Die Lewe

Om te leer van los leef

Die week klop daar kort-kort die begrip uitdun, verlies, ontslae raak, verloor, aan my kop se deure.

Een van die leesgroep lede op Facebook skryf ‘n paar dae gelede sy het boeke uitgesoek uit haar (oorvol) boekrak om weg te gee, maar het weer deur die hopie gegaan en party boeke weer teruggehou. Dis moeilik om mens se boeke uit te dun, weg te gee, te verkoop; boeke wat jy oor jare bymekaargemaak het. Eens op ‘n tyd het ek twee bakkie vragte vol boeke gehad – regtig.

Kort voor bogenoemde skrywe het ek gelees van MaanKind se suster – hulle huis (al was dit hierdie keer net ‘n tydelike een) het WEER afgebrand, die tweede keer in een jaar! Dis half onmoontlik om mens se kop om so ‘n tragedie te kry. Hoe oorleef mens dit, hoe verwerk mens dit?

En toe lees ek gister van Murphy se skildery – die een wat sy van haar ma geërf het, wat sentimentele waarde het. Wat nou vermis word. En die les wat sy glo sy moet nou leer – om los te maak.

Dit laat my onthou – van my lesse in losmaak. Na ek van my kinders se pa geskei is, ‘date’ ek ‘n jonger man. Ons leer mekaar nog so voel-voel ken en ek sien hy kyk my soms vreemd aan. Een dag ry ons in my motor – dit was een van daardie wat destyds die “louvre” op die agterruit uitgekom het. Ek bestuur en ek sien hy kyk na die voetspasie voor hom.

“Waar is die ‘cover’ wat hier onder die ‘dashboard’ moet wees?” en hy wys iewers in die rigting van sy voete.

“Dit het uitgesak, toe knip ek dit los en gooi dit weg.”

Hy bly ‘n hele rukkie stil.

“Kom hierdie motors nie uit met ‘n ‘louvre’ op die agterruit nie?”

“Ja”

“Waar is hierdie een s’n”

“Dit het gekraak, toe haal ek dit af en gooi dit weg.”

Hy bly langer stil… “Ek hoop nie jou stuurwiel breek eendag nie” laat hy droogweg hoor.

Ek moes lag.

Party mense kan nie iets weggooi nie, nie eers as dit breek nie. Laat staan nog as dit heel is, maar geen doel meer dien nie. Die lewe het my geleer om dit wat onnodig is, agter te los, al het dit soms my hart uit my lyf geskeur. Want mens is nie so gebore nie, die lewe maak jou so. Die lewe leer jou om nie te veel sentimentele waarde te heg aan te veel dinge nie, want iewers gaan jy flenters gebreek word wanneer jy dit verloor. Maar voor jy daardie les finaal leer, word jy ‘n paar maal flenters gebreek.

Die eerste keer was toe my ouers geskei is. Ons het na ‘n klein woonstelletjie getrek en net die nodigste kon saamgaan. Boeke wat ek as pryse in die skool gewen het, poppe en speelgoed wat ek deur jare present gekry het, moes vir eers agterbly, ons sou dit eendag weer gaan haal. Eendag het nooit gekom nie. Ek het grootgeword, my pa is weer getroud, het getrek en iewers tussen-in is goed in bokse gepak en het van hierdie bokse gegaan daar waar die maat van daardie een sokkie gewoonlik gaan – never-never-land. Om nooit weer teruggevind te word nie.

Dis 100 jaar later en ek het lankal opgehou wonder hoe dit sou gewees het as ek vir my kinders ook die kompendium speletjies kon gee wat eens myne was, die groot slaappop met die toegaan-oë, die yslike wit teddiebeer. Ek het ook lankal ophou huil daaroor.

Toe skei ek op ‘n dag self en ek moet twaalf jaar in ‘n Mazda 323 Sport met ‘n dakrak pak. En 1600 km ver vlug. Wat vat ek, wat los ek agter? Ek het myself wysgemaak ek sal eendag my trousseau kis wat ek by my ouma geërf het, gaan terughaal, al het ek diep hier agter my verste hartkamer geweet – eendag sal nie sommer kom nie. Eendag het nooit gekom nie en die verlies van iets wat ek aan my meisiekind moes nalaat, het vir jare soos ‘n sak klippe in my bors gelê.

Ek het een riempiebankie saamgevat, klein genoeg om in die kar te pas en een skaapvelkombersie, albei geërf van my ouma. Ek het dit vandag nog. Ek het deur die jare boeke gekoop en weggegee, want ek weet alles is verganklik en dit dien geen doel om jou vas te maak aan enige iets materieel nie. Ek gee maklik weg, veral as ek weet iemand anders het iets meer nodig as ek. Ek gooi ook maklik weg. Iewers langs die pad het my hart geleer om aan niks op hierdie aarde verknog te raak nie.

Deesdae kan ek my hartsgoed in een rugsak pak, behalwe vir my rottangbankie en my skaapvelkombersie. Ek dink as ek DIT ook moet verloor, dan sal ek regtig doodgaan. So, as jy ooit iemand langs die pad sien loop met ‘n rugsak, ‘n riempiebankie en ‘n skaapvelkombersie, weet dan – dit is EK. Want dit is al wat ek sal red as ek die dag moet en kan. Dit is al wat my hart nog nie wou laat los nie.

30 thoughts on “Om te leer van los leef

  1. Ongelukkig bly ons in ‘n groot huis. So daar is altyd plek vir nog iets en soos Toortsie is hier ook geslagte se goed wat bymekaar gemaak word. Volgens my man sal ons die huis en inhoud verkoop wanneer ons trek want dit sal weke lank vat om alles uit te soek. Een ding is verseker, ek los nie sommer my boeke vir die nuwe intrekkers nie!

  2. Oe, ek kan vreeslik klou aan goeters! Ek is baie sentimenteel… Ongelukkig kan jy niks saamneem wanneer jy van hier verhuis nie! Dan dink ek…hoekom klou ek so?? Ek is veral erg oor ons erfenis en ons monumente ens. wat besig is om te vergaan.

  3. Ek loop gister ‘n vrou raak wie in die week ‘n veiling gehad het. Hulle is nou finaal weg van die plaas waar 3 geslagte van hulle gewoon het. 3 geslagte se opgaar moes opgepak, verkoop, weggegooi word. Sy sê die werf is nou skoon. Sy vra vir my wat ek dink ‘n ou glaskarring sal kos. Ek antwoord dat ek jou R300 sal gee net om die ding te vat! Nee, die persoon het R750 betaal!
    My massiewe huis is ook oorvol van almal voor my se sentimentele goed wat hulle dalk maar te dankbaar was om vir my te gee. Elke keer wat ek moes trek was dit na ‘n groter huis, meer rubbish, ens…. ek dink as ek die dag moet oppak, vat ek net wat ek wil hê, en los die res vir die volgende eienaar!
    Het baie oor jou trekkery destyds gedink. Het gewonder hoe jy ‘n lorrie ongesiens voor jou huis kon laai, en dit in ‘n dag se tyd?

  4. Daar is wel ‘n paar goed waaraan ek klou, soos my bakkie wat my oorle man gekoop het (15 jare terug!). Die sentimentele waarde is natuurlik baie meer as wat sy werd is, maar sy makeer niks, so sy bly. Die ander goed is klein items wat ek maar so saamsleep. Dit is omtrent niks werd nie, maar vir my is dit kosbaar.

    1. Met alle respek gesê – met ‘n bakkie kan mens nogal heelwat saamdra. As ek maar met tye ‘n bakkie in my lewe gehad het😉 Worth (just like beauty) lies in the eyes of the beholder

    1. BiB – in die begin het ek baie swaar gekry as ek iets moes agterlaat, maar soos die jare aangestap het, het ek geleer om dit wat ek wil onthou, eerder in my kop saam te dra. Nou moet die kop net hou tot die einde😆

  5. As ek jou so sien stap sal ek jou verseker ‘n lift gee.

    Na my egskeiding is ek uit met ‘n tas vol klere, my fotos en my gedigte…en as mens eers drie keer in een jaar moes trek besluit jy gou wat regtig die moeite werd us om WEER in blerrie bokse in te prop!

  6. Dit is moeilik om los te maak, maar word al hoe makliker soos doe jare aanstap. Dit is moeilik vir mense om te aanvaar dat ek selfs op my ouderdom alles in een tas kan pak en maklik die deksel toe knip en dan gaan ek. Hoe minder hoe beter!

    1. In my volgende lewe wil ek ‘n rugsak, ‘n kitaar en ‘n ipad hê en daarmee die lewe inloop, en vanaand slaap waar my voete my vat – of dalk wil ek ‘n fiets ook hê🙂

  7. Ek is een van daardie mense wat bitter moeilik weggooi. Nie eers as dit stukkend is nie. Hopeloos te sentimenteel daarvoor. As iets fyn en flenters breek, vervang ek dit. Maar ja, daar is duidelik ‘n rede hoekom my lewenskennis 0 is. Die prys is hoog en ek is te suinig.

  8. Ek dra swaar aan al die goed in my huis. My ma is ‘n versamelaar en elke ding in my huis het omtrent ‘n storie wat sy van iewers af kan opdiep! Maar snaaks genoeg is dit die vreemdste goed wat my die meeste genot gee. ‘n Rooi en geel enamel mengbak omdat dit my aan Sondae middae se honeymuffin koek uit my kleintyd laat dink, 2 wiegstoele uit my ouma se huis, want as ek daarop sit kan ek haar studeerkamer in die ou huis in Tamboerskloof ruik en onthou ek hoe ek ure lank gesit het en na die kabelkarretjie wat op-en-af ry gekyk het.

    Blink skoene uit Indië, want dit laat my voel ek het ‘n private partytjie elke keer as ek hulle dra.

    (Ek het ‘n garage vol goed – any takers?)

    1. My ma en pa is geskei en my ma bly alleen in ‘n fully stocked 400 v/m huis wat sy net uit die eerste huis uitgehaal het. Mens kan nie eintlik eers sien iets is weg nie. Daar is somtyds net te veel goed. As Josephina nie meer die koper polish nie raak dit moeiliker om soveel goed aan te hou.

  9. Pa se ou lorrie in die oprit is troosgoete van gister, omdat ek bang is dat ek sal vergeet. Die blinknuwe vuurwa langsaan met die skrikwekkende paaiement is troosgoete van vandag, om te kan vergeet van vandag se einas. Die ding met troosgoete is ongelukkig dat dit eendag sal oproes, wegraak of opraak, en intussen word ons gevange gehou deur daardie besittings.

    Hartsgoete, die gedeelde oomblikke vandag wat more se onthou-jy-nogs word, daarvan wil ek so veel as moontlik versamel…en dan wil ek die vermoë hê om dit so lekker te kan vertel soos jy as my siel dit na ek langboompies toe is ooit weer terug maak tot op hierdie klip

    1. Dankie. Ek gaan mos nie langboompies toe nie – ek gee eers al my organe (sien, nie eers daai wil ek bymekaar hou nie😆 ) en dan moet hulle my assies iewerste in die see gaan gooi.

      Die mooiste onthou oomblikke – die dra ek vir altyd in my kop – hopelik sal ek dit nie verloor voor ek my laatse asem uitblaas nie.

  10. En dis goed so. Want ek glo ook vas dat daar wel goed moet wees waarvan jy die waarde moet weet.

    Jy weet, as daar en dink is wat ek ook die afgelope tyd geleer het, is dat ‘n mens niks in die lewe ‘verdien’ nie. Nou die dag koop iemand wat ek ken vir haar ‘n splinternuwe motor van oor die R300 000, kontant. ‘Want sy voel sy verdien dit.’

    Toe dink ek: ‘Regtig? In wie se oë?’. Ek gun haar dit met my hele hart, maar ek dink ook as jy die te veel waardevolle goed te maklik kry, besef jy die waarde van niks. en daardie lessie kom ook ongelukkig net op die harde manier.

    As ek jou sien loop, sal ek jou oplaai!

    1. Mens ‘verdien’ beswaarlik die suurstof wat jy inasem in die groter bestel van dinge, maar nou ja. Wat moet mens nou eintlik doen om ‘n R300 000 se kar te verdien? hard werk? Werk die huisbediende nie dalk harder as die korporatiewe dame nie? Wag, laat ek nie ‘n hele filosofiese gesprek hieroor begin nie!

      Dankie – ek aanvaar die lift met grasie😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s