Gedagtes

Daar’s iets omtrent ‘n Sondag…

Die hitte golf laag oor die wingerde. Die bamboes windklokke maak ‘klong klong klong’. Die engeltjie windklokkies maak ‘klieng klieng klieng’. Op die radio speel hulle goue oues. Mens ruik die stilte van versadigde mense wat die middagmaal afslaap in donker kamers agter diggetrekte gordyne. Vir ‘n uur of twee-drie staan die aarde stil, staan die son stil.

Ver weg is die suising van bande op teer. Mense wat nie wil slaap nie, nie alleen wil wees nie, nie kans sien vir stilte op die Sondag nie. Wat ry, soms sonder bestemming, sommer net ry om nie stil te staan nie. Ry sonder om te dink, ry met musiek wat hard speel, wat onthou weg raas.

Eensaam ry ‘n fietsryer, in die verswelgende hitte steeds vasberade om sy dosis oefening in te kry. Of ry omdat ook vir hom sweet in die son beter is as alleen stil te sit, selfs tussen mense.

Netnou, so oor twee ure, sal die wêreld weer wakker word. Mense sal opstaan, nat gesweet geslaap, sal stort onder koel water, sal ligte klere aantrek, sal wonder wat eet hulle vanaand, dalk sommer toebroodjies met die oorskiet middagvleis.

Sal begin dink wat trek hulle môre aan, sal handsakke en skoolsakke vir die week begin pak, sal ‘n vergete stukkie wasgoed van die draad gaan afhaal, sal spyt wees die naweek is amper verby, sal bly wees die naweek van alleenwees is amper verby, sal melankolies voel vir geen rede nie.

Skemertyd sal die deure oopgegooi word, vir koel lug om in te kom, om die warm huis af te koel. Op die stoepe sal mense sit met koue wyn of bier, muskietweerder aangesmeer, muskietafweerders wat brand. Hulle sal dink wat ‘n lieflike aand is dit, hoe jammer dat mens vroeg moet gaan slaap want môre is Maandag. Hulle sal onthou wat hulle eintlik alles die naweek wou gedoen het – nie die gras gesny nie, nie ‘n slag by ma en pa ‘n draai gemaak nie, nie die motorhuis / kombuiskaste reggepak nie.

Hulle sal sit, sommiges met Sondag-blues, ander sommer net sit. Tienuur sal hulle opstaan, besef dit raak laat, weer gaan stort, tussen koel lakens inklim, probeer slaap, slaap.

More is Maandag. Daar’s iets omtrent ‘n Sondag…

16 thoughts on “Daar’s iets omtrent ‘n Sondag…

  1. Jinne, die skryfsel sal my sommer Sunday-blues oppe Woensdag laat kry. Baie mooi…en sad, juis omda ek nie like van Sondagmiddag nie. Veels te naby aan ‘n Maandag.

  2. Excellent beskrywing. Die woorde het my meegevoer. Die beelde het so byna werklikheid geword en ek het heerlik buite op die stoep gesit en alles beleef. Jy is ‘n meester.

  3. Dis so waar! En elkeen van ons het ons eie idee van hoe ‘n Sondag nou eintlik moet verloop. My man glo mens moet na middagete bietjie gaan lê. En vanmiddag kon ek vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd ‘n rukkie saam met hom gaan lê – tot die twins besluit het dit was nou lank genoeg!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s