Sommer net

Een dag in my lewe

Sonlig het via die Merrie gesê ek moet vertel hoe lyk ‘n tipiese dag in my lewe. Verveeeeeelig! Maar nou ja…

Deesdae (ek het net een voorneme vir 2012 gemaak, en dis om gesonder te leef) begin my dag om 05h30. My selfoon maak my wakker met Never Think van Rob Pattinson – ‘n snit uit die Twilight klankbaan. Ek staan op, was my gesig, borsel my tande en trek my gym klere aan. Dan eet ek ‘n piesang, net om my aan die gang te hou.

Daarna vat ek my sak met werksklere, wat ek die vorige aand al gepak het – hierin is klere, skoene, grimering, sjampoe, shower-gel en my handdoek. Ook my swembroek en swempet. Ek vat ook my handsak en my broodjie, of wat ek ookal vir middagete wil saamvat. Ek klim in my kar en ry na die Universiteit se gimnasium toe. Ek is so bevoorreg om toegang tot hierdie gym te hê, waar jy feitlik enige iets kan doen / oefen waarvan jy hou. Ek het nog nooit van ‘n gimnasium gehou nie, maar hierdie een werk vir my.

Ek kom so kwart oor ses by die gym aan, waar ek dan vir tien minute op die ‘Step-Up’ masjien oefen, dan tien minute fietsry en dan tien minute roei. Die beperking is tien minute per persoon per apparaat. Vir nou gebruik ek net daardie drie. As die halfuur verby is, gaan ek na die onderdak swembad. Daar swem ek dan nog ‘n halfuur lank lengtes. Teen hierdie tyd is dit omtrent half agt. Na die swem gaan ek stort en trek by die gym aan vir werk. Daar is baie goeie kleedkamer fasiliteite en ingeboude haardroërs bokant die spieëls.

Tussen agtuur en kwart oor agt kom ek by die werk aan. Nou is dit tyd vir koffie en muesli.

Ons het ‘n “canteen” by die werk, maar ons groep het ook ‘n vertrek met ons eie yskas en ketel ensovoorts, omdat ons gereeld later werk as die “canteen” tye en dan kan ons ten minste vir onsself koffie en tee maak. So, ons het ook plek om vir onsself melk, pap, ensovoorts te bêre.

Ek eet sommer ontbyt terwyl ek my rekenaar aanskakel en gou deur my e-pos gaan. Hierna begin my werksdag volstoom.

Nie een dag is dieselfde nie. Ek is die Groeps-Assistent vir dertien Omgewingsbeheer Spesialiste. Hulle is verantwoordelik vir Omgewings-impakstudies waar daar windplase, sonkragplase en dergelike dinge beplan word. Ons het ook kontrakte in Namibië, Gabon, Kameroen en Ethiopië. Ek is verantwoordelik vir almal se reisreëlings (visums, vliegkaartjies, verblyf ens.) en dit raak soms nogal hectic. Verder moet ek help verslae bymekaar sit, sorg dat dit gedruk, gebind, gekoerier en gepos word – soms lyk my kantoor erger as die Hoofposkantoor. Belanghebbende en Geaffekteerde partye skakel my en vertel my soms lang stories, veral die boere op die plase of hulle vrouens. Of die tannies in die dorp naby die plase. Ek praat met interessante mense, maar moet ook soms op my tande byt, veral as iemand byvoorbeeld sy plaas se geskiedenis by Moses in die mandjie gaan uithaal.

Daar is ook soms groot dele van my dag wat ek vertaalwerk doen, gewoonlik van Engels na Afrikaans. Hier is drie Franse kollegas, twee Afrikaanse kollegas en die res is Engels, en praat Afrikaans maar so twee kortes en ‘n lange. Alle briewe en kennisgewings moet tweetalig wees en ek is die aangewese vertaler.

Tienuur is teetyd, maar ek vergeet dit gewoonlik. Eenuur is etenstyd en soms vergeet ek daarvan ook en onthou eers hier teen halfdrie daarvan as ek hongerpyne begin voel. Gelukkig is niemand hier baie pedanties oor tyd nie, so as ek onthou, vat ek ‘n breek en eet gou. Soms gaan eet ek in die “canteen” want ons kan ‘n bord goeie, voedsame kos daar koop vir R28. Dan moet ek onthou om eenuur te gaan en ek vra gewooonlik die kombuis om my te bel en te herinner.

As dit ‘n stil dag is, wat darem nie te min gebeur nie – veral as almal in een of ander rigting is, soos vandag, waar ons departementshoof (my direkte baas) en twee kollegas vir die dag in Port Elizabeth is, twee ander kollegas in Oos-London is, een met siekverlof is en een met vaderskap verlof is – dan speel ek bietjie op die internet rond. Dis ‘n byvoordeel wat ons het, solank ons dit nie misbruik nie.

Teen halfvyf gaan die meeste mense huis toe, maar ek werk tot vyfuur omdat ek basies eers halfnege begin werk het. Dis egter selde wat ek regtig vyfuur uit my kantoor loop, want ek los niks vir die volgende dag wat ek vandag kan klaar maak nie, omdat die werk onvoorspelbaar is en mens nooit weet wat se krisis dalk more kan opduik nie. Ek loop darem gewoonlik nie later as halfses nie, sodat ek betyds by die huis kan wees vir my “soapy” – Binnelanders.

Na Binnelanders is dit etenstyd, badtyd, leestyd en dan slaaptyd. Dis maar min wat ek nog TV kyk na seweuur. Voor slaaptyd pak ek ook eers weer my sakke vir die volgende oggend. Gewoonlik is slaaptyd so by elfuur en moreoggend begin alles weer van voor af.

Ek gaan ten minste drie keer ‘n week gym toe, so die oggend wat ek nie gaan nie, staan ek net bietjie later op en doen alles wat ek by die gym doen voor werk (behalwe die oefen deel), eers by die huis. Naweke slaap ek laat en doen so min as moontlik🙂

13 thoughts on “Een dag in my lewe

  1. Besige dae wat jy het. Jy maak my sommer skaam dat jy drie dae per week gaan gym – miskien moet ek net ophou uitstel….. Koffie met ‘n wha in daai koppie kan nogal werk🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s