Die Lewe · Musiek

21 November 2011

Ek skuld Die Merrie ‘n storie, maar my Muse het mos so stil-stil saam met die somer ge-AWOL. Klein bliksem! Nie dat ek hom kwalik neem nie. As ek kon, het ek dit self ook gedoen – ge-AWOL nou. Afrika is nie vir sissies nie, maar ek vat Afrika enige tyd bo Winter😈

Nou ja, hier’s my storie – so Muse-loos

Elke jaar op 21 November gaan sy na die kerkie naby haar huis om ‘n kers aan te steek. Twee kerse eintlik. Een vir die Berlynse Muur en een vir Nikita. Elke jaar laat sy haarself toe om vir net een uur in die kerkie te sit en te dink hoe anders dinge kon wees. Wat as? Net EEN uur, een keer per jaar. Om te onthou.

*  *  *  *  *  *  *

Dis ‘n sneeukoue, maar helder November oggend in Berlyn. Dis nou al twee dae sedert die ‘val’ van die Berlynse Muur en Mieke kan haar geluk nie glo dat sy, ‘n vryskutjoernalis, juis nou in Duitsland met vakansie is nie. Eintlik moet sy vir Kobus bedank, want hy kon nie wegkom van die plaas af nie en het haar gevra om in sy plek die groot Landbou Expo te kom bywoon. Sy ís darem immers een van die dae Mevrou Kobus du Toit. Oor minder as ‘n maand, om presies te wees. En dis juis dit wat veroorsaak dat sy hierdie gulde geleentheid nie heeltemal so baie geniet soos wat sy andersins sou nie.

Sy weet nie meer aldag of sy met Kobus wil trou nie. Sy weet nie meer aldag of sy enigsins wil trou nie. Die wêreld is wyd en sy is nog maar net drie-en-twintig. Van sy haar verstand gekry het, was Kobus maar altyd daar, die buurplaas se seun. Die verhouding en verlowing en alles het sommer maar net gebeur. Daar is baie dae, veral vandat sy hier in Europa is, wat sy wonder of daar nie iets meer moet wees nie. Meer opwinding, meer sterre wat verskiet as hy haar soen, meer… sy weet nie eintlik presies wat nie, maar sy weet net dit krap hier binne haar.

Mieke is so ingedagte terwyl sy foto’s van die hordes mense neem wat besig is om stukkies van die muur te probeer afbreek vir aandenkings, dat sy glad nie kyk waar sy beweeg nie en die volgende oomblik tree sy agteruit en haar voet haak vas teen ‘n groot stuk klip en daar trek sy. Sy gryp vervaard na haar kamera, maar voordat sy pens-en-pootjies neerslaan, voel sy net hoe ‘n paar hande haar gryp en mooi netjies terugsit op haar voete.

Dis met die omkyk om dankie te sê, wat haar asem wegslaan. “Kobus?!” Die man se onbegrypende kyk laat haar binne sekondes tot verhaal kom, maar die ooreenkoms is steeds so groot dat sy net kan bly staar. Voor haar staan Kobus se ewebeeld, met die eerste oogopslag, behalwe vir die blou oë. Ysblou oë.

Sy stotter haar dank in haar beste hoërskool Duits uit. Die man bly egter na haar kyk asof sy van ‘n ander planeet af kom en Mieke voel hoe die haartjies op haar arms regop staan. Dan praat hy skielik en dis die mooiste stem wat sy nog ooit gehoor het. Hy laat Duits amper so mooi klink soos Frans, dink sy, en sy wonder hoe daai mooi mond sal soen. Sy skrik so groot vir haar eie gedagtes dat sy glad nie besef wat hy vir haar sê nie en eers toe hy dit herhaal, dring sy woorde tot haar deur.

“Jy het nêrens seergery nie? Jy moet versigtig wees tussen al die mense, dit gaan maar deurmekaar hier. Kan ek vir jou koffie koop, dalk help dit vir die skrik? Jy lyk asof jy dit nodig het.”

Mieke verstaan alles wat hy in sy mooie Duits sê, maar sy is nie gebore in staat om terug te antwoord nie en knik net met haar kop. Hy stel homself bekend as Niki en stuur haar met sy hand op haar elmboog na ‘n klein markpleintjie daar naby. Hier wemel dit van die mense, maar Niki kry gou ‘n tafeltjie by ‘n straatkafee en bestel vir hulle van die geurige Duitse koffie, juis dié waarvoor Mieke so lief geword het die laaste paar dae.

Na ‘n paar slukkies koffie, kry sy darem haar stem en haar ou chutzpah terug en kort voor lank gesels sy en Niki asof hulle mekaar al jare ken. Sy sien dat hy kort-kort na die verloofring aan haar vinger kyk, maar hy vra nie uit nie. Hy vertel haar dat hy eintlik van Oos-Berlyn af is, dat hy ‘n kunstenaar is – hy skilder en hy skryf – en dat hy dalk nou uiteindelik n uitgewer in die Weste sal kan kry vir sy boeke.

Dan nooi hy haar om die volgende dag saam met hom Oos-Berlyn te gaan verken. Sy kan nie wag nie en dink aan al die wonderlike foto’s wat sy sal kan neem. Die volgende oggend vroeg kom laai Niki haar op by haar hotel en hulle gaan reël ‘n aanpassing van haar visa, sodat sy Oos-Berlyn kan binnegaan. Al is die grensposte nou oop, is daar tog nog maar sekere burokratiese ‘red tape’ en Mieke wil eerder die regte kanale volg. Dit sal beslis nie pret wees om dalk dae lank in Oos-Berlyn vasgekeer te wees nie. Later sou sy wens dat sy tog maar daar kon agtergebly het.

Sy en Niki maak elke dag nuwe planne en saam met hom leer ken sy die hart van Oos-Berlyn. Die vonk tussen haar en Niki word al hoe sterker en drie dae na hulle ontmoeting trek hy haar een middag styf teen hom aan en soen haar eers saggies en toe al hoe meer intens. Vir die eerste keer sien Mieke die sterre en hoor sy die klokkies waaroor sy nog altyd gewonder en gedroom het. En weet sy dat sy nie ooit met Kobus sal kan trou nie.

Die dae wat volg word dae wat Mieke vir die res van haar lewe onder haar hart sal dra. Haar kaartjie terug Suid-Afrika toe is bespreek vir die middag van 22 November en sy en Niki haal verbete alles uit elke dag saam. Die aand van die 20ste gaan sy saam met hom en sy beste vriend, Klaus, en die se verloofde na ‘n restaurant in Wes-Berlyn en dis hier waar Niki op sy knieë gaan en haar vra om terug te kom Duitsland toe, om hom ‘n kans te gee om haar te wys dat hy haar ewig lief sal hê, om in die toekoms sy vrou te word.

Mieke het nooit gedink mens kan so gou so lief word vir iemand nie, maar sy weet ook dat wat voorlê nie ‘n maklike tyd gaan wees nie. Sy sal moet teruggaan na haar mense en gaan verduidelik en dan hoop hulle gee Niki ‘n kans. Hy sal moet kom kuier in Suid-Afrika, sodat haar ouers hom kan leer ken. Dit gaan nie maklik wees nie. Sy verduidelik dit vir hom, maar belowe dat sy sal terugkom, ongeag wat haar familie se reaksie is.

Dis eers baie laat daardie aand wat hulle die restaurant verlaat en Niki neem haar hotel toe. Hy kan ongelukkig nie by haar bly nie, want hy het die volgende oggend baie vroeg ‘n afspraak met ‘n uitgewer. Hy belowe egter dat hy iets spesiaals vir haar het vir hulle laaste aand saam en hy hou haar styf vas en soen haar ongewoon lank voor hy omdraai en wegstap. Dis met ‘n swaar hart wat Mieke daardie nag rondrol in haar bed. Dit wat vir haar in Suid-Afrika wag, druk donker op haar gewete, maar sy weet ook dat daar geen manier is wat sy met Kobus kan trou nie.

Die volgende oggend is haar kop dof en seer en sy is net klaar aangetrek toe daar ‘n klop aan haar kamerdeur is Sy wonder vervaard of Niki dan so vroeg al terug kan wees van sy afspraak. Dis egter Klaus wat daar staan toe sy die deur oopmaak. Sy geradbraakte Engels klink nog erger en vir oomblikke kan Mieke glad nie hoor wat hy sê nie en dan kom dit van ver af na haar aan, asof sy onder water is.

“I am sorry, Mieke. Nikita was in an accident last night. He did not make it.”

Nee, nee, nee!!! Dit skree in haar, maar daar kom nie ‘n geluid by haar mond uit nie.

Dit word ‘n nagswart dag vir Mieke. Sy dring daarop aan dat Klaus haar saamneem om Niki se liggaam te gaan uitken. In ‘n koue, steriele vertrek neem sy afskeid van die man wat sy in so min dae so oneindig liefgekry het. Sy neem sy koue hand in hare en streel vir oulaas oor die halfmaan geboortevlekkie op sy duim. Toe sy daar uitloop, weet sy dat hierdie dag ‘n waterskeiding in haar lewe sal bly.

Die volgende dag vlieg sy terug na sonnige Suid-Afrika, maar dit bly winter in haar hart, selfs toe sy op 2 Desember voor die kansel staan. Dis eers toe sy die volgende jaar op ‘n koue, nat Augustus-oggend haar pasgebore dogtertjie vashou, wat die ys om haar hart bietjie vir bietjie begin smelt. ‘n Pragtige donkerkop dogtertjie wat op ‘n druppel water soos haar pa Kobus lyk, behalwe vir haar ma se blou oë, dink Mieke. En die halfmaantjie op haar duimpie.

*  *  *  *  *  *  *

Die son skyn verblindend helder toe Mieke by die kerkie uit stap. Sy skrik toe Nikita skielik voor haar staan.

“Wat maak jy hier?”

“Ek het geweet ek sal Ma hier kry, dis mos weer 21 November. Ouma sê jy moenie vergeet om haar te kom haal nie. Sy wil nog blomme op pa se graf gaan sit voor ek en Ma vanaand Duitsland toe vlieg.”

“Ai, Ouma weet mos ek sal haar nie vergeet nie. Kom, laat ons loop, dit is koud binnekant die kerkie. Ek het nodig dat die son my warm maak.”

“Gaan Ma my eendag vertel vir wie jy elke jaar ‘n kers kom brand?”

“Ja, my liefkind. Eendag sal ek jou vertel. Dalk vroeër as eendag.”

Die liedjie wat ek gekies het:

 

17 thoughts on “21 November 2011

  1. Die datum het my oog gevang en jou storie het my hart gevang. Ek weet nou hoekom ek lief is vir lees. Dis omdat ek ewig soekend is na perfekte stories. Amper soos ‘n ou wat gholf speel en ewig op soek is na ‘n goeie hou. Vandag het jy ‘n “hole in one” geslaan. Dankie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s