Die Lewe · Gedagtes

Dis die derde dag

Van 2012. Baie mense het vandag weer begin werk. Als is verby. Die kersfeespapier en die sjampanje proppe is saam met die laaste vullissakke weggegooi. Die nuwejaarsvoornemens is teruggebêre in die boks onder die bed of onder in die kas of iewers waar dit donker genoeg is sodat ons vir 365 dae daarvan kan vergeet. Nou begin daar al vooruit gekyk word na Paasnaweek. Want dit is soos die mens is.

Ek het al soveel nuwejaarsvoornemens in my lewe gemaak, ek sou letterlik die pad na die hel daarmee kon plavei. Ek wil mooier, maerder, slimmer, ryker, bekwamer wees in die nuwe jaar. Ek wil interessante mense ontmoet, na ver plekke reis, my geldsake beter hanteer, meer oefen, elke dag positief wees.

As ek deur die jare al daardie voornemens nagekom het, was ek vandag een van die mooiste, maerste, rykste, geleerdste, mees interessante, mees belese en berese, positiefste mense op aarde. Kortom, ‘n wonderwerk.

Maar ek het nie en nou is ek nie. Ek is net ek, ‘n gewone mens, met gewone drome, foute, vrese, vreugdes en vriende. Ek het nie my mislukkings en teleurstellings in 2011 (of enige ander jaar) agtergelaat nie. Daar is ‘n kamer in my kop waar ek al hierdie bagasie saamdra. En dit is reg so, want dit het my gemaak wie ek vandag is.

‘n Mens met deernis vir ander mense en hulle foute. Ek probeer nog glo dat die bedelaar by die robot liewers vir hom kos as tik sal koop met die geld wat ek vir hom gegee het. Dalk koop ek my gewete skoon, omdat ek ‘n werk, ‘n motor, kos, klere en ‘n dak oor my kop het. En hy het nie.

Ek probeer nog glo daar is meer goeie as slegte mense en die wêreld gaan nog eendag ‘n beter plek wees. Ek probeer nog glo in drome en liefde en wonderwerke.

Mens kan nooit regtig op 1 Januarie van elke jaar oor begin nie. As jy ‘n verandering in jou lewe, jou omstandighede, jouself wil maak, is daar nooit ‘n beter tyd as dadelik nie. Nie Maandag, of volgende maand, of volgende jaar nie. Nou dadelik! Al begin jy met die kleinste van veranderings.

Omhels elke dag en maak die beste daarvan vir JOUSELF! Nie vir jou man, of jou kinders of jou dienskneg of diensmaagd of os of esel nie. Vir jouself. Want net as jyself ‘n gelukkiger jy is, dan sal jy die mense om jou ook gelukkig maak.

Moenie die wêreld wil versit op een slag nie, maak met klein skuifies ‘n verskil. Koop vir iemand wat honger is ‘n bord kos. Gee vir iemand wat kaalvoet is ‘n paar skoene. Gee vir iemand wat kwaai lyk ‘n glimlag. Gee vir iemand wat hartseer is ‘n drukkie. Vat jou volgende sjokolade, lekkergoed, bier of brandewyn se geld en koop vir ‘n weeskind ‘n nuwe stukkie klere. Jy gaan maerder word omdat jy nie daar die lekkergoed geëet het of daardie bier gedrink het nie en terselfdertyd gaan jy iemand anders gelukkig maak.

Die lewe dwing ‘n mens soms in rigtings en op paaie wat jy nie vir jouself sou gekies het nie. Om heeltyd te staan en huil en terugbeur na ander paaie, is net ‘n mors van tyd. Sit jou een voet voor jou ander en stap jou pad. As jy nuwe skoene nodig het vir daardie pad, koop die nuwe skoene, maar moenie huil as jy stapskoene moet koop vir jou spesifieke pad eerder as dansskoene nie. Ons kan nie almal deur die lewe dans nie, party van ons moet stap, ander moet hardloop en nog ander moet bergklim.

Dra jou skoene met grasie, loop regop, stap fier en kyk jou mede stappers reguit in die oog. Elke pad het sy eie mooi. Moenie so huil oor ‘n ander, beter, makliker pad dat jou trane jou verblind en jy nie die mooi langs jou eie lewenspad raaksien nie.

Daar is niks nuuts aan ‘n nuwe jaar nie, behalwe die jaartal. Mense gaan steeds mense bly. Verander wat jy kan verander, verbeter wat jy kan verbeter, maar ken jou eie beperkinge. Elke stukkie metamorfose help om ‘n nuwer, beter jy te maak voor dit weer 1 Januarie is.

11 thoughts on “Dis die derde dag

  1. Ek ignoreer lankal die hele nuwejaarsding – wat voornemens aanbetref in elk geval. Elke dag is vir my die eerste dag van die res van my lewe. Met duisende drome en voornemens en party word waar, ander loop deur onder die snooze button.🙂

  2. Ek bly ook die ewige optimis daaroor dat die wêreld beter en beter kan word. Ongelukkig het ek al gesien dat mens spesiaal vir iemand toebroodjies gaan maak, om later te sien hy het dit sommer net daar in die drom gegooi, want dis nie wat hy wou gehad het nie.

    Wat die Nuwejaarsvoornemens aanbetref, hierdie jaar het ek besluit myne is om 12 salaristjeks huistoe te bring, so jy beter net hoop ek kry dit reg!

  3. Ek like dit ja.
    Een stappie (of danspassie) oppe slag…elke dag. Beste wense aan jou vir 2012 son, en mag jy elke aand ‘n glasie kan lig op ‘n suksesvolle dag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s