Die Lewe

Dis veel meer as net ‘n tjoklit hasie.

Ek het die papierborde vir more se braai vergeet. Vir die eerste keer in menseheugenis kuier al vyf my pa se kinders more saam. Met hulle gesinne. Dis belangrik dat alles reg loop. Die yslike bakke slaai is reg. Pa marineer al drie dae die hoender, sy spesialiteit. Dis vanmiddag twee-uur dat ek onthou ek het nie genoeg borde vir 15 mense. Traag klim ek in die kar en ry Pick ‘n Pay toe. Die week was lank en moeilik en ek het min lus vir die dorp.

Die plek is presies die miernes wat ek verwag het. Toe ek die papierborde het, sien ek die mooi servette en vat ‘n pak daarvan ook. Oppad kassiere toe onthou ek daar is ook nie melk in die huis nie. Ek drink selde melk, maar gaste beteken koffie, of tee, met melk. Met die drie items in my hande gaan staan ek in die ry vir mandjies, daar is vyf ander mandjietrollies voor my in die ry. Ek het al geleer om my ongeduld in sulke tye te beheer deur eerder die mense om my te bekyk.

Voor my staan ‘n man en sy ma. Die man is duidelik verfynd. Die tannie is klein en jare se swaarkry is met ‘n swaar hand oor haar gesig geskryf. Hy steek sy hand in sy baadjie se sak en haal twee toegevoude twintigrand note daar uit.

“Wat se geld is die dan nou? Waar kom dit vandaan,” praat hy half met homself.

“Ek het dit in jou sak gesit. Vir die hondekos.”

Ek sien die twee groot blikke hondekos in die mandjie. Ek sien ook hoe hy die geld terugdruk in sy ma se hande.

“Nee, ma. Hou jou geld, ek sal betaal.”

Ek hoor nie mooi wat sy hom antwoord nie, maar ek hoor duidelik wat hy haar terug antwoord.

“NEE! Ma gee NIE die geld vir hom nie, koop vir jouself iets daarmee.”

Vir wie wou sy die geld gee? ‘n Man dalk, ‘n ander kind, die persoon wat verantwoordelik is vir die swaarkry op haar gesig?

Ek kyk weer na hulle mandjie en ek sien drie oulike sjokolade paashasies ook daarin. Ek kan myself nie help nie.

“Dis mooi! Waar is hierdie tjoklit hasies?”

Hulle lyk net ‘n oomblik verbaas dat ek met hulle praat.

“Daar anderkant.” beduie hy vir my.

“Wat kos hulle?” vra ek

“Ek’s nie seker nie. Wag ek gaan kyk gou vir jou.”

“Bring asseblief sommer vir my een saam,” roep ek agter hom aan en besef toe eers hoe voorbarig dit moet klink.

Ek draai na die tannie. “Ekskuus tannie, ek kommandeer hom nou sommer op om vir my een saam te bring ook.”

“Ag nee kind, hy gee nie om nie.”

Hy is gou weer terug met ‘n hasie vir my.

“Baie dankie. Ek hoop ek kan hom hou tot paasnaweek, hy lyk darem al te lekker.”

“Dis hoekom ek paaseiers ook gekoop het, dis opgeeet sodra ek by die huis kom,” antwoord hy laggend en wys ewe vir my die ses paaseiers in die mandjie.

So gesels ons verder terwyl ons vorentoe beweeg. Sommer oor alles en nog wat en die weer. Toe hy hulle mandjie uitgepak het by die kassiere vat hy my tjoklit hasie uit my hand.

“Jy kan nie vir jouself ‘n paashasie koop nie. Ek koop hierdie een vir jou.”

Ek is maar min kere sprakeloos, maar die keer is ek vir sekondes lank sprakeloos. Toe begin ek protesteer.

“Nee. Nee. Dis regtig nie nodig nie.”

Hy skud net sy kop en vertel vir die kassiere om dit op te lui. Daarna gee hy dit vir my terug. Ek staan nog steeds half verstom. Uiteindelik onthou ek darem om dankie te se.

“Dankie. Baie. Wat is jou naam? Ek kan nie ‘n paashasie present kry by iemand wie se naam ek nie eers ken nie,” se ek die eerste simpel ding wat in my kop opkom.

Hy wys na die goue hangertjie om sy nek, met sy naam daarin uitgespel. Jaco.

“Dankie Jaco, mag jou paasfees geseend wees. Tannie, jy het ‘n seun met ‘n goeie hart.”

“Ek weet, kind. Hy is my steunpilaar.”

En toe loop hulle. Ek staan steeds half verdwaas met die hasie in my hand, terwyl ek my ander goed betaal. Soos ek uitloop, in my kar klim en huis toe ry, bly ek verwonderd. Ek weet dis net ‘n sjokolade hasie, van R26, maar vir my word dit veel meer as dit.

Dit word ‘n gebaar van medemenslikheid, van ‘n hand uitsteek na ‘n ander mens, sommer net omdat jy iemand se dag wil mooi maak. Nie omdat jy iets terugverwag nie. Sommer net.

“Jy sal dit nooit weet nie, Jaco, maar ek het ‘n week uit die hel agter die rug. My kar het gebreek en my ‘n hele paar rand uit die sak gejaag. Ek het min geslaap, hard gewerk en nog baklei teen ‘n verkoue ook. Ek was SO nie lus vir winkel toe gaan nie, maar ek moes. Dalk het jy iets op my gesig gesien van dit alles. Toe betaal jy vir my tjoklit hasie. Dankie, Jaco. Jy is die tipe wat menswees nog die moeite werd maak.”

16 thoughts on “Dis veel meer as net ‘n tjoklit hasie.

  1. ‘n Warm spontane gebaar wat my ook sommer vir jou part laat lekker voel. Hoe dierbaar – en wat ‘n mooi les. Ek weet ek sal more kyk of iemand nie ‘n ‘hasie’ nodig het nie.

  2. Pragtig! Sien, as ons net met mekaar wil begin gesels soos jy gedoen het, dan reageer ander ook meer spontaan, meer menslik.
    Ons vertrou mekaar nie meer nie … maar tog.

  3. How sweet is that!
    Wanneer ek die feedback gekry het, vertel ek vir jou van gister, toe ek Jaco was. Maar ek wil eers hoor wat het gebeur. Kripties ek weet, maar ek wil graag vir iemand vertel, en ek dink jy sal verstaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s