Gedagtes

Die ontwyking van die wondersoete ding

Ek is nie ‘n oggendmens nie. Dit maak die lewe moeilik. Die gewone werkslewe is nie aanmekaar gesit vir nagmense nie. Dit werk so; jy staan soggens op, vroeg, en gaan werk. Ongeveer 5nm kom jy huis toe en doen jou huis dinge, maak kos, eet, kyk TV, gaan slaap.

Nie as jy ‘n nagmens is nie. Tienuur in die aand raak jy soos die Duracell Hasie. Wanneer jy uiteindelik jouself dwing om te gaan slaap, is dit ‘n onderbroke slaap, want jy gaan slaap omdat jy weet jy moet, nie omdat jy wil nie. En in die oggend is jy gedaan. Soos my pa baie dae met my geraas het; “Gisteraand was jy kaatjie van die baan, vanoggend is jy dooie bobbejaan”

Daar gaan dae, weke, maande verby wat ek nooit een nag ordentlik slaap nie. Ek slaap net-net genoeg om myself aan die gang te hou. En elke keer is die onderneming daar: ek gaan hierdie naweek myself ‘n slag uitslaap, al my verlore slaap inhaal. “Famous last words.” Wanneer die naweek daar is, hou ander dinge mens weer uit die slaap. Bly jy laatnag wakker, want jy kan mos die volgende oggend laat slaap, trek jou brein jou lyf ‘n streep, of andersom. Wat ookal die geval, daai volgende oggend werk jou ingeboude wekker oortyd, asof dit ‘n weeksdag is.

Dit word ‘n bose sirkel. Op ‘n dag begin jy voel hoe jy stadig maar seker in ‘n swart gat afsak. Eers het jy geen idee hoekom jy so mislik voel nie, asof duiwels die heel tyd op jou graf dans, never mind nog daaroor loop. Party mense begin happy pille drink, ander vat ‘n dop. Maar die swart gat bly gaap.

So twee weke gelede het ek so begin voel. Ek, vir wie die woord depressie ‘n erger vloekwoord as fok is. Dit soek nie vir my nie, ek het nie tyd vir depressie nie. Ek verstaan ander mense kry dit, maar dis soos misdaad – dit gebeur met ander mense, nie met my nie. Ek het huilerig begin voel, swaarmoedig, niks lus vir enige iets nie. En tog kon ek geen konkrete rede daarvoor kry nie. Tot verlede Saterdag.

Ek dink my brein het besluit om in te gryp. Ek het opgestaan en wou nog allerhande dinge doen, toe voel ek sleg en gaan le weer. En ek slaap. En SLAAP. Hier en daar het ek opgekom vir asem, maar dit was soos narkose. Ek kon met die beste wil in die wereld nie my oe oopkry nie. Vir ses ure lank.

Toe ek uiteindelik wakker word, tydsaam en rustig, voel ek soos ‘n nuwe mens. Die swart gat was toe. Ek weet depressie is nie altyd weens ‘n tekort aan slaap nie, ek weet baie mense kan met min slaap klaarkom sonder om depressief te raak. Ek weet ook nou ek is nie een van hulle nie.

Moenie die waarde van ordentlik slaap en goed uitrus onderskat nie. Veral nie as jy sommer skielik soos die dood begin voel nie. Slaap, inderdaad, is ‘n wondersoete ding!

9 thoughts on “Die ontwyking van die wondersoete ding

  1. Sjoe, kan ek nou — as ‘n mede naguil — met hierdie skrywe assosieer!

    “jy gaan slaap omdat jy weet jy moet, nie omdat jy wil nie” Jip, so waar. Elke aand se storie.

  2. Ek kan op amper niks slaap oor die weg kom, sodra dit nie vir lang tye aaneen is nie. ‘n Aand of twee in ‘n ry is omtrent al wat ek kan vat, anders is niemand veilig in my omgewing nie.

    Hoop jy slaap nou bietjie beter…

  3. As jy nie slaap nie word jy so ongemerk dom,jou oë is oop en hulle kyk nie en as jy praat kom dit van ‘n halwe brein af Hulle sê te min slaap en te veel dop doen dieselfde ding,maak jou brein lam. Die bol raak vol tjol.

  4. Ek gebruik slaap as ‘n slaappil🙂 soms slaap ek omdat ek te bang is om die probleem in die oë te kyk, dan droom ek hom reg, soms slaap ek van pure moeggeid (Gauteng se gat – ek slaap hom weg), soms slaap ek van lekker vry en soms slaap ek want dis nag – ek is ‘n oggend mens en raak moerig as ek na 22:00 nog moet funksioneer🙂 (Sien my ou skrywe “Bioritmes en siklusse en dinge wat ons nie kan verander nie.) Nag Koudste, lekker slaap zzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzz

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s