Dis vandag my laaste dag vakansie. Ek weet oor ‘n week of ‘n maand gaan ek seker terug verlang, maar eintlik is ek nou gatvol vakansie gehou. Mens kan net solank niks doen, lees, fliek, niks doen, laat slaap, rondry, niks doen, niks doen. Ek sou nie ‘n baie goeie “lady of leisure” uitgemaak het nie. Selfs met baie geld sou die winkels my nie op die lange duur kon besig hou nie.
Ek is nie (en was nog nooit) ‘n baie goeie huisvrou nie, al maak ek self my huis skoon en doen dit ordentlik. Hier is nie meer kinders om groot te maak nie en nog geen teken van kleinkinders op die horison nie, so as ek koekies bak, eet ek dit self op, wat weer ‘n stryd met die skaal veroorsaak. So koekies bak is uit. Dis buitendien te warm vir bak of kook.
Ek sien uit daarna om more te gaan werk. Sowaar! Ek sien uit daarna dat my jaar regtig amptelik moet begin. Ek het baie planne vir 2012, wat eintlik oorloop in 2013 – ja doemprofete, ek glo ons sal 2013 ook nog in dans, net soos 2012 🙂 Ek wil die Camino gaan stap in 2013. Ek wil gaan sokker kyk in 2014. Ek wil ‘n boek klaar skryf in 2012. So, die vakansie houery moet nou end kry… things to do, places to go, hurry hurry hurry!
Ek lees daar by Jo-Ann (ek verlang my soms vaal na ons koffie geselsies) van kerkstories en ek onthou heeltemal ander kerkstories. Ek vermoed ek het hierdie een lank terug op my ou blog al vertel, maar wat, ek raak ouer, ek mag seker ‘n storie twee keer vertel.
My suster en ek verskil vyf jaar en kleintyd was dit nogal ‘n groot gaping. Sy was soms ‘n klein terroris en soms ‘n klein engel. So ‘n twee-vir-die-prys-van-een kind. My pa was diaken in die kerk en ons is van kleinsaf ELKE heilige Sondag kerk toe geneem, met my pa voor in die diaken bank en my ma met ons twee dogtertjies weerskante van haar in een van die voorste banke. ‘n Regte tipiese Afrikaner gesinnetjie. Natuurlik het ek jare later gerebelleer en sommer vir tien jaar lank nie kerk toe gegaan nie, maar dis ‘n ander storie.
Een Sondag word ons saamgeneem nagmaal toe, sussie was so vier jaar oud. Ons het nogal destyds ‘n dominee met rewolusionêre idees gehad, wat die ouers aangemoedig het om die kinders ook nagmaal toe te bring, al mag ons nou nie van die brood en wyn gebruik het nie.
Die eet en drinkery het nie vir sussie aangestaan nie, sy was glad nie gelukkig omdat sy nie ook brood en wyn kon kry nie. Die volgende Sondag, toe die kerk net lekker aan die gang is, maak sy haar handsakkie oop en haal haar eie stuk droë brood daaruit en begin rustig te eet daaraan. My ma, wat nog altyd die humor in enige situasie kon insien, wou haar terselfdertyd doodskaam en doodlag. My pa kon nie sy oë groot genoeg gerek kry daar uit die diaken bank nie. Hy kon ons altyd in ons spore tot stilstand bring met net hierdie woorde: “Kyk my oë.” Dan het ons geweet ons beweeg op papierdun ys.
Nie dié keer nie. Sussie eet smaaklik haar brood en kyk nie eers vir hom nie.
Na kerk is sy die leviete van Genesis tot by Openbaring voorgelees. Maar sy kon my pa lekker om haar pinkie draai en het hom net so aangekyk met haar groot blou oë en dan ‘n pak slae vrygespring. So het die erns van die oortreding haar dan ook effe verbygegaan.
My ma is ook opdrag gegee om sussie se handsak elke Sondag voor kerk te deursoek vir enige eetgoed en vir ‘n paar Sondae gaan alles toe weer heel stigtelik.
Tot die Peanut-Sondag. Ja, dis hoe dit vandag nog in ons familie bekend staan.
Waar sy die pakkie peanuts gekry het, sal vir ewig ‘n geheim bly. Dit was in die tyd wat ons nog hoed gedra het kerk toe en sy het so ‘n hoed met ‘n rekkie wat onder om die ken kom, opgehad. Net toe die dominee mooi op spoed is met sy preek, trek sy haar hoed op dat die rekkie so dun trek en haal die pakkie peanuts onder haar hoed uit, van haar kop af. En skeur dit ewe fyntjies met haar tande oop, voordat my ma mooi besef wat aangaan.
Toe my ma vir haar begin beduie om die peanuts weg te sit, haal sy ewe mededeelsaam een peanut uit die pakkie, so mooi tussen haar twee vingertjies, en bied dit vir my ma aan om te eet. Hoe meer my ma so tussen haar tande deur vir sussie probeer oorreed dat sy NIE peanuts wil hê nie en dat dit vir haar wat sussie is, se gatvelle beter sal wees as sy eerder die peanuts bêre, hoe meer dring sy aan dat my ma die peanut moet vat. Sy probeer dit naderhand in my ma se hand in druk, maar ma wil niks weet nie. Jare later het ek my ma gevra hoekom sy nie maar net die bleddie peanut gevat en geëet het nie, maar sy was glo heeltemal te ontstig op daardie oomblik.
Die volgende oomblik klim sussie mooi netjies pens en pootjies bo-op daai kerkbank, hou met haar een hand aan die bank se rugkant vas en vat daai peanut met die ander hand en probeer met alle geweld die peanut tussen my ma se tande deurdruk, maar my ma se kake is toe al digby klem-in-die-kaak. Die peanut spat weg en trek in die kerkgangetjie af.
Ek dog my pa styg op daar voor in die diaken bank, maar gelukkig gryp my ma vir sussie en daar trek sy af in die paadjie en uit by die deur. En arme ek moet bly sit en probeer ernstig bly! 😈
Wat van die peanuts geword het, sal ek nooit weet nie. Vermoedelik het dit in die kerk se tuin beland. Ons praat nie daaroor nie! My ma het met sussie in die motor gaan wag en na kerk het my pa soos Batman met sy manelpak daar aangevlieg gekom en die hele pad terug plaas toe met sussie geraas. Op daardie stadium het dit nog ampertjies gelyk asof sy dalk ‘n pak slae sal kan vryspring, maar halfpad huis toe en so deur die rasery, toe gooi sussie daai hoed van haar by die motorvenster uit dat hy so trek. Toe moet my pa eers stilhou en ek moet in die stofpad afhardloop om haar hoed te gaan optel. Toe weet ek, sussie, vandag is jou gatvelle “toast”! En dit was ook so.
My pa het ons nooit eintlik slae gegee nie, maar dit was selfs vir hom net een te veel. Sussie het nooit weer kos kerk toe gevat nie 🙂
Gelukkig dink ek ouers is vandag meer verdraagsaam teenoor kind wees in die kerk! Vanmelewe was kerk ernstig, en ek meen ernstig. Dit is hoekom ‘n mens nie jou lag kon hou vir iets wat snaaks was nie – iets simpel kan gebeur, maar in die kerk was dit skreeusnaaks!
Ja, daar was baie sulke Sondae wat ons ons wou doodgiggel in die kerk. En dis nog erger as mense se pa een van die kerkraad is en jou sit en begluur van daar voor af. Toe ek ouer was, het ek op die galery gaan wegkruip, so mooi op die banke agter die orrel, sodat my pa my nie lekker kon sien nie 😆
Nou is dit my laaste dag van vakansie ook! Gelukkig mag kinders deesdae by ons nagmaal saam met hulle ouers gebruik, kan dit self nie verstaan hoe ‘n mens hulle kon weier in die ou dae nie!
Ja, die grootmense WIL mos alleen eet! En sy was nog bereid om dit te deel met ander ook!
Ek wonder net hoeveel ander rondom julle het gesukkel om hul lag te hou? Wel, ek kon nie MY lag nou hou nie!!
Uitstekende storie, my mag hom nog 4 keer vertel op blogs!! 🙂
Skryf jou boek!
Laat my dink aan my broer wat ook eendag met nagmaal opgespring het (hy was seker so 4) en almal mooi laat verstaan het hy’s oorgeslaan met die wyn…hulle vra mos altyd! My ma het seker gewens die aarde sluk haar in, maar dit was vrek snaaks. Ek verstaan ook goed van daai kyk wat jy kry en as jy eers uitgevat word dan kan jy maar weet jou gat gaan brand.
Daar’s een ding wat erger is as niks doen by die huis en dis as jy niks het om te doen by die werk!!!
Sou sy die peanuts ook as nagmaal of dalk dagmaal gesien het?
Siestog, sy was net klein – en iemand met idees!
Die peanut is niks, die HOED!!!