Die Lewe

Om te onthou

Ek lees vandag HIERDIE en dis nie die feit dat die skool hier in die Kaap is of enige so iets wat my hierdie nog lank sal laat onthou nie. Dis hoe daar in hierdie berig vertel word hoe kinders, ten spyte van hulle omstandighede, deursettingsvermoë getoon het om uit te styg bo alle verwagtinge in, bo alle kanse wat hulle in die lewe gegee is.

Ons kla so maklik met die witbrood onder ons arm, ons kla met oop oë, met ore wat kan hoor, met voete wat kan loop, met karre wat kan ry, met warm water en warm klere, met alles wat die lewe vir ons gemaklik maak. Dan kla ons steeds, of dink die lewe is onregverdig, of dit skuld ons iets.

Dan lees mens op ‘n dag hierdie:

“Ek het gister ’n outjie hier gehad; hy is in graad 8. Ek sê vir hom: ‘Broer, hoe laat staan jy in die oggende op?’ Nee, hy klim so vyfuur op die bus. Hy kom van Atlantis af… die pragtigste, oulike kind. Daar is geen broodwinner in die huis nie; daar gaan níks aan nie, maar hy is hier en hy is nétjies.

“Nou sê ek vir hom: ‘Hoe gaan dit met jou akademie?’ Nou dink ek, oukei, seker so 41 %, laat ons maar hoor. Ek vra: ‘Wat is jou gemiddeld nou?’ Hy sê: ‘82’. En sy ideaal in D.F. Malan is om op die top-20 van ons skool te kom. Hy sê vir my hy gáán daar kom; hy het vir my belowe. Hy sê hy sit op die bús en leer in die middag tot in Atlantis. Dit is amper ál tyd wat hy het om te werk, want hy kom donker by die huis. Ek weet nie eers of hulle altyd elektrisiteit het nie.

Of jy lees hierdie:

“Gesie Theron, goed sy het breinkanker ook… sy het hier aangekom uit ’n spesiale skool en sy het vir my gesê sy het hierdie hartsbegeerte om op Hoërskool D.F. Malan matriek te maak en sy wil vier onderskeidings hê.”

Joh onthou die dag van Gesie en haar ma se besoek.

“Hulle het hier gesit. En sy sê toe vir my sy het ’n bucket list (’n lys van dinge wat jy wil doen voordat jy sterf) en dit is op haar bucket list. Ek dink, liewe vader, die kind het breinkanker, sy kan nie ’n díng sien nie, maar sy wil vier A’s hê. Sy het toe (verlede jaar) haar vier onderskeidings gekry.”

Sy vertel van prof. Jonathan Jansen se besoek aan die skool.

“Hy sit toe hier en gesels en hy sê hy sal nou graag van ons kinders wil ontmoet en waar is die hoofleiers. Ek sê toe vir hom hulle is pragtige kinders, maar kom ons vra ’n ander kind. Ek sê ek het nogal ’n oulike dogter hier – Gesie: sy’s heeltemal blind en sy het breinkanker en sy is maar op haar laaste.

“Sy het toe hier aangekom, maar ’n mens moet haar eintlik sien om haar te waardeer. Sy kan niks sien nie, maar sy ken die skool. Sy het báie selfvertroue. Sy gaan sit hierso en sý vat hóm omtrent vir ’n onderhoud, nie hý vir haar nie.

“En daar sê professor Jansen ek moet hom net verskoon, hy moet net gou ’n draaitjie loop. En toe ek úitloop toe staan hy hier buite met ’n groot wit sakdoek, maar hy huil só… Toe dink ek, nee, ou Gesie het hom nou ’n bietjie ore aangesit.”

En dan skaam jy jou morsdood omdat jy gekla het… omdat dit winter is, omdat jy soms jou sente moet omdraai en nie al die mooi goed kan koop wat jy sien nie, omdat jy vroeg moet opstaan om te gaan werk.

Dis soms goed om in die bek geruk te word deur die lees van sulke artikels. Mag ek elke keer as ek weer kla oor onbenullighede ‘n kramp iewers kry, om my te herinner aan hierdie mense wat teen alle teëspoed in net voortbeur en die beste uit die lewe haal!

10 thoughts on “Om te onthou

  1. Slaat jy my nou met ‘n voorhamer tussen die ogies. Ek wou nog altyd iets skryf oor MIRACLES en jy het nou net die muse wakker gemaak. Dankie

  2. Dankie vir die knop in die keel, nee nie sarkasties nie – dis menslike opmerking want sien ons het het ‘n kleindogter met down en sulke stories jaag teen hogere spoed die knop in my keel en my oge in die water.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s