Ek het vandag tegnies gesproke ‘n moord gepleeg. Nie net ‘n moord nie, saakbeskadiging ook. Ek het my SIMS vermoor. En ook haar hele huis uitgewis. ‘n Huis van oor die R234 000.
Dis al van voor nuwejaar wat ek hink en pink op die gedagte om my SIMS spelery te los. Dit vreet my tyd op, soos ‘n monster wat net nooit genoeg gevoed word nie. Ek was nog nooit in my lewe verslaaf aan iets nie, behalwe nou miskien tjoklit koek, maar dis ‘n verslawing wat ek onder streng beheer het 😆
Ek het al probeer rook, maar dit kon nie vat kry aan my nie. Of ek aan die sigaret nie. Drank het nog nooit vir my enige aantrekkingskrag gehad nie. Ek hou nie daarvan om ‘n gek van myself te maak nie, nog minder hou ek van naar wees. Ek kan snaaks en spitsvondig wees sonder hulp uit ‘n bottel. Dagga het ook al eendag op ‘n reëndag my pad gekruis, maar dit het my net honger gemaak en ek het nie eksterne aanmoediging nodig om te eet nie.
So, ek doen nie verslaaf nie, nie eers matig nie. Ek het al ander speletjies op ander plekke en op Facebook gespeel, maar niks het my so gegryp dat gevaarligte begin flikker nie. Toe kom SIMS. En ek is verlore. Ek het vriende bygevoeg van alle uithoeke van die wêreld, sodat ek my take kon gedoen kry en al die belonings kon kry. Ek het tyd wat ek wou gebruik om te lees of te skryf in die bodemlose tydverspeelput van SIMS verloor. Ek skuld ‘n goeie vriend ver in Kanada al lankal ‘n geselsbrief, maar SIMS het sy tyd ook opgevreet.
Dit was nie ‘n goeie week nie en vanmiddag het ek op my tande gekners, eers al my SIMS vriende ontvriend en toe my oë eers styf toegeknyp, toe vinnig geloer en die “delete SIMS application” knoppie gedruk. En weg is alles. Ek was omtrent so 30 sekondes hartseer. Het weliswaar na die plek gekyk waar ek moes aanteken om die speletjie van vooraf te begin speel en toe myself ‘n spreekwoordelike klap teen die kop gegee.
Nou voel ek net verlig!
Jippee! Nou kan ons uitsien na meer skrywes!
Eish, ek het so 2 jaar terug ‘n Texas Holdem probleem gehad 😆
Lyk my ons het baie game addicts here 😆 Dalk moet ons ons eie speletjie begin 😉
Ek voel jou, Son – self kon ek skaars donkey kong speel, so jammer was ek vir die aap wat in die see val, daai klein swart haa-vinnetjie is steeds vir my vreesaanjaend – ek het dus nog nooit by enige rekenaarspeletjies / cities / plase of sulke goed betrokke geraak nie, my hart kry al klaar te seer in die regte lewe : )
Gardiol, ek het weke daaroor gewroeg, dit was regtig nogal erg, amper soos om ‘n kind te vermoor. Maar my rasionele brein vertel my ek is sommer simpel 🙂
Ek het die hele versameling Sims 1 gehad en gespeel dat die spoeg spat. Huise gebou. Luxuries gekoop, vakansie gehou ensovoorts. Eendag “hack” ek my Sims sodat hulle beter partytjie kon hou. Hulle het “geparty en gesuip” tot hulle dood neerslaan! Dit was die laaste. Volgende dag was die hele versameling op eBay!! Sims 3 lyk nie sleg nie. LOL! Dit kan nog al baie tyd van jou neem.
Wyk Satan en SIMS 3! 😆
Ek het nou lekker gelag. So, jy maak jou SIMS alkoholiste en dan laat jy hulle hulself doodsuip?! Shame!
Die hack het nie net by suip gestop nie. Was bietjie “stoute” Sims! 😉
Het hulle ge”WhooHoo”? 😆 (want dis wat FB SIMS kon doen 😉 )
Sims 3 kan WhooHoo! Sims 1 moes ek “hack” toe suip en “WhooHoo” hulle! Ek dink die les uit die storie is dat “too much passion can kill you”!
ek moes Mafia Wars so laat gaan verlede jaar- die baie pleit by vreemdelinge het my later onder gekry… gelos op level 899
Ek weet hoe jy voel. Maar soos elke uur verbygaan, voel ek net al meer verligting. Daar is soveel beter dinge om met my tyd te doen. Soos fietsry byvoorbeel 😉
O heiden. Ek speel ook met daai gedagte om my tuin (ek gaan nie weer daai F-woord se nie!) uit te wis. Ek het net nog nie die moed nie – maar dalk sal ek as ek nog een gecko by jou vang! 😆
Mmm, dis al speletjie wat ek nog oorhet. My tuin. maar ek skeep dit af. Dis nie verslawend nie 😉
Ag dankie tog nou het jy meer tyd om te blog 🙂
As my Muse net wil terugkom, ja. Maar ek dink hy is nog te de moer in vir my 😈
Dis een moord waarvoor jy nie verantwoording hoef te vrees nie!
Behalwe met my gewete 😉 ;lol:
Ek hoop nie jy het jou sims gemartel nie! 😉
Nee hel Jan, ek het dit nie in my om iemand te martel nie! Ek kry dan selfs my kar jammer as ek hom oor ‘n klipperige pad moet ry. En niemand mag ‘n kussing bo-op my beertjie sit wat ek lank terug persent gekry het en wat hier in die huis op sy eie stoel sit 😉
Sjoe! Geluk en sterkte. Dis net blogs wat my vashou, maar ek geniet die gesels so baie!
Blogs is LEKKER! Dis ten minste regte mense, nie ‘n nagemaakte rekenaarmens nie.
Ek het destyds die oorspronklike Sims probeer speel, maar was te dom daarvoor. Sterkte, ek hoop nie die onttrekkingsimptome is te erg nie!
Ek het ook so gratis CD met die oorspronklike SIMS op probeer speel, maar ek kon nooit vorder nie.
Ek voel beter as wat ek gedink het. Elke uur wat verbygaan sonder dat ek dit mors in ‘n SIMS huis, voel ek net al meer verlig!