Raak gelees

Die (byna) onsterflike Mike Malloy

Mike Malloy se liggaam is in Mei 1933 opgegrawe vanuit ‘n 4 meter diep armlastige graf in die liefdadigheidsdeel van die Wetschester distrik se Ferncliffe begraafplaas. Volgens sy doodsertifikaat was longontsteking die oorsaak van sy dood, maar Bronx se staatsaanklaer het anders vermoed.

Die nadoodse ondersoek wat hierop gevolg het, het die lompste versekeringsbedrog ooit in New York se geskiedenis aan die lig gebring. Dit was ook die begin van ‘n stadslegende: Malloy, wie ses aanslae op sy lewe oorleef het, voedsel- en alkoholvergiftiging oorleef het, was onvernietigbaar – totdat ‘n rubberpyp wat genoeg koolstofdioksied uitblaas, in sy mond geplaas is en so sy lewe beëindig het. Dit was die gevolgtrekking van Dr. Harry Schwartz, die stad se assistant-gifkundige, wat die outopsie op Malloy uitgevoer het.

In die laaste dae van die Drankverbod in Amerika het Anthony Marino ‘n skelmkroeg in die Bronx besit, by 177ste Straat. Die Depressie was nog in volle swang en die stad se werkloosheidsyfer was naby 50%. Desperate mans het ‘n manier gesoek om ‘n vinnige dollar te maak, ongeag hoe wettig dit was. Marino, sy kroegman Joe Murphy, begrafnisondernemer Frank Pasqua en ‘n vriend, Dan Kriesberg het ‘n plan beraam om versekeringsmaatskappye te verneuk deur polisse op dronklappe se lewens uit te neem en dan hul dood te bespoedig met drank.

Malloy het na die regte slagoffer gelyk. Die 50-jaar-oue eks-brandweerman en ingenieur het as gevolg van sy alkoholisme sy werk verloor en nou van een werk na die ander geswerf. Meeste dae het hy uitgehang in Marino se skelmkroeg en almal het geglo dis net ‘n kwessie van tyd voordat Malloy homself dood drink.

Marino en sy trawante het met Malloy begin vriende maak en vir hom gratis drankies aangebied. Malloy, wat teen die tyd al byna ‘n sosiaal uitgeworpene was, was maar te bly oor die geselsskap en gratis drank. Hy was dus maar net te bly om ‘n petisie te teken wat sou help om Marino verkies te kry vir die plaaslike raad. Hy het egter nie besef hy teken eintlik ‘n versekeringspolis van Metropolitan Life vir $800, en twee van Prudential vir $495 elk. Die skelms het selfs vir Malloy ‘n slaapplek aangebied in ‘n vertrek agter die kroeg, waar hy sy babalaas kon afslaap.

Na verskeie weke verbygegaan het, waarin Malloy liters en liters gratis drank gevoer is, het Marino begin besef die hele storie kos hom meer geld as wat hy verwag het. Wat hom verder bekommer het, was Malloy se blakende gesondheid – hy het selfs gesonder gelyk as voordat hulle hom gratis drank begin voer het. Meer ernstige stappe sou gevolg moes word om Malloy se dood te verhaas.

Murphy, ‘n voormalige apteker, het vir Malloy vertel dat daar “nuwe drank” aangekom het. Malloy het dit gedrink, gesê hoe sag dit afgaan en toe ineengestort op die vloer. Hulle het hom na die agterkamer gesleep en nog gekoukus oor die dokter wat hulle sal moet betaal om gou ‘n doodsertifikaat te kom uitreik.

‘n Uur later het Malloy hulle egter byna ‘n hartaanval besorg toe hy ewe rustig die kroeg binnestap en verklaar dat hy nou vrek dors is. Die anti-vriesmiddel waarmee hulle sy drank gedokter het, het hom klaarblyklik nie juis geaffekteer nie.

Die volgende paar dae het die mans Malloy se drank met al hoe meer anti-vriesmiddel gemeng, toe terpentyn en uiteindelik perdesalf wat rotgif bevat. Malloy het geblom oor die aandag van sy ‘vriende’ en net aanhou drink. Toe besluit die mans om kos te probeer om sy dood te verhaas.

Marino het rou oesters vir hom opgedis – gedoop in metielalkohol. Na Malloy twee dosyn hiervan geëet het, was hy so begeesterd met die kos dat hy Marino aangemoedig het om ‘n restaurant te begin. Die volgende maaltyd was vrot sardiens, gemeng met fyn blik. Die resultate? Dieselfde.

Volgende het die mans Malloy stormdronk gemaak, hom na Claremont Park geneem, sy jas uitgetrek, sy hemp oopgeknoop en – in die middel van die winter – 5 gelling water oor hom uitgegooi en hom toe in ‘n sneeubank agtergelaat. Hulle het gehoop dat die koue New York winterweer sou regkry wat die vergiftigde kos en drank nie kon nie.

Die volgende aand was Malloy, soos die spreekwoordelike kat, egter weer terug by die skelmkroeg, nogal met ‘n nuwe pak klere aan. Hy het vertel dat hy in sy erge dronkenskap van die vorige aand, kaal opgeëindig het in die sneeu, maar dat die polisie hom gelukkig gevind het en na ‘n nabye welsynsorganisaise geneem het, wat dan ook vir hom die nuwe pak klere gegee het.

Nou was die mans desperaat en hulle huur ‘n huurmotorbestuurder, Harry Green, vir $150 om Malloy om te ry. Op 30 Januarie 1933 neem hulle ‘n byna bewusteloos dronk Malloy vanaf Marino na Pelham Parkweg. Murphy maak hom staan in die middel van die pad en Green jaag op hom af van twee volle blokke ver weg om genoeg spoed op te tel. Op een of ander manier kry Malloy dit egter reg om na veiligheid te strompel. Hierna neem hulle hom na Gun Hill Weg en hierdie keer tref Greene hom.

Die bende verkas, baie bly dat hulle plan gewerk het en wag toe vir die aankondiging van Malloy se dood in die koerant. Dae gaan egter verby en daar is geen berig nie.

Waar was hy? Malloy was besig om te herstel in die hospitaal onder ‘n ander naam – sy skedel was gekraak en sy skouer gebreek. Die onvernietigbare kroegvlieg stap weke later die skelmkroeg binne en kondig aan dat hy darem nou baie dors is. Die mans se monde het oopgehang van verbasing.

Nou was die mans desperaat en hulle kontak ‘n professionele moordenaar, maar sy fooi van $500 is te duur. Hulle kry toe ‘n ander dronkie, Joe Murray, en maak hom sinneloos dronk, sit Malloy se ID in sy jassak en laat hom omry deur die huurmotor. Murray is egter ook nie dood nie en herstel van sy beserings na twee maande in Lincoln Hospitaal. Nou was daar net een manier om van Malloy ontslae te raak. Moord, uit en klaar

Op die aand van 22 Februarie daag Marino vir Malloy uit tot ‘n drinkkompetisie. Marino drink whiskey, Malloy drink metielalkohol. Toe Malloy sinneloos dronk is, neem Murphy en Kreisberg hom na ‘n gemeubileerde kamer in Fulton Laan. Hulle laat lê hom op die vloer, druk ‘n handdoek in sy mond en koppel ‘n rubberpyp aan die gaspyp in die muur. Na hulle die rubberpyp in die kant van Malloy se mond ingedruk het, draai Kreisberg die gaspyp oop en die sisgeluid bevestig dat die pyp werk. Hulle los Malloy daar en keer terug na die skelmkroeg.

Hierna huur hulle Dr. Frank Manzella, ‘n eks-Bronx raadsheer, om ‘n vals doodsertifikaat uit te reik. Hy skryf hierin dat Malloy dood is aan longontsteking, met alkoholisme as bydraende faktor. Die mans betaal hom $50 vir die vals doodsertifikaat. Malloy word begrawe in ‘n houtkis van $12, vier ure na sy dood.

Murphy, wat homself voordoen as Malloy se broer, eis die $800 van Metropolitan Life. Toe agente van Prudential hom egter soek om daardie polisse aan hom uit te betaal, kan hulle hom nie vind nie. Murphy is intussen tronk toe op ‘n ander aanklag en dit maak die versekeringsagente skielik agterdogtig. Hulle kontak die polisie.

Die polisie begin die hele moordsirkel ontrafel en Green, wat nie al sy geld ontvang het nie, begin praat. Die polisie vind ook uit van ‘n ander slagoffer, Betty Carlson, wat ook dood is aan longontsteking onder verdagte omstandighede. Die begunstigde van haar polis was Marino. Nadat die polisie die hele bende gearresteer het, het Staatsaanklaer Foley gevra vir die doodstraf.

Met die verhoor by die Bronx Distrikshof het die vier eers kranksinnig gepleit, toe die skuld op mekaar probeer pak en as laaste uitweg gesê dat “Tawwe” Tony Bastone, ‘n bendeleier, hulle gedwing het om Malloy te vermoor. Bastone kon nie getuig nie, want hy is ‘n maand na Malloy se moord ook dood.

In Junie and Julie 1934 is Marino, Pasqua, Kreisberg en Murphy dood in die elektriese stoel by Sing Sing tronk. Manzella is skuldig bevind as medepligtige en vir ‘n onbepaalde tyd tronk toe gestuur. Malloy is herbegrawe en het sy geheim van sy onvernietigbare liggaamsgestel saam met hom graf toe geneem.

Bron: http://www.nydailynews.com/news/crime/durable-mike-malloy-article-1.226396

11 thoughts on “Die (byna) onsterflike Mike Malloy

  1. Hello,

    Thank you for liking my posts and following my blog. I really appreciate your kind gesture!🙂 I see that your posts here are in a language I don’t completely understand. I suppose it is in Dutch? Or Maybe Afrikaans?

    Anyway, whatever language you speak, I am happy that we could be friends. So have a lovely day, my friend! May your day is filled with happiness..🙂

    Subhan Zein

    1. Thanks Subhan. My posts are n Afrikaans, yes. But I am now meeting so many nice English bloggers, I think I must start writing in English as well. Keep well🙂

      1. Aw, my guess was right! Haha. Yes, I think you should write in English if you like to widen you horizon. But perhaps a bilingual Blog won’t do any harm if you want to maintain your Afrikaans readership?

        Anyway, thank you for the friendship and take care!🙂

        Subhan Zein

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s