Gedagtes

Bieghokkies

Ek lees vanoggend HIERDIE en dit sluit aan by my gedagtes toe ek gisteraand gaan loop het. Dit moet nogal in ‘n mate bevrydend wees om Katoliek te wees. Om gereeld in ‘n hokkie agter ‘n swart  gordyn te kan gaan sit, gesigloos, en by ‘n ander gesiglose oor jou sondes te kan bieg.

Soos Tamatieland op haar blog sê; “daar is soveel dinge wat ons almal terughou”. Ons speel die spel van ordentlik wees. Ons sê wat ons dink ander mense wil hoor. Ons praat die taal wat ons dink ander mense van ons sal laat hou. Ons dra nie net ‘n masker op ons gesig nie, ons dra ook een oor ons tong.

Dalk is dit maar okay, want as ons almal net gesê het wat ons wil, hoe seer sal ons nie soms ander se gevoelens maak nie. En môre dink ons weer anders, maar dan kan ons nie uitvee wat ons reeds gesê het nie. “Woorde is wapens. Houe stop waar hulle val, maar woorde begin waar hulle tref.”

Dis hoekom baie van ons anoniem begin blog. Sodat ons kan sê wat ons wil, sonder dat mense weet wie ons in die regte lewe is. Maar uiteindelik begin ons mekaar ken op die blogs ook, en dan raak dit al hoe moeiliker om sommer net ons bek uit te spoel. Want nou begin ons weereens ‘n beeld op te bou na buite.

Nou het ek so gedink…

Dalk moet iemand bieghokkies op stasies, in winkelsentrums, by stalletjies opsit. Vir ons nie-Katolieke. Ons kan vyf rand betaal om te bieg. Of tien. Jy kan in die hokkie ingaan, anoniem, en met die persoon aan die anderkant praat, anoniem. Dis ook sommer werkskepping. Die persoon aan die anderkant hoef nie enige sielkundige graad te hê nie, want meeste van ons wil in elk geval net praat en nie goeie raad hê nie.

Dan kan ons vir die gesiglose een sê:

“Ek is elke dag lus om die mense wat saam met my werk ‘n paar klappe te gee, maar eintlik is ek meer die dwis as hulle.”

“Ek is lief vir my seun, maar ek is gatvol vir sy probleme.”

“Weet jy, ek het nog nooit van my broer gehou nie, ek sou hom nooit gekies het as familie as ek ‘n sê in die saak gehad het nie. Hy suip te veel en ek is amper seker hy slaan sy vrou, maar ek gaan niks doen nie, want ek wil nie familie vetes veroorsaak nie. Dit maak my seker ook ‘n lafaard, né.”

“My niggie se man kom alles by wat pote het, behalwe tafels, maar niemand wil haar vertel nie. Ek dink ek moet.”

“Ek sê altyd geld is nie alles nie en dit koop nie geluk nie, maar weet jy, ek sou wragtig daarvan gehou het om baie te hê. Dis net soveel geriefliker om mislik te wees in ‘n Mercedes as op ‘n scooter.”

“Eintlik is ek glad nie die nice persoon wat almal dink ek is nie. Ek is eintlik ‘n wolf in skaapklere.”

Ensovoorts. Dink net aan al die geld wat ons sal spaar aan terapie en maagsere 😈

29 thoughts on “Bieghokkies

  1. Wat van jy maak jou blog `n bieghokkie/biegbloggie Son?
    Dan bieg ek sommer nou: Ek is so gatvol vir alles; werk, mense, politiek, geld, myself, jy noem dit en ek is siek en sal daarvoor.
    Hel, nou voel ek sommer beter. 😀

  2. Is dit nie waarvoor die Huisgenoot is en Sake van die Hart nie? Ek is oud genoeg om sommer te sê as iemand of iets my gat krap. Moenie van hart moordkuil maak nie!

  3. Hahahaha! Blink gedagte – ek kan ook nie eers meer op my blog alles se^ wat ek wil se^ nie want baie mense wat my persoonlik ken lees die blerrie ding nou al. Nou se^ ek maar wat ek wil se^ in die kommentaar op ander mense se blogs…wat uit wil sal uit! 😉

  4. Ek sal maar een van die hoendertjies hier op die plaas se battery hokkies inrig vir ‘n bieghok… Of anders sal ek sommer net tussen die 80 000 hoender gaan sit en bieg. Ek dink nie hulle sal mind nie. En dan maak hulle nog sulke vertroostende ‘kloek-kloek’ geluide ook….

  5. Ek sal een so ‘n biegblokkie borg, Son – so baie kere wanneer ek nuwe kliente kry, beplan ons 3 – 4 sessies, net om te vind, sodra die klient ontlaai het (katarsis!), dan voel hy/sy soveel beter, dit hou behoorlik die hele jaar lank 🙂

  6. Dink jy daai vyf rande is genoeg om te betaal vir die terapie van die arme gesigloses aan die ander kant van die gordyn?

Lewer kommentaar op Son Kanselleer antwoord