Die Lewe · Gedagtes

So begin die Kersnaweek

My ouma het my altyd vertel dat my oumagrootjie in hierdie wereld was, maar nie VAN hierdie wereld nie. Soms het die seer en die swaar van die lewe vir haar onverstaanbaar, onhanteerbaar geword. Soms voel ek soos my oumagrootjie.

Ons sou vanoggend 4 uur eers gery het plaas toe, Karoo toe. Gistermiddag na werk kry ek rooimiere.

“Pak. Ons ry 6 uur. Vanaand.”

“Nee, Ma! Weet jy hoe gaan die pad vanaand lyk?”

Ons ry tot op Beaufort-Wes. Daar draai ons weg Aberdeen toe. Dis ook die pad wat al die Minibus taxi’s Oos-Kaap toe vat. Ek weet Megan is reg, maar ek weet ook dat ek nie sommer geslaap gaan kry tot 3 vm toe nie, so ek kan net sowel ry en die 600 km agter die rug kry.

“Ek belowe ek sal mooi en versigtig ry. Ek sal stop op Worcester, Laingsburg en Beaufort om bene te rek en vars lug te kry. En ek sal ekstra versigtig wees vir die taxi’s”

Megan se lip trek, maar sy ken my ook al goed genoeg om te weet wanneer iets nie onderhandelbaar is nie. Ons pak en laai. Die kar is swaar gelaai, vier grootmense, tasse, geskenke, kersfeeskos. Tot op Worcester is die pad stillerig, maar by die Shell net buite Worcester tref dit my.

Dit wemel van die mense, rye by die petrolpompe, rye by die toilette, rye by die kassieres. Taxi’s met swaar en hooggelaaide sleepwaens. En ek besef die ware omvang van wat ek aangepak het, want ek is alleenbestuurder. Ek het vier mense se lewens in my hande gevat en ek stuur ‘n skietgebed na Bo. Ek onthou die woorde op my sleutelhouer: “Never drive faster than what your Guardian Angel can fly.”

Toe weet ek dat ek, spoedvraat en ongeduldige bestuurder op die beste van tye, vanaand sal moet terugstaan. Van Worcester af handhaaf ek ‘n egalige 120 km/uur. Maar as die ongeduldiges van agter kom druk, maak ek pad. As die taxi’s kom druk, ry ek stadiger en gee hulle genoeg kans om veilig verby te gaan. Hulle los my agter en as hulle rooi ligte voor my wegjaag in die donker, voel ek slegs verligting, want in hierdie tyd is alleen op die pad beter.

By Laingsburg staan meeste van die wat verby my gejaag het. Ironies hoe min tyd hulle werklik gewen het. Toe ons daar wegry, is dit weer ‘n stryd om van hulle ontslae te raak. Om agtergelaat te word. Elke keer as ‘n ander motor of taxi’s van agter kom opdruk, gee Megan lopende kommentaar. “Los hulle, Megan. Ek gaan hulle nou laat verbykom. Laat hulle solank ry en hulle ongelukke gaan maak, dan het dit klaar gebeur as ons daar verby ry en kan ons net veilig verder ry.”

Nie ver buite Laingsburg word my woorde die eerste keer waar. Die skreeuende sirenes wat van agter verby gejaag het, het ons reeds gewaarsku. Ek ry verby en hoop in my hart dat niemand ernstig seergekry het nie. En is bitter bly dat my beskermengel nog byhou. Toe ons Beaufort-Wes binne ry, jaag sirenes vir die tweede keer verby, die keer van voor af, oppad terug Kaap se kant toe, en ek weet iewers agter my is daar weereens iemand wat hierdie Kersfees gaan onthou vir al die verkeerde redes. As ek toe maar geweet het hoe diep daardie iemand se seer gaan sny.

By Beaufort draai ons regs weg. Nou is die pad stiller van ander motors, maar nou is dit ek en die taxi’s. En die pad is nouer, met geen teerstrook anderkant die geel lyn nie, net gruis. Die taxi’s klim letterlik bo-op mens, maar ek hou my ‘cool’ en ry onmiddellik stadiger en flikker vir hulle om verby te gaan. ‘n Erg oorlaaide een sorg vir ‘n paar benoude oomblikke toe sy sleepwa verby ons slinger, maar my beskermengel hou kop. Syne nie, want skaars 10 km verder le einste taxi op sy rug, aan die oorkant van die pad. Ek hou nie stil nie, want daar staan reeds drie ander langs die pad.

Uiteindelik ry ons deur die plaas se hekke, hier by een uur vanoggend. My nek is styf en my kop is seer, maar ons is veilig hier. En ek dink aan die wat nie is nie. Vanoggend hoor ek van die pa en ma en ses-jarige seuntjie wat laasnag net buite Beaufort-Wes in ‘n ongeluk was. Die pa, wat bestuur het, het aan die slaap geraak. Die ses-jarige seuntjie is dood.

Ek voel soos my oumagrootjie. Hoekom? Wat sou die doel wees van so ‘n verskriklike gebeurtenis? Hoe vergewe ‘n ouer homself OOIT vir so iets? Ek het nie antwoorde nie, net vrae. Ek ken die mense nie eers nie, maar dit voel of my Kersvreugde gesteel is. Iewers gaan ‘n familie Kersfees vir die res van hulle lewe onthou vir die hartseerste rede ooit. LEEF mens ooit weer na so iets, of OORleef mens maar net? Soveel vrae, geen antwoorde nie.

Vir julle wat nog in hierdie tye op die paaie moet gaan, dis nie nou ‘n tyd om jouself te bewys nie. Ry veilig, al moet jy pad maak, terugstaan, langer reis. Moenie hierdie Kersfees ‘n hartseer herinnering maak nie.

Dankie Here dat my Beskerm Engel bygehou het.

7 thoughts on “So begin die Kersnaweek

  1. As ek ‘n gelowige was sou ek die seuntjie se beskerm engel gedagvaar het vir onbevoegdheid, nalatigheid en kontrak breek. Was tien teen een ‘n BEE aanstelling.

  2. Ai tog, dankie julle is veilig! Het amper my naels begin kou toe ek van julle rit lees. Mense se onverskilligheid by bestuur gaan my verstand te bowe… Ry seblief net so veilig terug ook na die vakansie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s