Ongeklassifiseerd

Vlieg hel toe Mnr Villet

Ek lees vroegmôre HIERDIE BY WOSONKI en ek is sommer dadelik wit bebliksemd. Maar ek het geleer mens slaan nie jou kind as jy kwaad is nie, so ek loop eers halfdag lank en dink ek gaan afkoel. Toe nie. So, nou kom kots ek maar my gal hier uit op my eie werf. Wees gewaarsku – die skrywe is nie bevorderlik vir Loftus-siete, Bloubul-liete of enige diesulkes wat dink God bly in Pretoria, saam met die laaste buitepos van Afrikaners en Afrikaans nie.

“Die Afrikaner het die mag wat hy met die nuwe regering verloor het nou op Loftus Versfeld gevind.” – Can you handle it! Hoekom verklaar julle nie sommer net Loftus Versfeld as ‘n Afrikaner tuisland en dan trek al julle verkramptes en sogenaamde ‘Afrikaners’ daar laer en bly vir fokkin ewig daar? In die Republiek van Loftus. Ek is seker ons ander Suid-Afrikaners kan ewe goed rugby gaan kyk by Soweto se stadion. Of elders.

Ek word so kwaad dat ek wit kolle voor my oë sien. Hoe verwronge moet iemand se uitkyk wees om te dink, en ek haal aan: “Loftus Versfeld, die Blou Bulle en Bulls se tuisveld, is die een plek waar Afrikaners nog in beheer is.” In beheer van WAT presies?

As dit nie so verdomp siek was nie, kon die ou se gedagtes dalk snaaks gewees het. Goddank hy het dit nie van Nuweland gesê nie, want dan het ek my voete NOOIT weer daar gesit nie en ek HOU daarvan om Nuweland toe te gaan. Ek hou ook daarvan om rugby te kyk, maar ek het die vet weet nie daardie tipe rugbymentaliteit nie.

“Loftus is die vernaamste simbool van rugbymentaliteit en waarskynlik dié plek in die land wat Afrikaner-identiteit se openbare beeld in postapartheid Suid-Afrika verteenwoordig.”

So al ons ander sportstadiums, al ons ander provinsies, al ons ander mense in die land wat nie Loftus-siete is nie – ons het geen Afrikaner-identiteit nie?! Mnr Charles Villet vlieg in jou bliksem in, met komplimente.

Ek kan nie eers glo ‘n koerant publiseer sulke snert nie.

Mnr Villet, jy het ‘n studie gedoen oor die rol wat rugby in Afrikaners se lewens speel en hoe baie Loftus as ’n museum en monument sien. WIE is daai baie? HOEVEEL is daai baie? In effek negeer jy elke liewe mens, wit, bruin of watter kleur ookal, wat Afrikaans praat en elders in Suid-Afrika woon. Wat hulself ook as Afrikaners beskou, wat in Afrikaans skryf, dink, sing, vry en bly. En rugby kyk, al is dit nie op Loftus nie!

Ons wil juis NIE elke rugbywedstryd gebruik as ‘n skakel tot ons ‘skandalige’ verlede nie. Dis alreeds agtien jaar later – en ons sal seker nog 18 maal 8 jaar vir die sondes van die apartheidsvaders betaal, maar laat die verlede waar hy hoort – en dis nie op Loftus nie!

“By ’n stadion kan dinge gedoen word wat nie aanvaarbaar is in ’n beskaafde samelewing nie, soos patriotiese aggressie en openbare dronkenskap.” – is jy net dom-onnosel, stiksiening, of heeltemal mal?! Patriotiese aggressie en openbare dronkenskap is NIE aanvaarbaar nie, ook nie op openbare stadions nie. En enige iemand wat dink dit is, het minder opvoeding as ‘n kakkerlak! Good Grief!

Rugby het ‘n groot aanhang onder Afrikaners, ja. Maar nie NET op Loftus nie. Daar is Nuweland, die Vrystaat stadion in Bloemfontein, die Boland stadion in Wellington, Ellispark in Johannesburg, om maar net ‘n paar te noem. Die mense wat hierheen gaan is OOK Afrikaners, praat OOK Afrikaans. Of dink jy, Mnr Villet, omdat ons Kapenaars nie destyds os, esel, diensmaagd en dienskneg opgepak het en noordwaarts getrek het, het ons ons Afrikanerskap en Afrikaanswees vir die Loftus-siete present gegee? I don’t think so.

Ek bly in Stellenbosch, Mnr Villet. Hier praat die meeste mense nog Afrikaans, Mnr Villet. En die universiteit is Afrikaans, Mnr Villet. En ons is trotse Afrikaners en Afrikaanses. En te hel met jou, Mnr Villet.

Ons braai ook naweke vleis, Mnr Villet. En dan praat ons in Afrikaans met mekaar, selfs met ons anderskleurige vriende, wat ons ook na ons braaivleis toe nooi. Ons probeer vergeet van apartheid, want maak nie saak hoe enige witmens dit inkleur nie, dit was VERKEERD. So, ons probeer ons Afrikanerskap en Afrikaanswees uitleef sonder om onsself weereens as die superieur ras te beskou. Ons stem vir die DA hier in die Kaap, Mnr Villet, want ons stem vir beter regering. Ons kla ook oor die ANC regering hier om ons braaivleisvure, maar ons verlang nie terug na apartheid nie, want ons het elkeen ‘n brein. Ons verlang net na ‘n regering wat WERK, vir alle rasse en alle tale.

Ons is Afrikaners en ons is Afrikaans – in Stellenbosch, in Port Elizabeth, in Bloemfontein, in Beaufort-Wes, in Johannesburg, in Nelspruit, in Durban, in Welkom, in Saldanha, in Springbok, in Vredendal en ja, ook in Pretoria. Maar nie NET in Pretoria nie, Mnr Villet. Nooit NET in Pretoria nie, en veral nie NET op Loftus nie..

En ja, dankie Jaco, jy sê dit so mooi – “Loftus is hopeloos te klein ‘n boksie om die Afrikaner as ‘n geheel te probeer inprop.”

Vlieg hel toe Mnr Villet!

18 thoughts on “Vlieg hel toe Mnr Villet

  1. Great stuff. Ons het nie nodig om altyd net stil te bly oor sulke snert nie. Ek reken die ou wou hooggeleerd klink. Hy dink seker ook dat alle mense wat afrikaans praat ook hulle kinders toelaat om in die tuin te pie omdat sy 9 pelle wat by hom braai op Vrydae aande (op kameeldrolle) sy townhouse tuin soos ‘n publieke toilet laat ruik.

    Hy reken dan seker ook alle afrikanermans slaan hulle vrouens omdat hy dit seker doen. Hoe anders sal ‘n vrou dan toelaat dat haar man soveel stront verkoop in die openbaar as sy nie vir hom bang is nie.

    Nee man mnr Villet, word wakker.

  2. “By ’n stadion kan dinge gedoen word wat nie aanvaarbaar is in ’n beskaafde samelewing nie, soos patriotiese aggressie en openbare dronkenskap.”
    Dit is presies hierdie ding wat my lang draaie om “Afrikaners” laat loop. Moet mens banaal wees om jou Afrikanerskap te bewys? Shame, die man sit nog vas in sy pubertydsjare. Hy is nog nie mens nie.

  3. Ag, die arme ou mnr Villet probeer ook maar sommer soos ander onoorspronklike losers”shine” vang deur die holruggeryde rassekaart te speel en te hoop iemand lewer kommentaar en maak hom beroemd. Ignoreer die simpleton en luister liewers na iemand met bietjie oorspronklikheid, soos bv Nataniel of Pieter dirk Uys

  4. Kyk eks het gedink ek laaik die ou na Wosonki se post niks maar boeta toe ek sien jou moer is goed gekoer toe lag ek sommer lekker.
    As daar een woord is wat ek van die hedendaagse jeug haat is dit die woord “whatever” … ek moet net vir ou Villetjie sê “Whatever tunes your engine” …lol
    Wat Mnr. Villet nie aan gedink het nie is dat Afrikaans skielik ‘n taal geword het en nie net ‘n kommunikasie middel soos jare terug nie.
    Eks trots ‘n Afrikaans sprekende Afrikaner, Afrikaner (African)medende van Afrika in Afrikaans.

  5. Kyk hier, ek het nou hard en lelik gelag! My swaer, wat hier langs my sit en probeer werk kom hoor toe hoekom ek so le en rol van die lag(pyn). EK lees toe vir hom die stukkie hier bo – hy se toe hy brand onmiddelik sy Blou Bul trei, en koop vir hom soma more ‘n Stormers een! Nee, die Villet ou het iets gerook toe hy daai stuk pot snot geskryf het…

  6. “Loftus is die vernaamste simbool van rugbymentaliteit en waarskynlik dié plek in die land wat Afrikaner-identiteit se openbare beeld in postapartheid Suid-Afrika verteenwoordig.”

    Ek beter vir myself ‘n stel horings gaan koop en blou ballas aan my kar loop hang – anders is ek nie ‘n Afrikaner nie, maar ek’s klaarblyklik eintlik klaar in my moer in wat my Afrikaner identiteit betref – ek kyk glad nie rugby nie!

    WTF.

  7. Blikses het ek nou lekker gelag. Al wat jy moes bygesê het was toe die heer Andries Pretorius sy ossewa waar Kerkplein vandag is tot halt geroep het was die touleiertjie en kombuis personeel swart – amaXhosa uit die Oos-Kaap uit, so waar kry die spul Vaalpense hulle idee van ‘n suiwer Afrikaner staat vandaan gaan my verstand te bowe. Boonop Afrikaans was toe nog nie eers ‘n taal nie – hulle het geradbraakte Nederlands gepraat en ag ek kan dorp toe gaan met teë argumente. Maar ek het lekker gelees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s