoon toe gestaan het nie…Respekteer jou medemens se besluit en gaan op jou kniee en wees dankbaar jy het nie daardie besluit in jou lewe nodig gehad nie. Niemand kan ooit iemand anders se seer werlik verstaan nie, Groete. C
    Dankie son dat ek my seer kon deel. Rene, ek voel saam met jou.

  7. Ek het aangenome kinders. My dogter (Kinta) het (op versoek van Biologiese ma ), haar ontmoet. Ek het haar ontmoet. Ek het begrip vir ons Biologiese ma se besluit tot aanneming ,destyds. Het daaroor geblog. Ek kan eindeloos gaan blog oor die hoekoms en waaroms, maar daar kom ‘n stadium dat jy tog net moet afsluit en weer normaal aangaan met leef, of jy nou die aangenome moeder is en of jy die die Biologiese Moeder is. Kinders sal volgens my altyd ‘n genade gawe bly, deur natuurlike geboorte of deur aanneming of pleegsorg!
    Dankie vir hierdie skrywe.

    1. Ai Dirkie, net die wat self die pad geloop het kan eintlik regtig weet hoe dit is. Ek het soveel bewondering vir aanneem ma’s en soveel empatie vir biologiese ma’s

      1. Baie dankie. More ry ek en Kinta die langpad na Biologiese fam toe. Ek gaan met oop gemoed en kalmte en vreugde in my hart soontoe. Sal sommer weer vir haar dankie gaan sê. Ek het die besluit geneem sy sal maar vir my soos suster word. Aangesien ek nooit een gehad het nie… dit maak dit makliker.

    1. ja, ons moet elkee vir ons eie besluite pa staan, maar dis ‘n werklikheid dat sommiges van ons wragtig net sterker is as ander. Of gelukkiger. Sad, but true

  8. Tannie Gypsy, ek gaan hierdie skrywe bêre vir die volgende keer wat genade vir ‘n kind het wat jy in ‘n tronk wil sien vir die res van sy lewe. 😉

    Ek vind die hele aangeleentheid om die eerlike waarheid te sê lagwekkend. Met my skrywe “Tyd om jou eie foute groot te maak” was dit spesifiek op Emma van 7de Laan bedoel. ‘n Fiktiewe mens wie se omstandighede wyd bekend was. Ek volstaan daarby. Verder het ek in die skrywe, sowel as die kommentaar wel te kenne gegee (sommer reguit gesê) dat daar omstandighede is waar aanneming heeltemal geregverdig is.

    Iets wat ek geniet om met my blog te doen is om ‘n debatteerbare saak te vat en dit oop te gooi vir almal se menings. Soos ek in die geval gedoen het. Ek is dankbaar vir almal se menings wat daardie dag gelewer is – eerlik soos hulle gevoel het – en ek is heeltemal bereid om die blaam daarvoor te neem. Ek het immers die blik wurms daar oop gemaak.

    Ek het wel ‘n kleintjie dood aan die “persoonlike ondervinding” of “‘n myl in ander se skoene” argument. (Waaroor my skrywe van vandag gaan). Siende dat ek ‘n verstand gekry het, kan ek oordeek of iets reg en verkeerd is. En daarvolgens probeer ek my lewe lei. Ek foeter nie voort en probeer dan ander skuldig maak nie.

    1. Ek het lank gedink oor my antwoord vir jou. Daar IS wel sommige dade waarvoor ek GEEN genade het of ooit sal hê nie en ek hoef nie persoonlike ondervinding daarvan te hê om dit te weet nie. Soos kindermolestering. onder andere. Ek en jy weet mos jy hou van ‘n goeie debat😉 Oor die “persoonlike ondervinding” en “myl in iemand anders se skoene loop” – daar is werklik situasies waar elke mens wat nog nie in so ‘n situasie was nie, hom of haar MOET weerhou van oordeel en/of kommentaar. Jou verstand se vertel van reg en verkeerd en die menslikheidsaspek is tog soms sover verwyderd van mekaar soos die Ooste van die Weste. En weereens IS daar dinge wat onverskoonbaar en onregverdigbaar is. Maar die LEWE leer jou iewers langs die oudwordpad dat die lewe sommige mense soms klap en klap en klap en dat dit dan beter is om die persoon op te help as om oor hom te loop😉

      1. Ek mos die kwessie van aanneming en persoonlike ondervinding geheel en al geskei het. My galbrakery het oor persoonlike ondervinding gegaan – nie oor aanneming nie.

        Ja, ek voel sterk daaroor as jy ‘n baba wil maak, moet jy bereid wees om hom of haar groot te maak. Terselfde tyd het ek wel begrip daarvoor dat aanneming soms nodig is (iets wat ek al verskeie kere gesê het, met verskillende voorbeelde).

        Verder volstaan ek daarby dat my eerste post en my kommentaar nie veroordelend was nie. Al het ek nie met Emma se besluit saamgestem nie, het ek haar geensins verwens of “vervloek” nie.

        Ek kan wel sien dat my tweede post veroordelend kan wees. Spesifiek was die paragraaf onnodig en onregverdig gewees: “Want jy sien, Rene, as mense soos jy die verantwoordelikheid van julle besluite wil dra, sal dit nie vir mense soos ek nodig wees om julle kastaiings uit die vuur vir julle te kom krap nie.”

        Ek volstaan egter ook by wat ek oor persoonlike ondervinding gesê het. In elke omstandigheid is daar ‘n reg en verkeerd. Die grys gebied tussenin is net versagtende omstandighede. Dit kan dalk selfs beskryf word as ‘n gebied waar al die “regs” en al die “verkeerds” vermeng word en waaruit die beste besluit (in ‘n slegte situasie?) (let wel, nie noodwendig reg of verkeerd) geneem moet word.

        Ek dink dit is juis Rene wat iewers gemaak almal maak foute. Ek kan dit verder voer, almal het foute. Dit is nogal voor die handliggend wat my foute is. Eerstens kan ek nie (en gaan ek nie) die regte geluide maak net omdat dit van my verwag word nie. Tweedens het ek nie empatie nie. So ja, ek het die tong waarteen die Bybel waarsku. Dit gaan ten minste nie agter die “ontvanger” se rug aangewend word nie.

        Aan die ander kant sal ek wel genade uitkrap waar min ander dit gaan kry. En ja, ek klim kaalvuis in die situasie in, maar my veroordeling (as dit veroordeling is) is op die daad. Nie die mens nie.

  9. Sonkind, ek is nog nooit spyt gewees dat ons ons klein mannetjie aangeneem het nie…..
    Hy is ons hele lewe! As ek kon, sou ek nog ene wou aanneem, net sodat hy nie so alleen groot moet word nie.

    1. Ek het al so baie na foto’s van hom gekyk en die Here gedank dat julle hom grootmaak, want hy is SO ‘n pragtige kind en dink net wat sou van hom geword as julle nie daar was nie.

  10. Son. Dankie. Ja ek het bietjie hand uit geruk met my eerste kommentaar op Merrie se blog. Dis net soms te veel om telkens, selfs na jare ,oor en oor dieselfde negatiwiteit te moet aanhoor. Ek vra om verskoning vir my hewige reaksie. Dankie vir jou.

    1. Als reg. Soms wens ek dat ek al die seer in die wêreld kan wegvat, maar ongelukkig werk die lewe nie so nie. Maar dit sal al klaar baie help as ons meer verdraagsaam teenoor mekaar kan wees🙂

  11. Hirdie is ‘n baie teer onderwerp en verdien empatie. Niemand kan ooit die diepte van die hartseer bepaal wat in albei partye – kind en ouer se harte kan leef nie. Dankie tog dat daar ‘n uitweg is soos aanneming vir sommiges, en dankie tog dat daar ouers is wat hulle dogter sal ondersteun wanneer so iets met haar gebeur. Ek was jare lank hoof van ‘n Kinderhuis en verstaan die dieptes van hierdie emosies.

  12. Jy het raak geskryf hier. Ek het nooit eens gedink om my seun te laat anneem nie – maar ek het wel geweet my ouers sal my bystaan selfs al wou die pa nie regtig nie. Ek dink as mens nie daai grondslag het nie is dit heelwat beter om die aanneming te doen – dis heelwat beter as aborsie!!

    Hoop maar jy word nie oorval deur ongenaakbare kommentaar nie…

  13. Good point well made, Son😉
    Ernstig nou, ek is besig om ‘n boek saam te stel oor aanneemstories. Ek wil graag ‘n gedeelte hiervan bysit. Jou naam, of die blogger, Son?

      1. Johann, dit gaan net oor die werklike stories, real life. Argumente daarvoor of daarteen het niks met wat ek wil doen, te doen nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s