Gedagtes · Sommer net

NaNoWriMo

Ek het besluit om die mal perd op te klim en het gister geregistreer en ingeskryf vir National Novel Writing Month. Ek wou nog altyd ‘n boek skryf en nou ja, mens moet seker êrens begin. Ek moet 50 000 woorde in 30 dae skryf, m.a.w. 1667 woorde per dag. Waar ek die tyd gaan kry, weet ek nie, maar mens sal niks gedoen kry as mens nie iewers begin nie. So, dalk sal ek in die nag moet opstaan en skryf, of vroeg in die oggend voor werk, of etenstyd, of teetyd – maar skryf gaan ek skryf. Even if it kills me 😈

Ek het ook reeds ‘n “plot” en nou wil ek graag hoor wat is julle opinies daarvan. Onthou, die fyner detail moet ek nog gaan uitwerk en ook bietjie navorsing doen – ek het darem nog 13 dae oor (amptelike skrywery begin 1 November)

Die storie gaan basies kortliks hieroor:

Dis die jaar 2060 (ja, so bietjie futuristies). Daar is 4 vroue – ‘n oumagrootjie, ‘n ouma, ‘n ma en ‘n dogter. Die storie begin op die oumagrootjie se 100ste verjaarsdag, wat ook die dogter se 21ste verjaarsdag is. Die dogter se ma lewe nie meer nie – hoe sy dood is, is deel van die storie.

Die oggend van die verjaarsdae word die dogter wakker van die oumagrootjie se kitaarspel in die sitkamer. Sy gaan sit by die oumagrootjie en hulle twee gesels en die gesprek loop na die dogter se ma toe en dan gaan dit terug en speel in die verlede af.

Op 12 Oktober 2011 het alles begin toe Blackberry vir drie dae afgegaan het. 12 Desember 2011 gaan die internet ook af – ek sal nog besluit vir hoe lank. So begin alles geleidelik in duie stort. Kommunikasie gaan agteruit – banke se OTM’e werk soms en soms nie, ensovoorts – hier moet ek nog meer detail navors. Daar sal kragonderbrekings wees, petrol tekorte, water tekorte…

12 Desember 2012 – Uiteindelik stort die hele elektrisiteitsnetwerk in duie – die wêreld se hele infrastruktuur stort in duie – niemand is seker wat het gebeur en hoekom nie – dit kan moontlik deur ‘n kosmiese storm veroorsaak gewees het – maar kommunikasie is swak en mense begin plunder en bos gaan.

Dan gaan my verhaal verder oor hoe die oumagrootjie gevlug het, in die nag, vir 14 dae, na die ouma (oumagrootjie se dogter) wat op ‘n plaas in die Karoo gebly het. Hier sal ek nou meer uitbrei oor haar ervarings. Die ouma is op hierdie stadium swanger met die ma. Uiteindelik besluit die familie en nog ‘n paar mense van die omgewing om terug te gaan Kaap toe, en hulle besluit die beste plek om te gaan bly, is Robbeneiland, wat toe al reeds ‘n paar jaar verlate staan, as gevolg van swak bestuur deur die regering.

Ook hier sal ek uitbrei oor die hele tog soontoe en al die ervarings. Daar sal ook vertel word hoe die oumagrootjie boeke gesteel het uit biblioteke en huise, waar daar nie meer mense was nie, of waar die mense dood is – sodat daar iets van die geskrewe woord bewaar sal bly vir die nageslag. Onthou – daar is geen elektrisiteit meer nie, geen internet, geen selfoon-opvangs nie. Die beskawing is basies terug by Jan van Riebeeck se tyd. En orals is rowers – struikrowers langs die pad, bendes in die stede, ensovoorts.

En so sal die storie loop, tot waar die oumagrootjie en die dogter op beide se groot verjaarsdae in die sitkamer sit en onthou hoe dit eens was en hoe dit nou is.

Dis losweg die “plot” van my storie. Daar moet nog baie dinkwerk en agtergrond werk gedoen word en dalk byt ek meer af as wat ek kan kou, maar ek wil mos nou ‘n storie skryf, so ek kan óf groot gaan óf huis toe gaan.

Wish me luck. En as ek skaars is hier – nou weet julle hoekom 🙂 Ek sal so teen die einde van die maand die blog, waar ek die storie gaan skryf, se adres hier gee.

26 thoughts on “NaNoWriMo

  1. Wel, nadat die wêreld toe nie die 21ste Oktober stilletjies vergaan het nie, is die naaste wat ons daaraan sal kom regtig net fiksie 😉
    Great ding wat jy aanpak – sien uit daarna om die finale produk te lees. Was dit dalk ‘n alien wat met iemand op aarde wou kommunikeer via ‘n Blackberry, maar sy radioaktive asem laat toe dit crash? Grap sommer net.
    Baie sterkte en lekker skryf!

  2. Glo in jouself want dit baat nie ek & anders glo in jou maar nie jy self nie. Jy sal dit kan doen. Ek kan nie wag vir die Boek nie. Bly positief & Sterkte…Noena

  3. Klink so cool! Ek is ook so getempteerd, maar die werklike fisies tyd sowel as die komplot ontbreek hier, Miskien volgende jaar. Sjoe, sterkte, onthou net om so ‘n bietjie perlemoenstropery erens in te voeg, miskien as vorm van oorleweing?

  4. Gaan groot Son!

    Logos is an important term in philosophy, psychology, rhetoric and religion. Originally a word meaning “a ground”, “a plea”, “an opinion”, “an expectation”, “word,” “speech,” “account,” “reason,”it became a technical term in philosophy, beginning with Heraclitus (ca. 535–475 BC), who used the term for a principle of order and knowledge.

    Jou boek is op my Kerslys vir 2011…goed-goed, ek gee jou ‘n ekstra 2 maande, jou roman is op my Valentyn’slys… niks later nie as in my paaseier mandjie – okay, ek sal dit vir my verjaardag koop in Junie en voor die kaggel, en dis die laaste-aaste deadline 🙂

  5. Son, voor ek kommentaar lewer wil ek hou eers vir Bileam se Donkie iets se: Dis sommer nonsense dat die wereld einde 2012 gaan vergaan. Ek het ‘n blikkie perskes in die kas en die verval datum is Nov 2013. So, Nostra-watse-naam en Maja die by sal moet wag tot my perskes verval!!
    Nou, Son, oor jou idee: Skryf!! Ek wil dit bitter graag lees!
    Baie mense moan in my ore om ook in te skryf maar ek sal dit nie kan doen nie. Birth of a Wizard moet klaar en ek is betrokke by ‘n paar ander projekte (wens die goed wil begin geld maak!)
    Ek kan wel agter jou staan met ‘n sambok as dit gaan help.

  6. Jy het guts! En ek wil ook daardie storie lees…
    12 Desember 2012? Ek dog Nostradamus en die Maja kalender sê 21 Desember 2012 is ons in ons glorie in. Ek beplan ‘n woeste partytjie vir 22 Desember 2012… dan vier ons sommer jou boek se rekordverkope ook… 🙂

  7. Ja! Doen dit! As jy nie probeer nie, sal jy nooit weet of jy kan nie. My jongste boek wat in Februarie by LAPA verskyn, nl. Die Kamer Langsaan, was ‘n NaNo-manuskrip van 2009. Ek het ‘n bietjie gepoer en nie daarmee gevorder nie, toe besluit ek om die NaNo-weg te gaan. Dit was net wat ek nodig gehad het om dit te voltooi.

    Vasbyt!

    1. Annemari, het jy in Afrikaans geskryf? Ek het gewonder of dit nie dalk beter sal wees om in Engels te skryf nie, maar Afrikaans gaan net soveel makliker wees

Lewer kommentaar op Slakkelak Kanselleer antwoord