Gedagtes

Sielsalwende stlite

Dis laatmiddag en hier waar ek sit hoor ek niks. Ja, ver weg is daar die suis van bande op ‘n pad en buite waai die wind, maar rondom my is dit stil. ‘n Sielsalwende stilte.

Daar is sekere dinge en mense in die lewe wat ek nog nooit mooi kon verstaan nie. Iemand wat in sy huis sal instap en onmiddellik die radio aansit. Of die TV. En maak nie saak wat die persoon die res van die tyd doen nie, die radio of TV sal aanhou speel, sonder dat iemand werklik daarna luister. Dis soos “white noise”. Ek dink dis daar sodat die persoon nie moet dink nie, nie alleen met sy gedagtes hoef te wees nie.

Of iemand sal die oomblik as hy in sy motor klim, sy radio of CD-speler aanskakel. En eers weer afskakel wanneer hy uitklim.

Natuurlik luister ek radio in my huis, of kyk TV, of luister musiek in my motor. Of by my huis. Maar daar is ook tye wat ek in doodse stilte in my motor ry, wat ek sommer net met my gedagtes saam ry, of net ‘n slag luister of alles in die enjin nog reg klink en loop.

En daar is tye wat ek ‘n hele dag alleen by my huis sal wees en nie een keer die radio of TV sal aanskakel nie. Ek sal lees, of huis skoonmaak of kos maak. En ek sal dink. In stilte. Want soms het my siel daardie salf van stilte nodig om net weer my liggaam in te haal.

As mens by jou deur uitgaan, word jy omring deur klank. Dis motors wat om jou raas, dis toeters en enjins. By jou werk is dit rekenaars se gesuis, stemme se gedruis, telefone se gelui, voetstappe op en af, deure oop en toe, teekoppies wat klingel. Dis net NOOIT stil nie.

Toe ek Karoo toe is, het ek op die pad tussen Beaufort-Wes en Aberdeen stilgehou, die motor afgeskakel en uitgeklim. En geluister. Na die stilte. Dit het ‘n paar oomblikke geneem en toe voel ek dit. Die swaar gevoel op my skouers het stadig gelig en toe weggeval. Skielik het ek makliker asemgehaal, asof my longe groter geword het. Ek het selfs beter gesien, alles het helderder geword en skerper uitgestaan. Want dit was stil, soos in heeltemal, genadiglik  stil.

Ek verstaan nie mense wat net nooit stilte om en in hulself nodig het nie. Ek hou ook daarvan om te kuier, ek is lief vir dans en ek is mal oor musiek, maar daar kom ‘n punt wat ek weet my siel soek nou van stil wees. Waar ek nie wil praat nie, nie wil hoor nie. Net wil wees. Wil asemskep in ‘n stilte so groot soos die Namibwoestyn. Alleen. Sodat ek nie myself verloor nie.

19 thoughts on “Sielsalwende stlite

  1. Ek hou ook van ‘n bietjie stilte. Soms staan ek soomer ‘n uur of twee vroer op net om ‘n bietjie dink tyd vir myself te kry vooe die gejaag en geraas begin.

  2. Ek is een van daardie mense wat die heeltyd geraas om my het. Ek sal enige dag deur die Namib toer, mits my CD’s / MP3’s reg is. Ek sal deur ‘n bos loop sonder musiek, maar net omdat ek oorfone haat. My huis is net stil wanneer ek gaan slaap en tot ek opgestaan het.

    En nee, ek is nie bang vir my eie gedagtes nie. My kop is in elk geval nooit stil nie, ek is die heeltyd besig om iets te bepeins of te ontleed nie. Met of sonder agtergrond geraas.

  3. My TV by die huis is slegs aan wanneer ek TV kyk. DIe radio luister ek in die kar en in die kantoor. Ek hou van stilte.

    Dis erg steurend as mens ontspan in die stilte van die bosveld/kus en iemand voel absoluut genoop om sy radio kliphard te jol sonder om ander in ag te neem. Omdat hy nie die stilte kan verdra nie.

  4. Ek vind hoe ouer ek word, hoe meer betrap ek myself dat ek nie die radio aansit in die kar nie. Ek het nie ‘n TV nie, so dit is in elk geval nie ‘n opsie nie. (Wel, ek het ‘n TV, hy werk net nie, kon hom nog nie ingestel kry nie, en gee ook nie eintlik om nie :))

  5. Ek het so twee jaar terug ‘n praatjie van Gordon Hempton bygewoon. Hy het die boek One Square Inch of Silence geskryf. Hy is ‘n akoestiese ekoloog en beywer hom vir stilte, oftewel spesifieke areas waar daar geen mensgemaakte klank mag wees nie. Sy missie in die lewe is om mense bewus te maak van die feit dat ons omgewing al hoe meer raserig word en dat selfs verafgeleë stukke natuur “besoedel” word met mensgemaakte klank soos vliegtuie wat daaroor vlieg. Hy is nie teen mensgemaakte klank nie, maar wil graag regulasies sien wat sekere dele van ons natuur bewaar daarvan.

    Interessante man. Interessante missie.

    Hy reis orals met gesofistikeerde klank-opname masjinerie en Hollywood maak gebruik van sy biblioteek klanke as byklanke vir hulle flieks. Omdat klank so ver trek, het ‘n mens letterlik kilometers se stilte nodig om een vierkante duim se “stilte” te kan opneem. Vandaar die naam vir sy boek.

    Alhoewel ek elke dag met klank werk (meer spesifiek, met die patologiese afwesigheid daarvan), het sy praatjie my weereens laat besef hoe kosbaar stilte is. Wat net soos jy, recharge ek soveel beter in stilte!

  6. Ek hou van die hol-kol en hoendervleis wat regte-egte stilte my gee – soos om op ‘n Donderdagoggend in ‘n groot, lëe kerk in te stap en (skelm) aan die orrel te vat en op die preekstoel te klim.

  7. In my huis is daar altyd twee radios aan, een in die sitkamer en een in my wederhelfte se studeerkamer/kantoor. Hoekom weet ek nie regtig nie maar ek vermoed dat El nie in ‘n stil huis kan wees nie.
    Ek gaan dit bietjie toets en kyk wat gebeur as ek die radios afsit …

  8. ek kon dit netsowel self geskryf het. Verlede jaar was ‘n swaar jaar vir my en ek het byna nooit die radio aangesit nie. Dit was heelik op so alleen in die stilte(vrede?) te wees. toe ek dit een aand wal doen, en die pragtige ligte klassieke musiek VAN U eie Keuse hoor, dink ek mos toe :”ag, ek kan al die goed en het dit al honderde kere gehoor” en sit toe die radio af! Stilte was beter> Maar nou is ek beter en musike nou en dan is ook pragtig.

  9. O jinne – dis lekker om te weet daar is nog mense wat so is. My tenkie raak vol wanneer ek alleen is en wanneer daar stilte is, maar o wee – ek moet behoorlik veg om dit reg te kry. Ek probeer ook vir my man se kinders se hulle hoef nie dadelik na die TV toe te storm en dit aan te sit wanneer ons by die huis kom nie. Ons was vanmiddag in die “mall” gewees en na so ‘n trippie by die mall, wil ek net stilte he, maar dis maar moeilik in die stad.

  10. Well said! Ek het ook soms stilte nodig. MaanMan soek white noise heeldag, maar luister na niks, hoewel dit hom hinder as die white noise iets is waarna hy nie wil luister nie.

  11. Weet presies wat jy bedoel.
    Ek sit gewoonlik die karradio af wanneer dit reën en ek moet ry.
    En by die huis, in die eetkamer, my ouma se ou skroptafel, ‘n kers en ‘n boek – wat meer het mens nodig😉

  12. Ek is 100% met jou op hierdie een Vuurtjie. Ek het gereeld hierdie stilte waarvan jy praat nodig, om na ‘n ander stem te luister wat so maklik deur die gedruis van die dag-tot-dag se lewe gesmoor word. Ek het nogal ‘n idee dat jy ook soms die stilte gebruik om na daardie stem te luister.

  13. Ek kan dit net so min verstaan dat mense in die woud gaan stap met oorfone aan, van die mooi klanke in die bos hoor hulle niks nie. Ek hou nie daarvan dat ander stemme en klanke gedurig in my brein vroetel nie.

  14. Was jy al in die Vallei van Verlatenheid buite Graaff Reinet? Daar hoor jy die STILTE met dawerende gedruis in jou ore!

  15. I completely agree with you. The times that I’m alone at home I very seldom ever put the tv on. I might have soft music in the background or just quiet. I think its the upside about our power failures, the silence is wonderful.
    *hugs*

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s