Gedagtes · Musiek

Woordfees – Suiderkruis Mis

Dinsdag, 6 Maart – die dag waarop ek die mooiste musiek ooit gehoor het.

Dinsdag was Woordfees dag vir my. Om net te dwaal tussen al die bekende mense, die heerlike somersdag in te neem en te sit en kyk en luister was al reeds heerlik.

Die middag het ek en my blogvriendin na “Waarom Misdaad” gaan luister.

Karin Brynard, wat Plaasmoord geskryf het, het gesels met Francois Bloemhof, Deborah Steinmair en Chanette Paul. Al vier hierdie skrywers skryf misdaad- of spanningsverhale en Karin wou weet hoekom hulle spesifiek daardie genre gekies het.

Daar is gesê misdaadfiksie is skoon, dit is skoner as romanse. In misdaadverhale word die skelms / moordenaars gevang en gestraf en sake word opgelos, nie soos in ons werklike alledaagse lewe waar soveel mense letterlik wegkom met moord nie.

Chanette, wat haar skrywersloopbaan begin het met liefdesverhale, het tong-in-die-kies opgemerk dat elke mens wat al deur ‘n egskeiding is, kan identifiseer met moord en dat dit dalk is hoekom sy begin misdaadverhale skryf het. Tog meng sy steeds die twee genres, wat ook vrek moeilik is.

Francois meen dat mens misdaadfiksie lees, omdat dit jou toelaat om die boosheid te ervaar, sonder dat dit jou in die werklikheid benadeel. Die leser aanvaar die spanning, want hy weet daar gaan ‘n goeie einde wees. Nie soos met elke dag se koerantopskrifte nie.

Deborah voel dat die regering nie alleen kan bevoordeel word deur misdaad nie, daarom skryf sy misdaadfiksie. Ook omdat sy gelees wil word, anders kan sy netsowel ‘n dagboek skryf.

Die aand het ek en my blogvriendin na die Suiderkruis Mis gaan kyk. Haar broer, André Strijdom, is die skepper van hierdie fenomenale uitvoering. My mond het oopgehang terwyl ek terselfdertyd hoendervleis gekry het by die aanhoor van iets so mooi. Klanke uit die hemel! My video wat ek hier onder byvoeg, doen GEENSINS reg aan die uitvoering nie, maar ek het die stukkies van die uitvoering saamgevoeg net om vir my ‘n herinnering te wees aan iets so verskriklik mooi.

In Die Burger skryf Mariana Malan die volgende:

Dit klink na ’n behoorlike ­hutspot. Rockers, strykers, ’n ­sopraan, bariton, mezzosopraan en ’n koor wat die dele van die ­Katolieke mis in vier tale laat waai.

Die komponis André Strijdom erken dit kan dalk gevaarlike terrein wees waarop hy met ­Suiderkruis-mis beweeg het.

“Die geloofding is altyd sensitief, maar ek het met hierdie stuk werk net probeer wys dat God groot is, in beheer is. Dis soms net goed om weer op ’n ander ­manier te hoor dat daar ’n groter mag in beheer is, al is die Aarde vuil en die see bemors. God is groter as al die elemente,” ­verduidelik hy.

Hy het besluit om die vyf dele van die Latynse mis (Kyrie, ­Gloria, Credo, Sanctus Bene­dictus en Agnus Dei) as struktuur te gebruik.

Dit word aan­gevul en deurvleg met Afrikaanse volksmusiek, lofliedere, korale in ’n Afrika ­idioom en rock­musiek.

Dit was vir hom belangrik dat die werk vir ­almal toeganklik moet wees. “Dis nie buiten­gewoon ­moei­like musiek nie. Dis ’n mis vir Jan Alleman. Ek het die koor­gedeeltes eenvoudig ­geskryf ­sodat die lede dit maklik kan aanleer. Dis vir mense wat bloot lief is vir koorsing. Ons gebruik twee gemeenskapskore.”

Hy het al sowat tien jaar gelede die Kyrie, die eerste deel van die mis, geskryf nadat hy die Britse komponis David Fanshawe se ­African Sanctus gehoor het.

“Dit het lank in my laai gelê totdat ek dit so ’n jaar gelede ­herontdek het. Ek het vir Rika (Vermeulen) genader met die idee om dit as volledige werk uit te voer. Toe het ek volstoom daaraan begin werk.”

Volgens Vermeulen is dit baanbrekerswerk in Suid-Afrika met musiekstyle so inmekaar verweef dat dit klink of daar uit die staanspoor eintlik geen ­verskille was nie.

“Dis maklike en uiters sing­bare, volksmusiekagtige melodieë wat onmiddellik vasgelê word. Die rock-elemente is opwindend, die ballades sag op die oor en meesleurend, die klassieke kontrapunt en fugale styl ­verrykend en die praat-sang is ­modern. Daar is dikwels dele waar die klassieke sangers suiwer en hemels bo ’n woelige ­onderlangse gerock sweef ­sonder dat daar wrywing is.”

“Suiderkruis-mis bewys dat ­mense van alle geloofoor­­tui­gings, selfs mense met geen ­geloofs­oortuiging nie, mekaar kan akkommodeer, begryp en son­der vooroordeel saam­bestaan.”

Die rockers wat optree, sluit Francois van Coke, Leroi Nel (van Foto na Dans) en ’n orkes in. Pierre-Arnold Theron van Mr Cat and the Jackal is die ­perkussiespeler. Dan is daar ’n stryktrio en Ellenoré van As ­(sopraan), Annalie Herbst ­(mezzosopraan) en Riaan Hunter (bariton). Strijdom het ook al die ­ver­werkings gedoen en die ­lirieke geskryf.

(http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Liturgiese-rock-in-Afrika-kleur-20120221)

Die Suiderkruis Mis – sielskos! Hopelik gaan die hele land die geleentheid kry om hierdie uitvoering te sien!

10 thoughts on “Woordfees – Suiderkruis Mis

  1. Ek het baie gemis! Maar ek het ‘n fantastiese aand saam met langverlore teruggevinde familie gehad wat ook baie kosbaar was! Maar dit klink of julle een van die lewe se piekervarings beleef het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s