Gedagtes · Sommer net

Ek stap weer

Die weer is elke dag ‘n bietjie mooier en dis weer tyd dat ek begin oefen. In die winter is ek mos ‘n leunstoel-pampoen, ‘n mislike een daarby. Wat voel hoe die dik winterkos vet kloue in my lyf inslaan.

Elke einde van die somer belowe ek myself ek gaan in die winter ook oefen, maar ek haat gimnasiums met sweterige lywe. Volgende winter gaan ek beslis joga of paaldans of een of ander vorm van dans doen (famous last words!). Maar vir nou het ek weer begin stap. En na fietse begin kyk.

NEE, ek gaan nie met ‘n huis-se-prys-fiets rondry nie, ook NIE met ‘n halwe rugbybal op my kop OF ‘n balletbroek aan nie! Ek soek net ‘n gewone fiets vir ‘n gewone mens om gewoon mee rond te ry – vir die doodgewone lekkerte. Die oefening wat ek sal kry, sal ‘n bonus wees. Tot dan stap ek.

Gisteraand was die tweede keer. Ek het vir my ‘n lekker veilige pad uitgewerk wat basies amper reg rondom die plaas loop. ‘n Gedeelte is stofpad en deur ‘n stuk wingerd, en hier trap ek maar hogerig (oor die naweek se besoekende slang), want ek loop met plakkies (ja, ek sal moet bes gee en vir my gaan ordentlike tekkies koop – al haat HAAT ek die bleddie goed😈 ). Maar meer as die helfte is gelukkig klippad en teerpad (plaas-teerpad). Dis egter ook byna meer-as-die-helfte opdraande pad.

Maandagaand loop ek verbete en klink baie gou soos ‘n stoomtrein, een van daai wat daar deur Oudtshoorn se berge probeer stoom. Genade, mens kan onfiks raak van TV kyk! Ek konsentreer net om die uitgewerkte roete klaar te maak en vat groot slukke van my energiewater – nie dat dit veel gehelp het nie. Die laaste stuk huis toe is darem byna gelykpad en ek kry weer my asem genoegsaam terug sodat ek ten minste nie flou val voor ek by die huis kom nie.

Gisteroggend is my lyf niks seer nie en ek is nogal verbaas. Dit gee my nuwe moed vir gistermiddag. Ek het net my sak neergesit, my gemaklike klere en my stap-plakkies aangetrek – het ek al gesê ek haat tekkies – en daar gaan ek. Ek is al ‘n ent weg toe ek besef ek het my energiewater vergeet EN my iPod, wat ek wou gebruik om my aandag af te lei van die opdraande pad. Dis toe wat ek ‘n slag my oë en my ore oopmaak vir die natuur rondom my, om my aandag af te lei.

Ek sien die suurlemoenbome het nog bloeisels aan, en ook al ‘n hele paar suurlemoene – een van die dae kan ek weer vars suurlemoensap maak. Ek verkyk my aan die voëltjies wat rond kwetter rondom my, in die bome, op die drade en sommer net in die lug rond. En ek hoor, vir die eerste keer in ‘n lang tyd HOOR ek hoe hulle sing. Dis beter as enige musiek in my ore. Ek lag vir hoe hulle mekaar in die lug rondjaag en speel, ja wragtig waar. Ek kyk na die hoë dennebome aan die anderkant van die pad en sien vir die eerste keer van ek ‘n kind was, weer regtig die dennebolle raak. Ek onthou hoe ons altyd met hulle gespeel het en hoe my pa vuurgemaak het daarmee.

Dan stap ek verby die vyelaning. Meeste van die voorvye is weg – seker gepluk deur die plaaswerkers. Ek maak ‘n onthou-nota in my kop om betyds te kom vye pluk wanneer hulle ryp word, voor ek voorgespring word. Ek sien die lekker dik takke in die vyebome, waar mens gemaklik sal kan sit. Ek was so lief om in bome in te klim toe ek ‘n kind was, mens vergeet hierdie dinge as jy ‘n grootmens is. Jy sien dit eintlik nie eers meer raak nie, jy jaag net van A na B en terug. Ek dink daaraan om sommer net een dag ‘n boek te vat en daar in die vyeboom se takke te gaan sit en lees. (Klim slange in vyebome?)

Ek verkyk my so aan al die dinge buite, dinge wat ek nooit raaksien as ek verbyjaag werk toe; huis toe; werk toe; huis toe. Ek vergeet skoon ek loop opdraande en ek kom agter my asem is ook nie so min soos eergister nie. Dis asof my longe makliker suurstof kry. Ek IS moeg toe ek by die huis kom, maar dis ‘n ander soort moeg, dis ‘n ver lekkerder moeg as eergister. By die deur draai ek om en kyk terug oor die vallei en die berge en ek sê sommer oop oë dankie na Bo omdat ek so bevoorreg is en omdat ek dit weer ‘n slag raakgesien het.

Ek sien uit na vanaand se loop. Ek sal my water onthou, maar ek sal die iPod vergeet.

7 thoughts on “Ek stap weer

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s