Die Lewe · Gedagtes

InterKaap bus-nagmerrie

My dogter-hulle was op soek na ‘n nuwe bakkie en loop ‘n winskopie in die Paarl raak, via die Internet. Die vangplek is egter dat hulle in die Karoo sit en die verantwoordelikheid om die bakkie te gaan bekyk en toetsry kom val op my skouers. Ek is egter gelukkig heel “car wise” en twee Saterdae gelede hak ek die koop namens hulle deur. Ongelukkig kom hulle toe net terug van verlof in Oos-London en dit gaan lol om weer verlof te kry om die bakkie te kom haal hier in die Kaap. En dis waar ek die blink idee kry om die bakkie Karoo toe te vat en dan met die bus terug te kom. Ek het meer as 15 jaar gelede laas bus gery en dink dit gaan ‘n lekker avontuur wees. Het ek maar geweet!

Ek kuier ‘n heerlike twee dae in die Karoo en Donderdag pak ek maar hartseer my een rugsakkie – sien, vrouens kan ook lig reis as hulle weet hulle moet! Ek het absoluut net die nodige ingepak, want ek wou sommer my bagasie by my hou in die bus. Ons was al in Graaff-Reinet, waarvandaan die bus om 18h40 sou vertrek, toe ek ‘n sms van InterKaap kry – die bus sal 45 minute laat wees. Die sms ontvang ek om 17h10. Ek en Megan gaan sit toe rustig by ‘n koffiewinkel en teen 18h15 besluit ek om die InterKaap te skakel en net weer seker te maak hoe lank die vertraging is. Dis toe dat hulle my meedeel die bus het op Queenstown gebreek en het nou eers uit Cradock vertrek – die huidige vertraging is 1 uur en 40 minute!

Ek dring daarop aan dat Megan huis toe gaan, dit word donker en die paaie is eensaam in daardie geweste, met wild wat oor die paaie hardloop in die donker. So bly ek toe agter en sit maar rustig in Dorego’s en wag vir die bus. Om 20h10 kom hy uiteindelik daar aan en ek is net te goddank bly om oppad huis toe te wees om nog te veel omgekrap te wees.

Die bus is nie vol nie en elke persoon het ‘n oop sitplek langs hom of haar. Ek sien die vier sitplekke heel agter in die bus is nog oop en ek gaan maak myself lekker tuis daar. So vertrek ons – die roete is Willowmore – Oudtshoorn – George – Mosselbaai – Swellendam – Riviersonderend – Somerset-Wes – Bellville – Kaapstad.

Die bus ry mooi en na Oudtshoorn probeer ek bietjie slaap. Dis egter nie so maklik nie, al het ek die hele agterste ry vir myself. Ek leer ‘n paar dinge in my gesukkel om my lê te kry.

Om heel agter in die bus te sit is glad nie so ‘n goeie idee nie, want jy sit amper bo-op die enjin en dit raak WARM. Daar kom sulke warm luggolwe opgestyg na waar my neus is.

Om oor twee sitplekke, die gangetjie en nog ‘n sitplek te probeer slaap, werk nie so lekker vir my nie, want ek is mos kort. As ek nie my een been dood lê nie, dan bly my been afgly in die gangetjie in. Nie bevorderlik vir slaap nie!

As ek op my regtersy lê is ek langer as op my linkersy. Moenie my vra hoe dit werk nie, glo my net. Op my linkersy kom my een been glad nie aan die anderkant van die paadjie by nie, op my regtersy lê ek amper gemaklik met altwee bene oor die gangetjie.

Dit RAAS agter by die enjin, dit klink heeltyd soos die binnekant van ‘n vliegtuig!

In elk geval, iewers moes ek wel ingesluimer het, want ek word wakker op George en twee mense kom eis die twee sitplekke aan een kant agter op. Ek het darem toe nog ‘n oop sitplek langs my. Die een man lyk nie baie gelukkig nie en toe hy sien ek kyk vir hom, vertel hy my die bus is twee ure laat. Ek is verbaas, want gewoonlik maak die busse mos hulle tyd op, hulle loop nie nog meer laat nie. Ek roep die buswaardin en vra haar of ons iewers dalk ons tyd gaan opmaak en sy vertel my nee, ons gaan heel waarskynlik NOG later hardloop, want daar is padwerke vorentoe tussen Riversdal en Riviersonderend wat ons verder gaan vertraag.

Daar is nie veel wat mens aan so ‘n situasie kan doen nie en ek probeer maar weer ‘n slapie inkry, want ek moet direk van die bus af werk toe gaan Vrydagoggend. Op Swellendam word ek weer wakker en besef onmiddellik ons staan stil, maar dis nie by ‘n gewone busstop nie. Ek kyk by die agterruit uit en sien daar is nog ander swaar voertuie wat daar rondstaan. Agter ons bus staan nog ‘n InterKaap bus en ek besef dat passassiers van daardie bus af besig is om oor te klim op ons bus. Die buswaardin klim weer in en tel al die oop sitplekke op ons bus en gaan toe uit na die ander bus en ek sien hoe sy met haar vingers wys daar is nog plek vir 6 mense op ons bus.

So kry ek toe ‘n mede-passasier langs my. Ek vra hom hoekom klim hulle oor op ons bus en hy vertel my dat hulle bus glo oorgewig is en nie die weegbrug geslaag het nie. Hulle bus kom van Umtata af en is ook oppad Kaapstad toe. Ek is sommer lekker omgekrap en roep weer die buswaardin en die gesprek loop min of meer so:

Ek: “We are already late, now you are delaying us even more by picking up passengers from another bus because that bus was overloaded. Why? That bus should never have been overloaded and now it is becoming our problem?”

Sy: “What do you expect us to do, leave their passengers at the side of the road? We have to assist each other.”

Ek weet sy is seker reg, maar ek voel steeds nie baie gelukkig nie, maar hou my mond.

Na ongeveer 20 minute vertrek ons en ons was seker nie eers 5 kilometer weg nie, toe die buswaardin weer om kom en vir die nuwe passasiers vra of hulle by die volgende stop wil teruggaan na hulle oorspronklike bus toe. Dis toe wat ek myself nie kan help nie.

Ek: “Excuse me, Miss, but how can they go back to their own bus? Then it will be overloaded again?!”

Sy: “Yes, but it just needed to pass the weighbridge. They can go back now if they want to.”

Ek: “You must be kidding me! That is illegal.”

Sy: “Why are you upset, Madam. It is NOT illegal. We do it all the time. And the bus is not overloaded with passengers, just with baggage. All the bus companies do it. Greyhound does it, Translux does it. And the personnel at the weighbridge is aware of this, they are from the government, they will not do anything illegal!”

Ek moet my hand vat en my mond toedruk, want dit val letterlik oop van verbasing. Ek is vir oomblikke nie seker of sy die gek skeer, haarself glo, dalk werklik glo dis nie onwettig nie of net stom-dom-onnosel is nie.

Ek: “Excuse me, Miss. Let me just understand this correctly. You, I mean the bus company, allows the buses to be overloaded and at the weighbridge passengers and baggage get shifted around to pass the weighbridge and the people working the weighbridge KNOWS this and none of you people thinks this is illegal and then afterwards the bus can drive again with its overload?!”

Sy; “Yes, Ma’am, that is correct.”

Ek: “Do you know that it is unsafe to drive an overloaded vehicle, never mind with what it is overloaded?”

Sy: “You really don’t have to worry. Our drivers are the best. They get trained to drive overloaded buses.”

Ja, ek weet – ABSURD! As ek nie geweet het ek is wakker nie en almal in die bus nie reeds vir my gekyk het nie, sou ek kon dink ek droom hierdie absurde gesprek.

Ek: “You know what, Miss, I don’t want to discuss this with you anymore. You may believe what you like, but what happened here tonight is illegal and I will take it up with the correct authorities when I get home.”

Sy: “I really don’t understand your attitude and why you are upset. We are very sorry about the delays, but we have not done anything illegal. I am the face of InterCape and I do not want an unhappy passenger on my bus and I do not want you to be upset.”

Ek: “Miss, nothing in the world you can do right now is going to make me UN-upset, so I think you better just leave me alone.”

Hierna het sy my uitgelos, tot op Riviersonderend. Toe ek daar afklim om toilet toe te gaan, keer sy my voor en begin weer die gesprek. Ek moes haar egter kortknip, voor ek haar aanrand en boonop my broek net daar natmaak. Die detail van daardie gesprek sal ek julle spaar. Daarna het sy my in vrede gelos.

Toe ons Somerset-Wes binne ry, kondig sy af dat dit ons voorlaaste stop sal wees. Ons laaste stop sal Kaapstad wees en die mense wat ‘n kaartjie Bellville toe gekoop het, kan, as hulle in Kaapstad kom en dan nog wil Bellville toe gaan, die volgende bus terugneem tot op Bellville! My goedere fok! As mens ‘n kaartjie Bellville toe koop, dan wil jy nie Kaapstad toe gaan nie! En die bus is toe meer as 2 ure reeds laat, m.a.w. dit was Vrydagoggend net na agt. Kan jy jou die verkeer indink Kaapstad toe daardie tyd van die oggend? InterKaap kan so bitterlik bly wees ek het nie ‘n kaartjie Bellville toe gehad nie, want dan het ek daardie bus uitmekaar gebreek!

Intussen het ek die hele saga rapporteer. Eers aan hellopeter.com, maar InterKaap is nie ‘n maatskappy wat terugvoering gee by hellopeter nie, al het hulle reeds 68 klagtes teen hulle hierdie jaar. Ek het ook die storie aangegee by Carte Blanche en ook die hele storie vir Special Assignment ge-inbox.

Daar is nie ‘n manier wat ek hieroor gaan stilbly nie. Volgende is die koerante. Ek sal aanhou en aanhou totdat iemand my hoor, want hierdie busmaatskappye speel met mense se lewens. Mense wat nie ander vervoer het nie, wat hulle lewens in die busbestuurders se hande sit en die busmaatskappye vertrou om hulle veilig na hulle bestemming te neem! Dis meestal mense wat nie die keuse van hulle eie vervoer het nie en hulle verdien om in veiligheid vervoer te word. Hulle betaal immers daarvoor, dis nie asof die busmaatskappye hulle ‘n guns doen nie!

NS: Wat ek vergeet het om ook te noem, is dat my dogter ook al ‘n paar keer met InterKaap gery het en elke keer as sy meer as 20 kilogram bagasie by haar gehad het, tien rand per kilogram ekstra gewig moes betaal en GEEN kwitansie daarvoor ontvang het nie. Dit verduidelik moontlik hoekom die busse oorlaai word en die vraag is, waarheen gaan daardie geld?!

29 thoughts on “InterKaap bus-nagmerrie

  1. Shalom! Ek staan op die punt om n plek te bespreek Springbok toe. Kom toevallig op al die skrywe. Ek erken glad nie die diens soos beskrywe deur julle nie. Gebruik dikwels interkaap tussen Springbok en Windhoek. Of Springbok en Belleville. Het tot op datum net hoflikheid en aandag geniet. Net een keer is ek bang vervoer deur n bestuurder wat roekeloos te vinnig gery het. Ek het by aankoms in Windhoek n vermaning ingedien. Ek het baie goeie terugvoer gekry.
    Miskien moet al die klagtes eers op sy geskuif word en tyd spandeer word in gebed vir beskerming van voertuig en bestuurders en assistente.
    Dan kan mens terug sit en die rit geniet in skoon en gemaklike sitplekke?! Ek is in 1933 gebore in grootdepressie tyd. So miskien is ek meer dankbaar vir wat ek vandag kan bekostig. ?

    1. Dit was regtig ‘n eenmalige keer. Ek moes seker al gesê het. My dogter het verskeie kere na hierdie episode weer van InterKaap gebruik gemaak en ons het elke keer uitstekende diens gekry. Jy kan met ‘n geruste hart reis🙂

    2. Ek wil net byvoeg, ek het ook onlamgs ‘n briefaan hulle gestuur om dankie te sê vir hul baie goeie diens die afgelope tyd en vir die bestuurders wat my met ‘n geruste hart my kind in hul hande laat reis het.

    1. My meisiekind ry binnekort weer met die InterKaap. Ons het ons ammunisie reg hierdie keer. Want met net my woord teen die busdrywers en waardin, kom ek nou nog nêrens nie. Special Assignment het aanbeveel dat ek ten minste ‘n opname of foto’s moet kry. Wel, kom ons kyk👿

  2. So ‘n halfuur gelede het InterKaap se operasionele bestuurder, Mnr Pedrie Grobler, my gebel om te sê dat die saak deeglik ondersoek word en dat daar geensins van sulke praktyke gebruik gemaak word nie en indien daar enige waarheid in steek, sal daar opgetree word teen die skuldiges. En dat ek op hoogte gehou sal word. Nou kom ons wag en kyk.

  3. flippen ongelooflike storie, wat ongelukkig nie net ‘n storie is nie, maar realiteit.
    T.I.A., maar ek sal ook eerder probeer dink mens kan dit verander.

  4. Genade! Die dinge gaan darem agteruit! Hier in Europa as bus ongeluk het dan is dit omtrent drama en bestuurder kan selfs tronk toe. Afrika is die lewe so goedkoop soos gebruikte kondoom. Mens kan seker nie veel beter verwag nie.
    Self lekker gelag vir jou storie.🙂

  5. Ek kan nie glo dat daai buswaardin glo dis reg nie😯 en dan met jou staan stry daaroor. Moenie stilbly nie want wragtig met so houding gaan hulle nog baie mense vir ewig stilmaak.

  6. Son, die saak is ernstig…. baie, en ek hoop daar gaan iets van kom. Sal jy my egter baie verkwalik dat ek hardop vir jou vertelling gelag het? Ek hou mos maar nou eenmaal van stories en hoe karakters met mekaar omgaan.

    1. Toemaar Kameel – ek het self lag gekry na die tyd. Op een stadium toe die waardin my so ewe verseker die busbestuurders is opgelei om oorlaaide busse te ry – het ek begin rondkyk of ek nie dalk op ‘n Leon Schuster fliek is nie!😆

  7. Skrikwekkend. Ek hoop een van die plekke by wie jy hulle aangekla het, gaan dit verder opneem. Die ergste is dat mense se morele waardes so ver gedaal het, dat hulle regtig nie kan insien dat so iets onwettig is nie.

  8. Ek het iewers anders oor dieselfde probleem gelees. Kon dalk Beeld / Nuus 24 gewees het. Dit is blykbaar iets wat oor die hele land gedoen word. Passasiers wat uitklim omdat die bus oorlaai is en weer terug klim na die weegbrug.

  9. Na die reeks Interlink busrampe het die owerhede juis belowe om ernstig op te tree teen hierdie soort dinge… tot die publiek weer rustig raak en vergeet…
    Omdat ek self vir 3 jaar op universiteit bus bestuur het, weet ek hoe gevaarlik ‘n oorlaaide bus op ‘n afdraande kan wees. Hoop regtig daardie klagtes gaan êrens ‘n verskil maak, want mense se lewens is op die spel. Jy kan nie bestuurders oplei om oorlaaide voertuie te bestuur nie- oorlading beteken mos juis dat die voertuig buite sy veilige perke bestuur word, en die kans vir meganiese foute is soveel groter. So gee hulle gas, Son!

  10. Jy moet hulle maar gas gee Son, dalk red dit nog eendag mense se lewens.

    Maar ek moet sê die storie verbaas my nie. Ek het as student ook as ‘n busbestuurder gewerk en dinge is soms erg onverantwoordelik gedoen (ek was nie by InterKaap nie, maar ek meen die mentaliteit is algemeen).
    Een keer het ons byvoorbeeld van Bloemfontein na Lohatla (naby Postmasburg) en terug gery om soldate op te laai. ‘n Paar ure later Kaapstad toe en terug om nuwe polisierekrute op te laai. By Kaapstad moes ons nog ‘n paar ure wag voor ons kon ry, maar daardie ure kon ons ook nie slaap nie. So dit was 2800 km en deur twee nagte heen se ry sonder enige slaap. Met baie jong manne se lewens in ons hande.

    ‘n Ander keer het ons so aanmekaar en deur nagte heen gery, dat een ou my vertel het hy sien sulke klein dwergies hardloop van langs die pad die veld in.

    Ons was self te jonk en Afrikaans om hierdie stelsel uit te daag, en boonop is ons per kilometer betaal. Maar vandag ys ek behoorlik as ek dink aan wat kon gebeur het. En die rede vir die toedrag van sake is maar net gierigheid.

    1. Alleman – dis skokkend, maar ek moet vir jou sê, ek het lekker gelag oor daai klein dwergies wat langs die pad hardloop😆 Glo my egter, ek is soos ‘n bulldog – ek gaan hierdie een NIE los nie, maak nie saak wat nie👿

  11. EK het in die ou dae baie bus gery – elke dag skool toe en terug, toe werk toe en terug – dit was goeie tye gewees.
    Om deesdae in enige tipe publieke vervoer te kim neem jy jou lewe in eie hande, want dit lyk vir my asof die enigste ding wat regtig WERK in SA die korruptheid van die Staat is!!
    Dis goed dat jy vir al wat leef en beef die waarheid vertel – of dit ‘n verskil gaan maak is ‘n heeltemal ander saak…

    1. Ja, maar dis net oop op weeksdae van 8vm tot 5nm. Ek is van plan om hulle more te skakel. Vrydag was te hectic by die werk. Ek verwag egter nie veel nie, ek het reeds met die operasionele kantoor gepraat en ‘n duidelike “vibe” opgetel😦

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s